Blou bloed. Koninklike spore in Suid-Afrika deur Daniël Lötter: ’n resensie

  • 2

Blou bloed. Koninklike spore in Suid-Afrika deur Daniël Lötter (Protea Boekhuis, 2024)

Blou bloed. Koninklike spore in Suid-Afrika
Skrywer:
Daniël Lötter
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485315421

Hy laat kaste met koninklike geraamtes ratel

Hoekom is ons so behep met koninklikes se lewens? Met die huwelik van die eeu tussen Charles en Diana in die St Paul’s-katedraal in Engeland was miljoene mense wêreldwyd voor die televisie vasgenael. Alles het behoorlik tot stilstand gekom. Ons het selfs by die destydse redaksie van Die Transvaler komkommertoebroodjies geniet. Dit was dan ook waar Daniël Lötter, skrywer van Blou bloed – koninklike spore in Suid-Afrika, as graad 2-seuntjie se belangstelling in die adel begin het.

En die Netflix-reeks The Crown, wat oor die Britse bloubloediges handel, was wêreldwyd een van die grootste treffers nog.

Die belangstelling in koninklikes gaan maar oor die misterie rondom hulle, het die Britse koningin Elizabeth se karakter in een van die episodes opgemerk. En, het sy gesuggereer, dis iets wat behou moet word.

Ek self was as kind versot op die Nederlandse koninklikes. Tantes in Nederland het voortdurend vir my foto’s en tydskrifte gestuur waarin die vier Nederlandse prinsesse gepryk het. My Nederlandsgebore ma het my na koningin Juliana (my tweede naam) vernoem na wie sy as Juliaantje verwys het.

Ek het selfs ’n brief aan haar geskryf wat toe deur haar sekretaresse met die titel “Jonkvrou” beantwoord is. Met koninklike stempel en al.

Daar is al aangevoer dat van die redes hoekom baie van ons so gek na die koninklikes is, die voorspelbaarheid van ’n monargie is. Kyk nou maar na koningin Elizabeth wat vir ewig regeer het. Sy was maar net altyd daar. Deur oorloë, skandes, skades en politieke veranderinge. ’n Statige simbool van stabiliteit.

Lötter was verniet bekommerd dat sy boek nie aanklank by Suid-Afrikaners sou vind nie. Belangstelling toon die teendeel.

Hoewel ons in Suid-Afrika hoofsaaklik inligting oor die Britse adellikes asook dié van Monaco gevoer word, lees mens deesdae, natuurlik weens sosiale media, ook meer oor ander Europese koningshuise, soos dié van Noorweë en Denemarke.

........
Suid-Afrika was ’n gewilde toevlugsoord vir talle koninklikes wie se lewe nie altyd ’n sprokie was nie en van hul trone afgejaag is.
........

In Blou bloed leer ons bekende koninklikes van veral vergange eras beter ken, maar dit krioel ook van die onbekendes van wie se bestaan baie van ons onbewus was. Mens moet eintlik kophou met die spulletjie wat omtrent almal, selfs al is dit verlangs, familie van mekaar was en met mekaar getrou het. Want daar was ’n tydperk toe koninklikes nie toegelaat was om benede hul stand in die huwelik te tree nie.

Suid-Afrika was ’n gewilde toevlugsoord vir talle koninklikes wie se lewe nie altyd ’n sprokie was nie en van hul trone afgejaag is. Vir talle het politieke onrus in hul vaderland daartoe gelei dat ons land keer op keer vir hulle ’n veilige en gewilde bestemming geword het. Onder hulle was die sjah van Iran en die Joego-Slawiese koningsgesin.

Ander is weer van die oostelike kolonies af Kaap toe verban as hulle te veel geraas gemaak het.

In Blou bloed lees mens onder meer die verhale van sjeg Joesoef, die radja van Tambora, van die slawegeskiedenis, van Napoleon se spore in Durban, en van George Rex, stigter van Knysna, wie se adellike stamboom al betwis is, al was hy die ewebeeld van koning George III van Engeland.

Van hul nasate is steeds hier en praat vlot Afrikaans.

........
Van hul nasate is steeds hier en praat vlot Afrikaans.
........

