
Dié nag was daar swaar donderweer met baie blitse – so asof die stormagtige weer die uitslag van die Britse referendum wou aankondig. Vir brekfis het ons toe die Brexit. David Cameron staan beteuterd voor Downingstraat 10 en kondig bewoë aan dat hy sy amp as premier gaan neerlê. Die uitslag van die referendum is denkbaar knap met 51,9% van die kiesers wat ten gunste van ‘n Brexit was. Die markte reageer dadelik: £128 miljard word op die beurs uitgewis.
Europa is geskok en verstom oor die Britte. Miskien het die Europeërs hulle ook nooit regtig verstaan nie. Die ander state is al gewoond daaraan dat die Britte altyd ekstra voorwaardes wat gunstiger is vir hulle onderhandel, en hoewel dit die ander dikwels vererger, aanvaar hulle dit dan tog met ’n skoueroptrek. Só is die Britte nou maar.
Daar word vertel dat toe Margaret Thatcher destyds verbete die landbourabat onderhandel het met die slagspreuk “We want our money back!”, Mitterand glo vir sy minister van buitelandse sake gesê het: “She has the lips of Marilyn Monroe, but the eyes of Caligula. Give it to her!”
Die res van die state van die Europese Unie was weer uiters tegemoetkomend met betrekking tot die nuwe eise wat Cameron gestel het, en het die referendum wat hy daarna aangekondig het, met ambivalensie betrag.
Sinvolheid van referendums
Referendums word soms onkrities geprys as meganisme om direkte demokrasie te verseker. Dit moet egter met groot omsigtigheid hanteer word om te verseker dat die kiesers ingeligte besluite kan neem. Die vraag waaroor gestem word, moet duidelik afgebaken word en die implikasies van die keuses verstaanbaar uitgestippel word.
Dit is veral in hierdie opsig dat die Brexit-referendum tekort geskiet het. Daar was nie voldoende duidelikheid oor die keuses wat die “leave vote” sou impliseer nie. Daar is net vaagweg na die Switserse of Noorweegse opsies verwys sonder om die raamwerk daarvan uit te spel. (Hier meer oor die Noorweegse of Switserse opsies.)
Dit is dus sinvol om kortliks die opsies uit te stippel. Daar is vier moontlike modelle in terme waarvan Brittanje – indien die Brexit op die ou einde wel realiseer – sou kon handel dryf met die EU.
Die Noorweegse model
Noorweë is deel van die Europese Gemeenskap (Europese Ekonomiese Ooreenkoms/EEA), maar nie deel van die EU (Lissabonverdrag) nie. Feitlik 80% van hulle wette word aangepas by Europa-reg omdat hulle gebonde is om vrye handel en vrye beweging van werknemers binne die EU te waarborg. As prys vir die vrye toegang tot die gemeenskaplike mark moet hulle jaarliks die 15 armste lande in die EU met €388 miljoen finansieel onderskraag. Noorweë het geen stemreg in enige EU-organe nie en het geen invloed op Europa-reg nie. Daar was al twee referendums oor ’n toetrede tot die EU, maar weens die groot oliebronne in die Noordsee het hulle tot dusver besluit om op eie houtjie aan te gaan.
Die Switserse model
Die handelsbetrekkinge tussen Switserland en die EU berus op ’n netwerk van ongeveer 120 bilaterale ooreenkomste wat oor ’n tydperk van meer as ’n generasie moeisaam onderhandel is. Switserland het toegang tot verskeie sektore van die Europese gemeenskapsmark. Soos Noorweë is Switserland gebonde om sy reg konstant aan te pas by Europa-reg en die toegang het sy prys. Switserland betaal omgereken 0,06% van sy bruto binnelandse produk jaarliks vir toegang tot die Europese mark. Die bydraes bestaan uit verskeie projekte, bv SF1,3 miljard ter bevordering van Oos-Europese state oor ’n tydperk van tien jaar en jaarliks SF75 miljoen vir jeuguitruilskemas, SF10 miljoen vir kultuurprojekte en SF5,7 miljoen vir omgewingsprojekte.
Die Switserse model kan interessant wees vir die VK – veral as dit ook toegang tot die gemeenskapsmark vir dienslewering en nie net vir ware nie sou kon onderhandel, maar dit gaan nogtans sy prys hê en nie kosteloos wees soos die Brexit-ondersteuners naïef aangeneem het nie. Dit is egter onwaarskynlik dat die EU hierdie model met nog ’n land sal onderhandel, omdat dit te kompleks is.
