Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu, met spesiale verwysing na die Reitz-tydperk, 1889–1895

  • 1

Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu, met spesiale verwysing na die Reitz-tydperk, 1889–1895

Marianna Botes, Departement Geskiedenis, Nasionale Museum en Navorsingsgenoot, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat en André Wessels, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat en Professorale Genoot, University of New South Wales at the Australian Defence Force Academy, Canberra

LitNet Akademies Jaargang 18(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Bloemfontein is in 1846 as ’n Britse militêre bevelspos gestig. Nadat die Boererepubliek bekend as die Oranje-Vrijstaat (OVS) in 1854 tot stand gekom het, het Bloemfontein naas hoofstad van die republiek ook die fokuspunt en setel van dié Boerestaat se gewapende magte geword. In hierdie ondersoek word Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu beskryf en ontleed, met besondere verwysing na die jare 1889 tot 1895, toe F.W. Reitz die staatspresident was. Teen 1889 was die OVS as staat goed gevestig. Tien jaar later het die OVS aan die kant van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR; Transvaal) tot die stryd teen Brittanje toegetree (Anglo-Boereoorlog, 1899–1902). Van die vrae wat dus in hierdie artikel aan die orde gestel word, is: Hoe goed was die OVS se gewapende magte teen 1889 georganiseer? Wat is tydens die Reitz-era gedoen om die magte verder uit te brei? In welke mate is Bloemfontein se militêre infrastruktuur in dié jare verbeter? Die artikel het ’n sterk kultuurhistoriese inslag, omrede dit onder meer ook let op die tipe uniforms wat die OVS se Staatsartilleriste gedra het, en die rol van militêre orkeste en boukuns onder die loep geneem word (wanneer daar na die Queen’s/Bloemfontein Fort verwys word). Die Vrystaatse Staatsartillerie staan in die kern van die studie, maar die President Brand Rifles (wat tydens die Reitz-era tot stand gekom het) sal ook aandag geniet.

Trefwoorde: F.W.R. Albrecht; Bloemfontein; President Brand Rifles; Queen’s/Bloemfontein Fort; F.W. Reitz; Vrystaatse Staatsartillerie; wapenskoue

 

Abstract

Bloemfontein as military headquarters in the second half of the 19th century, with special reference to the Reitz era, 1889–1895

The Free State city of Bloemfontein’s history dates back to 1846, when the British Major H.D. Warden established a military post in the central Transgariep (later known as the Orange Free State, OFS). Given the town’s central geographical position in what is today South Africa, Bloemfontein was of strategic importance, and British soldiers were stationed there – mostly in Queen’s Fort. In 1854 the OFS became independent as a Boer republic, with Bloemfontein as its capital and headquarters of its military forces.

In this article Bloemfontein as military headquarters in the second half of the 19th century is discussed and analysed, with the emphasis on the years 1889 to 1895, when F.W. Reitz was the OFS’s fifth president, i.e. after J.P. Hoffman, J.N. Boshof, M.W. Pretorius and J.H. Brand. By 1889 the OFS was well-established as a state. But how well were the state’s military forces organised and equipped? What did Reitz do to improve matters? And: To what extent was Bloemfontein’s military infrastructure improved in those years? These and related matters will be discussed in the article. After all, soon after Reitz resigned, war clouds started to gather in southern Africa, and in 1899 M.T. Steyn, who succeeded Reitz as OFS president, took his country into war against Britain, on the side of his fellow Boer republic, the Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), as the Transvaal was then known, i.e. during the Anglo-Boer War of 1899 to 1902.

The history of the OFS’s State Artillery is central to the article. After the British withdrew from the Transgariep in 1854, the new OFS was militarily very vulnerable, in particular with regard to the protection of its eastern border with Basotholand (the present-day Lesotho). While J.P. Hoffman was the OFS’s first president (1854–1855) there were cordial relations with the Basotho. But this soon changed, and three OFS-Basotho Wars followed (1858, 1865–1866 and 1867–1868). The OFS’s State Artillery was established in 1857, when J.N. Boshof was the president of the OFS. It is shown how the State Artillery developed under Boshof and under his successor, J.H. Brand, and how this work was continued by Reitz. When Captain (later Major) F.W.R. Albrecht was appointed as the Artillery’s commanding officer in 1880 it was the dawn of a new era in its history. Albrecht was a Prussian who had served in the Franco-Prussian War of 1870 to 1871. He transformed the OFS State Artillery into a very professional and capable military unit. Several new field artillery pieces (guns) were bought; training was improved; new uniforms were acquired, and an Artillery Band was established. This band played an important role in Bloemfontein’s social and cultural life. The State Artillery’s headquarters in the Bloemfontein (ex-Queen’s) Fort was also modernised and expanded.

The Artillery’s history is closely linked to that of Bloemfontein and its people, as will be shown in the article. Another, but lesser known, military unit’s history (also closely linked to Bloemfontein) is that of the President Brand Rifles. It was established in 1888, i.e. shortly before Reitz became president, and functioned as an independent unit until shortly before the outbreak of the Anglo-Boer War. The President Brand Rifles consisted of volunteers, and also had its own band.

In the light of the fact that not much has been published on the topic thus far, the article is based primarily on contemporary newspaper articles, archival sources and government publications. Apart from dealing with military units and their equipment, the article also has a strong cultural-history dimension, because the uniforms of the military units are discussed, as well as their military bands (and interaction with the Bloemfontein community) and architecture (with special reference to Queen’s/Bloemfontein Fort).

In the course of the second half of the 19th century the OFS’s armed forces were gradually expanded and better equipped, but when the Anglo-Boer War broke out in October 1899 the state was, strictly speaking, still ill-prepared for the struggle that followed. The OFS State Artillery played a small but meaningful role in support of the country’s other forces, but at Paardeberg the largest portion of the Artillery (including their commanding officer and most of their guns) fell into British hands when the Boer force of General Piet Cronjé surrendered on 27 February 1900 after a ten-day siege. On 13 March 1900 the British forces, commanded by Lord Roberts, captured Bloemfontein unopposed. Hereafter the town would once again house the British military headquarters.

The article clearly shows that although the OFS’s State Artillery was gradually expanded in the course of the second half of the 19th century and all the state’s presidents, including F.W. Reitz, took a keen interest in the defence of the OFS, it did not save the Boer republic from British conquest in 1900. However, until the British occupation of Bloemfontein in March 1900 the capital city did play an important role as military headquarters, and as such also in the republican war effort. Today (2021) Bloemfontein is still the headquarters of a number of prominent units of the South African National Defence Force, while the Queen’s/Bloemfontein Fort, as well as a number of other structures, remind us of a bygone era.

Keywords: F.W.R. Albrecht; Bloemfontein; Free State State Artillery; military reviews; President Brand Rifles; Queen’s/Bloemfontein Fort; F.W. Reitz

 

1. Inleiding

Bloemfontein het in 1846 tot stand gekom toe die Britse majoor H.D. Warden ’n militêre pos in die sentrale deel van die Transgariep (later Oranje-Vrystaat) tot stand gebring het. Gegewe die nedersetting en later dorp se strategiese belang – siende dat dit sentraal geleë was – was Bloemfontein van meet af dus ook ’n plek van militêre belang en was dit vanselfsprekend dat soldate daar gestasioneer sou word. Aanvanklik is Britse soldate in Queen’s Fort en ander militêre strukture gehuisves. Nadat Brittanje in 1854 die onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier erken het, het Bloemfontein die hoofstad van die Boererepubliek bekend as die Oranje-Vrijstaat (OVS) geword. Naas regeringsetel was Bloemfontein voortaan ook die fokuspunt en setel van die OVS se gewapende magte.

Uitgaande van die standpunt dat enige selfrespekterende staat oor ’n militêre mag moet beskik ten einde staatsoewereiniteit te verseker en die landsgrense te beskerm, is dit die doel van hierdie artikel om Bloemfontein as militêre setel in die tweede helfte van die 19de eeu te beskryf en te ontleed. Daar sal in besonder gelet word op die tydperk 1889 tot 1895, toe F.W. Reitz die president van die OVS was, d.w.s. die tydperk tussen die presidentskap van J.H. Brand (die langsdienende van alle OVS-staatshoofde) en M.T. Steyn (die laaste republikeinse Vrystaatse president). Teen 1889 was die OVS as staat goed gevestig. Maar hoe goed was die OVS se gewapende magte teen daardie stadium georganiseer en toegerus? Wat het Reitz gedoen om paraatheid te verbeter? So ook: In welke mate is Bloemfontein se militêre infrastruktuur in dié jare verbeter? Hierdie is van die vrae wat in die artikel aan die orde sal kom. Nie lank ná Reitz se uittrede nie het oorlogswolke in Suider-Afrika begin saampak. Daar sal dus kortliks gelet word op die militêre voorbereidings wat in die OVS getref is met die oog op ’n naderende konflik met Brittanje (Anglo-Boereoorlog, 1899–1902), en wat die gevolge daarvan was.

