Breyten Breytenbach: oorhandiging van die 2017 Zbigniew Herbert-letterkundeprys

  • 3

Die 2017 Zbigniew Herbert-letterkundeprys is aan Breyten Breytenbach toegeken en die oorhandiging het op 25 Mei 2017 in Warskou plaasgevind. Jerzy Koch en Karen Kuhn deel hul indrukke.

Breyten Breytenbach (Foto: Niemiec/AKPA)

1

Jerzy Koch

Warskou lê ver. Altans van Wrocław waar ek elke naweek en die eerste dae van die week deurbring en van die huis af werk. En ook van Poznań waar ek in die tweede helfte van die week aan die universiteit klasgee. Met die motor is die afstand van 310–350 km beter en vinniger om af te lê as vroeër, omdat die pad voor die Europese sokkerbeker wat in die land plaasgevind het, verbeter en uitgebou is. Maar met die trein gaan dit deesdae nog beter en nog vinniger. En goedkoper, veral as jy, soos ek, die bonus van 50%-korting van die universiteit het. Saam met my gaan my vrou Magdalena Warskou toe. Ook met ’n korting van dieselfde universiteit, waar sy professor in Serwiese en Kroatiese literatuur is. Aan haar het ek in 1992 my eerste vertaalde gedigte uit Afrikaans opgedra – Tęsknota za Kapsztadem (Kłodzko 1993; “Heimwee na Kaapstad”), ’n keur van Ingrid Jonker se gedigte. Daniel Hugo se opmerking gee aanleiding tot hierdie boek. Toe ons by Drieankerbaai in die laaste strale van die ondergaande Septemberson gestap het, het hy hom met sy lae radiostem die versugting laat ontval: “Hier het Ingrid Jonker die see ingegaan.” “Wie?” het ek nuuskierig gevra. Ek het toe in 1992 omtrent niks van die Afrikaanse literatuur geweet nie. Later by sy huis het ek Jonker se Versamelde gedigte van hom present gekry. En nog later het John Kannemeyer my gehelp om Anna Jonker te bereik en haar toestemming as erfgenaam te verkry. Die bundel het een jaar later, in 1993, die lig gesien.

Dit wil voorkom dit lê ligjare ver van my ten spyte van die feit dat dit slegs ’n kwarteeu is. Hierdie jaar is dit presies 25 jaar dat ek my met Suid-Afrika en Afrikaans besighou. Omtrent een derde van die menselewe. Ek wil dit nie glo nie; nee, ek móét dit glo. Tientalle studente is in dié tyd opgelei, ek het Afrikaans gedoseer aan neerlandici en angliste. Maar geen nuwe vertalings uit Afrikaans het in hierdie tyd gekom nie. “Geen mark nie,” was die uitgewers se eerste reaksie nadat hulle van Afrikaans gehoor het en ek glo hulle het nie altyd geweet waarvan ek praat nie. “Geen mark nie” klink soos die geglobaliseerde refrein, want ek het dieselfde deuntjie ook by Suid-Afrikaanse uitgewers gehoor toe ek daar met my Afrikaanse literatuurgeskiedenis aangeklop het. En selfs die geld vir die drukkoste wat die voorstel vergesel het, het die houding nie verander nie.

Tot 2015, toe A History of South African Literature: Afrikaans Literature 17th–19th centuries uiteindelik en gelukkig in Van Schaik se Talatala-reeks uitkom. “Geen mark nie” ... maar skielik word die teendeel bewys. Ook in Pole. Die prestigeprys van die Zbigniew Herbert-Stigting word aan Breyten Breytenbach toegeken. Nou ja, skielik ... Verlede jaar was hy ’n gas by die Czesław Miłosz Festival in Kraków nadat die poging drie jaar vroeër om hom na Pole te bring, misluk het. In die lente van 2016 het ek in opdrag van die organiseerders ’n essay oor Breytenbach geskryf en enkele gedigte vertaal. Hier is ’n skakel na dié artikel, wat met erkenning en dank aan die City of Literature Foundation gepubliseer word. Dit is oorspronklik gepubliseer in die vyfde Miłosz Festival Almanac, Kraków 2016 en vertaal uit die Pools deur Ewa Kowal. Dit moes vinnig gebeur, van daar dat ses ander vertalers ook aan die projek deelgeneem het en die meeste van die gedigte noodgedwonge uit die outeur se Engelse versies vertaal moes word. Die drietalige (Pools, Afrikaans en Engels) bundel het ontstaan. Die titel is Refren podróżny. Wiersze wybrane (Kraków 2016) (Reisrefrein. ’n Keur uit gedigte). Reeds in 1980 het Andrzej Dąbrówka, ’n kollega uit Warskou en toe vertaler en neerlandikus wat vandag veral as mediëvis aktief is, ’n klein bundeltjie van Breytenbach se gedigte gepubliseer (Cały ten czas, Die hele tyd). In die periode tussen 1980 en 2016 was daar af en toe iets in die pers of radio oor Breytenbach, maar die stilte rondom die Afrikaanse poësie is nie werklik deurbreek nie. Na Ingrid Jonker se bundel in 1993 het niks gekom nie – “geen mark nie”. Die Nobelpryswenners Coetzee en Gordimer is veelvoudig vertaal en het dus begrippe geword. Afrikaanse literatuur ken geen Nobelprys nie.

