Boekbespreking: Hammie en feminisme

  • 0

Hammie
Ronelda S Kamfer
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795707582

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die onderdrukking van die swart vrou is nie net ’n hedendaagse gebeurtenis nie, maar eerder ’n oeroue verskynsel. Ronelda S Kamfer het in haar digbundel Hammie baie gedigte opgeneem waar feminisme ’n duidelike tema is.

Dus gaan die oeroue stryd en onderdrukking en trauma van spesifiek die swart vrou op die basis van ras, klas en geslag in die digbundel Hammie vanuit ’n swart feministiese perspektief bespreek word. Daar gaan eers ’n agtergrond oor feminisme geskets word, waarna daar gefokus gaan word op swart feminisme. Uiteindelik gaan onderskeidelik ras, klas en geslag in die bundel Hammie ondersoek word om die verskynsel van onderdrukking en trauma vanuit ’n swart feministiese perspektief te ontleed.

2.1 Agtergrond oor feminisme

Vir lank is daar oor die identiteit van “vrouwees” gedebateer. Die benaming van geslagte is deur psigoanaliste toegepas, waar dit vir vrouens ’n geslagtelike of seksuele identiteit gegee het (Riley, 1988:1).

Feminisme is ’n relatiewe begrip wat in verskillende kontekste ander betekenisse het. Dit is ’n term wat na die teorieë en praktyke verwys, wat neerkom op die aanname dat meeste vroue in die wêreld op ekonomiese, politieke, kulturele, sosiale en seksuele vlak onderdruk word. Dit kom daarop neer dat vrouens as mans se gelykes gesien moet word deur hul regte te beskerm en te bevorder (De Jong en Murray, 2013).

Die verbetering en verandering in die status van vrouens kan toegeskryf word aan die stryd van feminisme. Feminisme en die ontwikkeling daarvan het in fases, ook golwe genoem, plaasgevind. Die eerste golf het in die 1920’s ontstaan. In die 1960’s het die tweede golf plaasgevind, waar daar op die bevordering van vrouegelykheid en vroue-emansipasie gefokus is. Die derde fase het in die negentigerjare plaasgevind, waarby konstruktivisme gebruik is om dit te definieer (De Jong en Murray, 2013).

Gedurende die sewentigs moes feminisme aktivisties en revolusionêr wees. In die negentigs was daar ’n fase bekend as “post-feminisme”. Dit het verwys na die feit dat die stryd om feminisme glo suksesvol was (De Jong en Murray, 2013).

Binne feminisme is daar ’n debat oor “verskil”. Die diversiteit van vrouens moet in ag geneem word terwyl daar na vrouens, as ’n groep, se onderdrukking gekyk word. Daar kan gevra word of geslag in terme van feminisme bo ras en klas gestel kan word. Dit was die mening van baie blanke vrouens tydens die geskiedenis van feminisme. Baie navorsers meen dat dit selfs ’n voorwaarde was vir die ontwikkeling van feminisme (LeGates, 2001:2).

Daar het egter teenstrydigheid gekom toe die “swart vrou” by die eerste golf van feminisme uitgesluit is. In die hedendaagse era kan daar dus tussen Westerse en Afrika-feminisme onderskei word (LeGates, 2001:2).

Daar kan afgelei word dat min vir vrouens verander het sedert die ontstaan van feminisme. Die moontlike revolusionêre effek van feminisme is egter ’n sterkpunt. Navorsing en geskiedenis toon dat vordering wel gemaak word, al is dit stadig (LeGates, 2001:11).

2.2 Swart feminisme

Feminisme het sy oorsprong in die stryd vir vroueregte. Dit het wêreldwyd versprei onder verskillende benaminge. Al het feminisme daarna gestreef om vir alle vroue se regte te baklei, het dit nie die spesifieke behoeftes van die swart vrou in ag geneem nie. Feminisme het eerder op die middelklas wit vrou in Brittanje en Europa gefokus (Ebunoluwa, 2009:228).

Die behoefte het ontstaan vir ’n spesiale ideologie van feminisme wat spesifiek op die swart vrou se behoeftes fokus. Dus het “womanisme” as ’n variant van feminisme ontwikkel. Die ideologie is gewortel in die Afrika-tradisie met sy vele fasette (Ebunoluwa, 2009:229).