Deurgaans sal die klem op militêre bedrywighede in Bloemfontein val. Die artikel het egter ook ’n sterk kultuurhistoriese aanslag, omrede daar onder meer ook gelet word op die tipe uniforms wat die OVS se Staatsartilleriste gedra het, die rol van militêre orkeste bespreek word, en boukuns onder die loep geneem word (wanneer na die Queen’s/Bloemfontein Fort verwys word). Aangesien tot dusver nie veel oor die tema van hierdie artikel gepubliseer is nie, word sterk op argivale bronne, staatspublikasies en veral tydgenootlike koerante gesteun.

Francis William Reitz (5 Oktober 1844 – 27 Maart 1934) het op verskeie terreine help bou aan die OVS, en het uiteraard ook veel gedoen om Bloemfontein as hoofstad op te bou en uit te bou. Reitz was ’n besonder veelsydige persoon en ook ’n kultuurmens by uitnemendheid. Hy het immers onder meer as regsgeleerde gekwalifiseer (en later hoofregter van die OVS geword); was ’n joernalis; ’n politikus; ’n digter; ’n vegter vir Afrikaans (en bydraer tot die sogenaamde Eerste Taalbeweging); bevorderaar van letterkunde, kuns en wetenskap (en dus ook van onderwys); stigter van die Bloemfonteinse biblioteek, stigter van die Nasionale Museum in Bloemfontein, en veel meer.1

Alvorens egter aan die militêre opbou tydens die Reitz-era aandag geskenk word, word vervolgens eers kortliks op ontwikkelinge in jare 1846 tot 1888 gelet.

 

2. Van Britse militêre pos tot republikeinse hoofstad

Bloemfontein is om strategiese en militêre redes tot stand gebring. In die 1840’s wou die Britse owerhede weer eens hul gesag vestig oor die Voortrekkers wat die Kaap in die 1830’s verlaat het en het gevolglik op 3 Februarie 1848 die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier amptelik tot Britse gebied, voortaan bekend as die Oranjerivier-Soewereiniteit, verklaar. Die Britse majoor H.D. Warden het egter reeds in 1846 blykbaar toevallig op ’n sterk standhoudende fontein tussen die Riet- en Modderrivier afgekom. Uit ’n militêre oogpunt beskou was die plek by die fontein in elke opsig geskik vir die aanlê van ’n residensie, want die klein vallei was aan alle kante ingesluit deur koppies wat die omringende gelyk vlaktes oorheers het, en verder was die gebied vry van perdesiekte (KAB, GH10/1a; Barnard 1948:351). Volgens Warden is die plek Bloem Fontein genoem.2

Met sy stigting in 1846 was Bloemfontein ’n militêre pos of nedersetting met hoofsaaklik Britse soldate en amptenare. Die Engelssprekendes het dus reeds sedert die stigting van Bloemfontein ’n belangrike rol in die geskiedenis van die Vrystaatse hoofstad gespeel, en voor die totstandkoming van die Boererepubliek in 1854 was Bloemfontein die hoofkwartier van die Britse militêre en burgerlike administrasie noord van die Oranjerivier (Gerdener 1934:162–3; Haasbroek 1980:3, 5). ’n Afdeling van Warden se soldate, die Cape Mounted Riflemen (ook genoem die Cape Corps), het uit bruin (hoofsaaklik Khoi-Khoi) en wit troepe bestaan, onder wit offisiere (Collins 1907:21; Midgley 1949:125–31).

Die owerhede van die Oranjerivier-Soewereiniteit het nie ’n groot polisiemag in stand gehou nie. Die Britse regering in die gebied het gevolglik grootliks op hulle militêre mag gesteun om die rus en orde te handhaaf (Van Rensburg 1952:196).3 Daar is wel in die 1850’s naby die fort in St. Georgestraat ’n klein gevangenis opgerig en twee konstabels in diens geneem. In die tyd van die Soewereiniteit moes gevaarlike gevangenes deur ’n afdeling soldate bewaak word (Schoeman 1980:8). Na die onttrekking van die Britse mag en die totstandkoming van die Boererepubliek bekend as die OVS in 1854 moes die Boere maatreëls tref om wet en orde te handhaaf, en ook om hul grense waar nodig te beskerm. Dus was die stigting van ’n polisie- en militêre mag noodsaaklik vir die handhawing van wet en orde in die jong republiek. Veral in die hoofstad was ’n polisiemag weens toenemende misdaad broodnodig (Groenewald en Herholdt 1977:313).

Teen die tyd dat Reitz in 1889 president geword het, het Bloemfontein ontwikkel van ’n klein militêre nedersetting in 1846 tot ’n waardige, welvarende hoofstad van die modelrepubliek van die OVS. Bloemfontein was die middelpunt van alle politieke en ekonomiese gebeure in die Vrystaat en ook die hoofsentrum van die Vrystaatse handel, regstelsel en onderwys. Die Vrystaatse staatshoof en regering, asook die militêre mag, was in Bloemfontein as hoofstad gesetel en die Volksraad het jaarliks hier byeengekom.

Die veiligheid van ’n staat berus nie net by die regspleging en polisie nie, maar om sy onafhanklikheid te behou, het ’n land ook ’n militêre mag nodig. Met die onafhanklikwording van die OVS in 1854 is die Britse troepe uit die gebied onttrek, met die gevolg dat daar ’n groot leemte op militêre gebied ontstaan het en die jong republiek eintlik sonder militêre beskerming gelaat is. Dít het die Vrystaatse regering genoop om aan die opbou van ’n militêre mag aandag te gee. Die Voortrekkers se tradisionele verdedigingstelsel was die kommandostelsel en dit sou in die Boererepublieke uitgebou en gewysig word om by die eise van die tyd en omstandighede aan te pas. Veral die Basotho is as ’n groot bedreiging vir die Vrystaat beskou en daarom is die eerste kommandowet reeds in Mei 1854 gepubliseer (Bakkes 1979:300–1, 306; Ploeger 1969:10).

J.P. Hoffman (1807–1879) was die OVS se eerste staatspresident (1854–1855) en het goeie betrekkinge met die Basotho onder leiding van Moshoeshoe gehandhaaf, maar geen permanente oplossing vir grensgeskille kon gevind word nie. J.N. Boshof (1808–1881) was die OVS se tweede president (1855–1859) en tydens sy bewind het die Eerste Vrystaat-Basotho-oorlog plaasgevind (1858), wat danksy die Kaapse goewerneur, sir George Grey, se bemiddeling beëindig is. Tydens hierdie oorlog het dit reeds duidelik geblyk dat die OVS se gewapende magte ontoereikend was. M.W. Pretorius (1819–1901) was die derde president (1859–1863) en was aanvanklik tegelyk ook president van Transvaal. Hy kon vrede met die Basotho bewaar. J.H. Brand (1823–1888) was Reitz se voorganger as president (1864–1888) en het die OVS se gewapende magte versterk. Tydens die Tweede Vrystaat-Basotho-oorlog (1865–1866) het die OVS (met Transvaalse hulp) beter gevaar, en as dit nie vir Britse diplomatieke ingryping was tydens die Derde Vrystaat-Basotho-oorlog (1867–1868) nie, kon die OVS se magte Basotholand verower het (Anon 1968:104–7; Van Schoor 1968:114–21; Pelzer 1968:678–84; Venter 1977:410–2; Pretorius (red.) 2012:160–1).4

 

3. Die Vrystaatse burgermag en wapenskoue in Bloemfontein

Die Krygs- en Kommandowet (1854) het die bepalings van die krygstelsel van die OVS en die magte en bevoegdhede van die staatspresident en krygsoffisiere uiteengesit. Hiervolgens was alle burgers vanaf ouderdom 16 en alle mans wat op ’n latere leeftyd burgerreg verkry het, tot en met hulle 60ste jaar aan kommandodiens onderworpe en kon hulle dus in oorlogstyd opgeroep word. Vir elke wyk is ’n veldkornet deur die burgers van ’n betrokke wyk verkies, terwyl ’n veldkommandant ook vir elke distrik verkies is. Die veldkornette en veldkommandante moes in hulle eie distrikte woonagtig wees en moes grond in die bepaalde distrik besit het. Die veldkornette en veldkommandante wat op kommando byeengekom het, het dan in oorlogstyd ’n hoofkommandant uit eie geledere verkies, wat dan direk onder die gesag van die staatspresident gestaan het. Die veldkornette en veldkommandante het die mag gehad om die hoofkommandant om grondige redes te ontslaan en iemand in sy plek te verkies (Vrijstaatsche jaarboek en almanak 1893, 1892:39; Bakkes 1979:306–7; Ploeger 1969:10).

