Bram Fischer: tragiese held en die ontkenning en verwerping van sy Afrikanerskap

  • 0

Boekomslae: University of Massachusetts Press en Jacana

As jy op die lughawe in Bloemfontein land, is dit die eerste naambord wat jou opval, Bram Fischer International Airport. Dit het my laat wonder hoeveel mense wat onder daardie naambord die lughawe betreë of verlaat, weet wie Bram Fischer was en wat sy rol en sy bydrae tot die politieke vryheid van Suid-Afrika was. Daar is selfs ’n woonbuurt in Soweto, Bram Fischerville, wat na hom vernoem is.

Die hartseer verhaal van Abraham Fischer, beter bekend as Bram Fischer, die Afrikaner-kommunis en advokaat wat Nelson Mandela van ’n gewisse doodsvonnis gered het, het in afsondering en alleen gesterf. Hierdie is ’n lewensverhaal wat meer vertel moet word om ’n bewuswording te kweek dat daar wel Afrikaners was wat hul lewens opgeoffer het vir vryheid vir almal in Suid-Afrika.

Abraham Fischer (23 April 1908 – 8 Mei 1975) was ’n Suid-Afrikaanse Kommunistiese regsgeleerde van Afrikaner-afkoms. Sy pa was Percy Ulrich Fischer, wat regterpresident was van die Oranje-Vrystaat se Hooggeregshof. Percy se vader, Abraham Fischer, was die eerste minister van die Oranje-Vrystaat Republiek tydens die laaste dae van die Anglo-Boereoorlog. Hy het Hertzog ondersteun en het met sý vorm van Afrikaner-nasionalisme geïdentifiseer. Hy het selfs ’n ambulansdiens begin om die rebelle in 1914 teen Louis Botha se Suid-Afrikaanse Party-regering te help.

Bram Fischer was bekend vir sy antiapartheidsaktivisme en was deel van die verdedigingspan van die antiapartheidsfigure soos Nelson Mandela en ander lede betrokke in die Rivonia-hoogverraadsaak (1963–1964). Na die hofsaak is hy self aangekla van hoogverraad asook van die bevordering van kommunisme. Hy is gevolglik tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Dis waar die tragiese storie van Bram Fischer begin.

Hy moes boet vir sy beweerde onverskoonbare en onverskrokke  standpunt oor ongeregtigheid en onregverdigheid. Sy weerstand teen apartheid en sy toewyding tot en sy liefde vir Suid-Afrika was buite alle twyfeld en opreg. Sy uitdaging aan sy eie mense was dat hulle moreel verkeerd was in die toepassing en ondersteuning van die apartheidsisteem. Sy gewete het hom geforseer om sy eie afkoms te  bevraagteken, en in die proses is hy deur mede-Afrikaners uitgestoot. Sy opoffering was in ’n klas van sy eie. Selfs sy politieke opponente was van mening dat hy die eerste minister of die hoofregter van Suid-Afrika kon word sou hy die eng paadjie van Afrikaner-nasionalisme volg. Hy het egter die weg na vryheid vir alle Suid-Afrikaners verkies, wat uiteindelik tot sy val gelei het.

Die vraag wat by verskeie geleenthede gevra is, was waarom hy op ’n vroeë ouderdom tussen die voorregte wat aan hom toegedien was deur die stelsel en gevangenskap met die harde werklikhede wat daarmee gepaard gegaan het, moes kies.

Sy oupa, Abraham Fischer, was ’n vertroueling van president Steyn van die Oranje-Vrystaat Republiek gedurende die Anglo-Boereoorlog. Steyn het gedurende daardie moeilike tyd leiding aan die Vrystaatse burgers gegee en baie staat gemaak op die ondersteuning van Fischer. Dit is die agtergrond van Bram Fischer. Hy was deur sy eie mense verwerp omdat hy die pleidooi en die haglike omstandighede van swart mede-Suid-Afrikaners aangespreek het. Hy was bereid om die gevolge te dra omdat dit in die belang van geregtigheid was.

