Bonjour Monsieur Brel by Die Boer-restaurantteater

  • 1

Bonjour Monsieur Brel

Die Boer-restaurantteater in Durbanville

16 Des om 20:30

Kaartjies is R120 en beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Jannie du Toit
Tjello: Susan Mouton
Klavier: Coenraad Rall
Regie: Juanita Swanepoel

Jacques Brel se beeldryke chansons, wat elke aspek van menswees bekyk, word in vier tale: Frans, Afrikaans, Nederlands en Engels vertolk. Danksy intrinsieke artistieke kwaliteit en universele temas is sy werk tydloos. Hy sing begeesterd oor ’n beter bestaan en skreeu vurig teen elke onreg. Hy besing sy geliefde Vlaanderenland, maar spot met volksgenote se kleinburgerlikheid. Deur die jukstaposisie van uiterstes, soos ironie en intense empatie, teerheid en woede, kry die gehoor ’n blik op Brel se hartstogtelik begeerde “onmoontlike” droom.

brel_650

Jannie du Toit, Coenraad Rall en Susan Mouton

Jannie du Toit word al dekades lank aangeprys as ’n standhoudende eksponent van uitnemendheid in liedkuns. Sy eerste vertolkings van Brel sing hy in 1988 in die produksie Van Berlyn tot Bapsfontein saam met Laurika Rauch. Brel se liedjies speel sedertdien deurgaans ’n rol in sy aanbiedinge soos De kleine man en Jannie en die Tannie saam met Christa Steyn. Sy mees onlangse vertolkings is weer saam met Laurika – met Christa by die klavier – in Brel in Brooklyn, 2010. Veral twee Nederlandse liedere, “Madeleine” en “Liefde van later”, vestig hom vroeg in die negentigerjare as Brel-vertolker, maar sy Franse weergawes van “La valse” en “Il Neige Sur Liege” in Onderweg (2011) kry ook hoë lof van kenners. Naomi Morgan se Afrikaanse vertalings wat hy in Brel in Brooklyn gesing het, bied ’n revolusionêre nuwe blik op die tekste wat ewe sterk as enige van die vertalings in ander tale staan.

Na sy uiters geslaagde eenmanvertoning, Doep is nie dood nie, wat meer as ooit tevore volledig as woordkuns aangebied is, verwesenlik Jannie ’n jarelange ideaal om Brel ook in die genre van ’n eenman literêre kabaret te ontgin. Onder die meesterlike leiding van Juanita Swanepoel word verbande tussen liedere in die bindteks gelê en kom Brel se geniale beeldende skryfwerk na vore.

Soos die werke van klassieke komponiste en die wêreld se groot operas is Jacques Brel se werk ook tydloos en sal dit vir baie lank nog weer gehoor en nuut geïnterpreteer word. In die geval van Brel is dit ’n gegewe dat die klem van tyd tot tyd weer volledig op die teks moet val en in hierdie program word dit ewe sterk in vier tale gesing – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van alle tye.

 

Foto: verskaf

  • 1

Kommentaar

  • Pol Vigoureux

    Jannie zingt liederen rijk aan inhoud, begeleid door goede muzikanten en is zeer bedrijvig. Hij treedt op in Zuid Afrika, Nederland en Vlaanderen waar hij zeer gewaardeerd wordt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top