Die Vrystaatse burgers, in besonder diegene wat op plase grootgeword of gewoon het, was gewoonlik goeie skuts en het gereeld wapens hanteer en gebruik, maar om alle burgers op hoogte te hou met die krygskuns en wapenhantering is gereeld in elke distrik (en/of wyk) sogenaamde wapenskoue gehou. Die woord wapenskou het waarskynlik sy oorsprong in die Skotse woord wapinschaw gehad en Skotse gebruike het wel ’n invloed op die Vrystaat gehad. Die wapenskoue in die Vrystaat is aanvanklik op plaaslike vlak deur kommandante en landdroste vir ’n bepaalde distrik gereël. Omdat ’n wapenskou lede van ’n kommando bymekaargebring het, was dit ’n goeie geleentheid om krygsoefeninge te doen en militêre dissipline te bevorder. Dikwels is daar ook by sulke geleenthede in kompetisies, soos skyfskiet, meegeding (The Daily News, 17 Februarie 1890, bl. 4; Kapp 1975:192).

Aanvanklik het die Volksraad verwag dat elke burger sy eie geweer en ammunisie moet koop, maar in die 1890’s (dus toe Reitz, en later Steyn, die staatspresident was) is daar twyfel oor die paraatheid en wapenvaardigheid van die Vrystaatse burgers uitgespreek. Sommige burgers kon nie ’n goeie geweer en ammunisie bekostig nie en aangesien die Vrystaat-Basotho-oorloë verby was, was daar nie meer soveel nodigheid om die skietkuns te beoefen nie. Die burgers wat in die dorpe gewoon het, het ook nie dikwels die geleentheid gekry om aan skietoefeninge deel te neem nie. Gevolglik was die burgers nie meer sulke goeie skuts as gedurende die Voortrekker- en pionierstyd nie (De Express, 14 Julie 1890, bl. 2; The Friend, 10 Februarie 1891, bl. 2; 1 Maart 1892, bl. 2). Dus was die wapenskoue belangrik om die burgers se skietvermoë en krygskuns op te skerp.

Volgens Ordonnansie No. 29 van 1890 was veldkornette verplig om gereeld wapenskoue vir elke wyk te reël. Alle burgers tussen 18 en 40 jaar moes die wapenskoue toegerus met saal, toom, perd en geweer bywoon. Indien ’n burger aanvaarbare verskonings soos ongesteldheid, gebrek aan arbeiders of onvoldoende finansies of toerusting kon aanvoer, was hy nie verplig om die wapenskou by te woon nie. Daar is ook besluit dat ammunisie vir wapenskoue deur die staat verskaf sou word (The Daily News, 17 Februarie 1890, bl. 4; Kapp 1975:192; Swemmer 1953:108).

Nadat kaptein F.W.R. Albrecht in 1880 as bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie aangestel is (later meer oor hom en oor die Staatsartillerie), het gereelde wapenskoue by Bloemfontein op die vlakte suid van die dorp plaasgevind (Schoeman 1980:99). Later het wapenskoue op Markplein in die Bloemfonteinse middedorp plaasgevind. In November 1890 het The Friend opgemerk dat baie min burgers die wapenskou bygewoon het en dat slegs ’n klein aantal van hulle gewere gehad het. In Februarie 1891 was daar groter geesdrif en het ongeveer 1 500 burgers uit die distrik Bloemfontein die wapenskou bygewoon. Ammunisie is deur die regering voorsien; die dag is tot openbare vakansiedag vir die distrik verklaar en die regeringskantore is vir die dag gesluit (The Friend, 11 November 1890, bl. 3; 21 November 1890, bl. 3; 17 Februarie 1891, bl. 3). Na die wapenskou van Februarie 1891 kon die veldkommandant van die distrik Bloemfontein rapporteer dat die wapenskou ’n groot sukses was en dat die burgers van die distrik steeds krygsvaardig en goeie skuts is (VAB, GS191a).

Die pers het nie altyd saamgestem nie en in 1894 berig The Friend dat by die wapenskou en skyfskietoefening wat in Desember van dieselfde jaar by die Bloemfonteinse perdewedrenbaan5 gehou is, ongeveer 50% van die skote die teiken gemis het. Daar is ’n beroep op burgers van jonger as 40 jaar gedoen om die wapenskoue by te woon, maar omdat deelname vrywillig was, het nie alle burgers noodwendig daaraan deelgeneem nie (The Friend, 14 Desember 1894, ble. 3–4; 21 Desember 1894, bl. 3).

President Reitz het dikwels die wapenskoue bygewoon. Wapenskoue wat in Bloemfontein gehou is, is ook deur burgers uit die distrik Bloemfontein en soms ook uit ander Vrystaatse distrikte bygewoon. Ofskoon die wapenskoue in die eerste plek militêr van aard was, was dit in die Vrystaat ook ’n gemeenskapsgeleentheid met ’n feestelike element. Die wapenskoue in die Vrystaat het gewoonlik twee tot drie dae geduur en die burgers is dikwels deur hulle gesinne vergesel, met die gevolg dat daar ’n groot aantal waens op die kampterrein saamgetrek was. By die kampterrein het ’n vrolike en gesellige atmosfeer geheers en ou bekendes het bande hernu. Terwyl die kinders en jongmense hulleself met speletjies vermaak het, het die ouer mans saans om die kampvuur vertel van die pioniersdae en van veldslae waaraan hulle deelgeneem het (The Friend, 29 Januarie 1892, bl. 2; 4 Maart 1892, bl. 2; Kapp 1975:192).

G. Reeler, wat in April 1891 ’n veldkornet van die Bloemfontein-kommando was, beveel in Junie 1891 aan dat alle Bloemfonteinse burgers verplig moet word om vir militêre diens te registreer. Elke geregistreerde burger moes self vir ’n perd, saal, toom, geweer en ammunisie voorsiening maak sodat hulle gereed sou wees indien die regering hulle vir kommandodiens moes oproep (VAB, GS191b; The Friend, 28 April 1891, bl. 3). Later is gekyk na moontlikhede om gewere teen kosprys aan burgers te voorsien. In Oktober 1891 maak president Reitz bekend dat die staat 500 Martini-Henry-karabyne in voorraad het wat burgers teen £4/5/– (vier pond en vyf sjielings) elk kon aankoop. Daar was ook rewolwers met holsters beskikbaar (Gouverments Courant, 23 Oktober 1891, bl. 3; The Friend, 27 Oktober 1891, bl. 2). Aangesien dit vir die republiek belangrik was dat sy burgermag goed bewapen moes wees, het die Volksraad in Mei 1895 besluit om gewere en ammunisie aan te koop en teen kosprys aan die Vrystaatse burgers beskikbaar te stel (Wet No. 12 van 1895, ble. 17–8).

In Februarie 1895 is daar ’n vergadering van burgers in Bloemfontein gehou om die moontlikheid van ’n uniform vir die burgermagte te bespreek. Dié uniform sou dan deur burgers by wapenskoue en ander geleenthede gedra word. Voorheen het burgers in ’n bonte verskeidenheid klere en pette of hoede by die wapenskoue opgedaag. Veldkornet Raaff het ’n voorbeeld van die beoogde uniform, bestaande uit ’n kakiebaadjie, kakierybroek en ’n veldhoed en pet met die Vrystaatse wapen daarop aan die burgers vertoon. Die uniforms sou nie veel kos nie en daar is dus van burgers verwag om dit self aan te koop. Die burgers was oorwegend ten gunste van die voorgestelde uniform (The Friend, 21 Desember 1894, bl. 3; 19 Februarie 1895, bl. 3; 22 Februarie 1895, bl. 3). In die praktyk het daar egter niks van dié idee gerealiseer nie en is uniforms dus steeds nie gedra nie.

