
- Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
Aan die hemeltrans
Anton Roodt
Tafelberg
ISBN: 9780624094326
Vandag staan ek stil by net een roman – Anton Roodt se tweede fantasmagoriese toekomsfiksie-aanbieding wat met my kop gegoël het. Die titel is bitter slim – trans verwys na “transgender”, ’n tema wat in die roman verken word, of eerder, eie aan Roodt, veerlig in die verbygaan gestreel word. Wat beteken die hemeltrans regtig? Dit het ek al as kind gewonder. Ek het net Transvaal en Transoranje geken, en later transdans. Dit beteken dus “oor” of “geestesverrukking” – hemeltrans dan die sterrekoepel oor die aarde?
Roodt, ’n Bloemfonteinse argitek, het as skrywer aandag getrek met die bekroonde ’n Weerlose meganika. Hy het duidelik ’n slag met titels. Hierdie roman is eweneens losweg wetenskapfiksie, met robotte, engele en mense op die reënboogspektrum. Die stotterende kolonel Rooipiet, wat lesers in Meganika leer ken het, vertolk weer ’n newerolletjie. Aan die hart van die roman is weer die opbou na en die uiteindelike spektakel van ’n opvoering. In Meganika was dit die jaarlikse opvoering van Die slagting van Bloedrivier; in Hemeltrans is dit die Passiespel by die klooster van Sint Willem, beskermheilige van die metaversum.
Roodt skep weer eens ’n hoofkarakter in wie die leser aanvanklik min sin het, Herculaas (Dapper) de Wet, wat ’n tesis geskryf het oor die kuns van pis. Hy het ’n geweldige verwysingsraamwerk as dit kom by skilderye, en taferele en tonele in die werklikheid herinner hom telkens aan ’n klassieke skildery. Hy is ’n oorgewig, haarlose esteet met ’n panamahoed en ’n strikdas – paisley-motiewe in lemmetjiegroen en purper, byvoorbeeld. Hy is ’n intellektuele snob en loodswaaier. Hy het ’n Xanax-gewoonte. Sy ma het hom geborsvoed tot op nege jaar en daaroor is hy genadeloos gespot deur sy atletiese broer en op skool. Hy rook stink sigare en is versot op sy roosstruike.
Hy word gepos na die Sint Willem-klooster naby Hoopstad, waar ’n onderwyser soos ’n groot speld verdwyn het. JC van Schouwenburg vertolk elke jaar die rol van Jesus in die Passiespel. Hy is ’n dodelik aantreklike, sjarmante rockster, ’n kultusfiguur wat onder elke rok inklim. Sy Passiespel bring vir die klooster hope geld in, en Dapper moet uitvind wat van hom geword het. Hy neem intussen in JC se plek waar as kunsonderwyser. Sy klas, met die uitsondering van een dogter, bestaan uit kinderbots wat met die hulp van KI kliniese, gevoellose kunswerke skep. Die menslike leerder is talentvol en problematies, natuurlik.
Die HOD – departementshoof by die Vrystaatse Departement van Onderwys – stuur iemand saam met hom – Lùlì (Loelie) Ziervogel. Haar pa is ’n beroemde chirurg wat met ’n Chinese pornoster getroud is. Sy is trans en beeldskoon. Dapper is nie onaangeraak deur haar skoonheid nie, maar hy is neerhalend teenoor Lùlì en spreek haar as Juffrou Ziervogel aan, hoewel sy ook ’n doktor is. Hier het ek soms gewonder of ’n geleerde mens só sou praat: “Hy’s ’n koel dude [...]. Dis sleg dat hy missing is. Klink nie soos hy nie.” Of miskien ken ek net nie bloedjong akademici nie.
Dit is riskant om ’n ligweg weersinwekkende protagonis te hê: Lesers identifiseer so graag en maak avatars van fokalisators. Daar is werklik min om te bemin aan Dapper met sy los kringspier, sy mansplaining en verhewe opinies. Ek dink aan die hoofkarakter in Confederacy of dunces – tot ’n mate ontwikkel die leser wel simpatie met hulle. Natuurlik is die toonaard satiries, wat nog meer verwydering skep. Die skrywer spot as ’t ware met sy karakters. En uiteindelik tog ook nie.
