Breyten Breytenbach: Sal die nood ons leer herbesin?

  • 8

Die digter, skrywer en skilder Breyten Breytenbach gesels met Willem de Vries oor vele wêrelde en een planeet, oor hierdie dae, diversiteit, tale en medemenslikheid, oor die rol van hoop, kyk, skryf, dink en lees.

Foto: Tessa Louw

Hoe ervaar jy tans die lewe in Frankryk? Hoe vergelyk dit met wat jy in Suid-Afrika kort tevore nog beleef het?

Nogal ’n wydlopende vraag, Willem. Daar is baie ooreenkomste – deel van die feit dat die wêreld skielik baie kleiner geword het, is dat die noodmaatreëls, die inperking, die verslaentheid en die begin van ’n opstand hier en daar, die onbevoegdheid en onbekwaamheid van alle geledinge van ons gemeenskappe, die opportunisme en die selfsugtigheid en die eiegeregtigheid, net soos ook die gebare van medemenslikheid (so asof ons nou skielik miskien weer besef ons is medemense), maar veral die geliegtery van politici en die “gesaghebbendheid” van handpoppe – dis maar baie eners oral in die wêreld, met plaaslike aksente natuurlik soos bepaal deur samestelling en geskiedenis. Opvallend is dat mense wat van beter behoort te weet, of so voorgee, net nie sover kan kom om te erken (en aanvaar?), “Ons wéét nie.” Dis bykans onmoontlik om in en saam te neem die mens het die wêreld – die lewe op aarde net soveel as die kosmos – mismaak. Want waarnatoe dan? En nou is die mislikheid nie meer weg te steek nie! Wat ook opval, is dat die mens, in die algemeen maar ook die besonder, eenvoudig nie onsekerheid kan duld nie. Ons het nog nie ’n stilte of ’n leemte teëgekom wat ons nie vol wil praat met nonsens nie. En al babbelend sal ons neuk oor die afgrond wat ons self gegrawe het. Dit gaan nou nie oor die toeskryf van blaam nie. Vandat ons op die agterpote regop gekom het om die son in die gesig te kyk, was ons blind vir ons beperkings.

Oor Suid-Afrika wil ek my nie uitlaat nie. Dis my waarvandaan, soos jy weet. Maar ek weet nie – of wil nie aanvaar ek weet én weet nie – wat daar aan die hand is nie. Dit maak my te bang en te seer (asof my kleinserigheid nou te berde moet kom!) om te wil begryp hoe ons met die beste bedoelings so dodelik verkeerd kon gaan. Die ergste, die mees ondenkbare, beide in terme van hierdie kroonpespandemie en wat dan daarna gaan kom, lê nog voor. Maar miskien sal die nood ons leer herbesin? Miskien sal ons kan leer dit baat nie om die mites te besing nie – dat ons in alle ootmoed en trots en mededeelsaamheid moet aanleer hoe om vir mekaar te sing, én vir die wolk en die mot en die blaar en die wind en beweging én vir die ritme om te bestaan-om-te-mag-vergaan?

Frankryk is ’n ander storie. Hierdie pandemie – gewaan of eg, want soms kry ’n mens die indruk ons steier rond in ’n selfverbeelde tragedie vir die planke – is ook ’n katalisator wat al die onderliggende skaafplekke en vratte opeens pynlik uitlig. ’n Mens moenie vergeet dat ons hier die aartsvoorbeeld van die Gesentraliseerde Staat het nie, al word dit ook by die dag minder toepaslik en al het die verkrampende mag grotendeels oorgegaan in die hande van supranasionale mastodonte en banke. Ons bly vaskleef aan ’n fetus wat al so lank ons lewens bepaal. Die Staat bly die ding wat ons aandadig en nagverantwoordelik gaan hou vir alles waarteen ons in opstand kom … en wat ons na opsien vir redding en versorging. Daarmee saam moet ’n nasionale karaktertrek, as so iets sou bestaan, in ag geneem word: die skeptisisme wat jou daarvan wil oortuig die glas was nog altyd halfvol al loop dit ook oor. Frankryk is egter kosmopolities en dit word al hoe meer ’n deurslaggewende faktor. As ons net ons alewige nuk om alles te wil intellektualiseer en struktureer (en dekonstrueer) kan omvorm, is daar ’n goeie kans dat daar sterker inisiatiewe vir verantwoordbare medeverantwoordelikheid kan voortkom uit die burgery, van die citoyens. (Hier is nie veel sprake van ’n burgerlike samelewing nie – die Staat en al haar afwentelinge met rosette in die lapelle steel nog te veel suurstof.) En as ons tog net die verslawing aan paraître hok kan slaan! Die Staatspresident is ’n goeie voorbeeld: Hy sal diep in die lens van die televisiekamera kyk, intiem soos ’n aspirantakteur, en maak asof hy elkeen van ons persoonlik iets op die hart wil lê. 

