Breyten by Tuin van Digters 2019

  • 2

Die jaarlikse Tuin van Digters-fees vind komende naweek in Wellington plaas. Remona Voges het met die organiseerder, Francois Lötter, gesels oor wat hierdie jaar se fees inhou. 

Francois, die tema vir hierdie jaar se Tuin van Digters is “wees (aan)dadig”. Kan jy vir ons LitNet-lesers ’n bietjie meer oor die keuse vir dié tema vertel?

Baie dankie vir die geleentheid. Die Tuin van Digters en die Breytenbach Sentrum in Wellington is ’n uitdagende en skeppende samekoms van diepdenkendes waar mense aangemoedig word om nuut en buite die boek en die normale te dink. Sonder om bang wees wat ander daarvan dink. Die tema “wees (aan)dadig” is in Maart vanjaar in ’n gesprek met Breyten Breytenbach blitsvinnig deur hom uitgedink. Moenie skuldig voel om nuut en skeppend te wees nie. Wees juis aandadig daaraan – maar uiteindelik dadig. Dóén dit. In Afrikaans, saam met ander tale en taalsprekers sonder om skuldig daaroor te voel.                

 Wat is anders aan hierdie jaar se program as vorige jare s’n? Ek let byvoorbeeld op dat daar heelwat meer musiek-items is, waaroor ek baie opgewonde is.

Die Tuin van Digters is die tuiste van die Afrikaanse digkuns en moet altyd anders wees in sy eendersheid. Anders is dit maar net nóg ’n samekoms van feesgangers. Afrikaanse digters, liefhebbers van Afrikaanse digkuns van verskillende ouderdomme, agtergronde, geloof, geslag, ras en die tale moet kom ervaar oor die verskillende maniere van die omskep van die diepste binnedenke in woorde op verskillende maniere. Of dit nou in boeke, in kunswerke, deur musiek of deur woorde in openbare plekke is. Daar is nie een manier van doen nie. Kom skuur skouer en ervaar mekaar se uitleef van menswees. By Tuin van Digters moet die woorde in die musiek óók mense kan (aan)raak.         

Watter groot name gaan daar by hierdie jaar se Tuin te sien wees? En is daar heelwat nuwe stemme wat geleentheid gaan kry om oor hul werk te praat of om voor te lees?

Breyten Breytenbach, wat saam met sy ouers en sy jonger broer en suster in die huis wat nou die Breytenbach Sentrum is, gewoon het, is een van Suid-Afrika se grootste digters wat ook deur sy kunswerke uiting gee aan wie en wat hy is en hoe hy alles om hom waarneem. Hy woon in Spanje en is na ’n afwesigheid weer vanjaar – op die vooraand van sy 80ste verjaardag op 16 September –  by die Tuin van Digters. Hy is die digter wat vereer word vir sy werk oor baie jare en hy sal ook aan gesprekke deelneem.

’n Ander hoogtepunt is die toekenning Saterdagaand van die Ingrid Jonker-prys vir ’n Afrikaanse debuutbundel aan Pieter Odendaal vir sy bundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie. Heelwat debuutbundels word bekendgestel terwyl Danie du Toit, voorsanger en skrywer van Spoegwolf gaan gesels en sing oor sy lewe as jong digter, toonsetter en sanger. Ander bekendes wat deelneem, sluit in Andries Bezuidenhout, Kerneels Breytenbach, Ampie Coetzee, Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert, Toast Coetzer, Erns Grundlingh, Jolyn Phillips, Diana Ferrus, Tribal Echo, Kabous Meiring en Riku Lätti. En natuurlik al die nou-nog-onbekende digters wat nog bekend gaan word.   

Daar is ook interessante kunsuitstallings by die Breytenbach Sentrum te sien. Kan jy ons bietjie meer daaroor vertel?

Die groepuitstalling in die Breytenbach-galery wil deur kuns (aan)dadig wees deur aktiewe deelname aan die opbou van ’n beter en mooier plek vir almal, waar selfs die bewusmaking/weerspieëling van die werklikheid die kyker dwing om deel te neem. Sowat 20 kunstenaars neem daaraan deel, insluitende Breyten self, die sanger Jan Blohm, Hardy Botha, Ruhan Janse van Vuuren, Bastiaan van Stenis, Nhlanhla Nhlapo, Michele Nigrini, Henk Serfontein, Susan Bloemhof en Selwin Pekeur. Dan is daar in die onderste gemeenskapsgalery ook ’n groot foto-uitstalling deur Cloete Breytenbach, Breyten se broer wat in Mei oorlede is. Cloete was ’n bekende nuus- en oorlogsfotograaf wie se foto’s oor onregte van die mensdom regoor die wêreld vertoon is. Sy vrou Brenda en seun Leon het van sy foto’s beskikbaar gestel vir die uitstalling.

Na watter vertonings of gesprekke sien jy die meeste uit by hierdie jaar se Tuin?

Ek sien baie uit na die gesprek oor die huldigingsbundel wat die Akademie vir Wetenskap en Kuns saamgestel het oor Breyten. En natuurlik om die boek te lees. Dan natuurlik Breyten se voorlesing Saterdagaand van sy gedigte met begeleiding deur die baskitaarspeler Schalk Joubert en die toonsettings van gedigte wat gesing gaan word. En die deename aan die heelwat verrassings op en van die verhoog, sommige interaktief, so op die vooraand van Breyten se 80ste verjaardag.   

 Is daar nog kaartjies vir die naweek beskikbaar? Waar kan ons lesers dit in die hande kry en wat is die kostes daaraan verbonde?

Daar is nog kaartjies, ja, maar met Breyten vanjaar by die fees verwag ek groot belangstelling. Mense wat lief is vir die Afrikaanse digkuns en ook wil ervaar hoe die toekoms daarvan lyk en hoe digters die toekoms sien, moet nie tot die laaste oomblik wag nie.

Kaartjies is R350 per persoon vir albei dae (Vrydag en Saterdag), R150 per persoon net vir Vrydag (wat al die aanbiedings insluit), R250 per persoon net vir Saterdag (wat alle aanbiedings insluit), R50 per dag per student en gratis vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans.

Bespreek by Jeanne-Marie Gerber by besprekings@breytenbachsentrum.co.za of 021 873 2786 of 073 435 1022.

Laai gerus die volledige program hier af.

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Marietjie Luyt

    Lekker verjaar, Breyten!

    Goeie genugtig, Francois Lötter, hopelik is ons almal "diepdenkendes" wat nie bang is om ons sê te sê nie.
    Terloops, wat het van die woord "vanjaar" geword?
    Groete!
    .

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Met Breytenbach self tuis-teenwoordig, is die jaarlikse Tuin van Digters-fees meer as bloot 'n fees. Dis 'n okasie, 'n gebeurtenis!

    Diegene wat bevoorreg is om dit te kan beleef of dan, 'aandadig' daaraan te (gaan) wees, wil mens sê; geniet dit en maak die beste daarvan. Oorweeg tog om die lesers ingelig te hou van hoe dit afgeloop het. Berigte, fotos, en 'n video opname skakel van Breyten se bydrae self, sal baie waardeer word. So kan ons wat ver is, en deur petrolpryse gerantsoeneer word, ook daarin deel.

    Voorspoed en sukses toegewens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top