........
Dit is riskant om ’n ligweg weersinwekkende protagonis te hê: Lesers identifiseer so graag en maak avatars van fokalisators. Daar is werklik min om te bemin aan Dapper met sy los kringspier, sy mansplaining en verhewe opinies. Ek dink aan die hoofkarakter in Confederacy of dunces – tot ’n mate ontwikkel die leser wel simpatie met hulle. Natuurlik is die toonaard satiries, wat nog meer verwydering skep. Die skrywer spot as ’t ware met sy karakters. En uiteindelik tog ook nie.
........
Dinge is nie pluis by die klooster nie; dit word gou duidelik. Elke bot, man, muis, vrou, skooldogter en non is verlief op JC en pryk op sy kerfstok. Hy is, om Lùlì aan te haal, peesterbegeesterd en dis duidelik dat hy sy rol as Jesus geïnternaliseer en te ernstig begin vertolk het. Daar was ook heelwat figure, soos sy 12 dissipels (almal onderwysers aan die klooster), wat hom vyandiggesind was, wat jaloers was en voel dat hy te veel van die wins van die Passiespel vir sy eie sak afgeskep het.
Daar ontwikkel ’n teësinnige geneentheid tussen Dapper en Lùlì, terwyl hulle so dag en nag saamgegooi is. Hy leer terme ken soos tucking en gaff – Lùlì het nog nie ten volle SRS (sex reassignment surgery) ondergaan nie.
Die spyskaart in die eetsaal bestaan uit viskoekies, spinasie en pampoen en Dapper se vetrolle begin wegsmelt. Die rol van Kajafas word op hom afgedwing en Lùlì moet instaan vir JC, in die rol van Jesus. Is die gehore gereed vir ’n vroulike Jesus?
Daar is skaduagtige figure soos die hoof van die klooster, Broeder P, wat g’n mens ooit sien nie. Sy avatar lyk soos Riaan Cruywagen. Daar is hologramme en spesiale effekte. Die karakters dra slimbrille wat die alledaagse driedimensioneel omtower. Daar is ’n verpotte kleuter, Janneman, wat kaalkop is soos Dapper en ’n rooi T-hemp dra soos hy op laerskool moes dra. Hy is ’n soort bespotting van Dapper en ’n avatar van Broeder P.
Elke hoofstuk word ingelui deur ’n aanhaling van William Gibson, beroemde wetenskapfiksieskrywer wat die term cyberspace gemunt het, soos: “Cyberspace is a consensual hallucination.” By die klooster is dagga en towersampioene vryelik beskikbaar. Die grens tussen werklikheid en illusie vervaag. Soos Gibson aan die begin van Deel IX aangehaal word: “Cyberspace is everting. It’s interpenetrating our everyday reality to the point that online is our normal waking state.”
Sal die nuwe, maerder en tot oor sy ore verliefde Dapper die raaisel kan oplos? Die storielyn verdig eksponensieel en alles bou op tot ’n vurige, bloedige klimaks.
.........
Ek het heerlik gelees aan Roodt se verbeeldingryke, humoristiese en spannende roman. Ten slotte word niks verduidelik of uitgespel nie; dit word aan die leser oorgelaat om stippellyne te verbind sonder om ooit heeltemal tot slotsomme te kom. Dis ’n boek wat spook met jou verbeelding en jou persepsie van die werklikheid.
..........
Ek het heerlik gelees aan Roodt se verbeeldingryke, humoristiese en spannende roman. Ten slotte word niks verduidelik of uitgespel nie; dit word aan die leser oorgelaat om stippellyne te verbind sonder om ooit heeltemal tot slotsomme te kom. Dis ’n boek wat spook met jou verbeelding en jou persepsie van die werklikheid.
Kerneels Breytenbach word soos volg op die agterplat aangehaal: “Anton Roodt se tweede roman is sterker, beter, snaakser en meer uitdagend – wat ’n sprong vorentoe!” Amen.
Lees ook:

