Churchil Naudé: "Hoe skei mens jou vel van jou gesig?"

  • 0

Die kletsrymer Churchil Naudé se debuutalbum, Kroeskop vol Geraas, is uiteindelik beskikbaar ná ’n lang werk- en samestellingproses. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die album, die plaaslike musiektoneel en die lewe.

Goeiedag, Churchil. Hoe's dinge?

Awe' my bra, ek is o'rite, kannie kla nie.

churchil1web

Geluk met die vrystelling van jou debuutalbum, Kroeskop vol geraas. Dis ’n stewige album, met 13 snitte (as ek reg tel) buiten die radio-edits wat ook op is. Dis al ’n hele tydjie sedert jy aanvanklik golwe gemaak het met die snit "Afrikaans" – waarom het dit so lank geneem vir die debuutalbum om te verskyn? Hoe het jy dit benader – aangesien dit die debuut is – in terme van watter snitte en lirieke op die ou end gebly het, en watter gegly het? Hoe wou jy graag hê moes die balans van die album daar uitsien, en in hoe ’n mate dink jy het julle dit reggekry?

Dankie. Ek dink die album het so lank gevat omdat daar min mense was wat in my glo, wat grootliks my fout is, want ek kan nie vir mense sê hoe en wat ek wil doen nie – ek wil hê hulle moet die kak voel sonder dat ek nog my bek hoef oop te maak, en gelukkig kon Riku [Lätti, musikant en vervaardiger van Kroeskop vol Geraas] die kak voel soos ek dit voel. Toe ek die eerste dag by Riku se studio instap en ons ’n ding saam doen, toe weet ek, en hy, dat daar ’n album gedoen moet word. en dit was toe dit. Daar was nooit ’n besluit of ’n gesprek van wat moet bly of wat moet gly nie. Ek dink net ek en Riku het ’n ongesproke manier van dinge doen wat net click. Ek fok nie veel met wat hy produce nie en hy fok nie veel met wat ek skryf nie, dis perfek. Ek het net geweet dat ek ’n album wou doen wat absoluut niks te doen het met wat "daar buite" gebeur nie en ek dink ons het ons teiken raakgeskiet.

Daar is nogal baie interessante afwisseling op die album – snitte soos "Bruin bliksem" en "Skarrelbaan" is in-jou-gesig hip-hop, terwyl snitte soos "Meisie" en "Staan nader" heelwat opgewekte elemente bevat en soms amper soos tradisionele dansliedjies klink, en "Verdriet" ’n byna hartverskeurende stadige snit is. Hoe het die skryf- en saamstellingsproses in hierdie opsig gewerk? Is dit ’n geval van laat die regte lirieke by die regte lied pas, of het jy reeds geskryf met die uiteindelike gevoel en klank in jou kop? Hoe werk jou skryfproses in die algemeen, en hoe weet jy wanneer jy tevrede is met ’n snit?

Die afwisseling was doelbewus, want ek glo dat as jy iets ’n "album" gaan noem, moet dit dan soos ’n foto-album wees, en ’n foto-album bevat al die kak foto's wat jou ouers so treasure tot op die recent goed waar jou tande nie meer te lank is vir jou gesig nie. Die album klink nie baie "ge-makeup" nie, want dit sou veel kakker wees as dit was. Ek hou van titels of catch phrases en skryf hoofsaaklik van daar af, maar soms is daar net ’n beat wat my gryp en dan, soos op "Fokol", voel ek hom uit en luister wat hy wil hê ek moet op hom skryf. Meeste van die songs op die album het ons record en dan vat ek ’n ruff copy huis toe en dan as ek weer innie studio is, verander hier en daar ’n ding wat meestal te doen het met die flow van die song of hoe ek dit in my kop hoor, en hoe dit eintlik klink as dit record is, wat altyd maar gebeur, en dan is ek happy.

Die album is, soos jy gesê het, opgeneem deur Riku Lätti, onder die vaandel van Wasgoedlyn Produksies. Hoe het julle by mekaar uitgekom en hoe was die samewerkingsproses? In hoe ’n mate sou jy instap met iets wat op ’n sekere manier klink en dan word dit omvorm tot iets anders? Noudat die debuutalbum uit is, hoe sal jy die saamstel en opneem van albums in die toekoms wil benader?

Ek en Riku het by mekaar uitgekom want dit was so geskryf in die boek van dinge wat bymekaar moet kom. Die samewerkingsproses was soos volg:

Riku – Wat doen ons vandag?

Ek – Ek het ’n ding wat ek voel moet só ’n beat het ... maar ... ek moet eers die rooiwyn oopmaak.

Riku – OK , gooi hom.

Ek – Die rooiwyn of die beat?

Riku – Beide.

Dis basies hoe "Bruin Bliksem" gebeur het. Ek het toe een vers gehad en dit met hom gelos, en toe ek weer by hom kom het "Bruin Bliksem" verander in ’n James Bond-soundtrack, thanks to Jackie Zonderbroek, Riku se befokte lunch-, breakfast- en supper-makende vrou. Noudat die debuutalbum uit is, sal die saamstel van ’n opvolg nie werk sonder rooiwyn nie, en dis dit.

churchilmetrikuwebChurchil Naudé en Riku Lätti

Daar's ook baie vars, baie sterk sosiale kommentaar te bespeur in die album ("Onse vaders" en ook omtrent al die ander snitte) – mens wil amper sê soos dit ’n rapper betaam, maar dit raak ook al skaarser. Hoe belangrik is dit vir jou om dit by jou lirieke in te werk? Dit voel soms of daar binne die lirieke ’n positiwiteit, ’n soort aanmoediging lê, te midde van sketse en situasies wat nogal donker is. Tog skop daar ook ’n bietjie nihilisme in hier en daar ("Ons lewe net om vrek te gaan", ens). Rus daar ’n onus op ’n kunstenaar om opbeurende of positiewe elemente in sosiale kommentaar in te werk, of hoe benader en ervaar jy dit? Hoe beskou jy die rol wat kuns, en veral rap/hip-hop, te speel het in die samestelling van die samelewing?

