
Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)
.........
Laat verlede week kom die nuus dat die swart Amerikaanse basketbalspeler Brittney Griner in Moskou gearresteer is. Sy het dagga-olie, wat ’n verbode middel in Rusland is, in haar besit gehad.
...........
Laat verlede week kom die nuus dat die swart Amerikaanse basketbalspeler Brittney Griner in Moskou gearresteer is. Sy het dagga-olie, wat ’n verbode middel in Rusland is, in haar besit gehad.
Aanvanklik kon ek nie verstaan wat sy in die eerste plek in Rusland maak nie. Poetin bal vuiste vir die Weste, en sy loop lol met ’n middel wat die Russe as ’n dwelm beskou, en wat haar 10 jaar tronkstraf op die hals kan haal, in die hartjie van die vyand? Maak nie saak dat die vape en die olie in die VSA wettig is nie. Dis tog Reël 101 van internasionale reise: Maak seker dat jy weet wat die plaaslike reëls is voor jy ’n land ingaan. Moenie verwag dat wat aanvaarbaar in jou land is, aanvaarbaar is in die land wat jy besoek nie.
Hoe meer inligting beskikbaar word, hoe meer vrae is daar.
Griner, ’n Olimpiese gouemedaljewenner, is skynbaar alreeds in Februarie in hegtenis geneem. Sy speel al vir jare in Rusland basketbal om haar inkomste aan te vul. Dus het sy, so word geargumenteer, van beter geweet as om verbode middels saam te dra. Ergo, dis op haar geplant as voorwendsel om haar in hegtenis te neem.
Hoekom? Poetin soek skoor met Biden.
As hierdie redenasie korrek is, dan het Poetin hom gruwelik misgis. Amerika gaan hulle nie laat uitlok om die Derde Wêreldoorlog te begin oor hierdie arrestasie nie. Hulle sluit dan gereeld self swart mense toe vir besit van dagga.
Ek twyfel selfs of Griner ’n hoë genoeg profiel het om Amerika te beweeg om in onderhandelinge te gaan met die Russe om haar uit te ruil vir iemand wat die Russe wil terugkry. Dalk, as daar genoeg druk in die media op die Biden-administrasie geplaas word, sal hulle iets doen. Dalk. Iets.
..........
Die ware waarde van Griner se arrestasie, as dit polities gemotiveer is, lê daarin dat daar nog ander Amerikaanse sportsterre in Rusland is wat sukkel om die land te verlaat.
...........
Die ware waarde van Griner se arrestasie, as dit polities gemotiveer is, lê daarin dat daar nog ander Amerikaanse sportsterre in Rusland is wat sukkel om die land te verlaat. Seer sekerlik is daar nou vrese dat hulle deur doeane voorgekeer en aangehou kan word onder valse voorwendsels. En as meer sportsterre gearesteer word, sal Biden genoop word om te reageer.
Die groter vraag, ten minste vir my, is hoekom Amerikaners in elk geval in Rusland (of enige ander land) hulle sport beoefen. Baie Suid-Afrikaanse atlete werk oorsee omdat daar meer geld in is. Dit blyk nou dat vroulike Amerikaanse atlete met dieselfde probleem sit. Hulle verdien nie genoeg in Amerika om ’n ordentlike lewenstyl te handhaaf nie. Hulle manlike ewekniee het nie dieselfde probleem nie.
En dis nie net basketbal nie. Die Amerikaanse vrouesokkerspan het hul unie gedagvaar om gelyke betaling met hul manlike ewekniee s’n te ontvang. In daardie geval was dit selfs meer skreiend. Die vroulike span is wêreldkampioene. Die mans is maar so-so, maar hulle verdien aansienlik meer as die vroue.
Die hof het die vroue gelyk gegee, en in die toekoms sal hul betaling ooreenstem met wat die mans ontvang. Of die sokkerbase dit so sal aanvaar, is natuurlik ’n ope vraag. Ek verwag dat die manlike sokkerspelers binnekort in kennis gestel sal word dat hulle vergoeding verminder word, eerder as om die vroue se betaling op te skuif.
.........
Dalk sal Griner se arrestasie, veral as meerdere vroulike atlete ook gearresteer word, die impetus wees om te verseker dat atlete op meriete vergoed word, eerder as volgens hulle geslag.
Dalk maak dit selfs opnuut ’n gesprek oop oor hoe ongelyk die Amerikaanse regstelsel wit en swart beskuldigdes in dwelmarrestasies hanteer.
.........
Dalk sal Griner se arrestasie, veral as meerdere vroulike atlete ook gearresteer word, die impetus wees om te verseker dat atlete op meriete vergoed word, eerder as volgens hulle geslag.
Dalk maak dit selfs opnuut ’n gesprek oop oor hoe ongelyk die Amerikaanse regstelsel wit en swart beskuldigdes in dwelmarrestasies hanteer.
Intussen, en vir die afsienbare toekoms, is Griner ’n politieke speelbal in ’n speletjie waar sy nooit kan wen nie.


Kommentaar
As Biden enige murg in sy pype het sal hy sy M16-agente instuur en Putin gaan uithaal in sy eie erf.