China, die Gordel-en-pad-inisiatief, COVID-19 en demokrasie in Afrika

  • 0

Die Gordel-en-belt-inisiatief (Bron: Lommes, Wikimedia Commons, CC BY-SA 4.0)

Inleiding

Die Chinese regering het ’n One-Belt-One-Road (OBOR)-projek in 2013 aangekondig. Dis ’n ontwikkelingsinisiatief wat op die hele Afrika betrekking het, maar konsentreer voorlopig op die kusstroke in Oos- en Noordoos-Afrika. Dis veronderstel om ’n nuwe verpakking van die destydse sy- en spesery-roetes (silk and spice routes) te wees. Dit het land, en daarná land- en seeroetes ingesluit. Die oorlandroetes het van karavane en kamele gebruik gemaak en het China met Persië (die huidige Iran) verbind. Dit was tydens die Han-dinastie wat dateer van ongeveer 200 vC. Dit het ’n tyd lank geduur. Tydens die sewende en agste eeu ná Christus het die Chinese weereens in Europa begin belangstel. Dié keer handel met die Romeinse Ryk, spesifiek die stad Rome. Die Europese wêreld het egter nuwe inisiatiewe aangelê om nuwe kontakte met China te maak met die oog op wedersydse handel.

Vyfhonderd jaar later het Marco Polo (1271-1295), ’n Venesiese handelsreisiger, ’n nuwe karavaanroete vir sy en speserye na China (en terug) gevestig. Sodoende het ’n nuwe handelsroete tussen China en die Oos-Romeinse Ryk (Bisantium) tot stand gekom. In werklikheid was daar twee roetes wat bedoel was om die beste heen-en-weer-roetes tussen Italië en China te wees. Die Himalaja-berge was nog altyd groot geografiese struikelblokke op die karavaan-(kameel)-roetes tussen Europa en China. Daar was in werklikheid twee roetes: die noordelikste roete het deur Persië en Tashkent gegaan; en die suidelikste roete het nie van Venesië af vertrek nie, maar van Tirus (tans Libanon) en met Damaskus (hoofstad van Sirië) as beginpunt. In albei gevalle was die syroete suid van die Swartsee en die Kaspiese see, maar noord van die Himalajas.

Die “ontdekking” van latere seeroetes tussen Europa en Asië sou tyd en kostes bespaar. Die Chinese en die Portugese vloot het deurslaggewende rolle hierin gespeel.

Belangrikheid van Seeroetes

Ongeveer ’n honderd-en-vyftig jaar later het ’n groot deurbraak gekom met die bekendstelling van gepaste nuwe seeroetes. In daardie tyd was China die wêreld se grootste maritieme moondheid. Die vertrekpunt was Beijing en die datum was 1421. Die eindpunt was die Oos-Afrikakusgebied waar ivoor en slawe te koop was en/of ruilhandel met betrekking tot speserye, keramiek en moderne wapens tot stand gekom het. Chinese seevaarders het ook nuwe markte as afsetgebiede vir Chinese produkte gevestig. Dit het Malakka (later in Indonesië) en Calicut (later Kolkata in Wes-Indië) ingesluit. Van besondere belang was die nuwe markte op die Ooskus van Afrika. Historiese bronne verwys spesifiek na Mogadishu (tans in Somalië), Malindi (tans in Kenia), Zanzibar (tans in Tanzanië) en Sofala (digby Beira) in Mosambiek as handelsposte.

Die Portugese Vloot

Die volgende groot gebeurtenis vind ongeveer sestig jaar later plaas. Dit was toe Bartolomeu Dias ontdek het dat Kaappunt bestaan en dat ’n seeroete na Asië verwesenlik is. Dit was egter die Portugese seevaarder, Vasco da Gama, wat die seeroete verby Kaappunt bereik en by Sofala (tans in Beira in Mosambiek) en Zanzibar teen die Ooskus (1497-1499) aangedoen het.

Die Portugese vloot was destyds die grootste vloot van enige Europese moondheid. Dié belangrikheid lê daarin dat die Portugese vloot nie net die Ooskus van Afrika bereik het nie, maar ook die Weskus van Indië besoek het (terselfdertyd het Christopher Columbus Europese belange op die Noord-Amerikaanse vasteland gevestig). In Oos-Afrika was dit egter nie net China en Portugal wat handelsbelange bekom het nie, maar ook Arabiere wat om dieselfde redes kontakte begin opbou het.

Dit was die Arabiese handelaars wat Islam in Oos-Afrika gevestig het. Dit het tot die Islamisering van die Ooskus gelei en die grondslag vir ’n nuwe Afrikataal, Swahili, gevestig, wat vandag ’n amptelike taal in Tanzanië en Kenia is.