As jy jouself as ’n kunstenaar beskou en jy praat nie in jou kuns van kak wat om jou en met jou gebeur nie, dan is jy ’n stuk kak, volgens my. Dan is jy hier om geld te maak en fok anything else. Positiwiteit, nihilisme, komedie en selfs negatiwiteit is vir my deel van opstaan en slaap. Hoe skei mens jou vel van jou gesig? Hoe verduidelik jy in jou kuns dat jou vel absoluut fokol te doen het met wie jy is nie? Rap het nog nooit probeer vermom wat hy is of wat hy nie is nie, en as jy dit nie like nie, moet dit dan nie fokken luister nie, jou doos. As iets soos religie belangrik is in ons samelewing, dan kan ek nie sien hoe iets soos rap nie ook ’n plekkie in daai mark kan besit nie. Because in the end gaan alles maar tog net oor geld, wie dit het en wie dit wil hê.

Onlangs is jou en Anton Goosen se collab vir "Boy van die Suburbs" (as deel van die “Vat die rap”-projek) vrygestel op YouTube, wat omtrent die tonge los het. Hoe het hierdie samewerking tot stand gekom, en hoe was die proses vir jou? Waarin lê die waarde van hierdie soort projekte vir jou – nie net in terme van die produk nie, maar ook in terme van wat kunstenaars by mekaar optel? Met wie sal jy graag nog in die toekoms wil saamwerk op hierdie manier?

Ek en Anton het al voor hierdie ding ’n ding saam gedoen, met Frazer van Tribal Echo. Ek was nie veronderstel om op "Vat die rap" te wees nie, want daar was klaar ouens gekies om te rap en so, maar Anton het aangedring daarop om saam my te werk, want once you go brown, you can't turn back, jy weet. My bucket list van kunstenaars is soos volg: Koos Kombuis, Anton Goosen, Lize Beekman, Ringo Madlingozi, Valiant Swart, Koos Doep, David Kramer, Tribal Echo, Hannes Coetzee, Les Javan, Loit Sols en nog wat ek nie nou kan onthou nie.

Dis natuurlik nie maklik vir enige kunstenaar in Suid-Afrika om ’n debuutalbum vry te stel en golwe te maak nie. Wat is jou gevoel oor hoe dinge lyk op die Afrikaanse en die Suid-Afrikaanse musiektoneel, en veral wat rap/hip-hop betref? Is daar genoeg venues en geleenthede om waarlik ’n loopbaan daarop te bou, of hoe moet ’n mens te werk gaan daarmee? Hoe sal jy graag wil verseker dat jy so lank en wyd moontlik aktief kan bly hierin?

OK, ek sal dit seker moet sê soos dit is. Daar is nie te veel rap wat radiowaardig is nie, want vir een of ander rede het rappers besluit om Amerikaanse rappers na te boots en ’n kak job daarvan te doen. Hoekom sal hulle dan ’n kak version van die goed speel as hulle die regte ding kan speel en hoekom sal Amerikaners enigsins Suid-Afrikaanse rappers ernstig opneem as hulle soos b-movies van die regte ding klink?

Ek dink wat beskryf word as Afrikaanse musiek deesdae moet hersien word en ek raak moeg van verduidelik aan buitelanders dat "hulle" nie eintlik deel is van wat rêrig hier gebeur nie, hulle het maar net meer geld. Daar is fokkol venues vir rapmusiek nie, want promoters beskou dit nie eers as iets ernstigs nie. Die enigste manier om te verseker dat rap ernstig opgeneem word, is om meer albums uit te bring soos Kroeskop vol Geraas.

Dit is nou wel jou debuutalbum wat vrygestel is, maar jy is al ’n hele ruk op die toneel. Enige hoogtepunte in terme van optredes of gebeure tot dusver? Enige agter-die-skerms-stories wat jy spesifiek onthou, of dalk eerder sal wil vergeet?

Van my hoogtepunte is my collab saam Koos Kombuis in 2009, my collab saam Anton Goosen in 2014, al my live optredes saam Tribal Echo en dat ek saam Riku Lätti werk. Agter die skerms dink vele kunstenaars dat wat as Afrikaans verkoop word deesdae ’n spul kak is, maar weens sensors/sponsors en vele ander stupid goed word dit nooit gesê nie.

Wat hou die nabye en die verre toekoms in vir Churchil Naudé, in so verre jy dit kan beheer?

Ek sal graag by die goed soos Skouspel wil optree eendag, net om vir wie ever wil luister te wys hoe groot Afrikaans rêrig is, want hulle verteenwoordig nie Afrikaanse musiek nie.

Wat is die sin van die lewe?

Die sin van die lewe is om nie saam ander te fok nie en hulle sal dan in return nie saam jou fok nie. Maar dit werk nie altyd so nie, want daar is baie kak mense daar buite wat dit hulle doel maak om saam ander te fok. So, in essence is daar fokkol sin in die lewe nie, jy moet net genoeg rooiwyn het om die kak te verdra wat jy op jou paaie sal teëkom.

churchil2web

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top