Boeke agter tralies kan lewens verander, koppe swaai

  • 5

Carla van der Spuy vertel vir Naomi Meyer van die Reading for Redemption-veldtog.

Die gewilde skrywer Marita van der Vyver het twee yslike bokse met dosyne eksemplare van haar boeke aan Reading for Redemption geskenk – alles vanaf die verre Frankryk gereël met koerier en al. Sy het glad nie omgegee om haar sak hiervoor te skud nie.

Vertel asseblief van die Reading for Redemption-veldtog en hoe jy hierby betrokke geraak het?

Die projek, wat deel van ’n rehabilitasieprogram vorm, is ’n inisiatief van ’n vorige minister van korrektiewe dienste, Sbusiso Ndebele, wat self ’n ywerige leser is.

Hy het gesê: “Ons moedig gevangenes aan om te lees en om te studeer. Sodoende word ’n omgewing geskep wat tot verbetering bydra.”

Tydens my navorsing vir my eerste niefiksie-misdaadboek, Mens of monster – die psige van ’n misdadiger (LAPA), het ek nou saam met Sarie Peens, die destydse skakeldirekteur van korrektiewe dienste in die noordelike provinsies, gewerk. Sy het na jare se gesukkel as’t ware die tronke se deure vir my oopgeswaai.

Net voor Mens of monster bekendgestel is, het sy met die voorstel gekom dat ons dit met ’n Breakfast Be-hind Bars-funksie (wat haar inisiatief was) in die Losperfontein-gevangenis naby Brits hou. Mense wat dit wou bywoon, sou nie net ’n toer van die gevangenis kry en na sang- en dansoptredes van die gevangenes kyk nie, maar ook die geleentheid kry om saam met hulle pap uit blikborde te eet. Hul “toegang” was ’n boek wat vir die Reading for Redemption-veldtog geskenk moes word.

Ongeveer 400 mense het vir die bekendstelling opgedaag (ek dink dit het beslis meer oor die uitstappie as oor die skrywer of die boek gegaan!), want van nuuskierigheid is die tronk mos vol. Maar hulle het vragte boeke aangedra. Die skrywer Ronel Nel en kriminologiestudent Londiwe Mahlangu en haar hele honneursklas van Tukkies het letterlik bokse en bokse boeke gebring. Dit was roerend om te sien hoe geesdriftig hierdie projek ondersteun word, terwyl min van ons nog nie onder misdaad deurgeloop het nie.

Ek het toe besef dat dit werklik ’n projek is wat die moeite werd is. Ek kon nie anders as om daarby betrokke te raak nie. Die blydskap op die bibliotekaris (’n gevangene wat ’n lewenslange vonnis gekry het) en sy selmaats se gesigte was onbeskryflik. LAPA-uitgewers het die projek ook heelhartig ondersteun.

’n Ruk later het ek ’n tweede bekendstelling in Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad gehad. Dit was weer eens ’n groot sukses. Honderde mense het opgedaag en sakke boeke saamgebring. Dit is in ’n reusesaal waar die byeenkoms gehou is, teen die mure op lang tafels uitgestal. Goeie boeke in ’n goeie toestand. Van die gevangenes het nader gestaan en was omtrent in vervoering. Fifty shades of Grey was onder die boeke, maar is vinnig deur bewaarders verwyder. Mens moet natuurlik oordeel gebruik met die keuse van boeke. Ek sou byvoorbeeld nie aanbeveel dat jy titels soos 99 ways to escape skenk nie! Maar ’n gewoontemisdadiger (winkeldiefstal) het my onlangs vertel sy is gek oor Agatha Christie-boeke. ’n Moordenaar het egter nog nie teenoor my beken dat hulle moordverhale lees nie. Hulle sal eerder ewe vroom vertel hulle verkies “geestelike boeke”.

’n Derde bekendstelling is tydens die Tulbagh Lentefees by die Obiqua plaaslike gevangenis gehou. Mense wat dit bygewoon het, het weer eens boeke gebring.

Toe ek kort daarna ’n praatjie by die Bellville-biblioteek gegee het, het ek mense weer eens gevra om boeke te bring. Die bewaarders van die Obiqua-gevangenis het die boeke kom haal. Hulle was aangedaan oor die lesers se vrygewigheid.

