Titel: Boesak
Akteur: Marlo Minnaar
Regisseur, skrywer, stel- en beligtingsontwerp: Mercy Kannemeyer
Moontlik gemaak deur: Festival voor het Afrikaans en die Toyota US Woordfees
Mercy Kannemeyer het ’n moeilike onderwerp gekies om verhoog toe te neem. Ek is baie dankbaar vir haar dapper daad. Boesak is in my oë ’n drama wat moet reis en dan regdeur die land opgevoer word.
Marlo Minnaar blom op die verhoog. Hy lyk werklik soos ’n jong Boesak. ’n Mens kan sien Minnaar het toesprake van Boesak gaan navors. Selfs die sangerigheid waarmee Boesak altyd gehore so betower het, skemer deur. Boesak het egter ’n hoër, dringender toon in sy stem gehad, maar om nou daaroor hare te kloof, is simpel. Minnaar het oortuig, ook vir dié van ons wat al Boesak in lewende lywe ervaar het.
Kennismoord, die groot on-onthou
Hoekom Alan Boesak? Waarom sou hy ’n drama werd wees?
Gaan kyk die stuk, die antwoorde is daar.
Aan die einde van die stuk antwoord Kannemeyer haar kritici deur monde van haar karakter. Minnaar, as Boesak, verduidelik hoekom dit nodig is dat helde soos Ashley Kriel onthou word. Ons samelewing pleeg ’n “doelbewuste on-onthou”, sê hy.
Dis nie vergeet nie, sê die karakter. Sommige lede van die strugglegemeenskap word doelbewus on-onthou. Vergeet is ’n passiewe daad, on-onthou is ’n aktiewe daad.
Kennismoord. In Engels staan die begrip bekend as epistemicide.
Unesco het ’n baie toeganklike artikel op hulle ruimte waarin kennismoord en maniere om dit teen te werk, bespreek word. Ek kan Budd L Hall en Rajesh Tandon se “Decolonization of knowledge, epistemicide, participatory research and higher education” hoog aanbeveel.
The epistemologies of most peoples of the world, whether Indigenous, or excluded on the basis of race, gender or sexuality are missing. But evidence of other epistemologies and other ways of representing knowledge exist. Without a much deeper analysis of whose knowledge, how that knowledge was gathered and how transformative change is encouraged through deeper attention to knowledge democracy, public engagement in knowledge sharing simply reinforces the existing colonized relations of knowledge power. But we want to begin by sharing some knowledge stories with you. We want to speak of past and continuing cultural genocide, linguicide and epistemicide. We want to speak about the complicity of the modern university in maintaining unequal knowledge hierarchies, but also to provide evidence of a possible turning in the world of higher education.
Hall en Tandon fokus op deelnemende navorsing en daarmee saam die belang van stories wat nie verlore mag gaan nie. Kannemeyer se drama maak ’n doelgerigte punt om te sê dat daar bewustelik helde uit die bruin gemeenskap on-onthou word ten koste van die helde wat nou hulle hande kan verwarm in die parlement.
“Dis koud buite die ANC,” vertel die karakter die gehoor.
Kannemeyer gebruik stories en meng dit met gedokumenteerde toesprake en historiese gegewens om Boesak se lewe te herdenk.
Meer as Boesak se lewe word só belig, talle helde van wie die name lank nie meer genoem word nie, word vir ’n oomblik weer hardop uitgespreek.
Ek het onlangs ’n artikel geskryf oor Viktor Wessels, nog ’n belangrike figuur wat stilletjies uit die openbare oog verdwyn het. Danksy mense wat bewustelik sy gedigte en sy storie weer laat herleef het, kon ons vir ’n oomblik weer stilstaan by ’n belangrike deel van ons struggleverlede, ’n deel wat nie meer gemaklik pas in die regering se meesternarratief nie.
Kontroversiële Boesak
Kort ná ek die stuk gesien het, kon ek nie anders nie as om dit aan te beveel op Facebook. Natuurlik is ek dadelik aangeval dat ek durf waag om positiewe goed oor ’n toneelstuk met Alan Boesak as tema te sê.
Vir baie mense is die narratief rondom Boesak slegs “vroueverneuker” en “tronkvoël”.
Kannemeyer se drama hanteer hierdie kwessies kaalkop, die tronkstraf meer nog as die blonde-Elna-sage.
Kannemeyer kies die weergawe dat Boesak geld gebruik het om mense oor die grens te smokkel, of hulle te beskerm in tye van nood. Die stuk meld ook dat Boesak gekies het om nie by sy eie verhoor te getuig nie, want anders sou vele ander instansies ook geïmpliseer moes word. Hierdie weergawe gaan beslis nie almal oortuig nie, maar soos Rory Riordan in sy boek Apartheid’s Stalingrad noem, is daar ander strugglehelde wat hulle in die hof, selfs in die tronk, bevind het op grond van die regering se vermoë om “dirty tricks” as ’n meesternarratief te verkoop.
Hoe ook al. Kom ons aanvaar Boesak was in die tronk. Punt. Kyk dan verder. Gaan kyk die stuk, lees oor hom, sien raak wat hy vermag het, wat hy gedoen het. Doelbewuste onthou is nodig.
Boesak is, nie was nie, ís ’n enorm belangrike deel van ons bevrydingstryd.
’n Lewe in ’n uur
Die stuk is kort, ongeveer ’n uur lank. Die stel is eenvoudig. Marlo Minnaar gebruik enkele rekwisiete om Boesak se lewe van kindsbeen af tot ná die tronkepisode te skets.
Dit wil gedoen wees.
Teen die einde van die stuk stap Minnaar weg en kom nie terug om applous te erken nie. Ek het dit aandoenlik gevind.
My feesmaatjie, Lara Aucamp, was saam met my in die teater. Ek ken deelnemers aan en ondertekenaars van die belydenis van Belhar. Sy nie. Sy is jonger as ek met veel minder bagasie, en tog was sy ook diep beïndruk met Boesak.
Ek beveel hierdie stuk hoog aan.
- Foto’s Izak de Vries
Lees ook:
Waarom skryf ek Afrikaans: Kaapse struggledigter gepubliseer
Kommentaar
On-onthou ly aan die politiek van vandag; die tale en diskoerse wat oorheers nuwe vorms van vernalatiging en humiliation bring