Het die pandemie ’n uitwerking op jou daaglikse ritmes en kreatiwiteit? Hoe reageer skrywersvriende en ander kunstenaars in jul gesprekke hierop?

Op die daaglikse ritme wel. Mens lewe in ’n vreemde tussentyd in ’n plek waar die tyd stilstaan. Ons is met die laaste geskeduleerde Air France-vlug uit die Kaap weg, kort voordat mense daar streng ingeperk is. Meer so as hier, waar jy met die nodige vergunning darem ’n uur per dag buite kan wees om kos en koerante te koop. Restaurante en winkels vir kunsmateriaal is toe, maar ná ’n tydjie het ons kon uitwerk waar die allernoodsaaklikste gekry kan word. En dis ’n openbaring om die buurt te ontdek, veral noudat dit onbesoedeld en stil en kleurryk is. Nou sien en ruik mens dit vir die eerste keer werklik ná al die jare. En jy word bewus van die voëllewe in tuine en bome. Dis net die kraaie wat vermenigvuldig en al hoe meer teenwoordig en astrant word wat jou rillings gee. En rotte op boupersele waar die werk gestaak is.

Ek neem baie foto’s van die onmiddellike omgewing, binne en op straat, wolke bo die stad, weerspieëlings in die fasades van leë winkels. Die buurman straat-af het vir my ’n aantal doeke voorberei en in ruil bring ek vir hom brood en vrugte. Die uitruilings van gedagtes met medemarginales is lakonies. Ons maak mekaar attent op boeke wat die moeite werd is om te lees. Alles is stil, so asof dit asem ophou. Ons was nie veronderstel om nou hier in Parys te wees nie, en eintlik weet ek nie waar my vriende is nie. Die verbintenisse is virtueel. Mense wat ek gedog het lankal nie meer in lewe is nie, maak uit die bloute van die kuberruim hulle opwagting. Ons slaap miskien minder, dieper soms, en dikwels ook meer onrustig. Hier is baie Afrikane in die buurt en hulle steur hulle instinktief nié aan “sosiale distansiëring” nie. Mense wat dit nog nooit vantevore gedoen het nie, draf nou al om die park wat gesluit is. Die haweloses sit breed onder bruê op versaakte en ingesakte sofas, soos boere op hulle plaasstoepe. Die enkele voetgangers dra dikwels smoelkappies. Jy sien die stilte in hulle lywe, hoe hulle maak asof hulle mekaar nie raaksien nie.

Die internasionale situasie wek skynbaar by skrywers, digters en skilders verskeie/verskillende vrae. Hoe beskou jy die besinning oor rolle en mediums as skrywer, digter én skilder in hierdie tyd?

Een uitloopsel van hierdie paradigmaverskuiwende periode is blykbaar dat mense veel meer aangewys gaan wees op virtuele verbinding, op Skype en ander elektroniese interaksie. Wat gaan dit behels vir uitgewerye? Vir uitstallingslokale en teaters en musieksale? Reeds begin mens van jou goed versprei sonder om daaraan te dink as intellektuele of ander soorte van “eiendom”. Die wêreld het skielik veel meer toeganklik geword, alles is binne bereik – en daarom is mense meer afgesonderd en eensaam as ooit tevore. (Maar ook een-saam.) Jy skryf en skilder veel meer net vir jouself, in gesprek met jou nietigheid, en dit hoef nie toeganklik te wees nie. So in die verbygaan behoort dit gesê te word dat die werklike skade wat ons toegelaat het om aan onsself en die planeet en die Werklikheid gedoen te word, die innige vervreemding en verwildering, is om oorgeneem te word deur die middele, gevlei en gefatsoeneer en uiteindelik afhanklik van virtuele sogenaamde kommunikasie en wat as “sosiale media” beskryf word. Méér so en veel meer dodelik as die virus. In die proses het ons nie “astronote” geword nie maar “paranote”.