Ek weet nie of ek met my drie Poolse boeke oor die Afrikaanse literatuur (2004, 2008, 2012) die aandag aangewakker het nie. Ek wou dit graag glo, maar die nugtere refleksie weerhou my om oortuig te wees van die eie skeppingskrag. In elk geval het die organiseerders van die Miłosz Festival verlede jaar geweet dat hulle my moet hê as daar iets in Afrikaans gebeur. Na Breytenbach se deelname aan die Miłosz Festival in 2016, waar die digter sy Afrikaanse gedigte voorgelees het, het die organiseerders met die voorstel gekom om Antjie Krog uit te nooi en my die opdrag gegee om ook uit haar werke te vertaal.

As jy lange jare gesaai het en baie van die saadjies sien verdor het onder die versengende son van “geen mark nie”, kan jy die geleentheid nie sommer laat verby gaan nie, veral as jy sien dat daar op ’n wonderlike manier tog plantjies na die reën begin opkom. Die opdrag het einde Januarie gekom. In Februarie, toe ek die klasvrye periode tussen twee semesters gebruik het om lesings op Curaçao te gee, het ek die eerste gedigte begin vertaal. Koch vertaal Krog op Curaçao? Wat ook al!

Die drukproewe was begin Mei beskikbaar, toe ek weer op die Antille was om my lesings vir die studente van die meesterskursus Nederlands, Papiamentu, Spaans en Engels te voltooi. ’n Fyn mistieke eenheidsband? Ek kon nie anders as om aan Elisabeth Eybers, C Louis Leipoldt en Uys Krige te dink wat hul gedigte tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Curaçaoaanse tydskrif De Stoep gedruk het nie.

Toe ek terug is uit my Februarie-kuier op Antille en Ciało ograbione (Gestroopte/Beroofde liggaam) van Krog reeds by die uitgewer was en sy pad na die drukker gesoek het, tref die nuus soos ’n bom: Breytenbach kry die Herbertprys! $50 000 is die prys werd. Dis nie niks nie, maar ook die paneel van keurders is nie niks nie. Die digter het vir my verklaar dat hierdie onderskeiding vir hom besonders belangrik is omdat hy dit van ander digters kry.

Die jurielede was hierdie jaar: Yuri Andrukhovych uit Oekraïne, Edward Hirsch uit Amerika, Jarosław Mikołajewski uit Pole, Mercedes Monmany uit Spanje.

2

Karen Kuhn

Die doel van die Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning is om uitstaande artistieke en intellektuele literêre prestasies wêreldwyd te erken, werke wat resoneer met dié tematiek van solidariteit met en deernis vir ’n ander binne Zbigniew Herbert se werke.