 

4. Die Vrystaatse Staatsartillerie

Buiten die burgermagte is daar ook in 1857 ’n Staatsartillerie (amptelik bekend as die Artillerie-corps van den Oranjevrijstaat) vir die Vrystaatse Boererepubliek in die lewe geroep, maar dit was aanvanklik nie ’n baie sterk mag nie (Williams 1980:16). ’n Aantal kanonne is aangekoop en reeds deur die kommando’s in die Eerste Vrystaat-Basotho-oorlog van 1858 gebruik (Walmsley 1964:143; Crook 2006:31). Die fort wat in 1849 deur Warden se soldate op die hoogte van Monumentweg opgerig is, is deur die artilleriste beman en het ook as barakke vir hulle gedien (De Express, 23 Desember 1890, bl. 3). (Later meer oor dié fort.) Toe Brand in 1864 tot staatspresident verkies is, het hy stappe gedoen om die Staatsartillerie, wat toe uit net sewe lede bestaan het, op ’n beter grondslag te plaas. Derhalwe is daar in 1864 deur die Volksraad besluit om ’n bedrag van £10 000 op die begroting te plaas vir ’n “rijdende artillerie” van 20 manskappe wat vir die beskerming en die veiligheid van die staat se inwoners aangewend kon word (Walmsley 1964:143; Ploeger 1969:10; Crook 2006:33).

Die Vrystaatse Staatsartillerie sou in Bloemfontein gevestig wees. Kaptein John Goodman, voorheen van die Britse Royal Artillery, is as bevelvoerder aangestel, en in 1865 is daar manskappe vir die Artillerie gewerf. Rekrute moes 16 jaar of ouer wees, fiks en ongetroud. Die manskappe was dus meestal baie jonk en dit was grotendeels boereseuns uit die platteland wat by die Artillerie aangesluit het. Twee nuwe en meer moderne twaalfponderkanonne (een Whitworth en een Armstrong) is ook in 1864 vir die Artillerie aangekoop (Schoeman 1980:46; Walmsley 1964:143, 145).

Die artilleriste moes aanvanklik in uiters primitiewe toestande in die fort lewe, maar mettertyd is die geboue verbeter en die grondslag van ’n doeltreffender verdedigingstelsel gelê. ’n Groot verbetering in dié tyd was dat die voorraad kruit wat voorheen op lewensgevaarlike wyse in die fort self bewaar is, na ’n afsonderlike kruithuisie op ’n veilige afstand aan die voet van Fortheuwel verplaas is. Die artilleriste het aan die Vrystaat-Basotho-oorloë van 1865–1866 en 1867–1868 deelgeneem en die ledetal van die korps is gedurende dié tydperk verder vergroot. In 1869 het Goodman bedank en is hy deur adjudant J.A.J. van Rensburg as bevelvoerder opgevolg (Walmsley 1964:143–5; Schoeman 1980:46, 74; Crook 2006:33–4).

’n Nuwe era van bloei en vooruitgang het vir die Artilleriekorps aangebreek toe kaptein (later majoor) F.W.R. Albrecht in November 1880 as bevelvoerder van die korps aangestel is (Ploeger 1969:10; Crook 2006:34). Albrecht was ’n Pruisiese/Duitse soldaat wat aan die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870–1871 deelgeneem het. Onder bevel van Albrecht is die Artilleriekorps uitgebrei, gereorganiseer en volgens die Pruisiese metode opgelei en gedissiplineer. Korpsregulasies is reeds in 1876 opgestel en is in 1886 en weer in 1889 gewysig en aangevul (Swemmer 1953:77–87; Schoeman 1980:99; Williams 1980:17). Albrecht het die Vrystaatse Staatsartillerie tot ’n militêre mag uitgebou waarop die Vrystaat met reg trots kon wees. ’n Reisiger wat Bloemfontein in 1891 besoek en die Artillerie in aksie gesien het, was uiters beïndruk deur die korps se dissipline en doeltreffendheid. Volgens hom het die Vrystaatse Artillerie baie goed met die Britse Royal Horse Artillery vergelyk (The Friend, 27 November 1891, bl. 3).

Figuur 1. Majoor F.W.R. Albrecht, bevelvoerder van die Vrystaatse Artillerie. Bron: Foto 01/20, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Intussen, in 1871, het die Vrystaatse Artillerie sy eie blaasorkes van 11 lede gekry met instrumente wat uit Duitsland ingevoer is. Nadat die Artillerie-orkes in 1873 onder leiding van dirigent Sam Barratt geplaas en tot 18 lede vergroot is, het dit ’n gewilde instelling geword wat by verskillende geleenthede, soos konserte, onthale, lesings, pieknieks, huwelike en amptelike funksies (hoofsaaklik in Bloemfontein), opgetree het (Walmsley 1964:143–5; Schoeman 1980:46, 74). Tydens die huweliksonthaal van president Reitz en sy tweede vrou, Cornelia Mulder, in 1889, het die orkeste van die Vrystaatse Artillerie en die President Brand Rifles (later meer oor hulle) buite die onthaalsaal só geesdriftig musiek gemaak dat die gaste mekaar skaars kon hoor praat (The Friend, 18 Desember 1889, bl. 3; 25 Desember 1889, bl. 2; Schoeman 1980:110). Na die aanstelling van kaptein Albrecht in 1880 is die musiekkorps verder vergroot en verbeter (Notulen der verrichtingen van den hoogedelen Volksraad van den Oranjevrijstaat, 19 Junie 1889). In 1890 het E.R. Landgraf as beide orkesleier en onderwyser vir die Artillerie opgetree (The Daily Express, 27 Junie 1890, bl. 3). In 1892 het Landgraf egter bedank en is ene mnr. Hand (voorheen orkesleier van die President Brand Rifles) as kapelmeester en J.J. Herfst as onderwyser van die Vrystaatse Artilleriekorps aangestel (The Friend, 3 Mei 1892, bl. 3; 10 Mei 1892, bl. 3). Beter instrumente is aangeskaf en onder leiding van August Grader, wat in 1895 vir Barratt as dirigent opgevolg het, het die Artillerie-orkes in ’n knap militêre orkes ontwikkel (Swemmer 1953:101).

Verder is die ontoereikende militêre geboue in Bloemfontein na Albrecht se diensaanvaarding ook opgegradeer. Toe Albrecht in 1880 as hoof van die Vrystaatse Artillerie aangestel is, het hy die ou Queen’s Fort (wat in 1849 in opdrag van die Kaapse goewerneur, sir Harry Smith, op die koppie van Monumentweg suid van die destydse nedersetting opgerig is) in ’n swak en uiters ondoeltreffende toestand aangetref. Dié fort was toe bloot ’n klipmuur bo-op grondwalle met drie bastions opgestapel en ’n dwarswal binne-in (De Express, 3 Augustus 1882, bl. 3; Schoeman 1980:5–6). Albrecht het die bouvallige fort stelselmatig begin herbou. Teen 1880 was daar in die ou Queen’s Fort net twee vertrekke, waarvan een as klaskamer en die ander as eet- en slaapruimte benut is. Daar was egter nie eens genoeg slaapplek vir al die artilleriste nie. Die fort self is vergroot en versterk, terwyl die Volksraad £2 500 vir ’n nuwe kaserne met vyf groot slaapsale, ’n klaskamer en ’n kombuis bewillig het (De Express, 23 Desember 1890, bl. 3; Swemmer 1953:95–7). Die kaserne is oorkant die fort in Monumentweg opgerig en in 1883 deur president Brand geopen. In 1888 is ’n stal vir 40 perde net suid van die fort opgerig, terwyl daar ook vir bergplek vir kanonne voorsien gemaak is (Swemmer 1953:95–8; Crook 2006:35; Schoeman 1980:99). Die fort het die sentrum van die Vrystaat se enigste militêre staande mag, naamlik die Staatsartillerie, gebly.

Omdat die ou fort op ’n baie strategiese plek geleë was, is die oorspronklike struktuur heeltemal gesloop en op dieselfde plek herbou en vergroot (The Friend, 25 September 1889, bl. 5). In Junie 1889 het die Volksraad £1 285 vir verdere aanbouings by die fort begroot (VAB, GS185; OVS Volksraadsnotule, 18 Junie 1889; De Express, 23 Desember 1890:3; Swemmer 1953:97–8). In dieselfde jaar is daar met behulp van swart werkers en bandiete ’n smidswinkel en ’n ekstra “hulpbergplaas” vir die kanonne by die fort aangebring, terwyl die fort ook omhein is (VAB, GS186a; VAB, GS190; VAB, GS320; OVS Volksraadsnotule, 16 Junie 1891). Die ondoeltreffende ou kruitmagasyn is in 1892 met ’n nuwe een op die vlakte suid van die dorp naby die sielsiekehospitaal vervang (VAB, UR15; VAB, PWD160; VAB, VR320; VAB VR352; Swemmer 1953:98).