Die mense wat vorm en uiting gee aan wat met ons gebeur, het nie ’n sentrale rol nie. Die tyd vir predikers en profete is verby. Maar die mensebehoefte aan skoonheid, en aan die ervaring van die grein van syn, hoe dit ook gedefinieer mag word (en dit behels veel meer teenstrydighede as wat ons wil besef), sal altyd met ons wees. Miskien kan ons nie méér verwag van die kategorie aangeërs wat jy hier bo noem as dat hulle sjamaans van helderheid mag wees of word nie.

Vandag het ’n stapel koerante en tydskrifte en selfs boeke getuimel van ’n afpootstoel wat ek eenkant hou om weggegooi te word. Onder die boeke was daar Walter Benjamin se Illuminations. Ek kom toe af op iets wat ek onderstreep het in sy essay “Die taak van die Vertaler”: “In die waardering van ’n kunswerk dra die inagneming van die ontvanger nooit veel vrug nie. (…) Kuns (…) postuleer die mens se fisiese en geestelike bestaan, maar nêrens bemoei dit sig met sy antwoord nie. Geen gedig is bedoel vir die leser, geen afbeelding vir die persoon wat daarna kyk, geen simfonie vir die luisteraar nie.” En ’n bietjie verder in dieselfde bundel opstelle kom ek in sy “Franz Kafka” af op die verskriklike aanhaling uit ’n Verslag aan die Akademie: “Ek het mense nageaap omdat ek op soek was na ’n uitweg, en om geen ander rede nie.”

Stilte is vervleg met jou kreatiwiteit. Vind jy aansluiting by wat vir talle die skielik "vreemde" stilte in stede is? Wat is jou ervaring hiervan die laaste ruk?

Daar is baie soorte stiltes. Die stilte van wat nie gesê kan word nie – ook die skuldige stilte wanneer jy insien die oormag is te veel, dat jy nie kan inpas by die gekwetter van slim analises en bespiegelings en selfversekerde voorspellings nie. (Daar is ook die skaamkwaad stilte by die besef van hoe lustig jy tot die geraas bygedra het!) Daar is die stilte van onmag wanneer jy voorgesê word jy het jou kans om ’n volwaardige deelnemende mens en landsburger te wees verbeur, dat dit van jou verwag word om stil te bly en boete te doen en polities korrek dankbaar te wees dat dit jou gegun word om nog ’n bietjie verder te lewe. Daar is die stilte wat jou opgelê word wanneer daar vir jou gesê word dis ’n onsensitiewe en uiteindelik kriminele colonial mindset om jou in die plek van die ander te wil indink, dat jy nooit kan weet hoe dit is om die ander te wees nie. Daar is die stilte wanneer jou mond met hartgare toegenaai word omdat jou taal in al haar variante agterlik, besmet, mensonterend, peasant, rassisties is … want nou is ons wêreldburgers – hier praat ons vervreemding en onteiening van menswees; hier praat ons die voorkeurtaal, Globish; hier praat ons nie brood nie maar koek en aansien en ambisie – gaan babbel jou kindertaaltjie by die huis … maar liefs nie só dat dit die vrede verstoor nie. Daar is miskien die stil besluitneming van dié wat oor lewe en dood beskik dat die oorskietmense nie gered kan word nie, daar is nie genoeg asem vir almal nie. Daar is die stilte van mense agter glas wanneer hulle nie kan verstaan waarom hulle nie meer aan ’n geliefde se hand kan raak nie. Daar is die stilte van asem in die bome. Daar is die stilte van rye doodskiste wat in slote toegegooi word. Daar is die stilte van Mandela se lippe. (Net die kadders bly raas in hulle bakleierige vraatsug.) Daar is die stilte wanneer jy wakker word in die nag en wonder of jy nog weer asem wil haal. Daar is die stilte van woorde wat verdwyn in die gang van skrywe. Daar is die verskriklike stilte van vrees in die oë van ’n Palestynse kind of grysaard wat nou bestaansdiewe en vyande geword het in die land van hulle geboorte. Die dooie stilte in die houding van derduisende Oeighoers en Tibettane waar hulle hurk in ry op ry in die Volksrepubliek van China se regmaakkampe. En nou die stilte van ’n stad wat – wanneer – gister? nog gebruis het met die lewe van verkeer, van kinders wat skool toe gaan, met malletjies wat skel en venters wat nikse verkoop.