China se rol en plek in wêreldpolitiek

Daar is ’n opvatting dat die bipolêre wêreld van die Koue Oorlog (die VSA versus die Sowjet-Unie) plek gemaak het vir ’n tripolêre wêreld vandag: die Weste, China en Islam. Dit het ook in Afrika afgespeel.

Dit sou beteken dat China in ’n staat van wedywering met sowel die Weste (VSA en Europa), die Ortodoks-Christelike Rusland en die snel-moderniserende Japan en die Moslemwêreld gewikkel sou wees. Hierdie wêrelddele sluit die Midde-Ooste (bv. Saoedi-Arabië wat die wêreld se grootste olieprodusent is), sowel as Noord-Afrika (bv. Egipte, Tunisië en Marokko) in.

In Wes-Afrika is die Moslemgeloof dominant in Noord-Nigerië; dit is ook waar Boko Haram ’n Islamitiese terreurgroep tans bedrywig is. Hier is dit ’n vertakking van al-Qaeda wat met Osama bin Laden as leier verbind word en wat New York in 2001 aangeval het.

In Oos-Afrika word Islamitiese terreur met al-Shabaab verbind met invloede in Somalië, Kenia, Tanzanië en met die Cabo Delgado-provinsie in Noordoos-Mosambiek het.

Wat is die verhouding tussen China en Islam in Afrika?

Die Chinese sal kennis neem van Moslembelange, veral waar oliebelange ter sake is, soos in Riyadh – die hoofstad van Saudi-Arabië, wat ook die setel van OPUL (Olieprodusente Uitvoerlande) is. Dis waar wêreldwye produksiekwotas vir oliepryse bepaal word. Die ander Moslemvertakking is die Shia, oftewel Ismailisme, waarvan die Ayatollahs (Iran), Hezbollah (Lebanon) en Houthi (Jemen) die belangrikste komponente is.

In Wes-Afrika verleen die Trump-regering van die VSA militêre ondersteuning aan Nigerië met die doel om Boko Haram te verslaan. In Oos-Afrika, spesifiek in die Cabo Delgado-provinsie, is daar nog geen beduidende Westerse of Russiese militêre steun aan die Mosambiekregering verleen nie. Dit gaan hier ook oor die beheer van die hawens van Mocímboa da Praia en Pemba, sowel as die gasvondse van die gebied.

Nie Suid-Afrika, die SA Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), Portugal as voormalige koloniale moondheid in gebied, die VSA, Rusland of China, het toegetree tot hierdie konflik nie. Daar word egter beweer dat Amerikaanse, Russiese en Suid-Afrikaanse privaat militêre organisasies (huursoldate) die Islamiete beveg. Die Frelimo-regering befonds dit. Die Cabo Delgado-problematiek het egter geen besondere uitwerking op die Chinese gordel-en-pad-inisiatiewe nie. Hoe lank dit die geval gaan wees, is onseker.

China se belangrikste handels- en beleggingsvennote in Afrika

Dit wil voorkom of China se “voorkeurlande” vir sy ekonomiese betrokkenheid in Afrika eerstens die olieproduserende state is, soos Nigerië, Angola en Algerië; tweedens fokus China op state met groter potensiaal vir handel en beleggings. Dit sluit Ghana, Uganda, Ethiopië, Mosambiek, Tanzanië, Kenia, Zimbabwe, Namibië en Suid-Afrika in; en derdens Djibouti, wat strategies geleë is op die seeroete vanaf die Persiese Golf, via die Suezkanaal na Europese hawens in die Middellandse See en/of die Noordsee soos Rotterdam en Hamburg. Djibouti speel ’n vername rol in die verdere ontplooiing van Chinese belange in die Midde-Ooste en die Ooskus van Afrika. Dit sou langtermyn belange kon aandui.

China fokus veral op twee state in dié verband: Ethiopië en Suid-Afrika. Die Chinese het byvoorbeeld die Afrika-Unie se nuwe hoofkantoor (’n indrukwekkende gebou) in Addis Abeba aan die kontinent (en Ethiopië) gefinansier en geskenk. Suid-Afrika is ook China se grootste handelsvennoot in Afrika. Daarenteen is China ook Suid-Afrika se grootste handelsvennoot in die wêreld vandag. China se belangstelling in Afrika is dus strategies en vir winsbejag. Die feit dat China so ’n groot rol speel in die vestiging van Djibouti – teenaan die Rooisee, wat die olieryke Persiese Golf met die Suezkanaal verbind, is ’n sterk aanduiding van sy strategiese belange wat dui op die beskerming van Chinese handelsbande met sekere Afrikastate, die Middellandse See en Wes-Europa.

’n Verdere ontleding van China se “voorkeurstate”, soos hierbo uitgespel, is dat Afrikalande met sterk demokratiese profiele nie juis China beïndruk nie: die belangrikste kriterium is ekonomiese eiebelang en nie demokrasiebevordering nie.

