
Deon Gouws (foto verskaf)
-
Lees ook: Brexit vir brekfis: wat nou?
Mense skei om ‘n uiteenlopende aantal moontlike redes.
Die huwelik het nie uitgewerk soos wat een of albei partye verwag het nie. Gatvol vir die skoonfamilie, wat kom en gaan soos wat hulle wil en dikwels te lank bly, heel ongevraagd. Of miskien is daar iemand anders.
Vir die mense van die Verenigde Koninkryk (VK) is hulle stormagtige huwelik met die res van die Europese Unie (EU) nie meer bevredigend genoeg nie. En ‘n beduidende aantal Britte is behoorlik gatvol vir die ongevraagde Europese immigrante, wat kom en gaan soos hulle wil, bereid is om vir die minimum loon te werk en so die probleem van jeugwerkloosheid vererger, en dan nooit weer teruggaan “huis toe” nie.
Teen hierdie agtergrond is daar ‘n paar dae gelede in die referendum die beginselbesluit geneem dat ons gaan skei van Europa – sonder dat enigiemand gedink het wat gebeur met die huis, wie gaan kyk na die kinders, en of enigeen van die partye hoegenaamd lus is vir die troeteldiere in môre se bedeling.
As daar maar net iemand anders was … Maar nee, die VK maak nie net reg vir bes moontlik die mees ingewikkelde egskeiding in wêreldgeskiedenis nie, maar ons staan ook nou stoksielalleen in ons onderhandelinge met die 27 oorblywende lede van die EU. Die voorhuwelikse ooreenkoms is lank en kompleks, en klaarblyklik het nie een van die partye dit tot dusver behoorlik gelees nie.
Ons sal ons egter later bekommer oor al hierdie lastige praktiese probleempies. Die koeël is miskien deur die kerk vir die mense in die VK en die Europese ambisies wat sommige van ons miskien gehuldig het, maar nou is dit vir eers nodig om te fokus op die helse babelas: die nagevolge van ‘n proses wat handuit geruk het en op die ou end verloop het soos wat niemand regtig verwag het nie (soos met enige goeie babelas).
En is daar nie ‘n babelas nie! Erger nog, dit wil lyk asof niemand wil pa staan vir die chaotiese partytjie wat ons in hierdie gemors gedompel en die helse hoofpyn in die eerste plek veroorsaak het nie.
David Cameron het reeds bedank as premier en leier van die Konserwatiewe Party (alhoewel die volk nog vir minstens ‘n paar maande met hom opgeskeep gaan sit). Jeremy Corbyn se skadukabinet val een vir een om, en dit lyk asof die leier van die Arbeidersparty self nie meer lank gaan hou nie. En die voorsangers in die egskeidingskoor, menere Boris Johnson en Michael Gove en Nigel Farage, is tjoepstil, want hulle weet duidelik nie wat om nou te sê nie – soos die hond wat dag na dag die bus gejaag het, en nou nie weet waddehel om met die ding te doen nadat hy dit uiteindelik gevang het nie.
Maar dis nie net die politici wat babelas het nie. Die gepeupel ploeter ook rond, almal in ‘n dwaal. Dié wat gestem het om te bly, kan eenvoudig nie glo wat gebeur het nie: min van ons het ons enigsins voorberei op die moontlikheid dat hierdie scenario hom hoegenaamd kon uitspeel. En heelwat van diegene wat gestem het om te gly, is ook nie so gelukkig as wat hulle dalk gedink het dat hulle sou wees na die oorwinning nie … noudat hulle besef die leiers het gelieg, die National Health Service gaan nog steeds bankrot wees en die immigrasieprobleme gaan nie oornag opgelos kan word nie.
Soos wat dit seker maar met enige babelas gaan, raak mens die volgende oggend wakker en jy kan nie anders as om te wonder nie: Hoe op aarde het dit gebeur? Watse skade het ek aangevang? En kan ek dit maar ongedaan maak …
Dis dan ook presies hoe ‘n beduidende aantal Britse stemgeregtigdes die situasie sien, met 3,5 miljoen van hulle wat teen Sondagaand reeds (‘n skamele twee en ‘n half dae na die referendumuitslag) ‘n aanlyn petisie onderteken het dat ons asseblief tog weer moet stem. Tyd sal leer of dit hoegenaamd iets beteken.
Ek moet bieg dat ek self ook aan ‘n erge babelas ly, en vir die laaste 48 uur of wat probeer ek so hard as wat ek kan om dit verstaan. Ek wens ek kon met oortuiging sê dat ek by ‘n antwoord uitgekom het, maar ek is steeds nie doodseker nie.
Is dit omdat ek meer Europees voel as Brits? Miskien.
Ja, ek het agt maande gelede uiteindelik trou gesweer aan Haar Majesteit, nadat ek my vir die grootste deel van 13 jaar reeds hier op Moddereiland bevind het. En ek is baie dankbaar vir die pers boekie en my en my familie se lewe in Londen.
Maar ek sal altyd ‘n buitestander wees; my aksent sal nooit mooi klink as jy daarna luister met ‘n Engelse oor nie.
En al beskou ek myself miskien as ‘n kind van Afrika, is die realiteit dat my oervader in die tyd van die Franse Hugenote ‘n klein gehuggie in die Languedoc-woud agtergelaat het vir ‘n onsekere toekoms aan die Kaap. Dus: vandag is ek miskien Brits, maar ek is ook Suid-Afrikaans … en Europees. Het ek regtig nodig om tussen hierdie identiteite te kies?
Wel, hierdie week het ek inderdaad gekies om sowel Brits as Europees te bly, maar my keuse is ongelukkig deur die ander 52% verwerp. En miskien is dit hoekom die babelas vandag so pla, hoekom die Engelse son (gewoonlik so skugter!) my oë vanoggend so verblind het.
Maar dis nie die enigste rede vir my babelas nie. Soos wat die geval is met enige dronkverdriet, begin mens stres oor alles en nog wat, en in my geval begin ek wonder oor my dogtertjie en haar toekoms (sy het pas nege geword).
Daar is oorgenoeg probleme in die wêreld, met ‘n ekonomie wat knyp, tegnologie wat werksgeleenthede op groot skaal kniehalter en geopolitiese gevare wat ons almal se hare laat regopstaan. In al hierdie omstandighede sukkel ek steeds om te aanvaar dat ons beter daaraan toe gaan wees met die VK wat nie net in terme van geografiese realiteit ‘n eiland is nie, maar ook nou in terme van politieke en ekonomiese groepering.
En die ergste van alles is dat dit ‘n selftoegediende situasie is.
Kan iemand asseblief vir my nog ‘n dop gooi terwyl ek voortgaan om te begin tob oor die egskeiding wat nou voorlê?
As daar maar net iemand anders was …
- Deon Gouws is beleggingshoof by Credo Wealth in Londen; volg hom op Twitter by @DeonGouws_Credo.


Kommentaar
'n Dubbele klippies en coke vir jou Deon, jy het dit alles dan nou so mooi saamgevat en die beste is ek het nie veel erg aan die Engelse nie, maar het begrip vir die situasie waarin julle jul bevind daar in Engeland. As Suid-Afrikaner maak jul Engelse politiek nie juis veel sin nie, maar kan ek ten minste tong in die kies glimlag, want ons politiek in Suid-Afrika is tans so chaoties, dat enige iets wat mens se aandag kan aflei van die tuisfront vir my punte dra. STERKTE!
Verseker 'n dubbel vir jou ...