Zbigniew Herbert is op 29 Oktober 1924 in Pole, in die stad Lwów (Lwif, Lviv, Lemberg), vandag deel van Oekraïne, gebore. Hy begin op sewentienjarige ouderdom poësie skryf, maar publiseer eers 15 jaar later, in 1956, vanweë die politiese klimaat gedurende die 1940’s en ‘50’s, ’n periode wat getuig van die onderdrukking van alle publikasies tydens die Nazi-besetting en die streng literêre sensuur van die onderdrukkende Stalinistiese regime. In 1968 word sy Selected poems in Engels vertaal deur Czesław Miłosz en Peter Dale Scott. Sy bundel onder die titel Meneer Cogito, Pan Cogito (1974) sorg vir verdere roem en blootstelling. Buiten sy digkuns word Herbert ook as meester op die gebied van drama en essays beskou. Hy was berese en woon onder andere in Parys, Berlyn en die VSA. Digter van die historiese, die filosofiese, die politieke en die individu. Herbert se sorgvuldig-vervaardigde reëls en ironiese tonaliteit het vir hom ’n internasionale reputasie verdien. Ten tye van sy dood in 1998 op die ouderdom van 73 in die Poolse hoofstad Warskou word hy tereg as een van die mees invloedryke Europese digters van die laaste halwe eeu bestempel, met ’n oeuvre met heelwat Bybelse en Griekse mitologiese verwysings en die vermenging van humor en satire met menslikheid op die voorgrond.

The Tongue

Zbigniew Herbert

Inadvertently I passed the border of her teeth and swallowed
her agile tongue. It lives inside me now, like a Japanese fish. It
brushes against my heart and my diaphragm as if against the walls
of an aquarium. It stirs silt from the bottom.
She whom I deprived of a voice stares at me with big eyes
and waits for a word.
Yet I do not know which tongue to use when speaking to
her – the stolen one or the one which melts in my mouth from an
excess of heavy goodness.

(Vertaling: Czesław Miłosz)

Tong

Onvoorzichtig overschreed ik de grens van de tanden
en slukte haar beweeglijke tong in. Hij woont nu in me
als een Japans visje. Wrijft langs het hart en buikvlies als
langs de wanden van een aquarium. Laat van de bodem
stof opdwarrelen.
Zij die ik van haar stem heb beroofd staart me met
grote ogen aan en wacht op mijn woord.
Maar ik weet niet met welke tong ik haar moet toe-
spreken – met de geroofde tong of de tong die van zijn
overmaat aan zware goedheid in mijn mond smelt.

(Vertaling: Gerard Rasch)

Die toekenning is verder daarop gemik om Pole se kulturele bydrae te bevorder (veral op die gebied van die digkuns) tot die ontwikkeling van wêreldliteratuur soos geopenbaar in die uitruil van idees, waardes en hedendaagse ervarings. Die prys kry sy bestaansreg in 2013 en vorige wenners sluit oa die Sweedse skrywer Lars Gustafsson en die Poolse skrywer Ryszard Krynicki in.

Op 25 Mei 2017 kyk ek saam met my Poolse vriende in Poznań, Pole na die toekenningseremonie. Die seremonie open met ’n klankopname van Herbert wat een van sy eie verse in Pools voorlees met die Engelse vertaling deur Miłosz op ’n skerm aangedui. Verwelkomings is gedoen met ’n besonderse verwysing na Katarzyna Herbert, die digter se vrou. Die gekose ligging is die Teatr Polski, wat sorg vir ’n intieme atmosfeer. Verder word daar gedigte van Herbert deur die akteurs Joanna Trzepiecińska en Andrzej Seweryn voorgelees. Laasgenoemde het meer as 50 films in Frans, Duits en Pools agter sy naam. Dis Afrikadag – die herdenking van die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid. “Eenheid”, “broederskap” is woorde waarna Breyten verwys het na hy te wete gekom het van die prys en wat herhaal word deur een van die keurders, Jarosław Mikołajewski, en ook in parallel geplaas word met die digkuns van Herbert. Breyten lees sy verse voor in Afrikaans en die klanke skuur soos Herbert se vis teen my hart en diafragma en gee ’n tong en stem vir Afrikaans ver anderkant haar grense.

Breyten, in oormaat geluk en in oormaat dankie dat jy eenheid deur Afrikaans bevorder.

3

Jerzy Koch

Die volgende oggend is daar ’n historiese ontmoeting. Ek kan dit nie anders noem nie. Ons eet saam ontbyt: die diplomatieke verteenwoordigers van die Algemene Afvaardiging van die Vlaamse Regering, die Suid-Afrikaanse en die Nederlandse Ambassades. En ek wat deur Afrikaans te praat hulle almal dwing om oor te klim van Engels na die al-dan-nie-Kaaps-Hollands. Die lekker-eet-geleentheid speel hom af in die bekende plek Vincent in die Nuwe Wêreld Straat. Twee name wat Nederland en ander vastelande verbind. En ook ’n belowende naam vir die projek wat ons saam wil smee en waarby dalk dans en digkuns ’n rol saamspeel.