Figuur 2. Ingang na Queen’s Fort, Bloemfontein, ca. 1970. Bron: Foto 01/2340, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Gedurende 1892 is ’n groot gedeelte van die nuwe fort voltooi en ’n eetkamer en kombuis aangebou (VAB, PWD160:7–8), terwyl verbeterings ook aan die woonhuise van die offisiere op die terrein aangebring is. Volgens ’n lys van nodige herstelwerk aan die artillerie se geboue was daar in 1897 ’n “bommenkamer”, ’n arsenaal vir gewere, verskeie kruithuise, toilette, asook ’n kantoor en ’n waghuis wat deel van die fortkompleks uitgemaak het. Die fort het teen 1898 oor ’n klein hospitaal of siekeboeg beskik, asook oor ’n opeluggimnasium waarin die manskappe geoefen het (VAB, PWD160:7–11; VAB, PWD163:3–4; Bloemfontein directory, 1898, bl. 22). Majoor Albrecht het die fort dus mettertyd tot ’n sterk vesting opgebou. Tog is die fort nooit in ’n oorlogsituasie gebruik nie, want met die Britse opmars na Bloemfontein in Maart 1900 is besluit om die Vrystaatse hoofstad nie te verdedig nie (Bloemfontein directory, 1898, ble. 20–2; Swemmer 1953:98; Schoeman 1980:155–9). In die 1980’s is die ou fort in ’n militêre museum omskep, wat dit vandag (2021) nog steeds is.

Figuur 3. Binne-aansig van die fort, met artilleriste en kanonne, ca. 1897. Bron: Foto 01/2147, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Behalwe al die militêre oefeninge het die jong artilleriste bedags vir drie ure lank elementêre onderwys in vakke soos Nederlands en Engels, asook skrif, rekenkunde, opstel, Bybelgeskiedenis en geskiedenis in die algemeen ontvang. In 1887 is ’n seinkorps in die lewe geroep en is die lede daarvan in die gebruik van die heliograaf6 onderrig (Walmsley 1964:144; Swemmer 1953:98–100). Daar is ook van tyd tot tyd krygs- en skietoefeninge op die skietbaan agter die fort gehou wat soms deur president Reitz en van die Volksraadslede bygewoon is (VAB, GS185; The Daily Express 13 Junie 1890, bl. 2).

Teen 1890 is die Vrystaatse Artillerie vergroot tot ’n militêre eenheid met 56 lede, bestaande uit die kaptein, ’n luitenant, ’n sersant, vier korporaals, vier bombardiers en 45 manskappe, asook 40 perde (De Express 13 Desember 1890, bl. 3; Albrecht s.j.:3). Vier jaar later het die Artillerie oor ses 75 mm-Krupp-kanonne, vyf negeponder-Armstrong-kanonne, een sesponder-Whitworth-kanon en drie drieponder-Whitworth-bergkanonne, asook 1 403 gewere beskik (Vrijstaatsch jaarboek en almanak 1894, bl. 145).7 In Julie 1894 het die Volksraad ’n bedrag van £800 begroot om twee Maxim-Nordenfeldt-snelvuurkanonne (ook genoem pom-poms) aan te koop. Hierdie kanonne is in Februarie 1896 afgelewer (The Friend, 10 Julie 1894, bl. 2; Crook 2006:36).

Figuur 4. Kanonne van die Vrystaatse Artillerie. Bron: Foto 01/1379, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Die artilleriste het beslis nie honger gely nie. ’n Uittreksel uit die 1876-korpsregulasies gee ’n goeie idee van die voedselvoorraad wat aan die Artillerie uitgereik is:

Elk officier, onderofficier en Artillerist zal ontvangen: 1¼ lb. vleesch, 1lb. brood, dagelijks; en per week, ½lb. koffij, 1lb. suiker, 1lb. rijst, ½ bottel azijn en ½ lb. gort, wordende zout, peper, hout en groenten voor officieren en manschappen overigens gezamentlijk aangekocht, zullende de aangekochte groenten en andere voedingsmaterialen hierin niet gespecificeerd gelijkelijk worden verdeeld en niet meer kunne bedragen dan £2 sterling per week voor het geheele Corps.8

In Februarie 1890 het die artilleriste gekla dat hulle voedsel nie goed voorberei word nie en oneetbaar is, maar dit is deur kaptein Albrecht ontken, waarna die president persoonlik na die kaserne is om die probleem op te los (VAB, GS186b).

Die uniforms van die Vrystaatse Artillerie het van tyd tot tyd verander. In 1880 het die Artillerie nuwe uniforms gekry, op die uniforms van die Britse Royal Field Artillery geskoei (VAB, A534; Walmsley 1964:146–7). In 1885 het die groottenue of parade-uniform van offisiere uit ’n blou tuniek en broek bestaan, versier met goue koord, asook ’n blou helmet in Britse styl, met ’n brons wapen en bykomstighede. Die groottenue van die manskappe was dieselfde as dié van die offisiere, maar was met oranje koord versier. Die kleintenue of velduniform van offisiere was van blou sersje gemaak en met swart koord afgewerk, terwyl ’n Britse pet van blou materiaal, versier met goue koord, gedra is. Die velduniform van die manskappe, daarenteen, was van bruin Bedford-koordfluweel gemaak en met swart koord versier (Walmsley 1964:147–50; Swemmer 1953:101). In 1889 het die artilleriste ook ’n wit uniform gedra, maar omdat dit nooit baie gewild was nie, is dit met verloop van tyd afgeskaf (OVS Volksraadsnotule, 19 Junie 1889).

Figuur 5. Voorbeelde van Artillerie-uniforms. Bron: Foto VA4422, Vrystaatse Provinsiale Argiefbewaarplek.

Terwyl kaptein Albrecht die Artilleriekorps op Pruisiese grondslag georganiseer het, is daar ook geleidelik van die Britse tipe uniform na die Pruisiese uniform oorgeskakel en teen 1895 het die artilleriste ’n volledige Duitse uniform gedra – soortgelyk aan die uniforms van die Duitse artillerie uit dieselfde tydperk.9 Tot met die Anglo-Boereoorlog het artilleriste en offisiere ’n Pruisiese leerhelm by ’n blou uniform met oranje koordversiering gedra. As deel van die velduniform het die Vrystaatse artilleriste wit lyfbande skuins oor die bors en om die middel gedra. Hulle is verder met ’n hoë stafpet, asook ’n ligte diensuitrusting met ’n slaprandhoed uitgerus (VAB, A534; Swemmer 1953:102). Offisiere se tuniek was met goue koord versier. Die helmplaat het uit ’n agtpuntige ster met die Vrystaatse wapen in die middel bestaan. Die helm van die parade-uniform was van ’n ligte oranje, slap verebos aan die helmknop voorsien (Williams 1981:10; 1980:17).

Figuur 6. Die parade-uniform van die Vrystaatse Artillerie, 1895. Bron: W.A. Walmsley, “Staatsartillerie van de OVS: Uniform and organization”, Africana Aantekeninge en Nuus, 16(4), Desember 1964, bl. 154.

Die aanstelling van kaptein Albrecht in 1880 en die reorganisasie van die Artilleriekorps het ’n verreikende invloed op die verdedigingstelsel van die Vrystaat gehad en uiteindelik ’n groot verbetering op militêre gebied meegebring. Nogtans was die Vrystaatse Staatsartillerie nie werklik ’n sterk militêre eenheid nie, aangesien die Artillerie en burgermagte net vir verdedigingsdoeleindes bedoel was en nie vir aggressiedoeleindes soos die uitbreiding van die OVS se grense nie (Swemmer 1953:128). Selfs in 1895 (kort voor die einde van die Reitz-era) het die Artillerie nog uit net 48 lede bestaan – die kaptein, ’n luitenant, sersant-majoor, sersant, twee bombardiers, ’n onderoffisier en 41 manskappe – asook 38 perde (dus agt lede en twee perde minder as in 1890) (Albrecht s.a.:3). President Reitz was gretig om die Staatsartillerie verder uit te bou, maar finansiële uitdagings het hom gekortwiek (Crook 2006:35). Eers met die Jameson-inval in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR, soos die Transvaal destyds amptelik bekend gestaan het) aan die einde van Desember 189510 en die gepaardgaande bedreiging wat dit vir die OVS se toekomstige onafhanklikheid ingehou het, sou daar hierin ’n verandering kom (Swemmer 1953:128).