Daar is die stilte van ons aardskip oor ’n donker spieëlsee waarin sterrestelsels flonker.

En dan is daar die oneindige stilte wat alles omvat, wat nié stilte is nie, wat jy opvang omdat jy deel daarvan is, omdat daar geen jy is om deel te wees van wat dan ook nie. Miskien die vibrasie van die klepel teen die rand van die sirkelgang van klank.

Geen stilte is sonder ruising nie, al is dit slegs die geruis van afwesigheid. In ’n katalogus van werke van Heloisa Novaes, Om die wêreld te ontdek, lees ek ’n flarde teks van Clarice Lispector: “Chagall is ’n dwaas wanneer hy ’n koei in die naghemel plaas om oor die dakke te vlieg. Dis so te sê onmoontlik om die oordaad liefde wat ’n dwaas oproep te vermy. Want slegs die dwaas beskik oor uitspattige liefde. En slegs die liefde skep die dwaas.”

Lees jy in hierdie dae enigiets spesifieks? Wat is vir jou besielend om na te kyk en/of na te luister?

Baie dinge, sommer los en vas. Dikwels werke wat ek weer en weer lees en vergeet dat ek hulle reeds gelees het. Meestal boeke wat amper toevallig hier in die ateljee beland of agtergebly het. Die meeste van my boeke is in Katalonië of nou ook in die Kaap en ek verloor hulle spoor, probeer aanmekaar iets van ’n orde skep. Marc de Smedt se Chevaucher le Vent (juis oor meditasie en stilte); Hatif Janabi se Questions and their retinue (gedigte uit die Irakkese Arabies vertaal deur Khaled Mattawa); Japanese death poems, wat mens laat regop sit en sê, “nee fok, so kan dit nie aangaan nie”; my ou kameraad Sam Hamill se A poet’s work, opstelle oor “the other side of poetry”; die evokatiewe gedigte van Gisela Ullyatt (Die waarheid oor duiwe), en wonderlike goed wat my kant toe kom, soos ’n onlangse ongepubliseerde vers van Marlise Joubert; Walter Benjamin se Essays and reflections soos saamgestel deur Hannah Arendt (hy skryf oor Kafka: “[B]ecause the most forgotten alien land is one’s body, one can understand why Kafka called the cough that erupted from within him ‘the animal’. It was the most advanced outpost of the great herd.”); Camus se La peste wat ek gratis kon aflaai; lieflike gedeeltes van Louise Viljoen se boek oor die lewe en werk van Ingrid Jonker, wat in Engels verskyn by Ohio-universiteit.

