Clicks, Julius en die nuutste skermutseling in die hare-debakel

  • 12

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

My hare is kroes. Uit die kopvel uit kroes.

Daar is net geen manier dat dit los oor my skouers sal val sonder ernstige chemiese intervensie nie. En vandat ek kan onthou, kry ek die boodskap dat my kroeshare, my natuurlike hare, op een of ander manier verkeerd is. Dit kan nie net so as mooi beskou word nie. Dis wild. Dis onbeheerbaar. Dis lelik.

Vir hare om mooi te wees, moet dit glad wees. Dit moet in sulke golwe oor jou skouers hang. As die wind waai, moet jou hare in die briesie flap. My kroeshare staan stil. As die ongeluk my tref en ek in ’n reënbui gevang word, mince my hare. Dit word nog meer krullerig en kompak op my kop. Hare wat mince, so is ek vroeg al geleer, is die grootste euwel wat ’n kroeskop soos myne kan tref.

Vir baie lank het ek daai boodskap as my eie ontvang. Ek het my hare chemies laat glad maak. Ek het ure in salonne deurgebring en derduisende rande uitgegee om tog asseblief net gladde hare te kan hê wat plat teen my kop val. En ek is aangemoedig om dit so te doen. Ek kry nie komplimente vir my kroeshare nie, maar oe, die oomblik dat dit glad gemaak is moet ek hoor hoe mooi my hare is.

Hier is die ironie. Die enigste kere wat my hare erg beskadig is, “damaged” in Clicks en TRESemmé se oë, was toe ek dit glad laat maak het en allerhande chemiese snert op my kop laat sit het. My kopvel is gebrand deur die chemikalieë. As dit te lank aangelos word, los dit aaklige, pynlike rowe op jou kop wat weke neem om gesond te raak. My hare is dan meer bros en breek makliker.

My kroeshare is gesond, en sterk, en natuurlik. En nee, ek weier om dit etniese hare te noem. Daar is niks etnies aan my hare nie, dis natuurlik. Etnies impliseer eksoties. My hare is natuurlik.

Daarom kan ek die woede rondom die TRESemmé-advertensie verstaan. Dit versterk net ’n boodskap wat enige vrou met kroeshare haar lewe lank moes hoor: Jou natuurlike hare is nie goed genoeg of mooi genoeg of aanvaarbaar genoeg nie. In ’n land in Afrika waar meer mense kroeshare as gladde hare het, is dit nog steeds by ons ingewortel dat ons natuurlike hare beskadig is. Daar is ’n industrie van biljoene rande geskep rondom die idee dat ons hare nie goed genoeg is nie, dat dit verbeter of herstel moet word.

In ’n land op ’n kontinent waar die meeste mense se hare soos myne lyk, word skoolregulasies uitgevaardig wat maniere om kroeshare mooi ten toon te stel, verbied. Ek het al in ’n vorige rubriek, “’n Hond [email protected] hare, hieroor geskryf. Een van die voorste vroulike politici in ons land word gereeld as “Ou Kopdoek” uitgemaak omdat sy verkies om haar hare met mooi doeke te bedek. En wie het nie die foto’s gesien wat die rondte doen van haar sonder ’n doek met haar hare kroes nie? Dan word daar aangevoer dat haar man haar gelos het omdat haar hare kroes is.

Dit gaan my verstand te bowe dat ’n advertensie wat kroeshare as beskadig beskryf in hierdie tye nog uitgedink en as aanvaarbaar beskou kan word. Wie was deel van daai besluitnemingsproses? Het enigeen gesit en gesê “wag ’n bietjie, hierdie boodskap is nie reg nie”? Hoe is dit moontlik dat daar twee dekades nadat ’n swart meerderheid aan bewind is, nog sulke toondoof boodskappe kan deurkom?

En ek is doodseker dat hierdie nie die laaste toondoof advertensie is wat ons gaan sien nie. Solank as wat daar nie groter diversiteit op besluitnemingsvlakke is nie, en solank meer diverse stemme ignoreer word, gaan daar altyd toondoof advertensies wees.

Ek stem glad nie saam met die skade wat die EFF aangerig het nie. En ek voel effens jammer vir Clicks. Hulle het nie die advertensie bedink nie, hulle het dit net onsensitief geplaas. Maar ek hoop dat die protes ten minste maatskappye twee keer gaan laat dink voordat hulle toondoof advertensies laat maak.

