Ché sing en dans harte warm

  • 0

Ché se musiekvideo “Ek Like Hoe Jy Dans” het op 29 Oktober 2020 die internet getref. ’n Week later het dié enkelsnit Apple Music se Afrikaans Top 20 gehaal en nou, net meer as ’n maand later, het meer as 270 000 mense reeds die video, waarin Snotkop ook optree, gekyk.

Dié meisie en haar danspassies het duidelik ’n toekoms in Afrikaanse musiek.

LitNet het gaan ondersoek instel.

Ché, ek like nogal hoe jý dans. Kom ons begin daar. Waar het jy geleer om te sing en dans gelyk?

Ek het op ’n jong ouderdom begin sing, maar meestal net vir die fun, en natuurlik ook voor die spieël by die huis gedans, maar waar ek rêrig professioneel begin sing het / leer sing het, was toe ek by ’n studio aangesluit het met die naam Studio Chá, en ek het so min of meer by ’n dansstudio gedans met die naam Dynamic Dance Studio.

Die musiekvideo is goed. Die manier waarop Snotkop so uit die hologram kom, is cool. Wie het die storielyn geskryf, die videowerk gedoen, die redigering en die choreografie? Ek vra al die goed want hierdie onsigbare hande gaan te maklik ongeprys.

Ek kan definitief nie vergeet van die amazing span wat gehelp het om die video ’n sukses te maak nie: Ek en oom Ernst Kleinhans van Select het saam gewerk aan die skrywe van die liedjie. Die videowerk en die redigering was gedoen deur Christiaan Wolf en sy ongelooflike span. Die choreografie was gedoen deur ’n unbelievable danser, Ashley de Moore.

En Snotkop? Dis ’n dude met ’n naam. Hoe was dit om met hom saam te werk?

Om saam met Snotkop te werk, is definitief ’n groot eer en voorreg. Hy is eerlikwaar een amazing persoon en kunstenaar na wie ek opkyk.

Het Faf al kommentaar gelewer op sy naam in jou song?

Nie huidiglik nie, maar daar is definitief iets van hom op pad.

Daar is ’n cool oomblik waar ’n klomp tieners op hulle selfone sit en kyk. Die een dra ’n T-hemp met Iron Maiden op. Wie is jou musikale helde?

Ek is ’n groot fan van Selena Gomez en Ariana Grande. Ek love die manier hoe hulle hulle musiek skryf en produce. Die emosie en passie wat hulle in hulle musiek inbring is iets waarmee ek kan relate.

Kan ons uitsien na nog treffers van jou kant af?

Ja, beslis. Ek is huidiglik besig om aan my volgende Afrikaanse hit song te werk.

Waar kan ons verwag om jou in die volgende ruk te sien sing en dans?

Omdat ek die laaste ruk so besig was, vandat ek “Ek Like Hoe Jy Dans” gelaunch het, is daar geen vaste shows vir die Desembervakansie nie. Net lekker relax en kuier, maar van Januarie af is ek weer hard aan die werk.

Liefde, Ché

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top