Later, nader aan middagete, slenter ek van die een na die ander boekwinkel en dink onwillekeurig aan Kaapstad se Langstraat toe dit nog talle boekwinkels ryk was ... Saam met Magdalena kies ons die Libanese restaurant en eet kos wat daarop aanspraak kan maak dat dit tegelyk Mediterreens, Joods en Arabies is. “Kom, kom drink Arabiese koffie saam met ons,” eggo in my kop – ’n versreël uit Breytenbach se gedig “oorblyfsel/voice over” wat hy gister by die prysuitdeling voorgelees het terwyl my vertaling op die skerm verskyn het. My vrou, wat tuis elke oggend koffie by my bestel, het eendag gesê, presies op die oomblik toe ek my van die rekenaar nie wou losmaak nie omdat daar een van die belangrike kamma-aardverskuiwende e-posse aangekom het: “Koffie is slegs ’n metafoor!” En tog bestel ons by die Libanese restaurant twee dubbele espresso’s in conreto. Die dag beloof om lank te word.

Ruim voor sesuur moet ons by die radio se gebou wees. Die opneem van die gesprek tussen my, Breytenbach en die Poolse digter Adam Zagajewski. Die bekende radiostem Dariusz Bugalski gaan dit modereer. In die ateljee van Radio 3 maak ons net enkele logistieke afsprake wie waar gaan sit. Daar is nie iets om inhoudelik te bespreek nie – spontaniteit is in hierdie situasie altyd die beste regisseur. Dariusz het al enkele kere oor die foon met my gepraat en is dankbaar vir wenke en agtergrondinligting. En stel net voor ek moet iets oor Afrikaans en sy ontstaan en die huidige posisie vertel, want ons landgenote weet baie min daarvan. En tog kry ek nie alles reg nie: pas later kom ek agter dat die tolk van “język afrykanerski” gepraat het pleks van om die naam van die taal gewoon as “język afrikaans” te vertaal.

Die gesprek verloop baie rustig, wat te danke is aan die moderator se rus wat aan stilswye gegrens het. Dit was dalk sy plan om ons onsself te laat uitpraat. Geen wonder nie, ons het al die tyd in die wêreld gekry: 1,5 uur vir die opname, waaruit dan 50 minute vir die uitsaai saamgestel sou word.

Adam Zagajewski (Foto: Frankie Fouganthin, Wikipedia)

Adam Zagajewski praat veral oor die digkuns en vergelyk die gas met ander digters, ook met Zbigniew Herbert. Breyten Breytenbach kom elke keer met ’n presentasie of toesprakie. Elke keer wanneer hy praat, kom dit voor asof sy talryke digressies om die voorrang veg. En tog kom hy telkens weer terug op die goeie pad en die sterk ruggraat van sy basiese gedagte kry sy slotakkoord. Dis ’n pure plesier om na hom te luister. Ek weier om deur die moderator as “Professor” aangespreek te word en sê dat my beroep en die professorale posisie my die wonderlike moontlikheid gee om my lewe lank te studeer; dis hoekom ek van Duits na Nederlands en van Nederlands na Afrikaans oorgestap het. Maar hier in ons gesprek wil ek as vertaler optree. Die program gaan Maandagaand uitgesaai word. Later ag die makers dit so belangrik dat hulle die hele opname met ’n video-opname op die web plaas.

4

Na die radio-opname gaan ons in ’n groep wat deur die voorsitter van die Herbert Stigting Maria Dzieduszycka uitgekies is, na die huis van Piotr Beaupré. As ’n groot investeerder en ryk man het hy sy verpligtings teenoor die kultuur en kuns nie vergeet nie. Hy is een van die weldoeners van die Stigting en Herbertprys. Ons ry in afsonderlike motors na die Konstancin-Jeziorna, een van die stadjies by Warskou, maar eintlik die bekende villasuburb. Ek beland in die motor waar agter die stuur Barbara Toruńczyk sit, die hoofredakteur van die beroemde en baie verdienstelike tydskrif Literêre Skrifte. Sy begin onmiddellik en opgewonde te verduidelik dat sy baie graag en baie gretig my vertalings van Breytenbach wil publiseer. Spoedig. In die nommer wat begin volgende week na die drukker gaan. Ek belowe haar vier gedigte. Naas haar sit haar Italiaanse man. Naas my Magdalena en Andrzej Franaszek, sekretaris van die keurderspaneel van die Herbertprys. Ons gesels lekker terwyl dit liggies reën en daar langs die pad so nou en dan polisiekarre staan. Nie om die pryswenner te begelei of die deurgang vir die digkuns vry te hou nie. Nee, hulle stel spoedlokvalle, die een na die ander. Ek word deur my medereisigers uitgevra en moet die reisende paneel tevrede stel met die antwoorde oor die herkoms van Afrikaans, Ingrid Jonger wat ek in een van my uitlatings genoem het, die konsentrasiekampe ... Ek voel omtrent soos by die ope-deur-dag van die universiteit. Maar die gesprek is vol humor en paradokse, waarvan die ligste een gaan oor die etniese mobilisasie en nasionale martirologie waarin ons Pole gedink het ons is die kampioene, maar die Afrikaners dink dis hulle.