En soms vang ’n onderhoud mens se oog. Ken jy die gedagtewêreld van Edgar Morin? ’n Dierbare ou Franse toppie, as ek nou so familiêr mag wees. Versigtig pessimisties, kan mens sê. Byna honderd jaar oud en so vars soos pietersielie. Hy praat en skryf dalk te veel – soos alle Franse intellektuele geneig is om te doen – dis waar ek my spraaksamigheid opgetel het, alhoewel my ma se mense ook al baie glad met die bek saam was – maar altyd die lees en die probeer kop werd. ’n Onlangse onderhoud in Le Monde word aangebied onder die aanhaling van, “Hierdie krisis behoort ons gees wat vir te lank ingehok is in die onmiddellike oop te maak.” Hy maak dan die stelling dat al hierdie verwoestende omwentelinge wat ons ondergaan, en wat skynbaar nie onderling verwant is nie, in feite verbind is. Hy sê hierdie epidemie het ons in ’n “fees van onsekerhede” gedompel. Hy vaar uit teen die verslawing aan die oortollige en die oorbodige en spreek die hoop uit dat ons nou oplaas kennis gaan neem van ons hoenderkop verbruikerswaansin, ons onderdanigheid aan advertensie-aanhitsing, dat ons nou gaan insien daar is gesonde en mondsmaaklike voedsel, ’n volhoubare produksie en nie slegs ’n weggooigoedkultuur nie. Maar hy hou nie sy asem op nie. Sal die krisis lank en diep genoeg duur om ons tot ons sinne te bring? Hy wil glo daar is hoop dat die evolusie wat reeds begin het – die bewuswees dat ons onlosmaaklik deel is van en verantwoordelik is vir alle lewe, vir die kosmos – versnel kan word. “Gaan ons uit-die-hok kom die begin van die einde van ons megakrisis beteken, of gaan dit net erger word? ’n Nuwe opbloei of ’n depressie? Enorme ekonomiese krisis? Voedseltekort in die wêreld? Voortsetting van globalisering of ’n terugtrek agter skanse? Wat van die toekoms van globalisering?” (Op Frans word daar ’n verskil gemaak tussen “mondialisation” en “globalisation”.) “Sal die afkop neoliberalisme weer beheer oorneem? Gaan die groot moondhede nog meer vyandiggesind opgestel wees teenoor mekaar? Gaan die gewapende konflikte wat so min of meer bedaar het, nou nog sterker opvlam? Sal daar ooit ’n reddende internasionale élan van samewerking kan wees? Sal daar ten minste ’n mate van politieke, ekonomiese en sosiale vooruitgang wees soos ná die Tweede Wêreldoorlog? Sal daar ’n voortsetting en verdieping kan wees van die solidariteit wat die krisis ook gebring het tydens ons periode van tydloosheid, en nie slegs vir die dokters en die verpleërs nie maar ook vir die straatveërs en die instandhouers en die afleweraars en die kassiere – sonder wie ons nie sou kon oorlewe het nie terwyl ons goed genoeg kon klaarkom sonder ’n Aandelebeurs en die Rykes? (…) Gaan die onthoktes die ydele en rasende siklus van egoïsme en verbruikerisme hervat? Of gaan daar (kan daar?) ’n nuwe bron van medemensliewende en saamlewende beskawing oopgeboor word waar die poësie van die lewe in kan baai, waar die ‘ek’ vervulling kan vind in ’n ‘ons’?”

Kyk? Die lig en die helderheid buite, die boomtuine wat tot bo-op dakterrasse aangelê is, die maan wat nader aan Urd (die aardbol) gekom het as ooit, graffiti teen die mure en op sypaadjies – af en toe met die mees onverwagte afbeeldings – die tone-na-binne-gekeer-manier van stap van duiwe pad-af, soos koertannies op pad na die OK Bazaar, na van my eie skilderye wat ek aanmekaar weer op wil neem en verander, na die lieflike geboue wat ek nooit vantevore opgelet het nie, laatnag na ’n goeie ou donker film met Jean Gabin of met Jeff Bridges, na wonderlike en onthutsende kortfilms van Afrikane, na die mallighede (op televisie) van argeoloë wat ou artefakte opgrawe en interpreteer van ’n lewe wat ons nooit geken het nie en ons nou moet verbeel. As straf na die werklik vreesaanjaende, selfversekerde smoele van die base van Amazon en Google en Facebook … en al die Dr Strangeloves wat hulle onversadigbare vernielsug moontlik maak. Ná die dood-van-alles-wat-ons-ooit-geken-het-protagoniste van “kunsmatige intelligensie”. (Wat sou kuns-matig wees?) En as ek myself nou regtig die horries wil gee, na Trump en Poetin en die so nederige Chinese president. “Long live! Long live!”

Luister? Na oom Ollie Viljoen en na Skalla Joubert en na David Kramer en na Johnny Kerkorrel en na die Brasse van die Kaap en na Piet Botha en na Lieze Stassen … En na Bra Leonard. Herhaaldelik. En na Mozart en Bach en soms Beethoven. En na die voëlsang vroegoggend. En na die stilte. En na wanneer Yolande opstaan en daar skielik weer lewe in die ateljee is.

Maniere van lees kom na vore soos wat ’n era daarna vra. Dít blyk opnuut in hierdie diskordante tydperk. Wat bied die bewustheid en heersende indrukke van ’n gefragmenteerde samelewingsnarratief vir ’n skrywer? Hoe gaan skrywers daarmee om?

Miskien die erkenning dat ons nie beskik oor ’n gesaghebbende en saambindende narratief nie. Dat ons ten dele ervaar. Dat elke woord (en gedagte) soos ’n klippie in die nie-weet plons en, vir ’n wyle, ’n rimpel sal maak op die oppervlak. Dat alles omswagtel is in stilte. Maar dat ons nie anders kan nie. Dat daar nie van Leser verwag kan word om wat gelees word, aanmekaar te string en te voltooi nie, maar dat die sekwensies en die wat-makeer tog ’n passasie (en soms ’n passaat) aanbied. (Wanneer laas het ons die evokatiewe en melankoliese “passede” tyd opgeroep?)