Womanisme fokus meer op die ras- en klaskwessies tesame met geslagsonderdrukking, waar feminisme se hooffokus geslagsonderdrukking is (Ebunoluwa, 2009:230).

In die hedendaagse era beleef swart vrouens onderdrukking op grond van ras, klas en geslag. Dit is moelik om te bepaal watter vorm van onderdrukking die ergste is. Hulle beweer dat swart vrouens net bevry kan word as alle sisteme van onderdrukking vernietig word. Swart vrouens se posisie in die samelewing moet dus opgehef word (Bezuidenhout, 2001:103).

Swart vrouens is baie belangrik vir die oorlewing van die swart gemeenskap. Hulle is veral vir die algehele verbetering verantwoordelik. Swart vrouens het ’n ver pad gekom, van ’n slaafagtergrond waar ’n swart vrou nie werklik as ’n vrou gesien is nie, tot vandag waar hulle ’n integrale rol in hul huishoudings en gemeenskappe speel. Dit is egter die veronderstelling (Rosser-Mims, 2010:7).

Die derde golf van feminisme, wat ’n reaksie op die tweede golf van feminisme was, het die term probeer herdefinieer deur die onderdrukking van alle vrouens van alle rassegroepe aan te spreek (Arya, 2012:558).

Daar word beweer dat geslag nooit in isolasie bestudeer kan word nie. Dit word as ’n integrale faktor by politiek, ras en klas gereken. Daar is van altyd af teen swart vrouens gediskrimineer op grond van ras, klas en geslag. In terme van feminisme het wit vrouens op grond van ras, en alle mans op grond van geslag, teen vrouens gediskrimineer. Die derde golf van feminisme het genoop om ’n verband tussen die identiteitvorming in terme van onderdrukking op grond van ras, klas en geslag te skep (Arya, 2012:559).

Eers onlangs is die swart vrou se teenwoordigheid in gesinsverband ontbloot. Die onderdrukking van swart vroue op alle vlakke van die samelewing het ’n stem gekry (Arya, 2012:563). Navorsing toon dat die uitbuiting van swart vrouens gegrond is in rassige en geslagtelike interseksies van mag en onderdrukking. Die hedendaagse tendens ten opsigte van verwysing na swart vrouens is óf deursigtigheid óf hipersigbaarheid (French et al., 2013:645). Swart vrouens se probleme en realiteite is veel groter as die patriargale stelsel. Hulle onderdrukking is ’n mengsel van diskriminasie op grond van ras, klas en geslag. Die onderdrukking vind selfs deur individue vanuit die plaaslike gemeenskap plaas (French et al., 2013:647).

Swart vrouens word sistematies onderdruk. Swart vrouens het ’n enorme verteenwoordigingsyfer in terme van armoede, werkloosheid, haweloosheid en inhegtenisneming. Hierdie sosiale ongeregtigheid dra by tot nadelige gesondheidsrisiko’s (French et al., 2013:648).

Die swart vrou se liggaam word in die kommersiële en akademiese wêreld nagelaat en gedegradeer. Daar is ook ’n lae getal vrouens in die navorsingskorps (French et al., 2013:649). Die swart vrou se liggaam is in die geskiedenis as “enorm”, “dierlik” en “abnormaal” geklassifiseer. Die swart vrou is as ’n Jesebel-figuur gestereotipeer wat telkemale gebruik is om verkragtings te regverdig. Swart vrouens beleef dus gekommersialiseerde seksuele uitbuiting (French et al., 2013:650).

Die feit dat die onderdrukking van die swart vrou nie binne ’n wettige raamwerk geplaas kan word nie, word onder die soeklig geplaas. Die onderdrukking is ’n kombinasie van seksisme en en rassisme. Dit vorm dan een unieke ervaring van onderdrukking. Ras, klas en geslag werk saam as onderdrukkers om ongeregtigheid te bewerkstellig. Swart vrouens se voorplantingsregte is ook in die geskiedenis teen gediskrimineer en die invloed kan tot in die hede deurgetrek word. Hulle is as te onbevoeg gesien om kinders te hê. Swart feminisme fokus op die verband tussen onderdrukking en uitbuiting (Smith, 2013).