Switserland en Noorweë moes ook tot die Schengen-verdrag toestem, wat die Brexit-aanhangers juis wil opsê omdat hulle immigrante wil uithou.
Die Kanadese model
Die vryhandelsooreenkoms wat die EU met Kanada onderhandel het, is omvattender as alle ander ooreenkomste van dié aard, maar sluit nie vrye toegang vir dienslewering in wat so belangrik vir die VK is nie. Dienslewering maak tans £20 miljard van hulle EU-uitvoere uit.
Die WHO-model
Indien die VK en die EU nie op een van bg modelle kan ooreenkom nie, sal die handel tussen die VK en die EU in die toekoms volgens die WHO-reëls plaasvind. Daarmee sal die toegang van die VK tot die EU-gemeenskapsmark so beperk wees soos bv Nieu-Seeland. Vir die finansiëlediensleweringsektor van die VK sal dit rampspoedig wees.
Die rol van die pers en die vetldtogte tydens die referendum
Daar was ’n groot gebrek aan objektiwiteit in die pers tydens die veldtog. ’n Studie van die Reuters-instituut het bevind dat van 928 artikels wat op die referendum gefokus het, 45% ten gunste daarvan was om die EU te verlaat en 27% om in die EU te bly, en dat net 9% nie duidelik ten gunste van of teen voortgesette lidmaatskap was nie.
Daar die publiek staatmaak op gefundeerde inligting, is dit nie ’n goeie uitgangspunt vir ’n referendum as die pers hulle eie agendas volg nie. Die beriggewing voor die 1975-referendum was meer objektief gewees.
’n Verdere ironie van die Brexit-veldtog was dat uitgereken twee voormalige joernaliste, Boris Johnson en Michael Gove, wat juis nie vir objektiewe berigte bekend was nie, die leiersfigure van die Brexit-beweging geword het. (Sien hier.)
Die mees groteske voorbeeld van ’n waninligtingsveldtog was sekerlik die baniere van die Brexit-ondersteuners wat kiesers gelok het om teen aanbly in die EU te stem sodat die £350 miljoen wat kwansuis weekliks na Brussel vloei in die gesondheidswese belê kon word – so asof toegang tot die gemeenskapsmark daarna gratis sou wees en asof die Brexit-kamp sou kon bestem hoe die Britse parlement die staatsbesteding in die toekoms gaan hanteer.
Inderwaarheid vloei ook net £110 miljoen weekliks na Brussel, maar die Britte kry weer ’n groot deel daarvan terug.
Die lokroep dat meer die geld aan die gesondheidswese spandeer sou word, het egter nie op dowe ore geval by die ouer generasie wat met ’n groot meerderheid toe vir “leave” gestem het nie.
Net nadat die uitslag van die referendum aangekondig is, het Nigel Farragan en sy makkers hierdie valse bewerings toegegee en op die koop toe bely dat hulle nie kan verseker dat die “gespaarde” EU-bydraes wel in die toekoms in die gesondheidswese sal invloei nie. Die kiesers is dus met ’n slap riem gevang. Dit op sigself is genoeg rede om die referendum te herhaal.
’n Verdere nadeel van die debat voor die referendum was dat dit uiters emosioneel gevoer is. ’n Groot aantal kiesers het die referendum eerder as ’n protesstem benut omdat hulle ontevrede is oor verskeie beleidsrigtings wat die Britse politici oor dekades versaak het en wat nie eintlik iets met die EU te doen het nie.
Dominante temas: soewereiniteit en immigrasie
Twee dominante temas was immigrasie en die behoud van Britse soewereiniteit.
Daar heers taamlike bevooroordeeldheid in die VK oor die omvang van die impak van Brussel en die EU. Die argument oor ’n “verlies aan soewereiniteit” word gewoonlik gekoppel aan bewerings dat 75–80% van alle wette nou in Brussel gemaak word. Dis by uitstek nie die geval nie.
Volgens die European Movement en die House of Commons Library maak regulasies en direktiewe uit Brussel maar 8–10% van die wetgewing uit. Anders gestel: 90% van die wetgewing in die VK word deur die Britse parlement gemaak. Selfs al sou dit die rede wees waarom die VK die EU wil verlaat en liewer die Noorweegse of Switserse model wil volg, gaan hulle steeds gebonde wees om hulle reg by Europa-reg aan te pas. Daar gaan dus niks daaromtrent verander nie.
