Brief aan ’n vriend wat glo #BlackLivesMatter is nie so belangrik soos #AllLivesMatter nie

  • 2

Beste X

Ek skryf hierdie brief aan jou in reaksie op die Facebook-status wat jy vroeër hierdie week gteplaas het. Jy weet van watter een ek praat, maar omdat ek kies om hierdie brief te laat publiseer,wil ek net kortliks daarna verwys sodat ander die konteks waarbinne ek hierdie brief skryf, sal verstaan.

Ek gaan jou nie verbatim aanhaal nie. In die status spreek jy jou frustrasie uit met al die #BlackLivesMatter-statusse wat jy deesdae sien, omdat vir jou alle lewens van belang is. As jy #BLM-statusse sien, beteken dit jy het swart vriende. Sommige van my eie statusse die afgelope week verwys na #BLM, en waarskynlik het jy dit gesien.

Jy’s nie die eerste of enigste wit persoon wat daai sentiment opper nie. Jy is die enigste een op wie ek reageer, omdat jy regtig ’n besonderse mens is. Ek geniet jou geselskap, en elke interaksie wat ek met jou het, maak die lewe net so ’n titseltjie meer pret en interessant. Jy’s empaties, en ek het nog nooit die indruk gekry dat ras vir jou ’n issue is nie. Dis hoekom ek met jou wil engage hieroor. Ek weet ook daar’s ander wat nes jy voel, en wat ook swart vriende het, en wat waarskynlik nie die ironie besef van die statement wat hulle maak nie. Of die skade wat dit berokken nie.

Alhoewel #BLM gefokus is op die Amerikaanse samelewing, is dit hier ook net so van toepassing. Swart lewens is goedkoop. Dis die hartseer waarheid. En ingeval jy wonder, ek beskryf myself as swart eerder as bruin. Ek weet dis deesdae die tendens om van bruin te praat. Ek verkies om dit nie te doen nie.

Swart lewens is goedkoop, en as jy wonder of dit waar is, kyk net bietjie na die nuus. Kyk na rampe dwarsoor die wêreld. Frankryk is nuus. Sirië is deesdae nuus omdat hulle op Europa impak het. Dwarsoor Afrika is daar rampe wat selde die nuus haal, en selfs meer seldsaam op die voorblad beland. Soortgelyke rampe en aanvalle in Europa of Noord-Amerika haal die voorblad en bly daar vir dae.

Verlede jaar is nege swart mense in ’n Amerikaanse kerk afgemaai. Dit het skaars ’n blip op die radar gemaak. Verlede week is vyf wit polisiemanne geskiet, en dit was nog elke dag in die nuus. Die Amerikaanse president het sy Spaanse staatsbesoek kortgeknip om in Dallas besoek af te lê.

Laat ek myself baie duidelik maak. Ek maak nie hierdie vergelykings omdat ek dink dis ’n kompetisie waar een se swaarkry of seerkry erger as ’n ander s’n is nie. Dis heeltemal moontlik om seer te voel saam met die families van die swart mans wat aan die hande van die polisie gesterf het en om seer te voel saam met die families van die polisiemanne wat gesterf het. Dis moontlik om te treur oor die mense wat in Parys gesterf het en die mense wat in Iran of Ghana of Sirië gesterf het. Dis nie waarvan ek praat nie.

Ek praat van die reaksie op die sterftes. Die een noop mense om hulle Facebook-profielfoto’s te verander, en “Je suis (voeg in Europese/Noord-Amerikaanse ramp)”  as status te plaas; die ander ontlok feitlik geen reaksie nie. Swart lewens word nie betreur nie. Daar word nie dieselfde waarde geheg aan die verlies wat swart families ervaar nie.

Dis vir jou maklik om te sê alle lewens is van belang, want jy as wit middelklas man weet nie wat dit beteken om op grond van eienskappe buite jou beheer negatief beoordeel te word nie. Jy weet nie wat dit is om bevrees te wees dat iemand gaan dink jy’t die kar gesteel as jy in ’n luukse voertuig iewers ry nie. Dis maklik om onnadenkend (en ja, ek dink jy het dit gesê sonder om jou woorde behoorlik te weeg) te sê “all lives matter” as jy nie weet wat dit beteken as jou lewe en jou liggaam as goedkoop, weggooibaar hanteer word nie.