Dit het toe ’n instelling geword by elke plek waar ek gesels het.

Aan al die skrywers en boekgeesdriftiges wat die afgelope ruk boeke aan die Reading for Redemption-veldtog geskenk het – baie, baie dankie! Honderde boeke is deur kaptein Tebogo Khumalo, hoof van ontwikkeling by Losperfontein-gevangenis net buite Brits, en deur sersant Thumolo Semelo, koördineerder van sport en die biblioteek by dieselfde gevangenis, by my huis opgelaai. Hulle gaan van die boeke aan die gevangenis op Rustenburg skenk, waar daar ook ’n jeuggevangenis is. Ek het hierdie keer meer Afrikaanse as Engelse boeke gehad, maar hulle het my verseker hulle soek Afrikaanse boeke, asook boeke oor sakebestuur. Lyk my lg is ’n gewilde vak om te swot. Hierdie twee Departement van Korrektiewe Dienste- (DKD-) lede is ’n aanwins vir die departement, want hulle is tydens ’n funksie as die wenners in die afdeling sport en ontspanning in die hele land aangewys! Ek kan sien hoekom. Hulle is besonder toegewyd. Hulle het my ook gevra om aanstaande jaar met die jeuggevangenes op Rustenburg te kom gesels om hulle te motiveer om te lees.

Mens moet die projek natuurlik behoorlik bemark en dit werk baie goed op Facebook. Ek neem foto’s van die skenkers, die verspreiders en die beamptes van die Departement van Korrektiewe Dienste wanneer hulle die boeke by my kom haal.

Elke keer as ’n foto op Facebook verskyn, is daar weer reaksie. ’n Foto vertel immers meer as ’n duisend woorde. Mense het my later laat weet as hulle trek of van hul boeke ontslae wil raak. Soms ry hulle ver om die boeke by my huis te kom aflaai en dan kuier en gesels ons lekker oor koffie en botterbroodjies en vertel ek hulle meer van die projek. Soms laai ek die boeke op as ek in die skenkers se omgewing is en ’n storie in die omgewing moet gaan skryf.

Ek gebruik Facebook ook om te vertel watter voorkeure sekere gevangenes het. ’n Jongman wat vier mense doodgeskiet het en 168 jaar tronkstraf gekry het, is gek oor geskiedenisboeke. Mense het gegee. Hy is nou besig met twee meestersgrade.

Nog ’n jongman wat ook ’n vonnis weens ’n opspraakwekkende moord uitdien, het vir Christelike en inspirasieboeke gevra. Bokse vol is geskenk.

Dit gaan goed met albei hierdie jongmans, het ek verneem. Hulle is gek oor lees en maak die beste van hul vonnis.

Die Modimolle-jeuggevangenis het ’n skool by die gevangenis en het vir Afrikaanse digbundels gevra. Ondanks die feit dat min van hulle Afrikaans as huistaal het, is Afrikaans ’n gewilde vak by hul skool. Gisela Ulyatt het digbundels gestuur.

Talle bekende skrywers ondersteun ook die projek. Marita van der Vyver het twee bokse van drie van haar titels ten duurste na my toe laat koerier, Zelda Nel Bezuidenhout het eksemplare van haar jeugroman gestuur en Alta Cloete het met LAPA gereël dat die vyf eksemplare wat sy as skrywer met haar nuwe boek ontvang, reguit tjoekie toe gaan. Driekie Grobler van SA Skrywers het ook digbundels wat sy saamgestel het en talle ander boeke geskenk. Baie ander skrywers wat hul boeke self publiseer, het ook boeke geskenk.

Karin Behrens van die Lekkerlees Boekrak op Facebook ondersteun ook die Reading for Redemption-veldtog.

Al meer uitgewers toon ook groot belangstelling in die veldtog. Izak de Vries van LAPA se afdeling vir bemarking sê hulle is besonder trots daarop om by die Reading for Redemption-projek betrokke te wees:

“Rehabilitasie in korrektiewe fasiliteite is ongelukkig nie uiters suksesvol nie, en ons glo sterk dat mense wat beter kan lees, ook weer beter geleenthede in die samelewing sal hê wanneer hulle vrygelaat word, of toegelaat word om onder toesig weer die arbeidsmark te betree. Enige boek, of dit niefiksie of suiwer ontspanningsliteratuur is, laat die leser toe om beelde van ander moontlikhede in sy/haar kop op te roep. Mense wat ander opsies kan begin oorweeg, het die vermoë om verby hulle eie omstandighede te kyk – hoe moeilik dit ook al mag wees.”  

