Clover Aardklop 2014: Onderhoud oor Na-aap

  • 0

De Klerk vertel vir Naomi Meyer van sy eenmanvertoning Na-aap, wat by die Cape Town Fringe Festival gespeel het en spoedig by die Clover Aardklopfees.

De Klerk, in hierdie drama is jy 'n aap in kou - maar, in een sin, wie is jy as mens?

Ek is 'n Bosveller wat na die Groot Stad gekom het om sy droom te volg.

In Na-aap boots jy as aap menslike gedrag na. As akteur doen jy dit ook daagliks, of hoe, deur jou karakters se gedrag na te boots? Hoe verskil hierdie rol vir jou van ander rolle wat jy al vertolk het?

Met enige rol is daar maar altyd elemente van jouself in. Met Na-aap het Jaco my egter bederf met 'n hele klomp goedjies van myself. Ons ondersoek die wisselwerking tussen kind en volwassene, aap en mens, asook die akteur wat toneelspeel. Wie jy is as mens? Dit wat jy op die verhoog weergee, word grootliks beïnvloed deur dit wat jy van kleins af ervaar en naboots (of dan kies om nie na te boots nie). Dit was dus uitdagend in die sin dat ek moes ondersoek instel na die evolusie van die mens, maar ook van my as mens. 

Hoe het Na-aap jou pad gekruis?

Marguerite Robinson van Clover Aardklop het verlede jaar vir Jaco genader om die Franz Kafka-kortverhaal A Report to an Academy vir die verhoog te doen. Dit is in die ’80's deur Marius Weyers gedoen en Marguerite het gevoel dis tyd om dit dalk weer 'n slag af te stof (en dit het Jaco behoorlik gedoen). Ek en hy het vroeër verlede jaar saamgewerk met Balbesit en van daar het hy besluit om die projek met my aan te pak. 

Dit voel ook of dit iets is wat oor my pad móés kom. Ek was as klein seuntjie gecast as die apie in 'n skoolkonsert van Aladdin en my koshuisbynaam is Apie. (Let wel, hierdie aanname kan ook net wees omdat 'n mens na 'n ruk die Kafka in alles sien/soek.)

Dit kan nie maklik wees om alleen op die verhoog te stap en 'n eenmanrol te vertolk soos in Na-aap nie. Wat is vir jou lekker daaraan en wat is moeilik?

Man, hoewel Na-aap 'n eenmanrol is, het ek 'n massiewe en fantastiese span agter my. Ons spot baie dat dit die grootste one-man show ooit is, want daar is eintlik 'n span van sewe betrokke by die stuk. Dis ek, Jaco Bouwer (regisseur), Andries Odendaal (interaktiewe ontwerper), Ina Wichterich (choreograaf), Rocco Pool (verhoogbestuurder), Braam du Toit (musiek) en Stefan O'Conner (video-operateur). Ek was baie bang om alleen op die verhoog te gaan, maar met so ‘n span agter my is bangwees nie 'n opsie nie. Shame, Rocco het sommer voor my heel eerste show by Aardklop verlede jaar saam met my in die kleedkamer kom sit, net sodat ek nie hoef te voel ek is nou op my eie nie. Die lekkerste deel van alleen speel is om na die tyd te besef jy't dit actually deur die stuk gemaak; dis 'n verligting.

Wat het hierdie toneelstuk jou geleer van aap- en mensgedrag?

Desmond Morris, 'n bekende dierkundige, beweer daar is 193 lewende aapspesies. Van hierdie 193 is 192 bedek met hare; die uitsondering is die kaal aap wat homself homo sapiens gedoop het. Hy skryf in die inleidende paragraaf van sy boek The Naked Ape die volgende oor die kaal aap (en ek vermoed Kafka steek met sy kortveerhaal in dieselfde rigting): "This unusual and highly successful species spends a great deal of time examining his higher motives and an equal amount of time studiously ignoring his fundamental ones."

Wie is jou teaterhelde - plaaslik en internasionaal?

Ek moet erken ek het nog nie regtig internasionale teater gesien nie (ek was maar nog net een maal in die buiteland), en teater is iets wat 'n mens moet erváár. Ek praat dus net uit plaaslike ondervinding, en ek moet sê Albert Pretorius is my teaterheld. Beide om dop te hou en saam mee te werk. Hy is vreesloos, uiters kreatief, en hy bring 'n menslikheid na sy karakters wat hom net in 'n ander liga sit. Is dit sad as jou held jou tydgenoot is?

As jy 'n ander beroep kon volg, wat sou jy kies? Of sou jy nie iets anders kies nie?

Ek het al daaroor gewonder, maar as ek moet eerlik wees, kan ek eintlik nie myself enigiets anders sien doen nie. Ek sou dalk 'n argitek wou wees, maar my vriende in die beroep sê dit is ook maar nie altyd maanskyn en rose nie, meer soos pakhuis en skole. Dit klink ook vir my lekker om 'n sportkommentator te wees – jy sien die wêreld en al wat jy eintlik moet doen is weergee wat jy sien sonder om te vloek. Klink maklik genoeg, alhoewel dit seker moeilik is om nie te vloek as jy vir die Bokke kyk nie.

Hoe lyk die toekoms van Suid-Afrikaanse teater?

Sjoe, hierdie vraag is moeiliker om te beantwoord as Pilatus se "Wat is die waarheid?". Ons generasie is eintlik gelukkig in die sin dat ons nooit die streeksrade gehad het nie; ons het van die begin af geweet ons gaan ons eie werk moet skep. 'n Mens kan seker redeneer dat die feeste vandag die rol van die streeksrade oorgeneem het, siende dat die meerderheid nuwe Suid-Afrikaanse toneelstukke vir en deur die feeste gemaak word. Ek dink egter die feeste het 'n groot verantwoordelikheid om te sorg dat teater in die stede nie kwyn nie. 'n Mens hoop dat daar in die toekoms medeproduksies tussen die feeste en die teaters sal wees, sodat die blootstelling aan hierdie nuwe werke wyer kan oorspoel.

Teatermakers praat ook baie maklik in 'n negatiewe luim oor die bedryf en dit help nie. Ek het toevallig gister gaan props source by Green Market Square in Kaapstad en 'n man van Malawi help my toe om die spesifieke item op te spoor. Soos die twee van ons deur die stalletjies loop, groet al wat 'n mens is vir Dhaliso (wat "blessings" beteken) en ek vra hom toe hoekom hy so populêr is. Sy antwoord is die uitkyk wat ek aan die teatergemeenskap toewens: "If you are positive, you are popular."

Gee asseblief vir ons lesers inligting van waar hulle Na-aap sal kan sien binne die afsienbare toekoms.

Na-aap het in Kaapstad gespeel as deel van die Cape Town Fringe Festival. 

Nou pak ons weer Clover Aardklop in Potchefstroom aan. (Ons gaan terug omdat ek verlede jaar 'n ligament in my enkel geskeur het en moes kanselleer.)

07/10 – 09h00
08/10 – 14h30
09/10 – 09h00
10/10 – 16h30
11/10 – 12h30

Ons speel daar by Boys’ High en kaartjies kos R95 by Computicket.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top