’n Paar jaar gelede was Riana Scheepers en Suzette Kotzé-Myburgh verantwoordelik vir die samestelling van Nuwe Kinderverseboek. Dié publikasie is ’n groot sukses en is al twee keer herdruk. Ons het uitstekende terugvoering gekry, nie net van die algemene publiek en resensente nie, maar veral ook van opvoedkundige instansies.
Sedert die verskyning van Nuwe Kinderverseboek het ons nie stilgesit nie. Vir ons nuwe projek werk ons saam met Gertie Smit, voormalige lektor van CPUT in Wellington en ’n bekende in die Wes-Kaap op die terrein van kleinkinderonderwys. Tans is sy as Beheerraadslid van Kinderland op Wellington ten nouste gemoeid met die opvoedkundige program vir voorskoolse kinders. Die idee vir ons voorgenome bundel, Rympies vir pikkies en peuters,is eintlik háár breinkind.
Die enorme behoefte aan gediggies en liedjies vir kinders in die voorskoolse fase vra om ’n omvattende bloemlesing wat deur kleuterskoolonderwysers, dagmoeders, ouers en grootouers gebruik kan word. Ons beoog ’n opvolgbundel vir die ouer kleingoed, Rympies vir kleintjies en kleuters,maar ons fokus is nou eers op die heel kleintjies: peuters van 1 tot 3 jaar. Die bundel sal voldoen aan die kurrikulumvereistes van die Nasionale Onderwysdepartement om pasklaar voorsiening te maak vir die opvoeders se behoeftes.
Ons wil jou graag uitnooi om deel te wees van hierdie opwindende projek om vir ons kleinste lesertjies (luisteraartjies) ’n wonderlike skat van woord en klank en verwondering en pret byeen te bring. Omdat ons met ’n spesifieke teikengroep werk, is daar ’n paar noodsaaklike voorskrifte:
1. Ons is op soek na gediggies, liedjies en aksierympies vanaf 2 reëls tot maksimum 8 reëls. Nie langer as 8 reëls nie, want ons kleintjies se aandagspan is nog beperk. ‘n Goeie versie kan net twee reëls lank wees! (Sien “Vingertjies en toontjies” hier onder.)
2. Die fokus is op eenvoudige woorde met baie herhaling en klanknabootsing. (Sien “Ek stap in die reën” hier onder.)
3. Pasop vir oormatige verkleinwoorde. Wanneer dit in konteks is, is verkleinwoorde doodreg, soos wanneer daar oor ‘n kind se voetjies en vingertjies geskryf word, maar vermy liefs woorde soos pappatjie en mammatjie en ander ongemotiveerde verkleinings.
4. Hou by gediggies wat rym en wat ritmies en metriesvormvas is. As die versie nie rym nie (soos in “Wegkruipertjie” hier onder), moet dit wel ander nodige bindingselemente bevat sodat dit steeds ’n poëtiese eenheid met ’n vaste struktuur vorm. In “Wegkruipertjie” rym die 1ste en 3de strofe, maar nie strofe 2 nie. In hierdie strofe word die begrippe in, op, onder en agter gedemonstreer wat die strofe tot eenheid bind.
5. Hou asseblief by die temas en subtemas wat aangegee word. Soos jy sal sien, is die temas baie wyd – daar is geen rede om kunstig ingeperk te voel nie. Kies die temas wat tot jou spreek en laat waai met die rympies! Dubbelklik net op hierdie skakel om jou na die internetblad met die uiteensetting van die temas te neem:
http://www.surveymonkey.com/s/T95N538.
Let wel: Heel aan die einde van die dokument is ’n blokkie wat sê: “Moenie hier kliek nie.” Die program is van so ’n aard dat as jy daar kliek, jy nie sal kan terugkom na die dokument nie.
6. As mens so na al die inligting van die verskillende temas kyk, sal jy dalk wonder wat op dees aarde hierdie inhoud alles met peuters te doen het. Onthou gerus dat hierdie uiteensetting as agtergrond dien vir die opvoeders van Kinderland. Elke opvoeder kies aspekte wat by haar spesifieke ouderdomsgroep (tot 5 jaar) pas en bied dit in baie eenvoudige taal aan.
7. Formaat: Skryf boaan elke gedig wat die tema is. Gee ook ’n titel vir elke gedig. Sorg dat jou naam onderaan elke gedig verskyn. Die voorbeeldgedigte wat volg, dui hierdie voorgeskrewe formaat aan. Jou verse moet asseblief nie in blokkies of kolomme, of met enige illustrasies of versierings, aangestuur word nie.
8. Die bydraes moet jou oorspronklike werk wees. Moet asseblief nie in die slaggat val om ’n reël iewers te steel nie, want ons kan jou nie beskerm as jy skuldig bevind word aan plagiaat nie. Met vandag se gevorderde rekenaarprogramme word plagiaat wel een of ander tyd ontdek, tot groot verleentheid van die skrywer.
9. Daar is geen beperking op die aantal inskrywings nie. Hoe meer van jou verse gebruik word, hoe groter is jou tantième-aandeel. Tantième sal pro rata volgens die voorgeskrewe riglyne vir bloemlesings betaal word.
10. Sperdatum: 1 Desember 2013. Stuur jou bydraes per e-pos aan rianas@mweb.co.za.
Ons sien uit daarna om jou inskrywings te ontvang!
Met vriendelike groete
Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit.

