
Dia van Staden | Foto: Youtube
Dia, dis amper tyd vir die vierde BoekeJol- en FilmRol-fees. Wat is vanjaar op die program, as jy enkele hoogtepunte kan uitsonder?
Ek is opgewonde oor die insluiting van ’n jeugprogram vir skoliere en studente op Vrydag 31 Augustus. Die uitdaging om jongmense aan die lees te kry of ’n belang in skryf te help ontwikkel is ’n verantwoordelikheid wat geen persoon in die bedryf kan ignoreer nie. Die verskeidenheid sluit ’n skryfskool deur Keina Swart en Derick van der Walt in, ’n debatwerkwinkel deur Petrus Jacobs (Kansvatter), ’n gesprek oor die belangrikheid van lees deur Carin Krahtz en Derick van der Walt, asook die uitslae van die nuusberig-, limeriek- en gedigkompetisies. Engelse en Afrikaanse aktuele temas word aangespreek, sodat dit die opinies vir belangstellendes kan versterk of verander. Vier digters pak aktuele kwessies aan en gaan Donderdagaand saam gesels oor hul verantwoordelikheid om trauma verstaanbaar te verwoord. Photowise se fotograwe stel foto’s saam oor hierdie tema wat hul daardie aand sal onthul. Upper Case Books sal weer eens die boekwinkel tydens die fees hanteer. PretoriaFM gaan vanaf die hotel uitsaai en daar sal gereelde gesprekke en onderhoude gevoer word. Kiddies Academy beman ’n kinderkamer en ouers kan met ’n geruste hart hul kleingoed saambring om daar te lees en te speel terwyl hul die gesprekke bywoon. Saterdagaand se musiek en afsluiting van die fees deur die ensemble van die Pretoriase Filharmoniese orkes en Leon Gropp gaan ’n klankryke hoogtepunt wees wat met ’n glasie wyn geniet kan word.

Keina Swart en Derick van der Walt | Foto's: verskaf
Dis die vierde jaar wat die fees plaasvind, soos gesê. Hoe lyk die fees deesdae anders, of hoe lyk dit nog eenders, as die eerste fees, in terme van wat op die program gebied word, of die aard en tekstuur van die fees?
BoekeJol wil graag ’n breë gemeenskap betrek, met ’n betreklik klein program. Ons skuif vanjaar die fees na ’n groter venue, die Leriba Hotel. Daar is ’n behoefte vir die uitbou van die program, en die terrein leen hom lieflik tot daardie doel. Sophia Kapp bied Saterdag 1 September ’n skryfskool vir die aanhangers van die romanza-genre aan. Die program het nie soveel musiek in soos in die verlede nie, maar as die ekonomie dit toelaat, sal musiek in 2019 weer sy volwaardige plek inneem. Dit gaan steeds primêr oor die skrywers en hulle werk. Die nuutste publikasielyste van uitgewers dikteer steeds hoofsaaklik die samestelling van BoekeJol se program.

Sophia Kapp | Foto: Naomi Bruwer
Daar is nie net boek- en filmdinge op die program nie. Die aktuele debatte van die dag word ook aangedurf. Wie gaan kom praat en waaroor?
Cobus Bester lei die gesprek met Ralph Mathekga en Jan-Jan Joubert, terwyl Piet Croucamp en Roelf Meyer in die debat gaan deel. Dit is ook die wegspring-gesprek van die fees. Christi van der Westhuizen en Sithembile Mbete gesels met Piet Croucamp oor die vraag of vroue wel leiers kan wees. Louis Dey gaan die tema van boelie en sosiale-media-privaatheid met ouers en onderwysers bespreek. Sakepersone kan na Johannes de Villiers kom luister wat vir Gielie Hoffmann verduidelik wat hy met sy boek Kalmte in die malle gejaag beoog. ’n Paar mediakenners gaan saampraat oor “van fop tot feite”. Deesdae se fopnuus jaag mense die harnas in, maar weet ons hoe om te onderskei? Die groot vraag bly voortdurend of Suid-Afrikaners verandering kan aanvaar. Willie Spies en Cobus Bester pluis dit uit. ’n Uiters relevante tema word aangespreek deur Gert Grobler, Barend la Grange en Alana Bailey wanneer hul gesels oor die uitvloei van mense uit Suid-Afrika. Ronel Rensburg gaan hulle uitdaag om redes te verskaf vir die uit- en terugtog van Suid-Afrikaners. Suzaan Steyn (Rand en sent), Piet le Roux en Christelle Louw gesels oor finansiële armoede. Wat doen mense met hulle geld?

Die fees word vanjaar in Centurion aangebied. Wil jy dalk vir ons lesers aanduidings gee van waar dit is, of inligting wat hul vir hul GPS kan invoer? Is al die geleenthede bymekaar as mens daar by die sentrum aankom en geparkeer het – stapafstand van mekaar af?
Die Leriba Hotel is maklik bereikbaar vanaf die Gautrein of die hoofweg. Parkering is gratis, wat reeds ’n bonus is. Die lieflike tuin bied vir elke boekliefhebber die geleentheid om ’n stoel te vat en rustig onder ’n pragboom te sit en lees. Al die venues is tussen 50 en 100 treë uitmekaar. Die adres is 245 Endstraat, Clubview, Centurion. Die hotel is binne loopafstand van die Centurion-middestad en Gautreinstasie. Jy ry ongeveer 35 minute van Johannesburg af, 45 minute van OR Tambo-lughawe af en 10 minute van Pretoria af. Skakel hulle by 012 660 3300 indien jy wil navraag doen. GPS: 25.8456° S, 28.1781° E.

Waar koop mens kaartjies; wat kos dit? Koop mens per individuele item? Kan mens net opdaag en by die deur ook kaartjies koop? Is dit nodig dat mense voor die tyd iets anders van die fees moet weet, iets omtrent die praktiese reëlings?
Kaartjiebesprekings is maklik vanaf die BoekeJol-webwerf. Klik vanaf www.boekejol.co.za deur na Tixsa se aanlyn kaartjieverkope toe. https://tickets.tixsa.co.za/events/26816.
Die prys vir boekbesprekings en aktuele gesprekke is meestal R50 per persoon. Die Saterdag se kuieroggend saam met Ilse Salzwedel en Kate Turkington kos R120 vir vroue en sluit versnaperinge in. Kaartjies sal ook by die venue beskikbaar wees. Daar is twee pragtige restaurante by die hotel en dit maak die kuier net soveel meer gesellig. Bring die hele gesin. Elkeen kan sy deel doen en ’n nuwe leser of voornemende leser aan die fees kom voorstel. Ons sien daarna uit om die publiek, van alle ouderdomme, daar te ontvang.