En moenie dink die koninklikes gedra hulle altyd so koninklik nie – dit weet ons van die meer onlangse wyd gepubliseerde manewales van prins Harry en prins Andrew. Inteendeel, daardie koninklike geraamtes kan al eeue lank lekker rammel en ratel en raas.

Mens lees ook van die soms ambivalente gevoelens wat soos in 1901 teenoor die Britse adel gekoester is deur ’n tante wat snikkend aan die dominee vertel dat haar man op kommando teen die “Ingelse” was, dat hulle hom gevang en na Ceylon verban het. En haar dogter sit nou stoksielalleen in ’n kamer op die dorp met drie kleintjies. Maar dan vertel sy in dieselfde asem droewig dat “Onse dierbare ou koningin ook dood is!”

Ja, ondanks die vergrype tydens die Anglo-Boereoorlog en die haat jeens die Engelse, asook talle ooms wat rotsvas bly sit het as “God save the Queen” gesing is, was daar steeds ’n vreemde voorliefde vir die Britse koninklike familie, skryf Lötter.

Van die lekkerste staaltjies in die boek is dat generaal Jan Smuts, wat lekker hand om die blaas met ’n hele paar gekroondes was, glo heel danig met die mooi Griekse kroonprinses Frederika was. Mevrou Smuts, die pretensielose tant Isie, was nie juis wat ons vandag “star-struck” sou noem nie. Sy het die kroonprins van Griekeland by haar kombuistafel koffie uit ’n enemmelbeker laat drink.

“So gemaak en so laat staan,” skryf Lötter.

Dit terwyl die Vrystaatse presidentsvrou, Tibbie Steyn, ook ewe kontant laat weet het as koning George (en die koningin en twee prinsesse) háár wil sien, hy maar gerus ’n koppie tee op haar voorstoep kan kom drink. Sy loop g’n agter hom aan na ’n onthaal in Bloemfontein nie.

........
Mens lees nie dat die hoës enigsins beledig gevoel het oor hierdie boeregasvryheid nie.
........

Mens lees nie dat die hoës enigsins beledig gevoel het oor hierdie boeregasvryheid nie. Koninklikes is seker ook partykeer hartlik moeg vir mense wat gatkruiperig voor hulle buk en buig, en smag sekerlik ook na normaliteit.

Hoewel baie jong meisies romanties oor ’n prins droom, stel Lötter dit duidelik dat dit nie aldag juis lekker kan wees om koninklik te wees nie. Hulle moes al deur die jare politieke onrus, sluipmoordaanvalle en staatsgrepe trotseer wat dalk net daartoe lei dat jy oornag werkloos is. Soms nog platsak ook.

Die skrywer wy ’n hele hoofstuk daaraan om te verduidelik presies hoe adellike titels werk. Die hoogste wat jy kan kry, is dié van keiser. En dan is daar die aanspreekvorme wat wissel van “Deurlugtige hoogheid” tot “Weledelgebore hoogheid”. Tongknopers!

Met Lötter was daar diegene wat toeganklik was en baie moeite gedoen het om hom met inligting en onderhoude te help, en ander wat soos klipmossels toegeklap het.

Mens lees van prinses Irene van Lippe-Biesterfeld wat hard teen die Nederlandse petroleummaatskappy Shell baklei het en ’n plaas in die Karoo gekoop het. Sy het egter geweier om met Lötter te gesels, maar nouja, sy was altyd ’n dwars en ’n stroomop entjie mens. Destyds al toe sy teen almal se wense met die Spaanse prins Carlos Hugo van Bourbon-Parma, ’n ondersteuner van Franco, op sy beurt ’n ondersteuner van Hitler, getrou het.

Boonop moes sy Katoliek word!

Koningin Juliana het ook vir moleste gesorg toe sy met Greet Hofmans “Nederland se Rasputin”, deurmekaar geraak het.

Ja, daar is geen tekort aan koninklike skandale in die boek nie. So vermeld Lötter prins Berhard en die Lockheed-skandaal en dan was hy natuurlik voor sy huwelik met Juliana by Hitler se SS-magte betrokke. Maar hy het darem heelwat vir natuurbewaring gedoen, moet mens hom dit toegee.