Die ander argument het gefokus op ongebreidelde immigrasie. Terwyl die res van die EU se fokus eerder gerig is op vlugtelinge en immigrante uit die Midde-Ooste en Afrika, gaan dit vir die Brexit-kamp oor ’n indamming van immigrasie uit Oos-Europa op grond van die beginsel dat EU-burgers vryelik kan beweeg en werk soek in Europa. Dit wil hulle stopsit deur uit die EU uit te tree en dan die Noorweegse of Switserse model te volg. Soos reeds hier bo genoem is, sal dit nie moontlik wees nie. Beide Noorweë en Switserland is gebonde aan die EU-reëls ten opsigte van vrye goedereverkeer en toegang tot die mark deur werknemers. Dis een van die hoekstene van die gemeenskapsmark en die VK sal nie “ongewenste” immigrante (veral uit Oos-Europa) op dié manier kan uithou nie.
Dan bly net die Kanadese of WHO-opsie oor.
Vir die res van die EU-state is dit moeilik om te verstaan dat die Britte so kibbel oor hulle bydrae tot die EU gegewe die enorme voordele wat dit vir hulle bring. Die vyf grootste state in die EU (Duitsland, Frankryk, Italië, Groot-Brittanje en Spanje) betaal ongeveer die helfte van die jaarlikse bydraes tot die EU, met die Britte as vierde grootste bydraer.
Die Britte se bydrae beloop tans £13,6 miljard, maar Margaret Thatcher het in 1984 ’n landbourabat van £5 miljard onderhandel. Hierdie rabat word deur die ander state oorgeneem en van die Britte afgetrek, wat beteken dat die hulle in effek net £8,5 miljard betaal. Dit is 0,23% van die Britse Binnelandse Produk. Die Britse per kapita-bydrae is van die laagste in die EU. In deursnit betaal die Britte €76 per kop, terwyl dit meer as dubbeld soveel is in Duitsland en nog meer in Swede en Nederland.
Daarvoor geniet die Britte kostelose toegang tot ’n reusemark: 50% van die Britse handel vind binne die EU plaas en hulle handelsvolume bedra ongeveer €120 miljard per jaar. Daarbenewens baat hulle ook by talle subsidies en het ’n sê oor hoe die EU se fondse spandeer word: 94% van die begroting van die EU vloei terug in die staatskoffers van die lidlande as subsidies of vir bepaalde projekte.
Vir baie Europeërs, veral die Duitsers, is dit ook moeilik om te verstaan hoekom die Britte so xenofobies reageer. Mense met ’n buitelandse agtergrond maak intussen 20% van die Duitse bevolking uit, en hoewel dit moeilik was om verlede jaar oor ’n miljoen vlugtelinge te akkommodeer, kon hulle net nie toesien dat soveel Siriese vlugtelinge ten gronde gaan nie. Dis nie maklik nie, maar die Duitsers doen hulle bes. Ook by ons is daar verregse populiste. Baie hang egter daarvan af hoe effektief ’n regering die stappe kan begrond en ’n raamwerk kan skep om probleme te bemagtig wat die bevolking as bevredigend beskou.
Dis dus moeilik vir Kontinentaal-Europeërs om te verstaan hoekom die Britte hulle opwerk oor 800 000 Pole wat vlytig in die VK werk en pligsgetrou hulle belasting en sosiale bydraes betaal, maar dit as vanselfsprekend aanvaar dat twee miljoen Britte hulle geld in die res van Europa mag verdien en daar aanspraak op die sosialeversekeringsvoordele kan maak. Dit kom voor asof hulle hul brood aan beide kante gebotter wil hê, maar die ander net droë roosterbrood gun.
Hóé verskillend die persepsies oor Europa is, word geïllustreer deur die jongste meningspeiling in Duitsland wat op dieselfde dag as die referendumuitslag bekend gemaak is: 45% van die Duitsers glo dat Europa vir hulle meer voordele inhou as nadele; 38% glo dat die voor- en die nadele mekaar uitbalanseer; en net 14% glo dat Europa vir hulle meer nadele as voordele het. Dit staan in krasse kontras tot 52% van die Britte wat klaarblyklik glo dat die EU hoofsaaklik nadele vir hulle inhou.
Anti-Europese houding van die Britse politici
’n Belangrike faktor is dat Britse politici nooit die publiek duidelik ingelig het oor die werklike implikasies van die toetrede tot die Europese Gemeenskapsmark nie. Reeds in 1973 het Harold Wilson die indruk gewek dat dit bloot om ’n vryhandelsone gaan en nie om ’n statebond nie.
