Bonteheuwel se tannies: Erfenis, Afrikaans en stories

  • 0

Tannie Flori, Japie Gouws en tannie Koelsoem in die ateljee waar hulle tweede TV-reeks geskiet is.

Bonteheuwel sou nooit weer dieselfde wees nie.

Amore Bekker van RSG het vir Koelsoem Kamalie eerste op die lug gehad. Sy was dadelik ’n treffer. Toe kom Flori Schrikker. So hoor ons gereeld smiddae die een storie na die ander, en heerlike, maklike watertandresepte daar uit die Kaapse Vlakte. Sommer so uit die kop en uit die hart uit. Hulle borduur heeltyd stories en gewoontes so tussen die bestanddele en die metodes deur. Amore het soms haar hande vol om uiteindelik die resep volledig aan die luisteraars oor te dra. Kort-kort sê tannie Koelsoem dat die resep “baie lekke” is. Tannie Flori sê aan die einde van elke resep: “And Bob is your uncle!”

Dit was duidelik: Hierdie twee dames is spesiaal. Hulle deel nie net resepte nie, maar diep ook op uit die onopgetekende verhale vanuit die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse erfenis.

Die twee vroue uit Bonteheuwel raak so gewild dat hulle gereeld op Tjailatyd resepte uitruil. Flori bly in Bonteheuwel-Noord (of soos hulle sê, Bonteheuwel Upper) en Koelsoem bly in Bonteheuwel-Suid (of dan Bonteheuwel Proper). Hulle het mekaar destyds by ʼn diabetegroep ontmoet.

Koelsoem het ’n groot liefde vir gestremde kinders gehad en het baie werk in haar gemeenskap gedoen om hulle te help. Flori het soms as berader opgetree vir ander diabete wat ʼn ledemaat verloor het. Sy het trouens self ’n been en paar vingers verloor. Hulle het gereeld groot potte kos gemaak en aan behoeftiges uitgedeel.

Tydens die Rieldans-finaal die eerste naweek van Desember 2015 word Koelsoem en Flori as eregaste van die ATKV daarna uitgenooi. Hulle word laatmiddag aan die 5 000 toeskouers voorgestel en hoor dat hulle reeds “celebrities” is. Soos tannie Flori gereeld laat hoor het: “Hulle’t gesê life begins at 40, maar life begins at 60”! Hulle is die aand behoorlik deur die skare toegejuig!

Daar is dadelik besef dat geskiedenis en erfenis hier in aksie was. Opdrag is aan LAPA Uitgewers, ’n volfiliaal van die ATKV, gegee om die twee dames so gou moontlik op te spoor en ’n ooreenkoms met hulle vas te maak vir die uitgee van ’n kookboek. So is Kook saam Kaaps gebore. Wat daarna gebeur het, het die stoutste verwagtinge oortref. Die regstreekse RSG-boekbekendstelling in Bonteheuwel was ʼn ’n reusesukses. Die eerste uitgawe van die boek is blitsvinnig uitverkoop en die boek moes ’n paar keer herdruk word.

Nina Swart, tweede van links, het beide TV-reekse vervaardig.

2020 is ’n jaar met vreemde draaie. Om verskeie redes. Hierdie week is tannie Flori oorlede, skaars vyf maande na tannie Koelsoem.

Die twee vroue se verhaal gaan oor veel meer as net resepte. Dit is die vergestalting van ’n visie oor nasiebou, verdraagsaamheid, van erfenis, van Afrikaans, van respek, diensbaarheid, van stories. Van hoe ons is.

Die verhaal het nie net Afrikaanse samehorigheid ontgin en bevorder nie, maar ook veel meer as dit: nasionale trots. Selfs internasionaal het hulle die oog gevang.

Dit het ’n verskil aan tannie Koelsoem en tannie Flori en hulle families se lewens gemaak. Maar veel meer was die betekenis van wat dit aan ander gedoen het. Mense het gestroom na die landswye boekbekendstellings by Afrikaanse kunstefeeste en ander geleenthede. Hulle demonstrasies was uitverkoop, en hulle kosprogramme op TV was en is steeds gewild.

Koelsoem en Flori se storie was wat ons as Suid-Afrikaners nodig gehad het, en nog steeds vandag nodig het, dalk meer as ooit tevore. Gewone mense met aangrypende stories, met alledaagse vaardighede, met uitsonderlike maniere hoe om met almal te kommunikeer. Mense wat sommer net onder almal geliefd is en wat ʼn verskil maak waar hulle ook al gaan.

Hierdie storie is die resep vir nasiebou en versoening. Die bestanddele van Koelsoem en Flori se resepte bestaan nie net uit meel en bakpoeier en eiers nie, maar ook uit ’n stewige skoot medemenslikheid, deernis, verstaan, nederigheid, omgee, liefde, familie en vriende.

Kultuur en erfenis en geskiedenis moet gebruik word sodat mense mekaar beter verstaan. Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker is vir almal voorbeelde van hoe dit prakties uitvoerbaar is.

Liewe Koelsoem en liewe Flori, dankie vir wat julle vir ons almal beteken het. Ons gaan julle baie mis, maar sal julle nooit vergeet nie.

Tannie Koelsoem se dogter Gadija Kamalie, regs, het baie van die voorbereidingswerk gedoen in die ateljee.

Lees ook:

Huldeblyk in beeld: Die tannies van Bonteheuwel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top