Die nuus word om verstaanbare redes oorheers deur die pandemie. Terselfdertyd het dit tot gevolg dat verskeie, eweneens belangrike kwessies na die periferie geskuif word, problematiek wat verskeie mense en streke op allerlei maniere raak. As magspolitiek aan die een kant van die spektrum is en medemenslikheid aan die ander, wat word in die huidige situasie beklemtoon én uitgebuit? En wat gee hoop, skep vernuwing en nuwe, oper ruimtes van watter aard ook al?

Ek is regtig bang dat hierdie krisis-waarin-ons-almal-is gebruik en misbruik gaan word om allerlei “onafgehandelde en kontensieuse” wette deur te druk siende ons aandag elders is. In die naam (en met die perverse verdraaiing) van bemagtiging, van vrye toegang vir almal, gaan die owerhede probeer om kopieregwette te verander. Dis nie net die wegneem van karige inkomste waaroor skrywers miskien sou beskik nie, maar ook ’n meer algemene uitgangspunt dat wat ook bestaan, eers vernietig moet word sodat ’n regverdige bedeling in die plek kan kom. (“Gee, gee, gee … gee my jou sente …” het Johannes al gesing, met baie pyn in sy stem.) Idem vir die plase. Ons beweeg na ’n afhanklikheidsamelewing. En tot wie se voordeel? Die “bevrydingsbeweging”, die kadders wat droom van ’n Partystaat, van totalitarisme à la China. (“Long live! Long live!”)

Maar ek dink nie dis haalbaar nie. Ek wil optimisties wees en glo dat as hierdie krisis wat skynbaar van nêrens gekom het – en ons weet die daaropvolgendes kan net erger wees – ons almal diep genoeg ontsetel het, dalk elke sektor op ’n eie manier ontwrig en bevraagteken – ons geen ander keuse gaan hê as om werklik te begin versoen nie. Nie die toesmeer met aandpraatjies vir die vaak van mense (“leiers” glo) met oorgewig ego’s nie, maar dan met betrokkenheid van almal. Dat ons werklik gaan begin luister na mekaar. Dat winsbejag en oënskynlike wedywering die dood in die pot is. Dat ons in ons moer is. Dat dit slegs van almal van ons gaan afhang of ons ondergaan of, met deernis en onsekerheid, oorlewe ter wille van dié wat voor ons was en dié wat, miskien, ná ons kom.

“Saam het ons in die kak beland, saam kan ons daar uitkom.”

Interdissiplinêre navorsing wys op die regstreekse korrelasies tussen verdwynende natuurlike habitatte en verlies aan tale. Dit is dus voor die hand liggend dat taal- en biodiversiteit beskerm moet word. Hoe beskou jy die plek en belangrikheid van die diversiteit van Afrikaans?

Ek het onlangs vir ’n aantal kennisse die onderstaande gestuur. Miskien het jy dit opgetel? Dit was na aanleiding van die saak wat hangende gemaak word teen regter Cameron.

Miskien word dit nou tog duidelik dat die kwessie veel groter was – veel groter is – as Stellenbosch University se gewraakte (en uiteindelik kortsigtige en mensonterende) taalbeleid; dat die moontlike voortbestaanvraag wat ons aan die strot gryp, is of ons leiersfigure oor genoeg insig en etiese ruggraat beskik om te realiseer die totalitarisme, van watter aard ook, wérk eenvoudig nie; dat die saamsnoering ’n dinamiese en dialektiese proses is wat lewend gehou moet word indien dit ons erns is om saam te wil lewe; en dat hierdie proses se lewensvatbaarheid afhanklik is van die mate waartoe struktureel, konkreet, kultureel ruimte gelaat en bevorder word vir die lokale, vir tekstuur, vir die verantwoordelike aanvaarding van ’n saam-mekaar-anders-maak aan die hand van ’n etiese verbeelding, van verantwoordbare interaksie.

Daar KAN geen “eenheid” wees sonder die daadwerklike inagneming van “diversiteite” nie. Mens wil byna sê: geen “universiteit” sonder die erkenning en waardering van “diversiteit” nie.

