Carnegie Hall wink vir Stellenbosse Studentekerkkoor

  • 0

Carnegie Hall is wêreldbekend as een van die mees gesogte konsertsale en -instansies wat daar is. Maar wat het dit met 'n Stellenbosse koor te doen? Louis van der Watt vertel vir Naomi Meyer.

Hallo Louis, jy is vioolspeler en -dosent. En baie ander dinge! Wat nog?

Ek onderrig viool en altviool, en doseer onderwysmetodiek en repertoriumstudies aan die US se Konservatorium. Ek is ook gasdirigent van die US Simfonieorkes, en dirigent van Canticum Novum, die Stellenbosse Studentekerkkoor verbonde aan Moederkerk. Verder is ek reeds 33 jaar lank voltydse kerkorrelis (tans by Stellenbosch Sentraal-gemeente). Verlede jaar het ek die Stellenbosch Junior Strykorkes vir laerskoolleerders uit Stellenbosch en omgewing op die been gebring, en is dus ook hulle dirigent.

Buiten my werksaktiwiteite het ek die volgende belangstellings: tuin uitlê (hoe bonter hoe mooier), hardloop (hoe verder hoe beter), lees (niefiksie – CS Lewis ononderbroke, enigiets oor die Boereoorlog – wat ek nou nog veg – of die Tweede Wêreldoorlog; Middle English poësie en prosa; argitektuur – Gotiese katedrale en moderne wolkekrabbers; fiksie – Engelse skrywers soos Michael Dibdin, Reginald Hill en PD James, en slegs twee Amerikaners wat my aanspreek, naamlik Tony Hillerman en Robert B Parker).

Nog passies: tale oud en jonk, teologie (ek kry gelukkig darem nog preekkans so nou en dan).

Wat vir my lekker is van my lewe, is dat ek voel dat dit gebalanseerd is.

Ek sal in my hart altyd ’n Vrystater bly. Dis waar ek geleer het wat die tydlose waardes is: vroomheid, nederigheid, dankbaarheid, waardering.

Les bes my gesin: Marike, Elsa-Marié, Jani en Steyn.

Vertel asseblief vir ons lesers van die Canticum Novum-koor (en by jou antwoord sal ek ook YouTube-video’s van jul optredes byvoeg). Wie is hulle en wat sing hulle?

Canticum Novum is die Stellenbosse Studentekerkkoor verbonde aan Moederkerk. Ons is egter in alle opsigte inklusief, dus is daar ook werkende jongmense, asook ouer mense (vir wie ons eerder “grondbesitters” noem – ’n mens wil liewer ryk voel as oud …). Ons verwelkom mense van alle kleure en geure, en van enige geloofsoortuiging. Die koor se naam, saam met sy leuse (“Cantate Domino”) som ons wese op: “Sing vir die Here ’n Nuwe Lied”. Ons sing byna uitsluitlik gewyde musiek – nogal ’n unieke “missie en visie” vir enige koor.

Die koor het dieselfde naam as ’n koor in New York  – die Canticum Novum Singers - of hoe? En is hulle nie die sanggroep van Carnegie Hall nie?

Ek het maar pas verneem dat daar ’n koor met dieselfde naam in New York is. Ek het die Studentekerkkoor in 2000 hierdie naam gegee na aanleiding van die Latynse woorde van ’n paar Bybeltekste (Jesaja 42:10, Ps 33, 40, 96, 98, 144, Openbaring 5:9, 14:3). In die New York-groep se geval dui “Canticum Novum” oënskynlik meer op die feit dat hulle baie moderne/nuwe werke uitvoer. Dit lyk ook nie of hulle ’n vaste koor van die Carnegie-sentrum is nie.

Ek vra jou natuurlik doelbewus oor hierdie groep, want ek hoor die Canticum Novum-koor waarvan jy die koorafrigter is, het onlangs van Carnegie Hall gehoor. Wat het in die korrespondensie gestaan?

In die eerste e-pos – uit die bloute – onder die volgende: “Ïn researching quality choirs I came across a few clips of your ensemble.”

Hier is 'n amptelike uitnodiging en persverklaring soos wat ek dit per e-pos ontvang het.

Wat gaan nou gebeur, Louis? Is julle op pad Carnegie Hall toe? Eerder: Wat is nodig sodat julle kan gaan?

Vir die koor om as volle groep te gaan sal daar ’n finansiële wonderwerk moet gebeur (met “volle groep” bedoel ek in die eerste plek al die permanente lede, en dan die oudlede). Ons is nie ’n “polities korrekte” koor nie: (1) die meerderheid koorlede is Westers (ek wil nie praat van “wit”, “swart” ens nie, want dit bestendig net raskategorieë); (2) ons sing slegs gewyde musiek (hoogs ongerymd). Ek is dus versigtig pessimisties …

Jou koor is ’n kulturele uitvoerproduk vir die hele land. Maar almal draai die sente om. Is dit ’n ope uitnodiging wat jul ontvang het sodat julle tyd het om fondse in te samel, of is die uitnodiging aan ’n spoedige datum gekoppel?

Die sperdatum vir ’n deposito van $200 per koorlid is 15 Junie! Jeffery Thyer, die intendant in New York, is wel bereid om vir ons enkele weke grasie te gee in die lig van die feit dat die universiteit en die koor in reses is.

Carnegie Hall (Foto: tripadvisor.co.uk)

Die moeilikste vraag van almal: Waarom kan iemand wat hier lees, daaraan dink om jul koor se droom te help vervul?

Jou vraag is eintlik ’n baie gepaste en pertinente vraag. My antwoord (eintlik pleidooi): Canticum Novum is ’n koor wat geen befondsing van enige aard van enige instansie ontvang nie. Ons jaarlikse uitvoerings van ’n groot koor-en-orkes-werk (soos die Mozart Requiem) is ons grootste bron van inkomste. Wins vanjaar: ongeveer R12 000 – genoeg om drie-vyfdes van een koorlid se lyf in New York te kry!

Soveel jare lank reeds werk ons hard en lewer ’n unieke en gehalteproduk, maar in ’n sekere sin gebeur dit “in die stilligheid” sonder dat dit aan die grote klok gehang word. Meer as aan myself gun ek dit aan my koorlede om die vrugte van baie opoffering en geesdrif te pluk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top