Cats is terug en die hele Kaapstad kattemaai!

  • 0

Picture: Nardus Engelbrecht

Cats, naas The phantom of the opera – waarskynlik Andrew Lloyd Webber se bekendste werk – is ’n viering van poësie, musiek en beweging. Die musiekblyspel is gegrond op Old Possum’s book of practical cats deur TS Eliot, en die musiekblyspel het in 1981 in Londen se West End sy première gehad. En dit speel tans die Kaap aan die brand!

Dit het oor 21 ononderbroke jare byna 9 000 vertonings in Londen gehad en oor 18 ononderbroke jare op Broadway bykans 7 500 vertonings; rekords is gebreek en musiekteater is herdefinieer.

Die storie handel oor Jellicle-katte wat bymekaarkom vir hul jaarlikse Jellicle-bal. Tydens die bal kies hul leier, Old Deuteronomy, een kat om na die “Heaviside Layer” op te styg en in ’n nuwe lewe wedergebore te word. Die musiekblyspel volg verskeie katte terwyl hulle hulself voorstel en verduidelik waarom hulle verdien om gekies te word. Die uitgeworpene Grizabella sing uiteindelik die beroemde “Memory” en word uiteindelik vir wedergeboorte gekies.

Om in die voorportaal van die Kunstekaap-teater te staan en deel te wees van die energie wat soos ’n weerligstraal deur almal loop, is iets besonders. Vele mense het katoortjies op hul koppe, ander het luiperdmotief klere aan en hier en daar is katprentjies op jong lywe.

Die kattekoors loop hoog en dis ook gou baie duidelik dat vir vele mense dié nie hul eerste keer saam met Grizabella, Old Deuteronomy, Rum Tum Tugger, Munkustrap, Macavity, Jennyanydots, Mr Mistoffelees en Skimbleshanks is nie.

Wat die nuutste Suid-Afrikaanse speelvlak egter nog meer besonders maak, is dat dit volsirkel gekom het vir ’n groep mense. Toe die bekende teatermaker, Pieter Toerien, in 2001 besluit het om Cats the musical na Suid-Afrika te bring, was dit ’n deurslaggewende oomblik vir plaaslike teater. Hy was een van die oorspronklike beleggers in 1981 in Engeland en dit was ’n droom om die produksie na die suidpunt van Afrika te bring.

Die produksie se dawerende sukses het bewys dat wêreldklas-musiekblyspele plaaslik vervaardig kan word én groot gehore kan lok. Dit het gehelp om Suid-Afrika as ’n primêre bestemming vir groot internasionale produksies te vestig.

Picture: Nardus Engelbrecht

Nou, ’n kwarteeu later, is Cats weer terug en ’n deel van die 2025-span is ’n merkwaardige groep van vyf mense wat ook betrokke was by daardie heel eerste Suid-Afrikaanse produksie in 2001. Dit sluit in Duane Alexander wat destyds as swing- en danskaptein gedien het en nou residensiële regisseur en choreograaf is. Juanita van Wyk, voorheen verhoogbestuurder, is nou groepbestuurder, terwyl Gareth Hewitt Williams, wat Mungojerrie in 2001 gespeel het, nou Cats saam met Pieter Toerien en LW Entertainment aanbied. Ande Gibson, voorheen groepbestuurder, is ’n vervaardiger by Pieter Toerien Productions, en Madelein Krugell, die pruikemeester in die oorspronklike produksie, is nou weer in daardie rol.

Die feit dat dieselfde kreatiewe energie van 2001 amper tasbaar is in hierdie produksie, bring ’n nostalgie saam met die opwinding van ’n nuwe speelvlak.