Kyk maar na die nuusdekking oor die SAUK-skorsings. Dit het begin met ’n swart vrou wat ’n beleidsbesluit bevraagteken het. Sy is deur twee wit kollegas ondersteun. Kyk egter na die nuusdekking sedertdien. Haar naam word so in die verbygaan genoem, terwyl die twee wit kollegas as die helde in die saak beskryf word- die wit man eerste, natuurlik. Niemand bevraagteken dit nie, want dis hoe dinge werk. Oor ’n maand of twee sal haar naam heeltemal vergete wees, terwyl die wit man herdenk sal word as die ultimate kampvegter wat teen die SAUK opgestaan het. Swart lewens is minder belangrik, in die keuses wat hulle maak, in die lewens wat hulle lei en in die sterftes wat hulle ly. Dis hoe dinge werk.

Hier is die punt wat jy skynbaar mis: #BLM beteken nie ander lewens is onbelangrik nie. Dit beteken bloot dat daar nou en hier nie voldoende fokus op swart lewens is nie, terwyl swart lewens in gevaar is. Hier en nou. Wat beteken jou stelling? Beteken dit, om dit tot sy absurde gevolgtrekking te neem, dat as een huis brand, moet die brandweer aan al die huise in daai straat ewe veel aandag gee, want almal se huise beteken vir hulle ewe veel? Natuurlik nie, want terwyl die brandweer tyd bestee op ’n huis wat nie brand nie, gaan die brandende huis tot niet.

As jy dokter toe gaan met ’n gebreekte arm, gaan jy die dokter verkwalik dat hy nie al twee jou bene ook in gips sit nie, want al jou ledemate is ewe belangrik?

#BLM, #woke, #luister is nie ’n kompetisie om te sien wie se lyding is die ergste nie. Dis ’n noodkreet, een wat jy verkies om te ignoreer, want dis nie jou huis wat afbrand nie. Jou huis is nie in gevaar nie. Dis ’n noodkreet wat ek vrees baie maklik in ’n oorlogskreet omskep kan word, want die skeidslyn tussen verdriet en woede is net ’n asemteug.

Jy’s gay. Toe jy die nuus van #Orlando kry, het dit nie ’n visceral impak op jou gehad nie? Een wat jou straight kollegas rondom jou nie op dieselfde manier ervaar het nie? Het jy nie seergemaak gevoel toe daar soveel negatiewe sentimente rondom die sterftes uitgespreek was nie? Het jy nie toe verstaan dat gay pride om baie meer gaan as net mooi vlotte wat straat af paradeer nie? Hoekom? Want jy kon identifiseer met gay mans wat in ’n nagklub aangeval word.

Jy kan nie identifiseer met ’n swart man wat doodgeskiet word omdat sy agterliggie in sy kar nie werk nie. Jy kan nie identifiseer met mense wat in vrees lewe wanneer hulle hulle huis verlaat, eenvoudig gebaseer op die kleur van hulle vel nie. Dis buite jou verwysingsraamwerk.

Ek wil jou egter smeek, asseblief, asseblief, gebruik daai empatie waartoe ek weet jy in staat is, en probeer jou indink in die skoene van ’n ma wie se seun nie huis toe gekom het nie, want die polisie het hom vermoor. Ja, vermoor. Hy was nie ’n misdadiger nie, hy was nie ’n moeilikheidmaker nie, hy het sy vierjarige dogtertjie by hom in die kar gehad. Sy enigste misdaad is dat hy swart was. Plaas jou in die skoene van daai dogtertjie.

Die brandweer fokus op die huis wat reeds brand, want hulle weet as hulle daai brand stop, is al die huise in die straat veilig. Hulle hoef nie water op die ander huise te spuit nie.

#BLM is ’n noodkreet wat nie ignoreer kan word nie. As swart rage – en ek gebruik die woord “rage” omdat “woede” net eenvoudig nie beskrywend genoeg is nie – as swart rage oorborrel, dan is niemand se huis meer veilig nie.

#AllLivesMatter voel alte veel soos ’n gevoellose cop-out wanneer dit net swart lewens is wat in gevaar is. Dit maak die verlies aan swart lewens af as goedkoop.

