In die 19 Januarie-uitgawe van die e-nuusbrief van University World News stel Rosemary Salomone van die St Johns Universiteit se Skool vir Regte die argument dat die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof die kern van die saak misgekyk het met die besluit oor Afrikaans by UV. Hierdie bydrae is te lese by http://www.universityworldnews.com/article.php?story=20180117110720340#.WnV0STISq_o.gmail.
Die skrywer is ’n akademikus in die regte wat oor taal- (linguistiese) geregtigheid, identiteit en die onderwys skrywe. Sy skryf tans aan ’n boek oor die globale rol van Engels en hoe dit taalregte raak. Sy skryf uit ’n taalgeregtigheidsperspektief, en sy wys op die feilbaarheid van hofbesluite – hoe argumente vasgevang is in die debatte van die dag en nie altyd toekomsgerig is nie.
Die punt wat Salomone in hierdie artikel beklemtoon, is dat die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof se uitspraak tekort skiet aan visie om die taalregte van al die landsburgers te verreken en nie die implikasies van veeltaligheid in ag neem nie. Sy voer aan dat argumente en besluite van die Konstitusionele Hof die rasverdelings in Suid-Afrika weer eens en opnuut na vore bring, en dis sigbaar in die rasverdeling van die hof se stemming oor die UV-saak.
Dat alles rondom tale in Suid-Afrika steeds “ver-ras” word, is geen verrassing nie.
Hierdie ontleding van Rosemary Salomone word hopelik baie wyd in Suid-Afrika gelees. Dit moedig mens aan om te besef dat hofbesluite wat soms as allesbepalend geneem word, ook reaktief is, met beperkte historiese perspektiewe geneem word, en nog nie die toets van die geskiedenis deurstaan het nie.
Salomone vra die vraag of die Konstitusionele Hof se meerderheidsbesluit minder gaan oor die “krag van Engels as verenigende neutrale taal”, en meer oor die simboliese assosiasie van Afrikaans met die rasgemotiveerde foute van apartheid en mense se behoefte om onregte van die verlede met sprekers self af te reken.
Wat ’n vraag!
Engels is nié ’n neutrale taal nie. Alle sprekers in Suid-Afrika het hulle funksionele asook gevoelsassosiasie met Engels, soos met enige ander taal. Sommiges kies Engels as taal van bevryding, as taal teen Afrikaans, en as taal van sosiale mobiliteit. Matrikulante uit townshipskole doen die Engels met oorgawe; welsprekend; welwetende dat geen geleenthede vir hoër onderwys in huistale regtig bestaan nie, en dat Afrikaans as opsie onbegonne bly. Engels is daarom noodgedwonge die gekose taal. Doen jy Engels voluit, kan jy graad kry en die middelklaslewe proe. Dís die aantrekkingskrag van Engels – die taal van sosiale mobiliteit. Dis ook die medium om met landsgenote op universiteit te kommunikeer en daarin te leer.
Vir Engels om ’n verenigende taal te wees, moet dit deur almal as identiteitstaal aanvaar word, wat tot ’n beperkte mate gebeur. Groter tale soos Zoeloe, Sepedi en Xhosa is eerder die identiteitstale buite die formele-onderwysomgewing, soos elders in Afrika waar Frans en Engels die tale van universiteite is, maar die plaaslike Swahili die kulturele eenheidstaal is.
Salomone vra die goeie vraag hoe Afrikaans gekarakteriseer word – as wit-etnies-Afrikaner-gegrond in raskonflikte van die verlede, of as die taal wat ’n teken is van ’n nie-etniese taalidentiteit, gedistansieer van die rasse-oorheersing van die verlede. Sprekers in die laasgenoemde kategorie het die reg op grondwetlike beskerming, meen sy.
Salomone impliseer voorts dat die ruimte vir Afrikaans as eenheids- en identiteitstaal wel bestaan, hoewel nie nasionaal nie, mits die taal die historiese assosiasies kan oorkom. Kan Afrikaans dit doen? Miskien wel in streekverband en wanneer dit gepaard gaan met toenemende en uitgebreide sosiale, ekonomiese, godsdienstige inklusiwiteit. Dit beteken ’n nuwe sosialisering in gemeenskappe, nie in gehekte gemeenskappe nie, want daar is Engels reeds die identiteitstaal van die hoë middelklas.
Die UV-taalrigting baan die weg vir die US, en selfs skole. Dit bring mee dat Afrikaans al minder sterk staan as wetenskapstaal. Die huidige generasie van Afrikaanse
akademici/navorsers wat nog in Afrikaans werk, is seker 80% minder. Hierdie akademici doen hulle kenniswerk in Engels en het al 10 jaar gelede hulle laaste klasse in Afrikaans gegee. Maar die generasie gaan voort in Engels, en het afgesien van die voorreg om Afrikaans steeds as wetenskapstaal te help bou. Een goeie voorbeeld is die situasie by UJ se ingenieursfakulteit, waar die gradeplegtigheidboekie einde verlede jaar toon dat 98% nie-Afrikaanse studente begelei is deur studieleiers wat almal Afrikaanse vanne het.
Laastens lei mens uit Salomone se skrywe af dat die Konstitusionele Hof se besluit ’n boodskap kommunikeer, naamlik: Afrikaans-belanghebbendes kan hulle stem laat hoor, maar die praktiese oorweging van die universiteit word deur die Hof hoër geag, en dit lei tot minagting en wraakgedagtes wat rassespanning verhoog.
Mens kan jou vereenselwig met Salomone se hoopvolle noot dat daar meer openbare debat sal kom oor hoe om strydende belange wat verby rasgrense gaan, te versoen, en oor hoe alle belanghebbendes, nie net universiteite nie, nuwe maniere kan vind van gemeenskapsbou wat rasintegrasie bevorder. Dit, meen sy, is getrou aan die ware veeltalige aard van die land waar die regte van alle studente beskerm moet word om in die taal van hulle keuse te leer.
Kommentaar
Die probleem wat Afrikaans tans ervaar is grootliks te wyte aan sy sprekers wat nie meer hulle taal magtig nie. Ons lei ongelukkig nog steeds aan die nagevolge van die Engelse inval en oorname van Suid-Afrika, naamlik minderwaardigheid. Daarom dink ons dat deur Engels te praat, ons meer aanvaarbaar vir die samelewing om ons sal wees. In my beroep word daar daagliks onbewustelik en doelbewus druk op ons geplaas om, vir eenvormigheid, Engels te praat. Ons moet eers selfondersoek doen, onsself aanvaar en ophou met ons "jammer ons bestaan" houding voordat ons vorentoe kan gaan. As jy by US in 'n klaskamer sit moet jy die selfvertroue hê om, soos die Engelsman in die klas, aan te dring op klas in Afrikaans. Dis immers ons geld wat die instansie aan die gang hou.
Hoop hierdie word ook gelees as deel van die seminare oor universiteitstale!