En Julius? Sê van hom wat jy wil, hy is ’n gesoute politikus. Hy het sy vinger op die pols van dinge wat groot groepe swart Suid-Afrikaners woedend maak. Elke saak waarteen hy al protes aangeteken het, het meriete gehad. Wat hom gevaarlik maak is dat hy nie belangstel om deur konstruktiewe optrede verandering te bring nie. Om die lont brand te steek en terug te sit terwyl als brand is vir hom genoeg.

En daarvan het ons genoeg gehad. Wat ons nou nodig het, is om mekaar se hande te vat en ons land te herbou.

Maar dit sal nie gebeur solank as wat daar steeds volhard word met toondoof negatiewe boodskappe oor enige aspek van natuurlike swart-wees in ons land nie.

Sonder Clicks en TRESemmé en al die ander toondoof maatskappye sou Julius nie ’n platform hê nie. Hulle verskaf die suurstof vir sy vuur.

  • 12

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Bettina, ek het al gewonder in vergaderings as swart vrouens daai plastiek hare, laat my dink aan mop, so klap en krap, of dit hare uitdroog soos hoed of pet?

  • Avatar
    Annora Eksteen

    Liewe Bettina, ek voel saam met jou en julle.

    Ek het nou nog nooit van TRESemmé gehoor nie, maar Clicks is doodstil oor wie nou eintlik verantwoordelik was vir die kak advertensie. Maar haarkappers is maar meestal… of wat praat ek.

    Ek sit ook met my hande in my deurmekaar bos hare vanaand. Van kleins af vir te lank tot volwassene moes ek deurloop deur onnies, haarkappers en my ma wat vir my gesê het my hare is te vieslik dun om te lat groei. En hulle het my hare stoets afgesny, geperm, gabeskadig en warra warra. Na ek geskei is was ek net eenvoudig nooit terug haarkapper toe nie en het laat groei, au naturel. Eks happy met my hare. My een sus wil my elke keer na haar haarkapper toe dwing as sy my sien. Ek het tien jaar laas toegegee maar toe daarna gesê nee. Gan poep in die vlei. My jongste sus is ook met kroeskop gebore al is ons supposed om wit te gewees het kan mens duidelik veral aan haar haar gekleurde bloed sien. My ma ook – sy lyk al hoe meer na ons liewe Nelson in haar ouderdom.

    Vandag so wonderskoon Albino dogtertjie klavierles gegee. Haar blonde haartjies pragtig gevleg. Die liefste sensitiefste darling kind. Baie witter as ek. Eks half geel-oranje-karamel.

    Haar klein boetie het die fynste velletjie. Die mooiste mooi seuntjie.

    Gaan dit oor geld maak? Laat los. Wees natuurlik… en tel die baie rande wat mens spaar. Maar in dieselle asem as dit jou happy maak om soms pruik te dra, of watookal, why ever not. Ek het self eerder pruik gedra met my chemo vir borskanker. My pruik was mooi en klaar.

    Maar ja. Ek het as ‘blanke’ kind (al het die skoolverpleegster eenkeer my broekie opgelig om kwansuis te sien of ek wit is… of ek nie net bruingebrand van die see af teruggekom het nie)… en ja, daar was soveel derogatory speech oor die kroesiehaartjies. My mond het maar net altyd stom oopgehang.

    Jinne tog. Mense darem. Maar dit was lank – eers na ek uit die Afrikaanse skole gemoer is en by die Engelse skole met die swarte kindertjies beland het, voordat ek die eerste keer aan hulle haartjies kon voel. Toe sommer elke dag, en by die tweede week was dit net so natuurlik vir my as my eie dun en slierterige hare (wat die onnies by die skool nie kon verdra nie) oor dit uit my rekkies en knippies geval het. Ek moes selfs detention sit daaroor.

    Ja ou Julius is beslis meer blaf as byt. Dit het die jare ook vir my gewys. (Maar hoekom ondersteun hy hierdie Luis Vuiton of watookal – ek is nou nie so clued up met brands nie. En wat van sy korrupsie? Hy sal mos innie tronk beland… maar in hierdie geval… dis okay. )

    So ja. Hou aan lawaai en beweeg. Ek verstaan.

    (My pa het dikwels gesê die advertensiewêreld gee hom ‘n krampienjol in sy holtand en mense wat in ‘n advertensiewêreld leef is ydeltuite en droljantienies.)

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Radikales soos Malema en sy rampokker vrinne is niks meer of minder as aandagsoekers nie. Die media buit dit uit want sensasie verkoop en laat die sente inrol. Die meerderheid moet dan die opeenvolgende chaos met 'n groot gesug vir die hoeveelste keer gadeslaan. Vandalisme is aan die orde van die dag terwy die 'haatpot' net verder gestook en geroer word.