Swart vrouens ervaar tot in die opleidingswêreld onderdrukking, aangesien hulle in meeste gevalle as die minderheid geklassifiseer word (Esposito & Evans-Winters, 2010:12). Daar is egter bevind dat jong swart meisies, wie se ouers met hulle oop gesprekke oor ras, klas en geslag voer, nie soseer deur onderdrukking beïnvloed word nie. In sommige gevalle moet swart meisies die uitleef van hul swart identiteit demp om binne die norm van die onderwysstelsel in te pas (Esposito & Evans-Winters, 2010:13).

Swart feminisme poog om die verhale van eeuelange onderdrukking aan mekaar te lap sodat ’n deursigtige beeld verkry kan word. Die swart vrou se intellektuele tradisies is meer ’n reaksie op die onderdrukking wat voorkom. Swart vrouens as akademici se poging is om politieke bemagtiging en sosiale geregtigheid te bewerkstellig. Swart vrouens word deurgaans op grond van sosiale kwessies onderdruk en uitgesluit. Daar moet in ag geneem word dat swart vrouens vele “identiteite” kan hê (Mirza, 2010).

2.3 Swart feminisme in die digbundel Hammie deur Ronelda S Kamfer

In die digbundel Hammie deur Ronelda S Kamfer word die oeroue stryd van die swart en bruin vrou uitgebeeld. Ras, klas en geslag dien as skeidingsterme vir die onderdrukking.

2.3.1 Ras

Vroeg in die bundel word daal al melding van ras gemaak. In “Vetste vlieë” praat die digter van “vintage wearing meisies” (Kamfer, 2016:16). Dit vestig die konteks van die gedig. Die leser weet dan dat daar van meisies en van hul ras gepraat word.

In “Tale” kom die onderskeid op grond van ras ter sprake (Kamfer, 2016:64). Die gedig handel oor ’n wit vrou wat aandring dat sy vinnig en dadelik by die kliniek gehelp word. Party vrouens verstaan nie hierdie verskynsel nie, maar sommiges is welbekend daarmee. In “Volkspele” kom die rasverskynsel ook na vore (Kamfer, 2016:86). “ek is by ’n partytjie vol depressed wit mense,” skets dadelik die scenario dat Kamfer hiperbewus van ras is. “ek sit en luister na hulle pyn en hul apathy,” skep die indruk dat Kamfer tot die besef kom dat rassegroepe se realiteit van pyn verskil.

In “Apartheid” word die uitbuiting van bruin vrouens uitgelig (Kamfer, 2016:71). Haar ma het haar vertel van ’n insident waar twee wit jongmans ’n blikkie na haar en haar tannie geskop het. Haar ma het hulle iets lelik toegesnou. Kamfer het gewens dat sy eendag in ’n soortgelyke situasie sou kom sodat sy hulle ook iets lelik kon toesnou. Haar wens is bewaarheid, maar sy sê in die slotstrofe, “ek het niks terug gesê nie.”

2.3.2 Klas

In “Vetste vlieë” word daar ’n onderskeid tussen die verskillende klassegroepe getref wat binne die bruin gemeenskap gevind word (Kamfer, 2016:16). “daar’s ’n nuwe breed,” dui dit sommer met die intrapslag aan. Dit is duidelik dat die klasgroep van bruin meisies hulself verwesters. “hare straight” en “Engels gepraat” dui daarop. Die skeiding binne die bruin rassegroep word versterk met “die type wat offended geraak het as ek iets verkeerd scan agter die till by Clicks”. Hulle behoort tot dieselfde rassegroep en albei is vrouens. Die klasgroep veroorsaak egter skeiding. Dit is duidelik dat hierdie klasgroep saam die stryd om feminisme veg, maar hulle bly nie getrou aan hulle tradisionele wortels nie. “Grace Jones hulle women of strenght gemaak het,” wys uit dat ’n eksterne persoon hul motivering tot feminisme is. “hulle protest in hulle blogs” en “hulle is instagram feminists,” wys dat hulle nie direk by die stryd betrokke is nie. Hulle voel feminisme dus nie direk aan hulle lywe nie.