Fischer het aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer voordat hy met sy studies in die regte aan Universiteit van Kaapstad begin het. Hy was grootliks beïnvloed deur sy studies aan Oxford en het die geleentheid gebruik as student om ’n reis deur Duitsland, ander Europese lande en die destydse Sowjetunie te onderneem. Hy het by die Kommunistiese Party aangesluit by sy terugkeer na Suid-Afrika en het as advokaat begin praktiseer.  In 1935 word hy toegelaat tot die Johannesburgse balie. Die ideologiese kloof tussen Nazisme en sosialisme het ’n sterk bewusmaking by hom laat ontstaan.

In 1937 trou hy met Molley Krige. Uit hierdie huwelik word drie  kinders gebore: Ilse Fischer Wilson, Ruth Rice en Paul Fischer.

Bram was ’n ondergrondse lid van die Kommunistiese Party vanaf 1940. In 1964 is hy daarvan aangekla dat hy die werksaamhede en oogmerke  van die Kommuniste Party bevorder het, wat op daardie stadium in Suid-Afrika onwettig was. Hy is op borgtog vrygelaat, en het na Londen gereis, waar vriende het hom probeer oorreed het om in selfopgelegde ballingskap te gaan.

........
Bram het nie sy band met sy geboorteland verbreek nie. Sy bekende en beroemde woorde eggo vandag nog in die gange van tronke en geregshowe: “I am an Afrikaner. My home is South Africa. I will not leave my country because my political beliefs conflict with those of the government.”
........

Bram het nie sy band met sy geboorteland verbreek nie. Sy bekende en beroemde woorde eggo vandag nog in die gange van tronke en geregshowe: “I am an Afrikaner. My home is South Africa. I will not leave my country because my political beliefs conflict with those of the government.”

Na sy terugkeer het hy die volgende boodskap aan die hof gestuur om die hof in te lig waarom hy sy borgtog verbreek het:

My decision was made only because I believe that it is the duty of every true opponent of this Government to remain in this country and to oppose its monstrous policy of apartheid with every means in his power. That is what I shall do for as long as I can … What is needed is for White South Africans to shake themselves out of their complacency, a complacency intensified by the present economic boom built upon racial discrimination.

Hy verdwyn vir 290 dae, word in hegtenis geneem en word aangekla. Hy word aangeraai deur vriende om kommunisme in die openbaar af te sweer vir ’n ligter straf, wat hy nie bereid was om te doen nie.

Fischer was getrou aan sy oortuigings en het ’n passievolle verdediging in die hof gelewer vir  sy optredes en het met trots verklaar dat hy geïnspireer was deur Marxistiese teorieë. Hy is lewenslange tronkstraf opgelê en was nie toegelaat om die begrafnis van sy seun, Paul, wat in ’n motorongeluk gesterf het, by te woon nie. Die laaste paar maande in aanhouding was uiters tragies. Hy was in die gevangenis in Pretoria Sentraal, waar hy in afsondering van ander gevangenes aangehou is. Hy is met breinkanker gediagnoseer, maar versoeke vir mediese behandeling is deur die staat geweier.

Sy gesondheid het drasties agteruitgegaan – hy het sy spraak verloor en was gedeeltelik verlam. Die owerhede het uiteindelik toegegee en sy broer se huis as ’n gevangenis verklaar waar hy sy laaste dae kon deur bring. Hy sterf daar in 1975. Die staat het onmiddellik op sy liggaam beslag gelê en dit van sy broer se huis verwyder. Die staat het hom veras en sy as op verskeie plekke in Bloemfontein gestrooi, maar niemand weet tot hierdie dag waar nie.

Daar is baie ooreenkomste tussen die lewe van Bram Fischer en dié van Robert Sobukwe, in ag genome die straf wat hulle opgelê is deur die apartheidsregime. Albei het die volle mag van die staat ervaar en met hul lewens daarvoor betaal).

  • Bron: Bram Fischer: Afrikaner revolutionary deur Stephen Clingman, 1998, Jacana

Danie van Wyk is die voorsitter: DAK Netwerk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top