Titel: Christelientjie die sonskynfeetjie van die Grootrivier
Skrywer: Riana Scheepers
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637012775
Riana Scheepers se Christelientjie die sonskynfeetjie van die Grootrivier is die eerste titel in ’n prenteboekreeks oor Grootrivier se bos en almal wat daar woon – van dwergies en feetjies tot slakke en paddas. Scheepers het met haar onlangse prenteboektrilogie oor ’n spinnekop wat ’n been verloor, ’n liewenheersbesie wat haar kolle verloor, en ’n akkedis wat sy stert verloor, bewys dat sy, wat meer bekend is vir haar kort- en tienerverhale, ook vir ’n voorskoolse en beginnerleesgehoor kan skryf.
Dis opvallend dat daar iets anders aan die feetjie op die omslag deur Elsabé Ebersöhn is. Sommige lesers sal die gebruik van sonskynfeetjie verstaan en die kloutjie by die oor bring. Vir die res word daar verduidelik dat Christelientjie ’n hart van goud het en dat die son deurbreek wanneer sy glimlag. Daar word ook genoem waarmee Christelientjie in die besonder sukkel en dat sy ’n Downsindroomfeetjie is. Sy kan byvoorbeeld nie op een been staan of fluit nie, en sukkel om party woorde te sê.
Hierdie beskrywing van Christelientjie volg nadat ’n aantal ander feetjies, wat ook nie perfek klink nie, bekendgestel is. Freya se bene is so lank dat haar rokkies altyd te kort is, en Katryntjie het sproete oor haar hele gesiggie. Hulle word almal baie kleurvol en interessant deur Ebersöhn geïllustreer. Scheepers en Ebersöhn sorg baie kreatief en slim dat daar geen sprake is van meerderwaardigheid of bejammering nie. Ek is gek oor die hartseer, maar ook beduiwelde, uitdrukking op Christelientjie se gesig op bladsy 17.
Die hoogmoedige en knorrige kolonel Wolhuter Wurm beledig op ’n dag vir soetskeel Klaartjie Melaartjie en Christelientjie. Klaartjie Melaartjie wil eers wraak neem, maar Christelientjie bly kalm en troos haar maatjie. Wanneer die wiel draai en die onbeskofte wurm Christelientjie se hulp nodig het, red haar volhardingsvermoë en warm geaardheid die situasie. Christelientjie het ’n persoonlikheid, hoor. Die hooghartige kolonel Wolhuter Wurm leer gou dat hy haar naam reg moet uitspreek en nie op haar mag skree nie. Dis trouens hy wat die prrt-geluidjies maak wat Christelientjie so laat giggel. Scheepers breek met hierdie verhaal ook ’n lansie vir mense wat aan hoogtevrees ly.
Ubuntu en diversiteit word reeds belig in Afrikaanse kinderlektuur deur onder meer Bianca Flanders, Refiloe Moahloli en Jaco Jacobs. Hierdie boek spreek ’n genetiese toestand aan. Ek glo dat kinders dikwels die verwarring of aanvaarding van hoe hulle van mekaar verskil, baie beter onder mekaar kan uitklaar as wanneer volwassenes inmeng. Party kinders mag wel vrae hê, en alle ouers, leerkragte of versorgers is dalk nie ewe goed toegerus om antwoorde daarop te verskaf nie. Hierdie prettige fantasie kan inlig en stof tot nadenke wees, of as ’n goeie, lekker slaaptydstorie gelees word. Scheepers dra haar boodskap, as ’n ode aan ’n vriendin se dogtertjie, kreatief en met deernis en humor oor. En daardie knorrige, harige, pers wurm is baie mooi.
Lees ook:
Riana Scheepers gesels oor ’n baie spesiale feetjie (en oor Wêreldboekedag)