    Die groot "R" (rassisme kaart) is, soos verwag kon word, gespeel en dadelik het mens gewonder wat de hel het een of ander witte nou weer aangevang want enige dom handeling van 'n enkele indivdu of individue word plotseling op witmense as 'n geheel toegepas. Dit was nogal 'n 'verligting' om te hoor dat witmense toe geen aandeel in die advertensie gehad het nie. Ek sê verligting, omdat dit ons die irritasie spaar om dit oor-en-oor vir weke op TV te sien en te hoor en/of in die media te lees. Ek kan nie wag hoe Malema hierdie "rasse insident" gaan verduidelik wat deur sy eie mense gepleeg is nie. Dit terwyl Clicks 'n massiewe bydrae op talle vlakke aan sy mense en ondersteuners maak deur middel van hordes opheffingsprogramme. Maar nou ja, die EFF ken nie van feite kontroleer nie. Solank hulle net kan instorm, verwoes en breek is die saak reg vir die spulletjie.

    Wat die hare ding opsigself betref dink ek dis 'n onnodige en oordrewe debat. Die mens is wat hy is. Niemand lyk dieselfde nie. Daar's nie 'n reg of verkeerd nie. Dis bloot 'n andersheid. Net soos party groot ore en ander kleines het en sommiges se oë blou en ander sin weer bruin is. (Dog, jy kry maar steeds die ongelukkiges wat 'lense' sal gaan koop omdat hulle nie tevrede is met hulle voorkoms nie.) Ai, hoe saai sou die wêreld nie wees as almal soos robotte dieselfde gelyk het nie.

    Sal daar ooit 'n tyd kom waar ons verby die uiterlike kyk? Is daar nie meer hoop, vreugde en sukses wanneer ons binnetoe kyk en ruimte vir mekaar laat om net hulleself te wees nie? Vooroordele sal daar seker altyd wees. Tog is daar ander maniere hoe om op te tree tree en te verskil. Barbaarsheid is nie een van hulle nie. Dit maak mens, ofte wel vir my, net moerig. Diep moerig!

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    Ek hoor jou Bettina, en ervaar ek dat die geldmasjien opportuniste voortdurend op die uitkyk is vir geleenthede om 'n gaping te slaan waar die sensitiewe knoppies van die mens hulle toelaat. (Praat nou van die negatiewe boodskap dat enige mens se natuurlike hare lelik is of 'n vaal/grys kleur het - die massas geld wat aan haarkleuring en "straigtning" spandeer word maandeliks is yslik.)
    My seun was gespot op Laerskool oor sy kroes hare (alhoewel ons as blankes geklassifiseer word is daar sekerlik in ons bloed gene uit ander nasies ook). So what!
    So is daar al vir dekades ook ander boodskappe en 'n magdom advertensies teen bv. molliger of onatletiese bouvorms (veral teen die vroulike geslag).
    Ek wil nie weet hoe gaan die apteke en ander instansies ook deurloop deur die velerly advertensies teen o.a plooie/akneë velle; en die massas geld wat gemaak word deur langnaels & verf en massas grimmeermiddels en of ook velbleikmiddels omdat jou natuurlike voorkoms nie goed genoeg is nie. Hoeveel blanke vrouens moet in advertensies sien hoe lelik is ’n wit lyf in 'n bikini en word hulle gelok na 'tan beddens' en "spray tan" fassiliteite.
    Die verbruiker moenie die geldmaak masjiene die geleentheid gee om hulle onvergenoegdheid met hulleself te laat uitbuit nie.
    My beste haarstyl nóg, was 'n nommer 4 wat ek met nat hande kon kam.
    Die meeste burgers van SA is ook nou siek en sat vir die geweld en verwoesting deur Eff-populiste net vir hulle eie magsbelang... waarvan sommiges self peperduur maermaak operasies kry (ontevrede met hul natuurlike) en ook haarsalonbehandelings kry om meer Westers te lyk.

  • Net een vragie asb. Van wanneer af beteken 'fine and flat' wit hare dat dit beter is?
    'Fine and flat' beteken in die advertensie dun/fyn hare en plat. Die advertensie sê vir my dat dat Clicks vir al die hare 'n behandeling bied.
    Om die rede bied 'n baie bekende persoon op TV bv 'Volumemiser' en 'n 'Spray and lift' aan want dames wil graag 'n dik bos hare vertoon en nie lyk of iemand met 'n nat waslap hul bygekom het nie.
    In die advertensie word twee tipe swart hare vertoon wat baat kan vind volgens die advertensie by produkte wat Clicks adverteer. Die een is 'dry and damaged hair' en die ander 'Frizzy and dull hair'.
    Dan is daar een van wit hare wat as 'normal' beskryf word, wat duidelik versorgde hare is,selfs met 'n vlegsel. Dit wys dus wat die proukte vir wit hare kan doen.
    Die advertensie is swak - want geen voorbeeld voorbeeld word gegee van hoe swart hare na behandeling lyk.
    Rassistis - my voet slegs swak taalkennis van wat 'fine and flat' beteken en boewery.