Die rolverdeling vir die Suid-Afrikaanse speelvlak is sonder twyfel een van die ander sterk punte vir hierdie 2025-herlewing. Cindy-Ann Abrahams speel die ikoniese rol van Grizabella. Haar vertolking van “Memory’’ het my hele lyf in hoendervleis gehad en toe in trane. Met King B as die waardige Old Deuteronomy; Dylan Janse van Rensburg as die onweerstaanbare Rum Tum Tugger; en Ché-jean Jupp as Munkustrap, kon die gehoor nie genoeg kry nie.

Die ensemble is ewe indrukwekkend, met kunstenaars soos Tatum Coleman as Bombalurina; Stephan van der Walt as Macavity; Zoe McLaughlin as Jennyanydots; Jordan Roelfze as Mr Mistoffelees; en Logan Timbre as Skimbleshanks, om maar net ’n paar te noem. Die uitgebreide lys wys duidelik op Toerien en sy span se verbintenis om plaaslike talent uit te lig op ’n internasionaal-erkende platform.

Dis wanneer die katte voor en tydens die vertoning tussen die gehoor inloop dat jy kans kry om hul indrukwekkende pruike en grimering van nader te bekyk. Madelein het haarself uitstekend van haar taak gekwyt.

Ook die grimering is iets besonders. Maria Cave, die grimeerbestuurder – ’n internasionaal-erkende grimeerkunstenaar met ’n flair vir karakterontwerp en ’n fyn oog vir teaterestetika – het onlangs elke akteur persoonlik kom oplei om die grimering te doen volgens die grimeerbybel wat deur John Napier – wat ook die kostuums en stel van die oorspronklike Cats ontwerp het – opgeteken is.

Met 24 verskillende katte in die musiekblyspel het dié grimeerkunstenaar haar hande vol gehad om die ikoniese katgesigte – elk met unieke patrone, kleure en lyne wat die persoonlikheid en rol van die karakter weerspieël – oor te dra. Die proses meng fyn tegniek met vinnige uitvoering – akteurs moet daagliks in net ’n paar minute in herkenbare Jellicle-katte omskep word. Hulle werk volgens ’n grimeerbybel om te verseker dat elke vertoning se katte presies dieselfde lyk.

Ek dink die bekoring van Cats lê daarin dat jy baie gou jou gunsteling-Jellicle-kat identifiseer en dat die musiekblyspel ’n bruisende energie, ongelooflike choreografie, glinsterende kostuums en die ikoniese, grootskaalse rommelwerf as agtergrond het. Dan is daar ’n bietjie jazz, bietjie rock, soms wil-wil jy opera hoor; daar is bietjie saamsing met nostalgie, maar geen oomblik se verveling nie.

My gunsteling was Dylan Janse van Rensburg as Rum Tum Tugger. Daar was so ’n effense Frank-N-Furter van The rocky horror picture show in sy heupe. Maar die gehoor was mal oor Ché-jean Jupp as Munkustrap, Stephan van der Walt as Macavity en Jordan Roelfze as Mr Mistoffelees.

Die akteurs se lui, katagtige soepelheid maak van hulle oortuigende vierbeenkreature wat ligvoets oor die verhoog beweeg.

Die liggies en katogies en dramatiese beligting voer jou weg na ’n ondergrondse wêreld vol stories.

Die teater was tot barstens toe vol en dis nog nie eers behoorlik vakansie nie. Dis beslis een vir die feesgety – en jy kan ouma en oupa en kleinboet ook saamneem; dit spreek tot elke hart.

Cats

  • Met onder meer: Cindy-Ann Abrahams, King B, Dylan Janse van Rensburg en Ché-jean Jupp
  • Deur: Andrew Lloyd Webber 
  • Choreografie: Duane Alexander 
  • 185 minute met pouse ingesluit
  • Geen o5’s
  • Cats speel in Kunstekaap in Kaapstad tot 11 Januarie, waarna dit van 17 Januarie tot 22 Februarie by The Teatro at Montecasino te sien is. Kaartjies deur Webtickets en die Kunstekaap-kaartjieskantoor by 021 421 7695.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top