Aanvanklik het ’n onderafdeling van die Vrystaatse Staatsartillerie, bekend as die Berede Diensmag, in die Vrystaatse distrikte en op die grense van die republiek diens gedoen. Omdat die artilleriste te min was om gelyktydig in Bloemfontein en die Vrystaatse distrikte diens te doen, is daar tydens die Volksraadsitting van Mei 1889 besluit om ’n afsonderlike berede polisiemag, die sogenaamde Vrijstaatsche Rijdende Dienstmacht, onder bevel van kaptein F.W.R. Albrecht, kommandant van die Vrystaatse Artillerie, in die lewe te roep. Ofskoon dié mag hoofsaaklik polisiëring gedoen het, het dit tog ’n sterk militêre karakter gehad (Swemmer 1953:110–9). Volgens Ordonnansie No. 16 van 1889 het die berede diensmag aanvanklik slegs uit 20 wit mans bestaan, en ofskoon hulle oor die hele Vrystaat ontplooi kon word, sou hul hoofkwartier in Bloemfontein wees. Hulle taak was om smokkelhandel en onreëlmatighede teë te gaan, diefstal te voorkom, orde te handhaaf en die vrede te bewaar, ook op die grense van die staat. Die berede polisiemag het dikwels ook swart mense sonder passe aangekeer (Gouvernements Courant 21 Junie 1889, bl. 2; The Friend, 19 Junie 1889, bl. 3; 3 Julie 1889, bl. 3; 9 September 1892, bl. 2).

Volgens tenders wat in Oktober 1892 aangevra is, het die berede polisiemanne uniforms gedra wat bestaan het uit baadjies en rybroeke van swart koordfluweel, swart rystewels en swart vilthoede met oranjekleurige bande. Op elke baadjie was twee Vrystaatse wapens van brons aangebring (The Friend, 9 April 1895, bl. 2).

Die Rijdende Dienstmacht was só doeltreffend dat daar in 1890 besluit is om dit te vergroot. Die aanlê van spoorlyne en die arbeidsvraagstuk het ook ’n groter diensmag genoodsaak. Aangesien artilleriste uiteraard oor militêre ondervinding beskik het, is heelwat manskappe wat voorheen in diens van die Artilleriekorps was, in die Dienstmacht opgeneem (Swemmer 1953:120–2; Van der Bank 2004:34). Teen 1894 het die berede polisiemag reeds uit 87 (almal blanke, berede) lede bestaan, van wie ses in Bloemfontein gestasioneer was (Vrijstaatsch jaarboek en almanak 1894, bl. 145; Van der Bank 2004:34). Die berede polisiemag het dus die staats- en munisipale polisie aangevul en hulle in die uitvoering van hul pligte gehelp. In Julie 1896 is die Dienstmacht onder die bevel van kommissaris Markus van die polisie geplaas en het dit voortaan meer van ’n “polisiekarakter” aangeneem (Swemmer 1953:121–4).11

 

5. President Brand Rifles

Die President Brand Rifles was ’n vrywilligerkorps wat in 1888 na die dood van president J.H. Brand tot stand gekom het. By die stigtingsvergadering van die korps in Bloemfontein op 10 September 1888 het 60 persone by die korps aangesluit (Curson 1954:48), en daar is op dié naam besluit ter ere van die Vrystaat se gewilde president Brand wat in Julie van dieselfde jaar oorlede is. Die Rifles het jaarliks in Julie tydens ’n plegtige seremonie ’n krans op die graf van wyle president Brand gaan lê. Hierdie militêre eenheid het aanvanklik onder bevel van kaptein J.W.G. Steyn gestaan en is volgens Britse weermagstyl in Engels gedril deur drilinstrukteur T. Geary, ’n voormalige sersant-majoor wat uit Ierland afkomstig was (The Daily Express 14 Julie 1890, bl. 3; The Friend, 20 Februarie 1889, bl. 3; Curson 1954:48).

Die Rifles se driloefeninge is in hulle drilsaal in Fonteinstraat gehou, in die gebou wat voorheen as die Orange Free State Pioneer Lodge bekendgestaan het. Kort na die stigting van die korps het hulle reeds komplimente vir hul drilwerk ontvang. In Februarie 1889 het die korps deftige nuwe uniforms uit Duitsland gekry, waarvoor elke lid self ’n finansiële bydrae moes lewer (The Friend, 13 Februarie 1889, bl. 3; 20 Februarie 1889, bl. 3). Ofskoon die Rifles ’n vrywilligerkorps was, is streng militêre dissipline toegepas, en manskappe wat nie die driloefeninge bygewoon het nie of regulasies oortree het, is in rang verlaag of uit die eenheid geskors. Die korps het maandeliks ’n kerkparade op Bloemfontein se Markplein gehou waartydens hulle blaasorkes, onder leiding van Charles Acton, musiek gemaak het (The Daily Express, 5 Augustus 1890, bl. 2; The Friend, 13 Maart 1889, bl. 3; 17 Julie 1889, bl. 3; 14 Augustus 1889, bl. 3).

In Januarie 1890 het J.W.G. Steyn weens werkverpligtinge as bevelvoerder van die korps bedank en is hy deur ene kaptein Hughes opgevolg. Die blaasorkes, onder leiding van die nuwe orkesleier, ene Edwards, het dikwels promenadekonserte in die goewermentstuin gehou, waartydens die tuin soms met Chinese lanterns verlig is (The Daily News, 9 Januarie 1890, bl. 3; 4 Februarie 1890, bl. 3; 11 Februarie 1890, bl. 3; 15 Februarie 1890, bl. 3). In Februarie 1890 is kaptein J.F.G. Davis as die onderbevelvoerder van die President Brand Rifles, wat toe reeds meer as 70 man sterk was, aangestel (De Express, 18 Februarie 1890, bl. 3; The Daily News, 27 Februarie 1890, bl. 2; 4 Maart 1890, bl. 3). Die volgende maand versoek Hughes die regering om 80 gewere aan die President Brand Rifles te leen om mee te oefen, terwyl hy president Reitz verseker dat die korps binnekort hulle eie gewere sal aanskaf. Hughes se versoek is deur kaptein Albrecht, in sy hoedanigheid as bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie, goedgekeur (VAB, GS186c). In Mei 1890 is kaptein Davis in die plek van kaptein Hughes as bevelvoerder van die korps aangestel (De Express, 27 Mei 1890, bl. 4; The Daily Express, 31 Mei 1890, bl. 2).

In Augustus 1890 het die President Brand Rifles die Vrystaatse regering versoek om die korps oor te neem, op voorwaarde dat hulle voortaan staats- en finansiële ondersteuning sou geniet (VAB, GS189a; The Daily Express, 16 Augustus 1890, bl. 3). Nadat die lede van die korps die eed van getrouheid aan die OVS Boererepubliek afgelê het, het die regering onderneem om voortaan ’n jaarlikse toelae aan die korps te betaal vir die onderhoud van die eenheid en vir die aankoop van toerusting en wapens (VAB, GS189b; The Daily Express, 2 November 1890, bl. 2). Die Rifles het dus nou voortaan onder die gesag van die regering gestaan, en in November 1890 het die veldkornet van Bloemfontein, S. Goddard, die korps en hulle toerusting geïnspekteer (The Daily Express, 16 September 1890, bl. 3; 18 November 1890, bl. 3).

Dieselfde maand het kaptein C.A. Hanger die bevelvoerder van die Rifles geword en is in Julie 1891 deur majoor G. Reeler opgevolg (The Daily Express, 18 November 1890, bl. 3; The Friend, 7 Julie 1891, bl. 3). Die President Brand Rifles was steeds tot ’n groot mate ’n selfonderhoudende korps en was nie altyd tevrede met die behandeling wat hulle van die regering ontvang het nie. So was hulle in September 1892 baie ongelukkig omdat die gebou wat hulle as drilsaal gehuur het, verkoop is en hulle net 24 uur kennis gekry het om dit te ontruim (The Friend, 2 September 1892, bl. 3). Daar was ook klagtes oor die gebrek aan belangstelling wat Bloemfontein se jong mans in die korps getoon het en ’n paar keer was die voortbestaan van die Rifles selfs in die weegskaal (The Friend, 13 Maart 1891, bl. 3; 26 Mei 1891, bl. 3). Ten spyte van hierdie probleme het die President Brand Rifles klaarblyklik tot die Anglo-Boereoorlog (of tot kort voor die oorlog) voortbestaan.12

 