In die gedig “Die skoonmakersword daar op ras en geslag in terme van onderdrukking gefokus (Kamfer, 2016:38). “ek kom van ’n lang lyn van domestic workers, my kinderjare was gevul met subtle hints van hoe om ’n vloer te strip en polish,” gee vir die leser agtergrond oor Kamfer se familiegeskiedenis. Amper al die vrouens in hulle familie was “domestic workers” en Kamfer is van kleins af gekondisioneer om in hulle voetspore te volg. “ek dink daai was haar way om vir my te sê ek moet iets anders met my lewe doen,” wys dat haar ma tog iets anders vir Kamfer wou hê. Dit wys uit dat sekere beroepe vandag steeds aan ’n spesifieke ras, klas en geslag gekoppel word. Vir ’n bruin vrou met so ’n gevestigde familiegeskiedenis van “domestic worker” is dit moeilik om los te breek.

In “Belville” word daar gefokus op klas en rasverskille (Kamfer, 2016:85). Kamfer se ma vat haar eendag saam werk toe waar sy wit mense se huis gaan skoonmaak. Die wit  vrou sê die heeltyd vir Kamfer se ma hoe mooi sy is. Die gedig laat die leser terugdink aan die eerste golf van feminisme, toe wit vrouens aangeneem het dat daar “susterskap” tussen alle vroue heers.    

2.3.3 Geslag

In “Sterk staan vir plat skoene” word ons bewus dat Kamfer in ’n generasielyn is waar daar al vir oorlewing eerder as feminisme geveg is (Kamfer, 2016:19). Kamfer vertel dat sy ander helde as haar ma en ouma gesoek het. “my ma’le het gefight vir survival,” en “Amerikaanse feminisme,” “hulle het gefight vir equality”. Kamfer het dus op ’n stadium na die Westerse feminisme vir rigting gekyk. Sy het egter tot ’n ander insig gekom. “ek kon sien waarvoor my ma’le gefight het, om van hulle knieë af te kom omdat die rewolusie nie vir hulle sexual was nie.” Haar ma en ouma het dus nie in geslag vasgekyk nie. Moontlik kon ras of klas ’n motivering vir hulle stryd gewees het. In hierdie gedig is die verskil tussen wit en swart feminisme duidelik. Haar ma en ouma het geveg vir dit wat hulle in hulle onmiddelike omgewing verkeerd gesien het.

In “Lae lewens” sien die leser hoe direk Kamfer deur feminisme beïnvloed is (Kamfer, 2016:20). “Daar was ’n vrou in my lewe,” dui daarop dat meisies van jongs af kan waarneem hoe die samelewing werk deur na vroulike figure rondom hulle te kyk en dan persepsies te vorm. Kamfer se ma was daardie vrou in haar lewe. “wie so baie verraai was,” dui aan dat haar ma baie aanslae van die lewe gehad het. Haar ma het egter die aanslae sleg na Kamfer verplaas. “sy het my geleer hoe om nie lief te wees vir myself nie,” dui daarop dat haar ma se denkpatrone op haar afgedruk is.

In “Fluit-fluit in kamer 3” word die stryd wat swart of bruin vrouens het om ’n billike werk te bekom, uitgelig (Kamfer, 2016:27). Die gedig handel oor ’n groepie van Kamfer se vriendinne saam met wie sy een aand uitgaan. “ek wil nie saamgaan nie, ek is al een wat ’n steady job het,” wys dat Kamfer nie ’n kans wil vat en haar werk verloor nie, want sy weet hoe moeilik dit moontlik was om die werk te kry en in die hedendaagse samelewing te behou.

In “Scream” vergelyk Kamfer haarself met ’n wit vrou (Kamfer, 2016:29). “my laat voel soos ’n wit vrou,” dui daarop dat Kamfer haarself moontlik in die wit vrou se skoene indink. Dit is egter met vooropgestelde idees en ’n moontlike wanpersepsie. Dit wys uit dat vrouens van verskillende rassegroepe mekaar nie werklik kan oordeel nie, want hulle is nie bewus van mekaar se korrekte realistiese ervaringswêreld nie.

