
- Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
Bethulie: my lewe in die kamp
Rensche van der Walt
Uitgewer: Taelberg
ISBN: 9780624096009
Oor die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) is al boekdele geskryf. Hier ervaar ons dit uit die perd se bek: die dagboekinskrywings van ’n moedige vrou wat staande gebly het te midde van vernedering en brutaliteit, omring deur siekte en dood.
Aan hierdie boek het ek swaar gelees. Ek vermoed ek het die hart van ’n hensopper. Ek sukkel om te verstaan waarom mense so moet swaarkry en verdelg word ter wille van abstrakte ideale. Nou ja, vryheid is belangrik en my dwarstrekkerige volkie het nog nooit van stange en tome gehou nie. Die dagboekskrywer wat hier aan die woord is, verklaar dat sy eerder sal sterf as om sonder vryheid te leef.
Wat my opval, is haar lewens- en wêreldbeskouing, die beskouing wat trotse Afrikanervroue gedweë laat inval het in die juk van die verdrukker: Dit is maar God se wil dat ons so ly. Dit het die Here behaag om soveel kindertjies te laat sterf. “Maar ons kla nie, want die Here Jesus was dertig jaar lank ’n vreemdeling op aarde en het gesê: ‘Wie ’n dissipel van my wil wees, moet sy kruis opneem en my volg.’ Daarom mag ek nie kla as ek my kruis moet opneem nie.”
Haar dagboekinskrywings is ’n litanie van ellendes, ’n aftel van siektes en sterftes, van vrot rantsoene, oorstroomde tente, brande en hongersnood. Tussendeur is kort hoofstukke waarin drie geskiedkundiges, Fransjohan Pretorius, Johan van Zyl en Vicky Heunis, die agtergrond skets en sekere families se lot verhaal. Dis mooi uitgegee, met foto’s wat die onmenslike lyding weerspieël: uitgehongerde kinders met oumensgesiggies, tannie Brechtje se kappie, opstalle wat brand en die karkasse van vee, ’n emalje-soplepel en -bord, ’n emmer wat ’n gesin gebruik het, die bebloede hempie van ’n kind, ’n houthamer om tentpenne in te slaan. En vele, sovele grafte. Ook die engelagtige gesig van Emily Hobhouse.
Bethulie, die konsentrasiekamp waarheen Rensche, haar ma en haar susters weggevoer is, was op ’n godverlate vlakte naby die dorpie. Daar was nie genoeg water nie. Die rantsoene was karig en vleis was gewoonlik blou, van skape wat gevrek het, en oneetbaar. “Het ek nou ’n hond geword?” wou een vrou weet.
Rensche se kleindogter het haar dagboek in Afrikaans vertaal. Hier en daar is ’n oorspronklike aanhaling soos: “Zoo zyn ons beste dagen in die Camp net moeite en verdriet.” Die outydse taal laat die uiterste ellende klinkend resoneer.
Rensche sukkel om ’n woordeskat te vind vir die totale hopeloosheid wat haar omring. Haar oogmerk was: “Nu wil ik hier schrijven die ik nooit moet vergeten zoolang ek leef.” Rensche se hele gesin het wonderbaarlik oorleef en sy het 70 jaar oud geword met haar grusame herinneringe. Soms is haar toon vir ’n oomblik liries: “Ons voel moedeloos, belas, belaai, rusteloos, verdrietig, armoedig, treurig en kranklik. As ons ’n bietjie uit die kamp gaan om troos te vind in die stilte en omtrent ’n uur op ’n plek sit of ’n entjie loop, dan voel ons heeltemal anders van gemoed. Of as ons die groen gras en die blou blommetjies aanskou.”
Of dit die Here se wil was, soos Rensche geglo het, of onmenslike Kakies en tot die dood toe hardkoppige Boere wat ontmoet het soos ’n onbeweeglike voorwerp en ’n onstuitbare krag, dit was ’n tragedie wat helaas meer as ’n eeu later nie ondenkbaar voorkom nie, wat in ons eie tyd steeds herhaal word. Mense het grond lief en volk, vaderland, vryheid en godsdiens, en sal hul lewens daarvoor neerlê. Vroue en kinders byt altyd die spit af. Ek is moedeloos dat so min verander het. Dis ’n mooi, hartverskeurende publikasie.
Op lig
Thilde Nel
Uitgewer: Boekdiva Uitgewers
ISBN: 9781048315714
Die beskrywing “goeie gewilde prosa” word nie juis meer gebruik nie, maar dis waar ek hierdie roman sou plaas. Daar is elemente van huishoudelike noir, van sielkundige riller, menslike drama en liefdesverhaal. Dis pittig en onderhoudend, ’n soort Fortysomething met elemente van Eat pray love en Shirley Valentine.
Nina het gedink sy was gelukkig getroud. Sy en Willem is beste maats. Hy is suksesvol en aantreklik en het sy figuur en sy hare behou. Die leser neem aan Nina is mooi, al voel sy nie so nie. Sy en Willem kommunikeer al minder. Dis asof hy hom afwend van haar. Dan ontdek sy ’n liefdesbriefie in sy wasgoed.
Nina is oopkop, maar sy voel verraai, dat die beste jare van haar lewe in ’n leuen deurgebring is.
Nina het ’n sterk veiligheidsnet van vriende om haar te vang wanneer sy vryval. Die vernaamste is Bas, wat saam met haar en Willem op skool was, ’n dokter wat steeds enkellopend is en ná al die jare steeds so verlief op Nina dat almal behalwe sy dit op ’n myl kan sien.
Nina het vrede gemaak met haar bevoorregting. Wat doen ’n middeljarige vrou van ’n sekere demografie wanneer alles te veel raak? Sy gaan Griekeland toe saam met ’n vriendin. Op die eiland Milos, waar die see asuurblou is en die huisies kalkwit in die verblindende sonlig, vang sy die oog van ’n Griekse god, nogal genaamd Adonis. Don is heelwat jonger as sy en deur sy waarderende blik begin sy weer mooi voel en vrou voel. En sy word gevoel.
Daar is nog heelwat kinkels en selfs misdaad wat kop uitsteek, voordat Nina weer volwaardig mens is en gereed om voort te gaan met haar lewe. Dis uiters leesbaar, verslindbaar op ’n loom Saterdag. Hier is ’n belowende stem.
Slegs hier en daar merk ’n mens dat dit ’n debuutroman is, byvoorbeeld in die volgende dialoog tussen Nina en Willem: “Dink jy ons het destyds ’n fout gemaak toe ons moes trou? Dit was asof al die tekens daar was. Ek het die baba verloor en toe het ons maar bloot van daar af aangegaan.”
Ek het ’n broertjie dood aan dialoog wat ingespan word om inligting oor te dra. Dialoog moet telegramstyl wees en net amper-amper sin maak. Iets soos: “Was dit ’n fout om te trou, selfs na ... wat gebeur het?”
Dis ’n waardevolle toevoeging tot Afrikaanse lekkerleesboeke. Ek beveel dit aan.