Tania Corker (regs), ’n oudgevangene, ontvang hier eksemplare van Marita van der Vyver se boeke wat sy daarna by Pollsmoor en Worcester se vrouegevangenisse uitgedeel het. Talle gewese gevangenes ondersteun die veldtog.

Misdaad is ’n sensitiewe saak in hierdie land. Mens wil eintlik net hê misdadigers moet gestraf word vir wat hulle gedoen het en nie nog ander eise stel nie. Soos boeke! Wat is jou gevoel hieroor?

Dit is beslis ’n sensitiewe saak en ons is almal keelvol vir die vlaag misdaad wat ons lewens so verwoes. Maar baie van die misdadigers gaan baie lank agter tralies deurbring. Daar is gevangenisse waar mense tot 1 000 jaar gevonnis is. Sowaar! Hulle het dus baie tyd om te lees.

Die voordele wat lees agter tralies inhou, het onlangs in Brasilië na vore gekom toe gevangenes wat lees, ’n verkorte vonnis van vier dae lank aangebied is vir elke boek wat hulle lees. Hulle moes egter ’n verslag vir elke boek indien. Sedert hierdie program bekendgestel is, was daar ’n afname van 30% wat in misdaad terug verval het. The Guardian het ook berig oor ’n studie waarin bevind is dat kinders wat in ’n huis vol boeke grootgeword het, veel meer geletterd as ander is .

Baie gevangenes het sonder boeke grootgeword, maar baie is jeugdiges wat skoolgaan terwyl hulle hul vonnis uitdien. As hulle dan boeke ontdek, kan dit hul lewens verander.

Daarom glo ek dit is beter dat gevangenes lees as wat hulle bendes vorm en bose planne uitdink. Ek het al persoonlik onderhoude gevoer met gevangenes wat gelees het en het gehoor hoe dit hulle koppe geswaai het.

Party kom daar aan met graad 8, begin lees en studeer en stap daar uit met ’n regsgraad. Hul boekkeuses is nogal interessant. Hulle hou oor die algemeen veral van inspirasieboeke en dan is geestelike boeke ook baie gewild. Romanzas is ’n treffer agter tralies – ook nogal onder vroue wat hul mans laat vermoor het (hulle glo heel ironies aan die liefde) – en selfs onder mans.

Ophelia Motloutsi (regs) van die DKD het in ’n stadium bokse vol boeke van LAPA-uitgewers ontvang. By haar op die foto is Suzanne van Niekerk, ’n vorige uitgewer by LAPA.

Glo jy in tweede kanse? Glo jy in die krag van boeke? Of vertel dalk ’n storie of ’n ware gebeurtenis wat jy al sien gebeur het as gevolg van hierdie projek.

Ek glo beslis in tweede kanse. Ek het al telkens berig oor mense wat vonnisse uitgedien het wat vandag trotse landsburgers is, hard werk en nooit weer ’n voet skeefgesit het nie. Party van hulle het my vriende geword. En hierdie mense het almal een ding gemeen – hulle het gelees. Ek glo dis waar die verandering kan begin.

Maar ons moet hulle ondersteun. Ons moet na hulle uitreik. Een van gevangenes se grootste probleem is verwerping. Hoe gaan hulle ooit rehabiliteer indien ons hulle net toesluit en van hulle vergeet? Talle word al in die middag tot die volgende oggend in hul selle toegesluit. Hoe moet hulle hulself rustig en besig hou?

’n Gevonniste verkragter het aan my vertel dat Men are from Mars, women are from Venus sy gunstelingboek is, want dit het hom geleer om vroue beter te verstaan en meer te respekteer. Hy het in die tronk vir die eerste keer begin lees.

’n Jongman wat 15 jaar weens gewapende roof moet uitdien en ook nie “buite” gelees het nie, se gunstelingboek is Ugly deur Constance Briscoe. Hy het geesdriftig aan my vertel dit gaan oor ’n ma wat haar kind mishandel het en vir haar gesê het sy is lelik. Toe die kind 15 jaar oud was, het haar lewe verander. Sy het weggebreek van haar ma af en ’n sukses van haar lewe gemaak.