In “Ma” word die rol van die bruin vrou in haar huishouding en die gemeenskap benadruk (Kamfer, 2016:32). Navorsing toon dat die swart vrou baie mag tot die algehele verbetering van ’n gemeenskap het. Kamfer en haar gesin word eers na haar ma se dood bewus van die rol wat haar ma werklik in die huishouding gespeel het. “na my ma se dood het net die klein dinge verander,” dui op die oomblik toe die verandering begin plaasvind het. “my pa probeer hard om ’n goeie ma te wees,” wys dat haar pa probeer het om die rol van haar ma in te neem, maar dat hy sukkel.

In “Troupanne” word die rol van ’n vrou as ’n ma uitgelig (Kamfer, 2016:33). Kamfer se ma is oorlede, maar sy “help” haar steeds. Kamfer verkoop haar ma se trouringe sodat sy geld kan kry om vir haar eie kind te sorg. “ek het ’n kind, ek is ’n ma en sy moet eet,” wys dat Kamfer haar verantwoordelikheid as moederfiguur besef. “sy is my ma, sy moet my help,” benadruk die rol wat haar ma steeds in haar lewe speel. Die samelewing het “moederskap” as een van die vele rolle van vrouens geklassifiseer. Aanvanklik was dit in die geskiedenis een van die enigste rolle wat aan ’n vrou toegeskryf is. In die hedendaagse samelewing is dit nie meer die hoofrol of enigste rol van ’n vrou nie. Daar het baie ander rolle en verantwoordelikhede op ’n vrou se skouers kom rus.

In “Box cutters” sien die leser hoe die bruin vrou steeds uitgebuit en onderdruk word in terme van fisiese mishandeling. “een het my van agter gegryp, die ander het die box cutter teen my keel gedruk, die ander het my bene onder my uitgeslaan,” beskryf die aanval. Sommige individue in die samelewing sien dit as normaal en dat ’n vrou soms vir moeilikheid soek. Kamfer spreek ook haar skok uit as sy vir haar ouma vertel wat gebeur het en haar ouma reageer nie. “toe ek die voordeur oopmaak vertel ek my ouma wat gebeur het, sy staar vas teen ’n dooie muur,” verduidelik haar ouma se reaksie. Dit is moontlik dat haar ouma so reageer omdat daar moontlik al soortgelyke situasies was en dat daar niks gedoen is om dit aan te spreek nie.

In “Disney days” word daar op die invloed van sosiale kwessies op ’n bruin vrou se lewe gefokus (Kamfer, 2016:45). Kamfer se beste vriendin van skool, het “pregnant geraak van ’n gangster wat haar geslaan het.” Die feit dat vrouens nie teen ongewenste swangerskappe beskerm word nie, en dat mishandeling van vrouens steeds plaasvind, word uitgelig. Disney, die vriendin, het ook nie haar skoolloopbaan voltooi nie en dit dra tot die stoomrollereffek van onderdrukking by.

In “As seer nie meer seer is nie” spreek Kamfer die kwessie van verwerping aan (Kamfer, 2016:47). Haar ma se woorde, “Ronelda moet jy nie ook my verwerp nie, ek kry dit klaar van alle kante af,” laat die leser wonder watter verwerping haar ma van praat. Dit is die realiteit van die bruin vrou in vandag se samelewing. Sy word op persoonlike, gemeenskaps- en professionele vlak verwerp.

In “Getuienis” word die klem op mishandeling binne ’n gesin geplaas (Kamfer, 2016:58). Kamfer se vriendin lewer in die kerk getuienis oor hoe lief sy vir haar pa is, maar in werklikheid verkrag hy haar en niemand doen iets daaraan nie. Dit is ’n ou verskynsel dat ’n vrou slegs as ’n seksobjek gesien word. Die hartseer van die sienswyse is dat gesinsgrense en verhoudings geïgnoreer word. Die pa en dogter-verhouding word opsy geskuif as gevolg van die persepsie dat dat selfs die man se eie dogter ’n seksobjek is. Daar word ’n mate van magteloosheid aan gekoppel omdat die kerk, wat veronderstel is om ’n instelling te wees wat help en beskerm, ’n blinde oog gooi, wetend of onwetend.