6. Slotperspektiewe

Die periode 1889 tot 1895, toe F.W. Reitz die staatspresident van die OVS was, was ’n besonderse tydperk in die geskiedenis van die Boererepubliek en in besonder ook in die geskiedenis van Bloemfontein as hoofstad van die land.13 President M.T. Steyn, wat op 4 Maart 1896 as Reitz se opvolger as staatspresident ingesweer is (Van Schoor 2009:46–7, 55–61), het op militêre en ander terreine op die goeie werk van sy voorganger voortgebou. In die lig van die Jameson-inval (waarna reeds verwys is) en die toenemende moontlikheid van oorlog tussen die ZAR en Brittanje, het die ZAR sowel sy kommandolede as die Transvaalse Staatsartillerie van meer en beter gewere en kanonne voorsien (Breytenbach 1978:77–89; Crook 2006:44–50). Die OVS het dieselfde gedoen, maar aangesien die Vrystaatse burgermag en Artillerie kleiner was as dié van die ZAR, en geld ook veel skaarser was in die OVS, was die wapenaankope nie so omvangryk as in die ZAR nie. Nogtans het die OVS van 1896 tot die vooraand van die Anglo-Boereoorlog agt addisionele 75 mm-Krupp-kanonne, minstens 8 000 Martini-Henry-gewere, 100 Guedes-gewere, 9 500 Mauser-gewere (plus 80 “sport”-Mausers) en net meer as 100 Webley-rewolwers aangeskaf. Die OVS se Staatsartillerie se personeel is ook uitgebrei en het by die uitbreek van die oorlog 74 staandemaglede en minstens 400 reserwelede gehad. Die korps se begroting het ook gestyg van £4 200 in 1871 tot ongeveer £10 700 in 1897. In Junie 1899 het die OVS Volksraad ’n verdere £4 050 begroot om nog drie 37 mm-Krupp-snelvuurkanonne, drie masjiengewere en drie vragwaens aan te skaf, maar die oorlog het uitgebreek voor dié wapentuig afgelewer is (Swemmer 1953:102–6; Crook 2006:36; Breytenbach 1978:58; 89).

Toe die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek, was die OVS ooreenkomstig die 1897-verdrag wat tussen die OVS en die ZAR bestaan het, en waarvolgens die een die ander sou bystaan sou enigeen se onafhanklikheid bedreig word (en die Vrystaatse regering se besluit om inderdaad hul mede-Boererepubliek in geval van ’n oorlog met Brittanje te steun), nou ook in ’n staat van oorlog teen die wêreld se enigste supermoondheid van destyds. Die Vrystaatse kommando’s is hoofsaaklik aan die OVS se suidfront en wesfront, en aan die Natalse front ontplooi, met die Vrystaatse Staatsartillerie wat hoofsaaklik aan die wesfront ontplooi is (Swemmer 1953:155–61; Breytenbach 1978:149–53). Die Vrystaatse magte het onder meer aan die beleg van Ladysmith en Kimberley deelgeneem en aan die onderskeie fronte teen die Britse opmarse probeer walgooi, insluitende by Stormberg (10 Desember 1899) en Magersfontein (11 Desember 1899). Uiteindelik was die Britse druk en oormag egter te veel – generaal P.A. Cronjé is by Paardeberg tot oorgawe gedwing (27 Februarie 1900) en twee weke later het die Britte Bloemfontein sonder enige weerstand beset (13 Maart 1900). Majoor Albrecht, die meeste ander lede van die OVS se Staatsartillerie, tesame met die meeste van dié Artillerie se kanonne, het te Paardeberg in Britse hande geval.14 Alle regeringsgeboue, insluitende die fort en die ander militêre geboue en strukture, het dus in Britse hande geval en is voortaan deur die Britse leër benut, soos ook vroeër in die jare 1846 tot 1854 die geval was.

Figuur 7. Britse troepe beset die fort, Bloemfontein, 13 Maart 1900. Bron: Foto 01/1394, Nasionale Museum, Bloemfontein.

Die Vrystaatse magte se grootste terugslag was in die Brandwaterkom, in die Oos-OVS, waar einde Julie, begin Augustus 1900 drie generaals, nege kommandante, en minstens 4 314 burgers oorgegee het sonder om enigsins weerstand te bied, en ook drie kanonne moes prysgee (Amery (red.) (1906:297–343); Pretorius 2010:57–8).15 Die oorblywende OVS-burgers en enkele kanonne het deur middel van guerrilla-oorlogvoering die versetstryd so goed as moontlik probeer voortsit, met president M.T. Steyn die volgehoue inspirasie vir en gees van die onafhanklikheidstrewe, en generaal C.R. de Wet in die praktyk die bekendste en een van die suksesvolste Boere-guerrillabevelvoerders, indien nie dié suksesvolste nie.16 Intussen het Bloemfontein weer eens (soos in die jare 1846 tot 1854) as ’n belangrike Britse militêre sleutelpunt gedien, maar nou as ’n basis vir teen-guerrilla-optredes. Uiteindelik was die Britte suksesvol in hul stryd teen die Boere, en het die oorblywende Boere ingevolge die voorwaardes van oorgawe wat op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken is, die stryd gewonne gegee (Du Preez 1986, verspreid; Kestell en Van Velden 1909, verspreid; Van Schoor 2005:139–251).

Die OVS se militêre voorbereidings onder leiding van die Reitz-regering, en daarna dié van die Steyn-regering, was dus nie voldoende om die OVS (en dus ook Bloemfontein as regeringsetel) uit die kake van die Britse Ryk te red nie. Dit het egter nie eerloos vir die OVS afgeloop nie. As selfrespekterende staat het die OVS – met inagneming van finansiële en ander beperkinge – alles moontlik gedoen om staatsoewereiniteit te verseker. Toe oorlog teen Brittanje uitbreek, het hulle aan die kant van hul susterrepubliek, die ZAR, tot die stryd toegetree. As militêre setel het Bloemfontein ’n deurslaggewend belangrike rol in die verdediging van die OVS gespeel. Dit was hier waar tot Maart 1900 vele van die besluite ten opsigte van deelname aan en strategie ten opsigte van die oorlog geneem is.

In die tweede helfte van die 19de eeu is die stad se militêre infrastruktuur verbeter en die gewapende magte opgebou, maar die stad kon nie sinvol teen ’n groot en goedtoegeruste leër beskerm word nie, en is dus sonder weerstand oorgegee. F.W. Reitz het, soos sy opvolger (M.T. Steyn), sy bes gedoen om die OVS se gewapende magte op te bou, maar uiteindelik was dit tevergeefs. Vandag (2021) is Bloemfontein die tuiste van ’n hele aantal belangrike eenhede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, en is die Bloemfontein (Queen’s) Fort, asook enkele ander oorblywende strukture, die stille getuies van ’n tydperk in die geskiedenis van die Vrystaat toe Bloemfontein in die konteks van ’n totaal ander en verbygegane era ook ’n belangrike republikeinse militêre setel was.

 

Bibliografie

Boeke, vakpublikasies, verhandelinge, proefskrifte

Albrecht, F.W.R. s.j. Rapport van den kaptein der Artillerie, 1892–1893. Geen plek van uitgawe of uitgewer aangedui nie.

Amery, L.S. (red.). 1902. The Times history of the war in South Africa 1899–1902. Band 2. Londen: Sampson Low, Marston and Company, Ltd.

— . 1905. The Times history of the war in South Africa 1899–1902. Band 3. Londen: Sampson Low, Marston and Company, Ltd.

—. 1906. The Times history of the war in South Africa 1899–1902. Band 4. Londen: Sampson Low, Marston and Company, Ltd.

Anon. 1968. Boshof(f), Jacobus Nicolaas. In De Kock (hoofred.) 1968.

Bakkes, C.M. 1979. Die kommandostelsel met spesiale verwysing na die historiese ontwikkeling van sy rangstruktuur. In Nel (red.) 1979.

Barnard, B.J. 1948. ’n Lewensbeskrywing van majoor Henry Douglas Warden. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 11(1). Kaapstad: Die Staatsdrukker.

Bloemfontein directory, 1898. Geen plek van uitgawe of uitgewer aangedui nie.

Botes, S.M. 2014. Bloemfontein gedurende die bewind van president F.W. Reitz, 1889–1895: ’n Kultuurhistoriese studie. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Breytenbach, J.H. 1978. Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899–1902. Band 1. Pretoria: Die Staatsdrukker.

Carruthers, J. (red.). 1996. The Jameson raid: A centennial retrospective. Johannesburg: Brenthurst Press.

Collins, W.W. 1907. “Free Statia”; or reminiscences of a lifetime in the Orange Free State. Bloemfontein: The Friend.

Crook, L. 2006. Artillery of the Anglo-Boer War 1899–1902. Brandfort: Kraal Uitgewers.

Curson, H.H. 1954. President Brand Rifles. Africana Aantekeninge en Nuus, 11(2):48–9.

De Bruin, J.H. 2009. ’n Regshistoriese studie van die finale oorgawe van die Oranje-Vrystaat se konvensionele magte gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902). LLD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

De Kock, W.J. (hoofred.). 1968. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Band 1. Kaapstad: Nasionale Pers.

De Kock, W.J. en C.J. Beyers (hoofreds.). 1977. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Band 3. Kaapstad: Tafelberg.

De Wet, C.R. 1903. De strijd tusschen Boer en Brit. Amsterdam: Höveker en Wormser.