“Partykeer maak mense jou seer en onnodige konflik word veroorsaak. My hart het na die kind uitgegaan. Ek was partykeer so hartseer dat ek lus gevoel het om te huil.”

Hy beskryf die Reading for Redemption-projek as “ongelooflik”. En nou studeer hy vir ’n kwalifikasie as assistentbestuurder in sakebestuur.

Nog ’n jongman wat weens huisbraak en diefstal gevonnis is en voorheen ’n dwelmprobleem gehad het, het vertel dat boeke sy lewe in die gevangenis verander het.

Hy het met slegs matriek by die tronk aangekom, maar intussen kursusse in bestuursassessering voltooi en kan N4, N5 en N6 met vakke soos kommunikasie en rekenaar- en kantoorpraktyk agter sy naam skryf.

Die Engelse fiksieboeke in die biblioteek van die gevangenis waar hy aangehou is, was destyds al voos gelees. Die boeke het hom gehelp om sy taalgebruik en spelling te verbeter.

Sy gunstelingboek is American Star deur Jackie Collins. Dit gaan oor ’n hoofkarakter met ’n baie moeilike agtergrond. Hy het in ’n woonwa gewoon en is mishandel. Toe gaan hy Hollywood toe en word beroemd. Hy het daaruit geleer om vas te byt en deur te druk. Hy het besef mens kan sukses behaal. Lees het hom anders oor homself laat dink. Hy hoef nie ’n mislukking te wees nie.

Boeke het sy wêreld groter gemaak, want nou kan hy ook saam met Wilbur Smith en Stephen King na avonture in verre lande ontsnap. As hy lees is hy op ’n ander plek.

Nou wil hy ’n ondersoekende joernalis in oorloggeteisterde gebiede word.

’n Gevonniste rower het my weer vertel dat hy gek oor liefdesverhale is. Dit kalmeer hom as hy kwaad word.

Wat my getref het, is dat mense in gevangenisse baie meer lees as mense “buite”. By ons is dit ’n geval van “so baie boeke, so min tyd” maar by hulle is dit ’n geval van “so baie tyd, so min boeke”.

By een tronk wat ek besoek het, het ’n kwart van die gevangenes aan die biblioteek behoort. Hulle het selfs ’n boekklub waar die boeke bespreek word. Die netheid en die dissipline by daardie tronk was vir my opvallend.

Dis baie maklik om by Reading for Redemption betrokke te raak. Enigeen kan dit doen. ’n Vriend, Jacques Pratt, het nou begin om boeke vir die Kaapse gevangenisse in te samel.

Mens kan egter ook kontak maak met die hoof van jou naaste gevangenis en vra of jy die boeke daar kan gaan aflaai en of hulle dit dalk kan kom oplaai. Omdat dit vir jou as vrywilliger tydrowend kan wees en brandstof duur is, is dit raadsaam om mense te identifiseer wat jou kan help om die boeke te versprei.

Wat veral vir my ’n riem onder die hart is, is die feit dat talle gewese gevangenes ook die Reading for Redemption-veldtog ondersteun.

Nie almal keer hul gewese selmaats die rug toe nie. Daar is goedhartige mense wat steeds getrou vir hulle gaan kuier en vir hulle toiletware en boeke saamneem. Ek vind dat as jy vriende, familie en geestelike beraders soos Sonia Jordaan ken, wat by vier verskillende tronke werk en hulle vra om die boeke te neem, kom dit gou by die gevangenis, uit want hulle dra die gevangenes se belange op die hart. Hulle het dikwels goeie verhoudings met die bewaarders. Die boeke gaan ook biblioteek toe waar almal dit kan lees.

Die Worcester-bomplanter Stefaans Coetzee, wat ’n paar jaar gelede vrygelaat is en deur sy slagoffers vergewe is, het al honderde boeke aan die veldtog geskenk en voer nou ’n voorbeeldige en sinvolle bestaan waarin hy na ander uitreik. Hy het 3 000 boeke agter tralies gelees!

  • Kontak Ophelia Motloutsie van die DKD-hoofkantoor as jy boeke wil skenk: 012 306 2000/2050.
  • 5

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top