  • Avatar
    Chris Erasmus

    Ek is elke dag stomgeslaan oor die beuselagtighede waaraan die mense tyd verspeel en op reageer. Die "land brand" en die mense vermors hul tyd en energie met sulke twak. Ek kan nie glo die politici is so onnosel om tyd aan sulke twak/snert pot snot te spandeer nie. Wat my verstand nog erger deurmekaar maak daar is mense van die rooimiere wat vir die winkelgroep werk wat skuldig is aan ophitsing. Ek kan dit nie begryp nie.

  • Avatar
    Anne-Marie Mischke

    Dit is definitief die beste rubriek/artikel wat ek oor hierdie onderwerp gelees het. Ek waardeer in die besonder die verwysing na die nare verwysings na "Ou Kopdoek", 'n slim, bekwame en begaafde vrou wat net haar werk doen. Wat ons nodig het, is 'n hele boek oor die harekwessie en die kultuur daaromheen, dalk beginnende by die potloodtoets? Of nee, beginnnende veel, veel verder terug, na die mens van Afrika se trotse haarstyle deur die eeue, na die kultuur van hare in Afrika, eerder as net die politiek en die pyn. Ek sal nooit 'n wonderlike uitstalling daaroor 'n paar jaar gelede in Wits se kunsgalery vergeet nie.

  • Avatar
    Rina Vermeulen

    Kyk kom ons wees nou eerlik geen mens kan help met wats kleur vel of hare jy mee gebore word nie.Dit ñ feit maar swart mense die meerderheid is nie gelukkig met hul hare veral vroue maar ook onder wit vroue.Hul dra haarstukke,pruike,plastiek hare wat hul graag vleg of gebruik produkte om dit glad te maak.Wel my opinie is dit reg so want dis hul keuses en dis ook om hare mooi te laat lyk .Punt is wit vroue doen dieselfde hul kleur hare ,gebruik ook haarstukke om hare dikker te laat vertoon of langer.Wat my die joos in maak is dat ñ groot groep van die bevolking so kleinlik geword het om van als ñ ras issue te maak.Hierdie advertensie het eindelik bedoel dat beide die wit en swart vrou met behandeling van die produk beter resultate kon kry "damage and dry" of "fine and flat" is beide negatiewe haarkondisies en kom voor in alle kulture.Die EFF het niks regtig vermag met hul geweldadige en afbreekende optrede nie.Net weer meer haat en ras sensitivity onder groepe veroorsaak.Wittes was ook weer die sondebok!!Hoe de hel Clicks is oor die algeneem ñ swart meerderheids besigheid met meerderheid swart werkers ! Soos ek reeds gesê het hierdie advertensie het geen rasse bedoelings gehad nie of verwys dat een ras se hare bevoordeeld was bo ñ ander nie. Hierdie tipe optrede verdeel ons land meer en ons moet wegkom hiervan dit gaan ons land heeltemal laat faal.Ons het groter probleme waaraan aandag gegee moet word.Mense wat ook ander se hare kritiseer oor dit frizzy of kroes is net so kleinlik !!

  • Avatar
    Annora Eksteen

    Ek stem saam met al die bogenoemde kommentare. Ek het nog nie al die inligting oor die ad gehad nie. Julius is geen voorbeeld van moraliteit nie. Vredevol sing en dans is goed (die skade kom 'n ver pad uit die verlede), maar barbaarse optrede, plundering, breek, afbrand... ek noem nou sommer lukrake voorbeelde... ek het nou nie verder die berigte gevolg nie, is sleg. Ja wat.

    Ek het vrede gemaak met my hare. Ek is bly ek het nog hare en as dit weer uitval? So what. (So nommer 4 klink vir my ook sommer lekker.)

  • Bettina, jou kroeshare is lieflik en pragtig. Enige mens kan sien. So ook die etniese voorkoms van inheemse mense. Watwou lang, blonde of swart of bruin hare of gekrulde hare. Dis mos eintlik lelik. Ons moet almal nou polities korrek wees en glo dat kroeshare mooier is. Politiek korrek is min of meer siendeblind ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top