Was dit jou bedoeling?

  • 2

Kommentaar

  • Herkie Stadler

    Bettina,
    Jou skrywe is nogal insiggewend. Veral wat jou motivering om die BLM-bende te ondersteun, en dus jou siening aangaande alle mense se regte. Baie erge en aaklige Verwoerdiaanse denke wat daar te voorskyn tree.
    Die BLM-rakkers is niks anders as die gematigde vleuel van die New Black Panther Party. Dit lyk vir my die New Black Panther Party ondersteuners is groter rassiste as selfs die KKK, en ek nie gedink so-iets is moontlik nie. Niemand verwys na die swart mense wat in die VSA vermoor word deur ander swart mense nie. Niemand verwys na die feit dat 95% van alle swart mense in die VSA deur ander swart mense vermoor word. Dis makliker om die polisie die skuld te gee vir ernstige sosiale probleme in die Amerikaanse swart gemeenskap, waar daar onder andere gereken word dat 67% van alle swart families in die VSA 'n vrou aan die hoof van die huishouding het, want die "baby daddy" is skoonveld. Is die verantwoordelikheid van vaderskap net te groot vir die mans, of wat?
    Nee Bettina, ek kan nie met jou saamstem nie, want dan moet ek begin dink soos die omgekeerde van die AWB. Om die BLM-bende te ondersteun is erg rassisties, want het ander mense dan nie ook 'n reg op lewe nie? BLM moet in hulle eie gemeenskappe begin soek vir die redes waarom daar so baie misdaad in hul geledere is, en nie ander kleure en geure of die polisie blameer vir hulle eie tekortkominge nie. Dit wil vir my voorkom asof die BLM-bende misdaad in hulle geledere beskerm en dit voorstaan. Snitches get stitches is mos die slagspreuk daar. En dan moet jy nie vergeet van die oproepe deur die BLM dat hulle dooie polisiemanne wil sien. Nou gebeur dit, en die leiers van die BLM-beweging verklaar op TV-nuus dat dit nie die bedoeling van die BLM is nie. Dis nou te laat, agt dooie polisiemanne later. Ek kan jou verseker dat elke Amerikaanse polisieman selfs 'n geringe verkeersoortreding baie versigtig gaan benader, tot nadeel van elke swart mens in die VSA.
    Maar jy weet mos, die ou-ou storie van die balk in jou eie oog.