In “Slapende honde” verwys Kamfer na die pyn wat ’n vrou telkemale beleef (Kamfer, 2016:59). “hulle hou van ’n vrou in pyn,” verklaar dit. Die “hulle” is tien teen een mans en die pyn wat die vrou beleef kan na baie kwessies verwys. Die opmerking lig die ironie uit van die feit dat mans van vrouens hou wat baie teenkanting en aanslae kry. Dit word as die norm gesien.

In “Uncle Jerry” word die klem weer op seksuele uitbuiting van vrouens en meisies geplaas (Kamfer, 2016:70). “al is jy klein weet jy dat jy die dag altyd gaan onthou,” wys die langdurige effek van die mishandeling uit. Die vergangklikheid en “rooftog” van bruin meisies se maagdelikheid word in “Hulle wattie afgie nie” onder die loep geplaas (Kamfer, 2016:80). Kamfer se vriendin verloor haar maagdelikheid aan haar stiefpa en “but ek is nou klaa vuil so ek might as well aangaan met dit,” wys hoe dit die meisie se denkprosesse en toekoms beïnvloed.  

3. Samevatting

Dit is duidelik dat swart feminisme van gewone feminisme verskil. Die swart feminisme fokus eerder op die unieke ervaring en stryd van die swart vrou. Onderdrukking van die swart en bruin vrou is vandag nog ’n algemene verskynsel. Die swart/bruin vrou word op grond van ras, klas en geslag uitgebuit en onderdruk.

In die digbundel Hammie deur Ronelda S Kamfer is daar sprekende en relevante voorbeelde van hoe dit steeds vandag plaasvind. Kamfer het voorbeelde uit haar eie lewe en ervaringswêreld gebruik. Die rol wat haar ma en ouma in die styd om feminisme gespeel het, en Kamfer se gedagtes rondom dit, staan uit. Die rol van die gemeenskap in die onderdrukking van vrouens word ook beklemtoon.

Die feit dat daar nog op grond van ras en klas teen swart/bruin vrouens gediskrimineer word, laat die leser tot nuwe insigte kom. Dit is Kamfer se unieke en persoonlike vertellings wat daardie effek het. Hammie is ’n bewys dat die onderdrukking van die swart/bruin vrou nie net in die geskiedenis is nie, maar steeds vandag plaasvind.

4. Bibliografie

Arya, R. 2012. Black feminism in the academy. Equality, diversity and inclusion: an international journal, 1(1):558-562.

Bezuidenhout, C. 2001. ’n Ondersoek na die houdings van manlike en vroulike polisiebeamptes teenoor die rol van vrouepolisiebeamptes in die Suid-Afrikaanse polisiediens. Pretoria: UP(Tesis-MBA).

De Jong, M. en Murray, J. 2013. Literêre terme en teorieë. www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/13-f/1564-feminisme-2. Datum van gebruik: 6 Maart 2019.

Ebuoluwa, S.M. 2009. Feminism: the quest for an African variant. The journal of Pan African studies, 3(1):227-234.

Esposito, J. & Evans-Winters, V.E. 2010. Other people’s daughters: critical race feminism and black girls’ education. Educational foundations, 2(1):12-13.

French, B., Malebranche, D.A. & Mowatt, R. 2013. Black/female/body hypervisibility and invisibility: a black feminist augmentation of feminist leisure research. Journal of leisure research, 45(5):645-650.

Kamfer, R. Hammie. 1ste uitgawe. Kaapstad: Kwela.

LeGates, M. 2001. In their time: a history of feminism in western society. 1ste uitgawe. New York: Routledge.

Mirza, H.S. 2010. Plotting a history: black and postcolonial feminism in ‘new times’. https://core.ac.uk/download/pdf/82965/pdf. Datum van gebruik: 8 Maart 2019.

Riley, D. 1988. Am I that name? Feminism and the category of women in history. 1ste uitgawe. Londen: MacMillan.

Roser-Mims, D. 2010. Black feminism: an epistemological framework for exploring how race and gender impact black women’s leadership development. Advancing women in leadership journal, 30(15):7.

Smith, S. 2013. Black feminism and intersectionality. International Socialist Review, 91(1).

Lees ook:

Resensie: Hammie deur Ronelda S Kamfer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top