Van die lede van die bloubloedbrigade val behoorlik van hul troontjies af.

.......
Party van die adellikes het lang vingers, soos koning Otto wat sowaar die Griekse kroon en kroonjuwele gesteel het wat byna ’n eeu later deur ’n eerlike nasaat terug besorg is.
.......

Party van die adellikes het lang vingers, soos koning Otto wat sowaar die Griekse kroon en kroonjuwele gesteel het wat byna ’n eeu later deur ’n eerlike nasaat terug besorg is. Dan was party ook nie juis verhewe bo dronkenskap nie. Hulle het selfs handgemeen geraak in relletjies wat dronkies in ’n kroeg aan die verkeerde kant van die spoorlyn sou kon inspireer. Daar was ’n gelieg, dobbelary, bankrotskap, spandabelrigheid en die goedpraat van slawerny.

Maar in teenstelling met die hedonistiese lewensgenieters was daar ook die pligsgetroues.

Vir koning Constantyn van Griekeland, wat met die skone koningin Annemarie getroud was, het Lötter net respek en bewondering. Sy sekretaresse en die koningin het besonder baie moeite gedoen om vir hom inligting te gee. Keiserin Farah van Iran was ook besonder hulpvaardig.

Die skrywer skryf oudergewoonte tong-in-die-kies en buig nie altyd juis diep voor die adellikes nie. Hy praat van een adellike “met bolwangetjies wat haar in ’n korset moes inwurg” en van “graaf McCartney wat gedurig met sy ou jigtone in ’n mosterdbadjie sit”.

Van die koninklikes was brandarm en kon skaars die huur bekostig. Al wat hulle geërf het, was indrukwekkende titels wat nie die rekeninge betaal nie.

.......
Grootvors Nikolai van Georgië, beter bekend as Niko die Boer, het saam met die Boere teen die Engelse in die Tweede Vryheidsoorlog geveg.
.......

Grootvors Nikolai van Georgië, beter bekend as Niko die Boer, het saam met die Boere teen die Engelse in die Tweede Vryheidsoorlog geveg. In Georgië is ’n museum vir hom opgerig, en besoek jy dié land, ken almal sy geskiedenis. Hy het brandarm gesterf en het sigarette op straat verkoop.

Blou bloed is ’n omvattende en behoorlik nagevorste boek wat wyd byval behoort te vind. Die skrywer het self erken dat hy langer aan die navorsing as aan die skryf van die boek gewerk het. Hy moes uitmergelende administratiewe rompslomp aanpak om soms net ’n aanlyn onderhoud met koninklikes te kry.

Lötter slaag weer eens daarin om met sy gemaklike verteltrant die talle gegewens en feite so weer te gee dat sy liefde vir geskiedenis, en veral koninklike geskiedenis, lekker en toeganklik lees. Hy boei en vermaak.

Mens besef dat nie alles vir die adellikes net prag en praal is nie.

Soos koning Frederik die Grote van Pruise in die boek aangehaal word: “Laat ek dit nou vir julle mooi verduidelik: ’n Kroon is bloot ’n hoed wat die reën laat inkom.”

Bruce Murray, 12de hertog van Atholl, word soos volg op die agterplat aangehaal: “Dis ’n ietwat obskure onderwerp. Ek het nooit besef daar was soveel van ‘ons’ nie. Ek dink dit is seker omdat ek hier in Suid-Afrika gewoond geraak het aan mense wat ewe adellik is, sonder titels.”

Lees ook:

Van monarge en monumente gepraat

Juliana. Een vorstin in een mannenwereld deur Jolande Withuis: ’n lesersindruk

Begrawe, maa moenie vegiet

  • 2

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Ag tog...
    Altyd die obsessie met koninklikes.
    Aanvaar dat meeste Afrikaners net doodgewone voorsate gehad het. Buitendien was familiewapens en titels in Europa aan 'n persoon toegeken en was dit nie vererfbaar nie. Weet ook nie waar verdomde obsessie met koloniale adelikes vandaan kom onder jonger geslagte nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top