Spieëlbuis deur Christa Kleynhans: ’n lesersindruk

  • 2

Titel: Spieëlbuis
Skrywer: Christa Kleynhans
Uitgewer: Kreativ SA

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Kreativ SA het Christa Kleynhans se debuutboek getiteld Spieëlbuis, ’n versameling memoires en gedigte (110 bladsye), in 2021 gepubliseer. Hierin verwoord die skrywer haar stryd met bipolêre gemoedsversteuring en belig ook die optrede van ’n gemeenskap, gesins- en familielede en vreemdelinge teenoor ’n lyer, al weet niemand “hoe om bipolêr ten volle te hanteer nie: nie die lyers of hul geliefdes nie”.

“Om bipolêr te wees,” skryf Kleynhans, “is soos om Alzheimers te hê: almal rondom jou is bewus daarvan, behalwe jy, met tye. En sou jy dit bespeur, is jy klaar deel van die laaste sandkorrels in die lewe se tregter.” Sy waag dit manmoedig om in die spieël te loer en óf die grootheidswaan óf die monsteragtige gedaante wat kettings rondsleep, óf die vuurvretende draak te eien. “Hierdie labiele wesens weet nie of hulle moet lag, huil of iemand leed moet aandoen nie.”

Kleynhans se werk word gekenmerk deur onthutsende rou eerlikheid wat sy soms  doelbewus staccato afvuur: “Geen reëls sal my ooit definieer nie. Aggressief, witty, sarkasties. I loved myself for not loving myself. Ek was reg vir enige woordewisseling en om iemand ‘reg te sien’. No pretence. No mercy. No empathy. […] Die ander maskertjie was die party animal, wat joviaal was en met almal kon meng” (3). Dan is daar ook raakvat-beskrywings wat my ’n sin of paragraaf wéér laat lees het, soos: “[…] krake het in Jan se geaardheid begin wys. Hy was moody. Sy aura was donkerder as ’n fortuinverteller se wolkagtige, grys kwartsbal” (4), en:  “Hospitaalbandjie om die arm: ’n geringde wedstrydduif” (79).

Haar skryfwerk het ’n byna hipnotiese soort wisselvalligheid wat my laat aanhou lees het. Hierdie kwaliteit het meer as enigiets anders die werklikheid van bipolêre gemoedsversteuring by my tuisgebring. Sy span digkuns in om met tye haar gedagtewêreld as onsamehangend uit te beeld, soos in “Shebeen queen” (38):

Lippe skelrooi lokaas …
Sy loop die swart teerslang.
Sy dans in die singende, verleidelike bek:
            donker geldvampier ...
            Sy leen haar lyf           net vir ’n bietjie
            Sy leen haar lyf           vir nog bietjie plesier
            Sy leen haar lyf           sweer dis die laaste keer
klam, opgewonde hande klemmend
Visoë verstyf

Ander kere is haar introspeksie verbasend koherent en woordsekuur. Die “girl met die vonk” was “gone like yesterday’s pay”. “Hulle het nie geweet hoe ek een oomblik ’n sosiale vlinder kon wees, dan ’n geitjie en dan so donker soos ’n inkpot nie. Ek het ‘ultra rapid cycling’, wat beteken dat ek party dae deur al hierdie emosies sou gaan. Sonder waarskuwing” (13). “Min mense verstaan dat jy soos ’n uitgebloeide karkas hang; lus vir niks of niemand nie. Jou mense rondom jou begin óf bekommerd raak óf ’n ‘willy-nilly-whateverness’-houding teenoor jou ontwikkel” (14). “Ek aanvaar dit al is dit hoe moeilik, maar ek weet dat daar tye is wanneer ek goed rondgooi; myself seermaak; kwaad is vir dae; myself tekort doen en dink dat ek ander mense moet help, terwyl ek myself nie kan help nie” (15).

Kleynhans kyk na haar menswees, herinneringe en trauma met ’n koue, ongenaakbare oog. Maar nes die kleure van ’n kaleidoskoop inmekaarvloei, versag haar inwaartse blik genoegsaam sodat broodnodige selfliefde, -begrip en -kennis tog deurskemer. As leser het ek nie vir een oomblik koud teenoor die teks gestaan nie. My emosies het deurentyd gewissel tussen onder andere medelye, afkeur, irritasie, ongeloof en bewondering. Min skrywers kan tegelykertyd so intiem met, sowel as so vervreemd van hulself omgaan wanneer hulle na hulself in die spieël kyk.

Ek haal graag vir Myra Lochner aan wat in die voorwoord skryf:

Die intens-deurleefde teks laat die leser/terapeut verwonderd staan oor die potensiaal van selfgenesende krag wat binne kognitiewe gedragsmodifikasie haalbaar is – geensins ’n nuwe benadering nie, maar wel een wat met groter passie en proaktiwiteit nagespeur behoort te word. Dit onderskryf ook die uiters kardinale rol van skryfterapie as vorm van selfkennis en selfterapie.

Kleynhans slaag in haar doel om met Spieëlbuis bewusmaking te skep vir bipolêre gemoedsversteuring. Haar skryfwerk is treffend en sny tot op die been, maar ek glo dat sy met meer gefokusde en doelbewuste leiding sal groei tot ’n skrywer wat met gemak vir haar ’n nis kan oopkerf in die uiters kompeterende skryfwêreld. Hoewel Spieëlbuis as debuut beïndruk, kon dit méér wees. Hierdie tipe potensiaal in ’n skrywer maak my opgewonde.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top