  • Gustaf Claassens

    Met respek aan Herkie wie se betoog nie werklik gaan waaroor Bettina hare gehad het nie. Natuurlik kan en wil mens nie AL DIE BLAAM op die polisie plaas nie, allermins en juis omdat al die foute tog onmoontlik nie net by een groep sy oorsprong kan hê nie. Maar net so kan mens ook nie jou oë toemaak en die indruk probeer skep dat die Amerikaanse Blou Brigade in wese onskuldige engeltjies is nie. Daar is 'n lang geskiedenis waar lede van die mag gereeld wette gewelddadig oortree.
    Die Amerikaanse Polisie staan nie terug vir hulle kollegas in die Amerikaanse weermag as dit by magsmisbruik kom nie. Hordes verslae met stawende dokumentasie is al geskryf en tydens dramatiese verhore aangehoor. Ons kon self ook almal op TV sien hoe Amerikaanse soldate met onophoudelike bombardering vir maande/jare, derduisende onskuldige vrouens en kinders direk en indirek vermoor het tydens die Irakese oorlog; 'n oorlog wat op valse voorveronderstellings geveg is. Om van die ergste vorme van marteling nie eens te praat nie. Soos ek dit sien, is die voorbeelde waarna Herkie verwys dus die gedeeltes wat hom pas en hom gelukkig maak; veral die dienslewering aspek onder gevaarlike omstandighede ... wat reg is, en ook ek geen probleem mee het nie.
    Dis egter bloot een kant van die munt EN NIE EINTLIK DIT WAAROOR BETTINA DIT IN HAAR STUK HET NIE. Waaroor dit wel gaan, is dat "BLM Movement" 'n meesal regverdige siening het van wat die werklikheid, in verskeie Amerikaanse State is. Oordrewe geweld is aan die orde van die dag soos met arrestasies gesien kan word terwyl lede van die "BLM"-groepering makliker uitgesonder word as moontlike verdagtes of skuldiges, sonder enige bewyse of redes. Dit word nie net so beleef en ervaar nie maar statistiek (soos ook aangehaal deur Pres Obama onlangs) BEWYS dit bo alle twyfel.
    Dit is presies HIER waar die gesprek moet begin indien mens ernstig is om hierdie probleem aan te spreek en te probeer oplos ... en glo my, dit sal 'n baie interessante en lang debat wees. Persoonlik dink ek dat die polisie wat oortree se reaksie in wese gebaseer is op stereotipes en die gevolglike vooroordele. Veralgemening is wat dan in baie gevalle aanleiding gee tot die toedrag van sake en DIT is hoofsaaklik wat die probleem is. En hier praat ek van veralgemening na beide kante toe wat die lont kan wees om die vuur aan die brand steek. Net dit; Amerika is allesbehalwe hierdie idilliese land met wonderlike mense wat alles reg doen en net die beste is. Hierdie idee wat bestaan is hopeloos vals en danksy 'n magtige stelsel van propaganda waar die massamedia die grootste uitblinkers is om mense se menings te vorm en te beïnvloed ...
    Maar daar's wel iets anders wat my opgeval het en ook baie interesseer in Bettina se stuk, en waarvan ek graag meer sal wil weet omdat ek haar gedagtegang wil verstaan. Wat is Bettina se redes wanneer sy die volgende sê: "En ingeval jy wonder, ek beskryf myself as swart eerder as bruin. Ek weet dis deesdae die tendens om van bruin te praat. Ek verkies om dit nie te doen nie."
    Ek vra die vraag omdat identiteit en hoe jy jouself sien vir party mense meer belangrik is as vir ander terwyl dit vir nog 'n groep mense van generlei waarde of betekenis is nie. Hierdie spesifieke groep se verduideliking is gewoonlik kort en kragtig dat hulle, hulle bloot as mense sien; niks meer, niks minder nie ... In Bettina se geval spreek sy haar hieroor uit wat niks minder as haar goeie reg is nie. Ek het nie verwag dat sy dit noodwendig sou/sal doen nie maar my aanvoeling (wat skynbaar verkeerd is) was dat indien sy sou (en nou het sy) sou ek voorspel het dat sy AS GEVOLG VAN TAAL haarself anders as swart sou sien, bloot omdat 95% plus Swartmense nie die klem op Afrikaans sal plaas soos Bettina dit wel doen nie. Ook as gevolg van antropologiese kultuur-gebruike het ek gedink sou sy haar nie as swart etiketteer nie? As dit nie oor taal of kultuurgroepverband gaan nie maar wel soort van 'n politieke siening/uitspraak is, het ek meer begrip vir wat Bettina sê. Ek vermoed dat die "historiese" dalk baie hiermee te doen kan hê?
    Ek sou dus graag wou hê dat Bettina op 'n kol ietsie hieroor sal skryf (Hoekom sy haar Swart en nie Bruin of wat ook al sien nie) wat ek glo interessant behoort te wees en wat vir mense (soos ek dan) iets kan gee om oor te dink, bietjie aan te kou en beter te begryp. Ek hoop dat dit nie 'n onbillike vraag is nie ... Ons is wie ons is en wil wees, dis almal se reg en daar is ook nie 'n "reg" of "verkeerd" nie. Die uitdaging is bloot om respek en verdraagsaamheid te betoon en nooit die menswaardigheid van die individu aan te tas nie.
    O ja, laastens; die literatuurfeesgedeelte van die Vrystaatse kunstefees wat so pas tot 'n einde gekom het was voorwaar 'n groot sukses en soos baie ander het Bettina se teenwoordigheid self baie daartoe bygedra ... dankie daarvoor. Ons moet meer luister en ons harte oop en ontvanklik probeer maak vir verskille. Ons hoef nie van elke mens te hou nie (dis kunsmatig en ook baie skynheilig om altyd so te probeer voorgee) maar ons kan as mens(e) wel poog om diegene met wie ons wel verskil, te probeer verdra ... Dit op sigself sal reeds baie probleme uitskakel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top