Die villawyk lyk baie op Wassenaar, waar ek twee jaar gewoon het. Mooi huise, ruim erwe, baie bome, groen in alle vorme en skakerings en vog wat in die lug hang. Ons kom byna almal gelyktydig aan. Die gasvrou en gasheer verwelkom ons. Hulle is direk en vriendelik. Gewoon gawe mense. Terwyl ons staan, gesels ek met Breyten. Weer oor die beplande Poolse bundel. Weer oor sy bundels wat ek nog nie het nie. Dan sluit ons aan by Yolande en Magdalena. Die gasvrou dring aan ons moet gaan skep, ons moet gaan sit, ons kan immers al sittende met vol borde gesels.

Daar is op die tafels ’n groot verskeidenheid van alles. Ek sit naas die bekende Poolse aktrise van die ouer geslag, Maja Komorowska. Terwyl ons die groen aspersies skep, kyk ek na Magdalena en verklaar ek aan Maja liefde: “Mevrou, ons hou van u! Ons het opgegroei met u films!” Sy glimlag vriendelik en gevlei. Dit was rolprente van die sogenaamde cinema of moral concern, veral uit die jare sewentig. Die Poolse rolprentbedryf was toe baie sterk. En het ’n besondere sosiale en politieke rol gespeel. Die aktrise is in die bestuur van die Herbert-stigting. Dis hierdie soort mense wat die bestuur vorm. Geen politici, geen seisoensterre, geen windgatte nie. Almal mense van formaat en outoriteit.

Maja Komorowska

Enkele ure gaan verby. Die partytjie wil nie desintegreer nie. Êrens om en by half-elf maak die redaktrise van die tydskrif aanstaltes om saam met haar Italiaanse man na Warskou terug te ry. Ons begin hier en daar te groet. Voor ek by Yolande en Breyten uitkom om afskeid te neem, kry die sekretaris van die keurderspaneel van die Herbertprys dit reg om my te oortuig dat ons nog moet bly, dis lekker hier, dis lekker so, moenie worry nie, ons reël later vervoer. Ons besluit om te bly. Ek kry nou die geleentheid om vir ’n rukkie by die kelners aan te sluit, en vra hulle uit oor die wyne. Die keuse is nie groot nie, maar dis uitgekose wyne. Naas die wittes, Chablis, dus chardonnay en sauvignon blanc uit Nieu-Seeland, is daar twee rooies – Bordeauxagtige versnitte. Goed gekies sodat hulle as ‘t ware ’n wye spektrum van kos kan bedien.

Soos gewoonlik by hierdie soort geleenthede skuif mense van die een plek na die ander. Individue, selde paartjies, sluit aan by die samedrommings. Die trosse staande figure hergroepeer: faksies ontstaan en desintegreer tot losse kolleksies. Die tableau vivants omvat ook die sittende groepies wat minder diskusseer, omdat daar maksimaal drie mense goed oog- en oorkontak kan behou. Dis nie lawaaierig nie. In die vertrek heers eerder ’n konstante laefrekwensie-geluid wat hier en daar tot geroesemoes styg wanneer daar in beskaafde lag uitgebars word. Wanneer die bui oorgaan, verfyn dit weer tot ’n sagte gegons van stemme. Die tale wissel van Pools na Engels met hier en daar bietjies-bietjies Nederlands wanneer Andrzej Dąbrówka vir ’n rukkie individueel ’n gesprek met die digter voer of ’n slaggie Afrikaans wanneer ek in relatiewe afsondering met Breyten gedagtes wissel. Watter bemagtiging vir Afrikaans, kom die gedagte skielik by my op. In hierdie vreemde land van my, dink ek – waar ek nog tien jaar gelede in die ensiklopediese trefwoord Afrikaans drie inhoudelike en twee kleiner foute vasgestel het, word die naam van die taal gereeld in die openbaar gebruik. Die Poolse omroep saai Breyten se stem uit terwyl hy in Afrikaans van sy gedigte voorlees as onderbreking en verryking van die radio-opname van ons onderhoud.

