Brics: Wil ons regtig sulke vriende hê?

  • 1

Wat het die Brics-beraad vir Suid-Afrika beteken? Gaan ons land enigsins ekonomies baat by China se magsvertoon?

Daniel Meyer, ’n ekonoom, sê ons moet versigtig wees vir goedkoop praatjies. China mag die land wees wat tans die tweede grootste invoerder is van Suid-Afrika se handelsware, maar help dit ons? Nee. China is ook die land met wie ons die heel grootste handelstekort het. China doen niks wat nie vir China goed is nie.

Ekonomies baat Suid-Afrika veel meer by verhoudinge met Japan, die Verenigde Koninkryk, Nederland en ons buurlande Mosambiek en Botswana.

Hoe dan nou? Wil China ons regtig help, of wil hulle beheer neem oor ons kragnetwerke?

En as Rusland nou so ’n goeie vriend is, waarom kry ons nie goedkoop olie van hulle nie?

  • 1

Kommentaar

  • Schalk Jacobs

    Die Russiese ekonomie is tot so ’n mate geskaad deur die oorlog dat dit dekades sal neem om te herstel. Groot gedeeltes van die vervaardigingsbedryf is omgeskakel om die militêr-industriële kompleks te dien. Dit is vir die onthalwe van die inherente struktuur van die ekonomiese bestuur, wat top- en middelbestuurders van regeringsbedrywe toelaat om geweldige finansiële voordeel te trek, in ruil vir hulle steun vir Poetin. Dis die sogenaamde oligarge waarvan die nuus vol is. Dis hierdie omstandighede wat rusland se ekonomiese groei die afgelope twintig jaar so laat onderpresteer het, sodat die Bruto Binnelandse Produk voor die oorlog op dieselfde vlak as die VSA-staat Texas s’n was.

    Rusland is ’n politieke tydbom. Daar is baie verskillende politieke en militêre faksies, en private militêre groepe. Baie hoop word daarop geplaas dat die elite vir Poetin, wat vir hulle ’n aanspreeklikheid geword het, omver sal werp. Maar Russiese uitgewekenes reken dat enige gebeurtenis, soos byvoorbeeld nog ’n coup-poging, die regering kan destabiliseer. Erger as Prigozjin mag aan bewind kom. Hy was ’n voorstander daarvan dat Rusland sy grense moet sluit en die politieke model van Noord-Korea aanneem.

    Natuurlik sal Rusland geld spandeer, al ly sy eie mense daaronder, om 'n voet in Suidelike Afrika te kry. Net soos hulle miljarde spandeer aan die oorlog terwyl dit haglik gaan in sommige van hulle landelike streke. Sjina mag dalk nog ekonomiese imperialisme voorhou, maar vir Rusland gaan dit om invloedsfeer, ten koste waarvan ook al. Wag daarvoor dat Wagner, nou onder regeringsbestuur, verder suidwaarts beweeg. Vind gerus uit hoe hulle te werk gaan; regeringskontrakte vir mynings- en boomfelregte in die Sentraal Afrikaanse Republiek, byvoorbeeld. Die geld gaan in die sakke van die bestuur (voorheen Prigozjin), en wat oorbly word aangewend vir militêre toerusting en om meer staatsbeheerde besigheidsregte in Afrika-lande te bekom. Die plaaslike mense baat geensins nie. Die enigste wat baat vind, is die diktatoriale leier van daardie lande wat aan bewind gehou word.

    Mense wat dink Rusland se inmenging in SA sal die land goed doen, moet weer dink. Russiese betrokkenheid gebeur nêrens sonder die terugrol van demokratiese beginsels nie. Dis jammmer dat so baie mense nie bewus is van die allesomvattende en toenemende repressie in Rusland nie. Die binnelandse veiligheidsmagte se enigste taak is om op die bevolking te spioeneer en hulle in bedwang te hou. ’n Twiet, of iets wat in die openbaar gesê word wat klink of dit kritiek op die regering mag wees, kan jou 10 tot 15 jaar gevangenisstraf besorg.
    Dit gaan nie bloot oor handel nie. Rusland is so desperaat dat die geringste samewerking as steun interpreteer word. Álles word ideologies interpreteer. Dís die mees gevaarlike aspek van samewerking met Rusland; polities-ideologiese integrasie in daardie reaksionêre wêreld van anti-demokratiese totalitarisme.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top