Die skeptiese houding teenoor die EU het tradisie in Brittanje. Politici skuif alte graag hulle politiekebeleidsmislukkings of ’n versaking om die sorge van die mense te hanteer in die skoene van Brussel. ’n Hervorming van die arbeidsmark en proaktiewe ondersteuning van die sg arbeidersklas wie se lewens al hoe meer perspektiefloos geword het met die toespitsing van die ekonomie op dienslewering ten koste van produksie is die eintlike probleem.
Ook Cameron was lank ’n geswore teenstander van die EU en het eers kort voor die referendum omgeswenk op ’n louwarm Europese koers. Dat mens op dié manier nie die vertroue van die publiek wen vir die voordele van die EU nie, is vanselfsprekend.
Die res van Europa betrag die referendum met gemengde gevoelens. Die indruk is dat Cameron weens ’n paar agterbankers in sy party en vir persoonlike politieke gewin die Britse lidmaatskap van die EU ligsinnig verspeel het.
Red wat te redde is?
Die Brexit-referendum mag in die geskiedenis ingaan as die dag waarop xenofobiese wrewel en populistiese mistastings die gesonde verstand van die Britte, wat normaalweg saaklik is, totaal benewel het en hulle ’n allemintige fout begaan het. Binne ’n paar uur nadat die uitslag aangekondig is, is £128 miljard op die aandelebeurs uitgewis. Dit is ongeveer 24 jaar se bydraes van die VK tot die EU as die rabat uitgereken en die geld wat weer terug vloei as subsidies en dies meer ingereken word.
Binne ure het duisende Britte wat bitter ontsteld was oor die klein meerderheid wat sulke monumentale gevolge gaan hê, begin om ’n petisie te teken wat vereis dat minstens 60% van die kiesers ten gunste van uittrede moet wees indien minder as 75% van die kiesers stembus toe gaan. Oor die drie miljoen Britte het intussen die petisie onderteken en dring aan op ’n herhaling van die referendum.
Die aansoek was al in Mei aan die parlement gerig deur ’n Brexit-aanhanger, maar het tot op die stemdag net 22 ondersteuners gekry. Minstens 100 000 ondersteuners is nodig voordat die parlement daaraan aandag skenk. Dis dus onseker of die parlement op grond van hierdie petisie ’n herhaling van die referendum kan of sal oorweeg.
Vanuit ’n staatsregtelike perspektief is die uitslag van die referendum nie regtens bindend nie. Dit het eerder ’n adviserende karakter, en die parlement kan besluit om dit te ignoreer omdat die meerderheid so gering is. Tans is 500 lede van die parlement ten gunste daarvan om in die EU te bly. Dis ’n meerderheid van 350. Hulle het ook die mag om ’n herhaling van die referendum aan te kondig. Daar is vyf goeie redes om dit te doen:
- ’n Referendum om die EU te verlaat is vergelykbaar met ’n grondwetwysiging en die hekkie om die EU te verlaat behoort hoër te wees as net 50% weens die immense gevolge vir die Britte en die 27 ander state. Die uiters geringe meerderheid van 1,2 miljoen stemme by 30 miljoen stemme regverdig nie so ’n drastiese stap ten koste van die kiesers wat die VK in die EU wil hou nie.
- Baie kiesers was onder die indruk dat die referendum nie regtens bindend is nie en het ’n protesstem uitgebring omdat hulle ontevrede is oor die politieke elite wat hulle sorge dekades lank geïgnoreer het.
- Kiesers is ook blatant mislei dat die EU-bydrae kwansuis in die toekoms in die gesondheidswese sou invloei as die VK geen bydraes aan die EU moet betaal nie. Waarskynlik was hierdie argument baie verlokkend vir die ouer generasie, maar die jongmense in die VK wat met oor die 80% ten gunste van aanbly in die EU is, het nog ’n kans verdien, want die besluit gaan hulle die meeste affekteer.
- Die sterkste argument is dat die stembrief ’n stem ten gunste van ’n Brexit nie gekoppel het aan ’n voorkeur vir een van die vier handelsmodelle ná ‘n Brexit nie. Die meeste kiesers het onder die wanindruk verkeer dat indien die Noorweegse of Switserse model gevolg sou word, (i) Brittanje in die toekoms nie meer gebonde daaraan sal wees om hulle reg steeds voortdurend by Europese reg aan te pas nie, (ii) toegang tot die mark kosteloos sal wees, en (iii) hulle die Schengen-verdrag sal kan opsê. Dis nie die geval nie. Indien hulle voor die klinkklare keuse gestel sou word dat dan net die Kanadese of WHO-model oorbly, is dit te betwyfel of baie van die ywerige Brexit-ondersteuners wel ten gunste van ’n uittrede uit die EU sou stem.