Buite op die terras sit Breyten met iemand en gesels. Ek sluit aan en skep genot in hierdie prentjie: Breyten in sy donkerrooi baadjie, in sy hand ’n glasie donkerrooi wyn; agter hom flikker die kerse in omhulsels van liggeel papiermaché, die terrasteëls weerkaats van onder ’n ligte kleur, uit die verborge lampe kom gebundelde ligstrale en werp skynsels op die rododendrons in volle blom met honderde ligpers bondels.

Dit word laat, die geselskap word al hoe kleiner, mense neem afskeid of verdwyn, gesprekke doof uit, ook ons moet ’n plan maak om by die sentrum van Warskou uit te kom. Ek kyk na die horlosie en wil my oë nie glo nie – dis laas laat, dis vroeg, dis drie-uur in die môre, ek neurie Jannie du Toit.

Dis die gasheer wat ons na Warskou bring. Hy wil dit persoonlik doen en laat dit nie oor aan die bestuurder wat by hom in diens is nie. Ons gesels oor wat ook al ons voor lus is. Breyten sit voor, en ons drie, ek, Yolande en Magdalena, op die agtersitplek. Skielik dink ek dat my Magdalena se tweede voornaam Jolanta is. My tweede voornaam was vandag “Breyten se vertaler”. Die motor van Piotr is hoog, ruim. Ek het nie opgelet watter handelsmerk dit is nie, en ek dink dis goed dat ons nie in een van sy renmotors hoef te ry nie, want hy is die afgelope jare, soos ’n mens die koerantkoppe moet glo, ’n hartstogtelike beoefenaar van tydrenne. Dis sy nuwe stokperdjie.

Ons kom by die Bristol Hotel aan. Die duurste vyfsterhotel van Warskou. Ook die oudste een, wat meer as ’n eeu hier staan. Die laaste keer toe ek hier was, was toe Harry Mulisch vir die presentasie van my Poolse vertaling van De Procedure gekom het. Geen wonder dat gewaardeerde buitelandse gaste hier deur die uitgewers of stigtings geplaas word nie. Die hotel lê in die oudste straat van Warskou – die Krakow-voorstad. Die naam sê dit al: Warskou, wat in 1596 die hoofstad en koninklike setel geword het, gee erkenning aan die vorige hoofstad, die ou Krakow, waar ek oor twee weke met Antjie Krog haar Poolse digbundel gaan bekendstel en ’n gesprek gaan voer. Kom, Afrikaanse digters! Kom na my land! En bly kom!

Ons klim uit Piotr se kar. Groet voor die ingang. Dis laat. Geen aand meer nie. Nog geen dageraad nie. Ons staan midde in die nag. Op die breukvlak tussen dag en dag. Ons sê koebaai. Dan neem Piotr vir my en Magdalena na ons hotel. Gewoonlik bly ons oornag in Warskou in die MishMash Hotel. Dis naby die Sentraalstasie en baie stil. Eintlik ’n hostel met ’n hotelgedeelte.

Wanneer ons in die bed lê en nog halfslaap halfwaak die indrukke ventileer, kom daar deur die venster wat op ’n kier staan ’n vars luggie van buite. Skielik ruik ek dagga. Magdalena sê dis net my ryk verbeelding of geestelike bedwelming. Sy moet reg wees. Sy is meesal reg. Dit moes feesroes gewees het.

http://www.fundacjaherberta.com/en/news/item/522-the-zbigniew-herbert-international-literary-award-2017 [Mei 2017]

https://www.poemhunter.com/zbigniew-herbert/biography [Mei 2017]

https://www.poetryfoundation.org/poems-and-poets/poets/detail/zbigniew-herbert [Mei 2017]

https://www.poets.org/poetsorg/poet/zbigniew-herbert [Mei 2017]

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top