Goeie genade, is dit dan so moeilik om te verstaan?

Groete – en sterkte aan almal toegewens vir hierdie donker tyd.

Breyten Buitetjank

In Suid-Afrika is dit inderdaad mensonterend hoedat die groot en betekenisvolle diversiteit inherent aan Afrikaanssprekende gemeenskappe geleenthede vir opleiding en verder opvoeding ontneem word. Magspolitieke masjinasies het ’n enorme impak op geslagte Afrikaanse mense – dit was die geval onder die nasionaliste destyds en vandag is dit weer so. Wat beskou jy as die grootste toets vir moedertaalonderrig in Suid-Afrika tans, met Afrikaans as voorbeeld? Wat aan die aanslag van die huidige leierskap van die Universiteit Stellenbosch byvoorbeeld moet verander om die groot verskeidenheid binne Afrikaans daadwerklik te erken en ten beste te dien?

Ek dink my reaksie op jou vorige vraag vang hierdie kwessie op, ten dele ten minste.

Ons is ’n bastervolk van vele oorspronge en volledig en onlosmaaklik inheems as Afrikane. Ons is (nie as enigstes nie, maar net so “geregtig” as wie dan ook) van die oorspronklike synsnyers en agter-die-sterre-aan-lopers. Ons taal moes gesmee en gelouter en versoepel word omdat ons hier moes oorlewe, moes andersmaak en andersword. Die storie is nog lank nie verby nie en in hierdie besinning (en besinging) gaan dit ons niks help om ’n oorhand te wil kry op ons diversiteit met oorlamse drogredenasies van “suiwerheid” en “outensiteit” en “wie was eerste” en wie het besluit wat moet erkenning kry en bevorder word nie. Dis die stuiptrekkings van petit-boersjwa mense wat smag na die bietjie aansien, verkieslik Engels, van society, van hulle met die hoë agterstewes.

Dat ons tuisgeteelde hans-fasciste van vroeër, as “leiers” met Cele-hoofdeksels, lank en behaaglik in die water gepis het (jammer vir die growwe taalgebruik – maar so is ons ook) en toe wou hê ons moes dit drink as nagmaalwyn, is waar. Dat daardie verkramping van apartheid nou nog gebruik word as pampoenspook deur mense wat enigiets sal aangryp om hulle eie gebrek aan agentskap en verantwoordelikheid-van-nou-en-hier-en-vorentoe mee te verdoesel, is gewoon pateties.

Dat ons van jongs af geleer moet word wat dit beteken (kan beteken) om Suid-Afrikaans te wees – soos elders op die kontinent Pigmees en Hutu’s en Berbers – en dat dit moet behels dat ons struktureel blootgestel word aan al ons inheemse tale as erfgoed, as eiegoed, as saamgoed, as die basis van ons gedeeldheid, as uiting van ons respek vir mekaar en ons potensiaal om saam te lewe, is tog ’n onomstootlike en dringende noodsaak! Dit gaan om veel meer dan die lewensvervreemde establishment van Skellumbos Universiteit. Gun hulle hul “universaliteit”, hulle plekkie op die internasionale rangorde, hulle illusies van aansien, hulle stertswaaiery en opgeblasenheid. Hulle sal vanself irrelevant word. Hierdie krisis gaan hulle nie help nie.

Die wêreld is midde-in ’n versnelde oorgang wat groter ongestruktureerdheid en/of onwrikbaarhede in die hand werk; tesame hiermee kom wel ook ’n groter klem op beweging en beweeglikheid. Jy noem dat teenstrydige prosesse versnel. Wat kan die skrywer en kunstenaar bydra binne hierdie geweldige onbestendighede wat ook die opeis van geleenthede daarstel wat dalk nie tevore daar was nie?

