
Nog so onlangs as ’n dekade gelede was ’n Amerikaanse groen kaart min of meer op dieselfde vlak as om die Lotto-boerpot te wen. Amerika, “the land of the free and the brave”.
Nie meer nie. Sedert Trump aan bewind gekom het, lyk en klink dit asof regse fanatici nou hul geestelike tuiste gevind het. Selfs ons eie AfriForum het ’n draai daar gaan gooi om fondse in te samel en simpatie te wek. Selfs met die rand in vryval het hulle geldgewys skynbaar nie veel hond haaraf kon maak nie. Ek wonder of Gerrie Nel nog dink die 30 stukke silwer wat hy ontvang, vergoed vir die verlies aan reputasie wat hy deurmaak. Hy moes by Glynis Breytenbach gaan kers opsteek het. Goeie aanklaers maak nie noodwendig goeie politici nie – en Nel kan maar protesteer soos wat hy wil, sy huidige rol is meer polities as regsverwant.
As Trump se Amerika ’n fliek was, het iemand soos Tim Burton as regisseur opgetree. Die een dag is meer bisar as die ander.
Neem die afgelope week of twee as voorbeeld. Eers verskyn daar ’n meningstuk in die New York Times wat beweer dat hooggeplaaste lede van die Withuis se personeel dokumente van Trump se tafel steel om die potensiële skade wat hy kan aanrig, te beperk. Skynbaar kan Trump nie eers ’n kortlys saamstel van mense wat toegang tot die Ovaalkantoor het en dus daai inligting kon bekom nie. G’n wonder die titel Leier van die Vrye Wêreld behoort deesdae aan die Duitse Kanselier nie.
Daarna is daar die hoogs vermaaklike verrigtinge om Brett Kavanaugh, Trump se nominasie vir die Amerikaanse Supreme Court, te bevestig. Kavanaugh is berug en ongewild omdat hy ’n konserwatiewe regter is wat in sy uitsprake keer op keer bevindings maak ten gunste van korporasies en besighede teen individue. Ook vrees aktiviste dat hy by die eerste die beste geleentheid die beslissing in Roe v Wade, die bekende prokeuse-hofsaak, sal probeer omkeer.
Dag 1 van die verrigtinge het vroue in die rooi kleed met wit kappie wat in die TV-reeks The Handmaid’s Tale simbolies gemaak is van onderdrukking van vroueregte, in stille protes gestaan buite die venue waar Kavanaugh vrae van lede van die senaat moes beantwoord. Binne het nog meer vroue gesit. Kort-kort het een opgespring om protes aan te teken, en is dan summier gearresteer. Honderde vroue het in rye gestaan om een-een gearresteer te word. Burgerlike ongehoorsaamheid in aksie.
Dag 2 het rye vroue in swart geklee, met swart sluiers oor hul hoofde en die woord “I dissent” op hul hande geskryf, protes aangeteken. Weer het hulle opgestaan en verrigtinge onderbreek en is een-een gearresteer. Die polisie moes busse laat kom om al die protesteerders, almal vroue, te vervoer. Linda Sarsour, bekende aktivis, en Piper Perabo, beter bekend as aktrise as aktivis, is onder die vroue wat gearresteer was.
Die vroue se protes was veel meer kreatief en vermaaklik as die verrigtinge binne die saal. Kavanaugh beïndruk nie as ’n briljante regsgeleerde nie, maar dit sou seker nie op Trump se lys van vereistes wees nie.
Op sportgebied was daar die Nike-advertensie met Colin Kaepernick wat groot ontsteltenis veroorsaak het. Regses het uit protes hul tekkies verbrand. Die beswaar? Nike het Kaepernick, ’n NFL-voetbalspeler wat uit protes teen polisiebrutaliteit op die veld gekniel het tydens die sing van die nasionale lied voor ’n wedstryd, as die gesig van hul advertensie gebruik.
Intussen het Serena Williams tydens die finale in die Amerikaanse Ope in ’n bekgeveg met die lynskeidsregter betrokke geraak. Sy het die bekgeveg (en die wedstryd) verloor. Terselfdertyd het sy ’n broodnodige gesprek oor rassisme, seksisme en dubbele standaarde in tennis ontketen.
