Branderjaer deur Joha van Dyk: ’n lesersindruk

  • 0

Foto (links): Pexels.com

Titel: Branderjaer
Outeur: Joha van Dyk
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-8048-1 

  • Hierdie lesersindruk is deur eie beweging van die skrywer aan LitNet gestuur.

Jy is óf popular óf ’n pliggie, of jy is ’n Branderjaer. "Onaantasbare elite van Stormbaai."

Vir ’n oomblik is jy saam in die kring, onder Verfkwas en op die beach met kuiervure en ’n cool playlist. Hierdie is lekkerlees, in ’n slaapkamer, langs ’n swembad, of op vakansie by die see.

Stormbaai, geleë aan die kus van die Wes-Kaap, omring deur see, strande, berge en grotte, word deur die onder- en bodorp verdeel. Ryk en arm. Gewild onder toeriste en ’n mekka vir branderrykompetisies. Die ewige soeke na ’n groot golf.

Die verhaal is deurspek met plofbare sosiale probleme wat daagliks kinders en families konfronteer en definieer. Om te behoort, druk, boelies, gesinsgeweld, bendebedrywighede, bloedskuld, finansies en trauma. Ouers wat "perfekte" planne smee, en moeilike toekomsbesluite vir jongmense wat matrikuleer en skool verlaat.

Die Branderjaers is aantreklik, gewild, en lewe voluit. Hulle ry branderplank, spring van kranse af, en het talle ander avontuurlustige aktiwiteite wat hulle besighou. Vir hul volgelinge blyk hulle vreesloos en roekeloos te wees en word daarom as adrenalien-junkies bestempel.

Louw, Jak, Ellis, Malherbe en Ben het mekaar in die kleuterskool ontmoet waar ’n gebeurtenis met ’n blou bekertjie die vyf seuns se lewens onherroeplik by mekaar verstrengel laat raak het. Elkeen worstel met sy eie probleme en identiteit, maar hulle huiwer nie om mekaar te ondersteun nie. Lojale bloedbroers. Hierdie tipe integriteit van samehorigheid, empatie en gewetens met deursettingsvermoë in enige omstandigheid en gebeurtenis gee hoop waarmee geïdentifiseer wíl word.

Die storie begin met ’n geveg in die "Kring" en byna onmiddellik is daar ’n bewustheid rondom knoeiery. Gereelde onverklaarbare beserings aan die Branderjaers veroorsaak spanning en afwagting. Intrige en raaisels is volop in hierdie aangrypende groep jongmense se lewens.

Breekwater waar onwettige ondergrondse gebeurtenisse in die donker plaasvind. Die vraag is gedurig hoe die Branderjaers betrokke is in hierde onderwêreld. Wie is die "Hoof Kringmaker" en hoe is die Branderjaers en Rotte by mekaar betrokke?

Deidre, in graad 11, word volgens ’n plan grootgemaak. Sy en Louw raak onder dwang betrokke. Sy is anders. Hulle jong liefde ontwikkel dieper hoe verder jy lees. Hy leer haar om voluit vir haarself te lewe en besluite te neem.

Die leerhangertjie met gelukbringers om sy nek en gereelde beserings aan die Branderjaers maak haar kwaad en nuuskierig. Sy besef Stormbaai is vol geheime wat ontrafel móét word. Gedryf in haar soeke maak sy skok-ontdekkings. Sy verstaan uiteindelik wie die Branderjaers is en dat sy hulle sonder voorbehoud kan vertrou.

Die Branderjaers word op hul beurt gekonfronteer met ’n waarheid wat Deidre se lewe raak en moet hulle vinnig besluite neem. Watter impak het dit op die Branderjaers en die verhouding tussen Louw en Deidre?

Ek beveel hierdie boek aan. Nie net vir die jeug nie, maar ook vir ’n breër groep lesers. Want ouers wat kinders op pedestals sit se struggle is werklik wanneer ’n kind faal. Maar in werklikheid val ouers ook van pedestals af.

Gripping en nog.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top