Om aan te hou beweeg en rekenskap te probeer gee van daardie beweging, en uit te reik, en aanspreeklikheid te aanvaar vir die feit dat ons nie weet nie, nie profete is nie, nie “leiers” is of kan wees nie, sekerlik nie altyd reg of selfs redelik is nie, en dat dit tog te maklik is om ons bloot as “provokateurs” af te maak – maar dat ons van die oertyd af al, van sterre-tel-tyd al iets essensieel het om by te dra en waarsonder ons mens-dom nie kan klaarkom nie. Al is dit dan ook slegs die gebeier van die rand van die onkenbare waarteen ons klop. Om daarvan te bly getuig dat die saamkrimping en uitbreiding van gewaarsyn eie is aan alle lewe. Dat ons wat “mense” is, nie meer reg het as enige ander vorm van lewe nie. Dat ons, sover ons weet, kom om te wees en dan te gaan, dat ons die daarstelling vergestalt en die uitvee aanvaar – maar ook dat daardie “kom” versluier is in ’n onpeilbare verlede net soos die “gaan” ’n oorgaan is in organiese lewe. (“Ons lewe, ons sterwe: Is dit nou nodig om so ’n bohaai te maak oor so ’n vanselfsprekendheid?”) Maar ook dat ons hierdie teenstrydige geleentheid moet aangryp om te besef ons méér-wil-wees, ons méér-wil-hê, lei onvermydelik tot die vernietiging van alles, van ons asemruimte en -beweging, en ook van Urd. Daar gaan niemand en niks wees om wat dan ook te onthou nie. En, miskien, te weet (werklik te integreer) dat metamorfose beteken ons word anders. Dat die enigste kenbare die oorgange na die onbekende is.

Sam Hamill, my ou mankbeen pel, haal ’n redelik onbekende en niegekanoniseerde gedig van Kenneth Rexroth aan in sy opstel “The poetry of Kenneth Rexroth”. Hier is die laaste drie reëls. Dit kom uit “Confusion of the senses”:

We lie together listening
To each other breathing in the moonlight.
Do you hear? We are breathing. We are alive.

Parys, 22 April 2020

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Katinka Heyns

    Baie dankie hiervoor. Ek sal dit weer en weer moet lees.
    Ek is bevoorregd om in Jan Rabie se skryfkamer van destyds te sit in Strandloperstraat. Die tapyt lê nog steeds hier en bedek die flap wat gedien het as toegang na ‘n veilige plek, waar Jan sy mense versteek het...
    Ons kan die see sien en die voëls, die duiwe en seemeeue skinder lekker onder mekaar. Dankie Breyten. Jan is ook hier, maar Marjorie is stil...
    Katinka

  • Avatar
    Lourens Campher

    Dankie Breyten vir die bekvol wysheid. Soos Katinka tereg opmerk, ons sal dit weer moet lees om ons armpies daarom te kry en te hou. Geniet die reis.❤

  • Avatar
    Leoné Esterhuysen

    Hoe op aarde gebeur dit dat Breyten Breytenbach se stem nie onder al ons gekweldes duidelik gehoor word nie? Ek sal dit weer en weer lees. Stil broers, daar gaan ’n mens verby...

  • gert van der westhuizen
    gert van der westhuizen

    Baie dankie vir hierdie onderhoud! Die woorde hierin is diepgaande, en behoort baie wyd verspei te word, ook in ander tale. Een manier om dit te doen, is dit vol #merke te sit sodat geprekke daaroor kan versprei, verbreed, verder verdiep, ondersoekend en tot voordeel van almal. Hieronder is wat ek sou merk want dit moedig #OnbegrensdeDenke aan, en #StruktureleVerandering tot #Voordeel_van_Almal en ons enigste #MoederAarde.
    #onmag
    #Volwaardig#DeelnemendeMens
    #OpgelegdeStilte
    #StopMensOntering
    #StopAgerlikheid
    #OorskietMens
    #vraatsug #BestaansDiewe
    #VerbruikersWaansin
    #WeggooiGoedKultuur
    #UitspattigeLiefde
    #AfkopNeoLiberalisme
    #MedemensLiewende
    #asem_in_die_Bome
    #STILTE_van_MANDELA_se_lippe
    #EkInDieOns
    #StruktureleVerandering
    #Ontwrig_en_Bevraagteken
    #VerantwoordelikheidVirAlleLewe

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Dit laat ’n mens altyd minder alleen (agv inperking en as gevolg van die gevoel van omsingeling deur die Wim de Villierse en ander Quislings in die land en in die Universiteit Stellenbosch) voel wanneer ’n mens ’n artikel deur ’n ware denker soos Breyten lees!

  • Avatar
    Gerhard Ebersöhn

    Lees 'n slaggie oor jouself BB, in die oë van gewone mense, FB Çhristine Andrews met die mooi dimpels.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top