- Daar is ook nie voorsiening gemaak vir ’n Plan B oor die status van Skotland, Wallis en Noord-Ierland indien ’n meerderheid van die kiesers daar ten gunste van aanbly in die EU is nie. Die Skotte het reeds aangekondig dat hulle nie van plan is om die EU te verlaat nie en weer ’n referendum gaan hou om die VK te verlaat as die VK voortgaan met die uittrede uit die EU sonder ’n herhaling van die referendum.
Dit gaan spannend wees om die verdere verwikkelinge dop te hou. Cameron het van die begin af duidelik gemaak dat daar nie ’n tweede referendum gaan wees nie, maar die parlement het die laaste sê. Dis ook moontlik dat die geldigheid van die referendum aangeveg kan word, wie weet. Op die stadium lyk dit asof Jeremy Hunt, een van Cameron se kabinetsministers, sy hoed in die ring gaan gooi vir die leierskapstweegeveg teen Boris Johnson. Hy praat van 'n “Norway Plus”-opsie wat klink asof die Britte alle voordele van die EU wil hê sonder enige van die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan.
Terwyl sommige Europese state druk uitoefen dat die Britte so gou moontlik die uittrede moet inlei, het Angela Merkel die standpunt ingeneem dat die Britte eers ’n kans gegun moet word om dinge te herdink. Na die samekoms van die ander 27 regeringsleiers lyk dit asof hulle ten minste bereid is om die agterdeur nog effens oop te hou vir die Britte. Dis sekerlik sinvol onder die omstandighede.
Al is die Duitsers en ander Europeërs dikwels oorhoeks met die Britte, het ’n Britse uittrede vir Duitsland groot nadele. Die Britte is hulle grootste handelsvennoot in Europa met oor die €100 miljard handel tussen die twee lande jaarliks. Amper 3 000 Duitse firmas het besighede in die VK waarmee hulle oor ’n miljoen mense werk gee. Dis egter nie net die handelsbande wat in gedrang kom nie. Saam met die Britte was daar altyd wissellende “koalisies” tussen die Franse en die Duitsers. As die Britte uittree, sal Duitsland nog nouer met die Franse moet saamwerk as wat hulle geneë is. ’n Uittrede gaan Duitsland ook verder in ’n meer dominante rol in die EU inforseer en hulle voel reeds baie ongemaklik in hierdie “grootmoondheid”-rol wat toenemend op hulle afgedwing word.


Kommentaar
Laommi jy het geen idee waaroor menseregte gaan nie. Miskien moet jy eerder gaan kyk wat internasionale menseregte behels. Die reg van volke om hulself te regeer is verhewe bo enige ander reg in die internasionale gemeenskap. Brexit het niks met Xenofobia of populisme uit te waai nie. Daar is verskeie internasionale konvensies wat volke se reg op selfbeskikking waarborg. Al wat die Britte gedoen het is om hul reg op selfbeskikking in hul eie land wat hulle verloor het agv n diktatoriale EU, weer terug te neem soos dit hul reg is. Luister gerus na wat Nigel Farage in die EU sê. Hierdie is maar net die begin: Dhttps://www.facebook.com/skynews/videos/1383964388284821/
Loammi - kontak my asb op facebook. Netjiese essay ... as jy op Stellenbosch geswot het, was ons kamermaats!
Annade, ek dink jy verwys dalk na een van my niggies wat op Stellensbosch studeer het. Ek het nie daar studeer nie.
Dit is ingesteldhede en gedagteprosesse soos hierdie van Laommi wat aan ons ons posisie in die huidige bestel besorg het, waarin ons geen kans op die beskikking van ons land- en kultuursake het nie, omdat ons bloot net te min is en te ruggraatloos om ons eie te beskerm, asof ons skaam moet wees vir onsself. Nee, ek weet die Britte het goed gekies en die mense van Brittanje het besluit.
Ek wil dit aanstuur ("share") na familie in Engeland. Hoop maar hulle verstaan nog Afrikaans. Oor so baie kwessies in jou artikel wil ek sê: Ek het dit nie geweet nie? Die Brexit-mense sal waarskynlik dieselfde sê.
Toni, ek het ook 'n artikel in Engels op die Daily Maverick. Hier is die link:
http://www.dailymaverick.co.za/article/2016-06-30-analysis-the-case-for-brexit-referendum-2.0/#.V3obv49OLyQ