Terug na die Withuis, waar iemand nie vinnig genoeg die memo dat Trump nou oorlog verklaar het op die Internasionale Strafhof, kon verwyder nie. Daardie hof is volgens Trump nou irrelevant. Of hy besef watter verreikende implikasies dit vir reg en orde dwarsoor die wêreld inhou, is nie seker nie. Ek vermoed hy het sy regsadviseurs geïgnoreer voordat hy daardie stelling gemaak het.
Dit is dan seker te verstane dat, met al die ander goed wat aan die gang is, die naam Botham Shem Jean onder die radar sou deurglip vir baie mense. Jean was ’n risiko-ontleder by die Dallas-tak van PwC, voorheen PricewaterhouseCoopers.
Op 6 September, net na 10-uur die aand, is Jean in sy woonstel doodgeskiet deur ’n polisievrou. Hy was swart. Sy is wit.
Aanvanklik is dit hanteer as ’n “officer-involved shooting”, met ander woorde, dit is hanteer op dieselfde manier as wanneer ’n polisiebeampte in amptelike hoedanigheid ’n verdagte dood. Die enigste probleem is, Jean het niks verkeerd gedoen nie. Hy was in sy woonstel, skynbaar in sy bed aan die slaap.
Die polisievrou se bisarre verweer? Sy het gedink hy is besig om in haar woonstel in te breek. Behalwe dat hy nie in haar woonstel was nie; hy was in sy eie woonstel. Sy was in die verkeerde woonstel.
Haar aanvanklike weergawe was dat sy gesukkel het om “haar” woonstel oop te sluit, en dat iemand toe van binne die deur oopgemaak het. Sy het gedink dis iemand wat inbreek, en sy’t twee skote geskiet. Een skoot het hom noodlottig getref.
Later het sy haar weergawe aangepas. Volgens die nuwe weergawe wou sy haar deur oopsluit, maar toe sy die sleutel indruk, het die deur oopgeswaai. Sy het in die donker ’n manspersoon gesien, sy het waarskuwings geskree wat hy ignoreer het, en sy het hom toe geskiet.
Die bure aan beide kante van Jean het nie enige waarskuwings gehoor nie, net die skote, en voor dit ’n geklop en ’n vrouestem wat vra dat hy moet oopmaak.
Die polisiebeampte bly in dieselfde woonstelblok as Jean, maar nie op dieselfde vloer nie.
’n Ander inwoner van die blok het op YouTube ’n video geplaas wat wys hoe die slotte en deure werk. Dit werk op dieselfde beginsel as die magnetiese kaarte wat hotelle gebruik. Die sleutel word in die slot geplaas. Indien die sleutel pas, verskyn ’n groen liggie en die deur klik oop. Indien die sleutel nie pas nie, verskyn ’n rooi liggie en die deur bly toe. As verdere veiligheidsmaatreël het die deur ’n meganisme wat dit outomaties laat toegaan en sluit indien die deur oop gelaat word.
Die polisievrou se weergawe dat die deur oop was, gaan dus nie op nie. Vir die meeste mense is dit ook nie relevant nie. Nog ’n swart man wat maar net besig was om sy lewe te lei, is deur ’n wit persoon in uniform gedood. “Living while black” vervang nou “driving while black” as ’n dodelike aktiwiteit.
Ten tye van die skryf van hierdie stuk is die polisiebeampte aangekla van manslag. Nie moord nie.
Ten minste word dit nie meer hanteer as ’n “officer-involved shooting” nie.
Gaan daar geregtigheid wees vir Bothan Shem Jean? Wat van al die ander jong swart mans wat doodgeskiet is terwyl hulle maar net besig was om hul lewens te lei?
Hoe lank voordat #BlackLivesMatter met erns opgeneem word? Hoe lank voordat die #AllLivesMatter-brigade gaan besef die hutsmerk is ’n noodkreet, nie ’n rassistiese stelling nie?
Hoeveel jong rekenmeesters en onderwysers moet nog koelbloedig doodgeskiet word voordat die onnadenkende gebruik van dodelike geweld deur polisiebeamptes na behore bestraf word?
Kom ons hoop Texas kry reg wat nog nie in enige ander soortgelyke skietvoorval gebeur het nie. Kom ons hoop hulle kyk verby die ras van die slagoffer, en kyk na die misdaad self. Misdaad. Want Botham Shem Jean is vermoor.