Die mees demokratiese state in Afrika is vandag steeds sekere oud-Britse en oud-Franse kolonies. Volgens Freedom House is die mees gekonsolideerde veelpartystate in Afrika die volgende nege state: Mauritius, Tunisië, Kaap Verde (voorheen Portugees) en Ghana (almal het alreeds twee turnovers by die stembus gehad) en dan is daar ook die Seychelles, Suid-Afrika, Botswana, Namibië en Algerië wat gereelde vrye en regverdige veelpartyverkiesings oplewer. Speel China ’n konsoliderende rol in hierdie opsig? Soos hieronder sal blyk, is die antwoord “nee”.

Nie al hierdie veelpartydemokrasieë is op China se lys van “voorkeurstate” nie. China se topbetrekkinge is byvoorbeeld nie met Mauritius, Tunisië, Kaap Verde of Seychelles nie. China het wel (tesame met Rusland en Kuba) belangrike opleiding en wapentuig aan die destydse Vryheidsbewegings vir hulle revolusionêre oorlogvoering in kolonies soos Angola, Mosambiek en Zimbabwe verskaf. Dit was egter lank gelede. Dié dekolonisasiepolitiek geld lank nie meer nie.

China se voortgesette steun vir die Mugabe-regime is onverskoonbaar

Ten tyde van die diktatoriale bewind van Robert Mugabe in Zimbabwe het China voortgegaan om hegte betrekkinge met daardie regime voort te sit. Die Chinese het hulle infrastruktuurprojekte in Zimbabwe verruil vir diamante en tabak. Volledigheidshalwe kan egter gekonstateer word dat China nie ’n “grondgryper” in Afrika was of is nie; en dat China ’n konstruktiewe maritieme rol gespeel het om seerowery in die gebiedswaters van Somalië hok te slaan. Soos vermeld, het China ’n vlootbasis in Djibouti.

Seerowery

Daar is ’n nuwe tendens van seerowery in Afrika en dit is in die Golf van Guinea in die olieryke Baai van Biafra digby Suidoos-Nigerië. Wat hier bedreig word, is die oliebelange van Britse en Amerikaanse petroleummaatskappye, en vanselfsprekend ook van die Nigeriese Nasionale Petroleumkorporasie. Net soos in die geval van Islamitiese terreur in Cabo Delgado, verleen China geen besondere militêre bystand aan Nigerië en/of ander Wes-Afrikastate wat deur seerowery geteister word nie.

In die lig van bostaande kan tereg gevra word of China lugtig is daarvoor om nie met die Islamiete skoor te soek nie. In ’n tripolêre wêreld skyn dit logies te wees.

Nigerië is ook ’n staat waar ’n Islamitiese insurgensie in Noordoos-Nigerië plaasvind (toevallig is daar geen olie in Noordoos-Nigerië nie). Dié insurgensie word onder die naam van Boko Haram gevoer wat deel vorm van die Salafisme wat weer deel is van Sunni van die Saharastreek in Afrika. Die logiese vraag om te vra is of China bang is om Islamiete te konfronteer?

Die COVID-19-terugval

’n Finale slotopmerking is dat die COVID-19-pandemie ’n belangrike terugval vir demokratiese konsolidasie in Afrika is. Dit vertraag ook ’n versnelde “OBOR”, oftewel Gordel-en-pad-inisiatief, wat sekerlik een van die belangrikste ontwikkelingsprojekte sedert die bou van die Aswandam in die Nylrivier en Tazara-spoorprojek tussen Dar-es-Salaam en die Zambiese kopervelde in Afrika is. Ondermyn of bevorder dit die kontinentale vryheidsprojek in Afrika?

Die Chinese het nog altyd tyd aan hulle kant gehad. Hulle is langtermynbeplanners. Daarom word dit in Beijing beplan dat die OBOR-projek eers in 2049 voltooi sal wees. Net betyds vir die afhandeling van die Afrika-Unie se 2063-projek, oftewel die Kigali-Plan van 2018, wanneer die Afrika-vryhandelsgebiede finaal ontplooi is. In dié geval is China die spreekwoordelike jokkie wat op die Afrikaperd se rug ry, en ook eerder ekonomiese belange, wat weinig met demokratiese konsolidasiepolitiek te make het.

Lees meer oor China se Gordel-en-pad-inisiatief (Belt and Road Initiative, BRI) op LitNet Akademies:

China se Gordel-en-pad-inisiatief (Belt and Road Initiative, BRI): Die vroeë invloed op Afrika

Lees meer oor China-Afrika-betrekkinge op LitNet Akademies en LitNet:

China se eerste oorsese militêre basis in Djiboeti: ’n kontekstualisering van die oogmerke, politieke belange en toekomsmoontlikhede

China en Afrika: ’n raaiselagtige mengsel van alles?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top