Du Plooy, W.J. 1977. Die militêre voorbereidings en verloop van die Jameson-inval. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Du Preez, S.J. 1986. Die vrede van Vereeniging. DPhil-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Gerdener, G.B.A. 1934. Ons kerk in die Transgariep: Geskiedenis van die Ned. Geref. kerke in Natal, Vrystaat en Transvaal. Kaapstad: Nasionale Pers.

Grobbelaar, P.W. (red.). 1975. Die Afrikaner en sy kultuur. Band 3. Kaapstad: Tafelberg.

Groenewald, H.H.A. en A.D. Herholdt. 1977. Bloemfontein tot 1900: ’n Argitektuur-historiese studie. Bloemfontein: Departement Argitektuur, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Haasbroek, J. 1980. Die rol van die Engelse gemeenskap in die Oranje-Vrystaat 1848–1859. Memoirs van die Nasionale Museum, 15:3–5.

Het Vrijstaatsch jaarboek en almanak 1894. 1893. Bloemfontein: Barlow Brothers.

Kapp, P.H. 1975. Ons volksfeeste. In Grobbelaar (red.) 1975.

Kestell, J.D. en D.E. van Velden. 1909. De vredesonderhandelingen tusschen de regeringen der twee Zuid-Afrikaansche republieken en de vertegenwoordigers der Britsche regeering welke uitliepen op den vrede, op 31 Mei 1902 te Vereeniging gesloten. Amsterdam: De Bussy.

Midgley, J.F. 1949. The Orange River Sovereignty (1848–1854). Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 12(2). Parow: Die Staatsdrukker.

Moll, J.C. 1968. Francis William Reitz en die republiek van die Oranje-Vrystaat. Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 36. Pretoria: Die Staatsdrukker.

Nel, P.G. (red.). 1979. Die kultuurontplooiing van die Afrikaner. Pretoria: HAUM.

Notulen der verrichtingen van den hoogedelen Volksraad van den Oranjevrijstaat, 1889–1895. s.j. Bloemfontein: C. Borckenhagen.

Pelzer, A.N. 1968. Pretorius, Marthinus Wessel. In De Kock (hoofred.) 1968.

Ploeger, J. 1969. Op brandwag – drie eeue militêre geskiedenis van Suid-Afrika. Militaria: Tydskrif vir Militêre Geskiedenis, 1(4):5–47.

Pretorius, F. 2001. The great escape of the Boer pimpernel Christiaan de Wet: The making of a legend. Pietermaritzburg: University of Natal Press.

—. 2010. The A to Z of the Anglo-Boer War. Lanham: The Scarecrow Press.

Schoeman, K. 1980. Bloemfontein: Die ontstaan van ’n stad 1846–1946. Kaapstad: Human & Rousseau.

Schoeman, K. (red.). 1988. The Bloemfontein diary of Lieut. W.J. St. John 1852–53. Kaapstad: Human & Rousseau.

Scholtz, L. 2003. Generaal Christiaan de Wet as veldheer. Pretoria: Protea Boekhuis.

Swemmer, T.P.E. 1953. Die geskiedenis van die Vrystaatse Artillerie. MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Van der Bank, D.A. 2004. Polisiemagte van die Vrystaatse republiek 1854–1900. Navorsinge van die Nasionale Museum, 20(2):46–64.

Van Rensburg, A.P.J. 1952. Die rol deur landdroste, vrederegters en veldkornette in die distrik van Bloemfontein vanaf 1854–1880 gespeel. MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Van Schoor, M.C.E. 1968. Brand, Johannes Henricus. In De Kock (hoofred.) 1968.

— . 2005. Die bitttereinde vrede: Vredespogings en -onderhandelinge voor en tydens die Anglo-Boereoorlog 1899–1902. Brandfort: Kraal Uitgewers.

— . 2009. Marthinus Theunis Steyn: Regsman, staatsman en volksman. Pretoria: Protea Boekhuis.

Venter, W.A. 1977. Hoffman(n), Josias Philippus. In De Kock en Beyers (hoofreds.) 1977.

Vrijstaatsche jaarboek en almanak 1893. 1892. Bloemfontein: Geen uitgewer aangedui nie.

Walmsley, A.B. 1964. Staatsartillerie van de OVS: Uniform and organization. Africana Aantekeninge en Nuus, 16(4):143–56.

Wet No. 12 van 1895. Wetboek van den Oranje-Vrijstaat, 1895. Bloemfontein: C. Borckenhagen.

Williams, J.R. 1980. A little bit of Prussia on the veld. Kaizerzeit, 9(3):16–22.

—. 1981. Orange Free State Artillery Corps, circa 1895. Dispatch, 95:10.

Koerante

The Daily Express, 13 Junie 1890, 14 Julie 1890, 5 Augustus 1890, 16 Augustus 1890, 16 September 1890, 18 November 1890, 28 November 1890.

The Daily News, 9 Januarie 1890, 4 Februarie 1890, 11 Februarie 1890, 15 Februarie 1890, 17 Februarie 1890, 27 Februarie 1890, 4 Maart 1890.

De Express en Oranjevrijstaatsch Advertentieblad, 18 Februarie 1890, 27 Junie 1890, 14 Julie 1890, 13 Desember 1890, 23 Desember 1890.

The Friend of the Free State and Bloemfontein Gazette, 13 Februarie 1889, 18 Februarie 1889, 20 Februarie 1889, 13 Maart 1889, 19 Junie 1889, 17 Julie 1889, 14 Augustus 1889, 9 September 1889, 25 September 1889, 25 Desember 1889, 11 Februarie 1890, 21 November 1890, 23 Desember 1890, 29 Januarie 1891, 10 Februarie 1891, 17 Februarie 1891, 13 Maart 1891, 28 April 1891, 26 Mei 1891, 7 Julie 1891, 27 Oktober 1891, 27 November 1891, 1 Maart 1892, 4 Maart 1892, 3 Mei 1892, 10 Mei 1892, 2 September 1892, 11 Mei 1894, 10 Julie 1894, 14 Desember 1894, 21 Desember 1894, 19 Februarie 1895, 22 Februarie 1895, 9 April 1895, 27 Augustus 1895.

De Gouvernments Courant, 21 Junie 1889, 23 Oktober 1891.

Argivale materiaal 

Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad (KAB)

KAB, GH10/1a: H.D. Warden – B. Maitland, 23 Maart 1846.

KAB, GH10/1b: H.D. Warden – B. Maitland, 28 Maart 1846.

Vrystaatse Argiefbewaarplek, Bloemfontein (VAB)

VAB, A534: J.R. Williams, Crown Imperial, Maart 1981.

VAB, GS183: Kapt. Albrecht – pres. Reitz, 21 Mei 1889.

VAB, GS185: I. Bisseux – goewermentsekretaris, 17 Oktober 1889.

VAB, GS186a: Kapt. Albrecht – goewermentsekretaris, 10 Desember 1889.

VAB, GS186b: Rapport van dr. J.W. Krause (distriksgeneesheer) – goewermentsekretaris, 5 Februarie 1890.

VAB, GS186c: Kapt. Hughes – goewermentsekretaris, 20 Maart 1890.

VAB, GS189a: President Brand Rifles – pres. Reitz, 18 September 1890.

VAB, GS189b: Die waarnemende landdros – goewermentsekretaris, 18 November 1890.

VAB, GS190: Kapt. Albrecht – goewermentsekretaris, 15 Januarie 1891.

VAB, PWD160: Lijst van OVS gebouwen.

VAB, PWD163: Rapport omtrent nodige reparaties aan oude Artillerie gebouwen.

VAB, UR15: 19 Januarie 1891.

VAB, VR320: Bylae tot Volksraadsnotule, 1 Maart 1889.

VAB, VR352: Rapport Artillerie, 4 Maart 1891.

 

Eindnotas

1 Vir meer oor Reitz, kyk bv. Moll (1968, verspreid).

2 Warden se spelling van die naam. Kyk KAB, GH10/1b.

3 Vir die ervarings en sienings van ’n Britse soldaat wat tydens die Britse besetting in Bloemfontein gestasioneer was, kyk Schoeman (red.) (1988, verspreid).

4 Wat betref die aankoop van kanonne deur die onderskeie presidente, kyk Onderafdeling 4.

5 Dit was die terrein tussen Aliwal-, Wes-Burger- en Zastronstraat, waar die bekende Ramblersklub in 1896 gestig is en vandag (2021) steeds voortbestaan.

6 Die gebruik van die heliograaf het tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 ’n belangrike rol gespeel.

7 Vir tegniese besonderhede i.v.m. die kanonne, kyk bv. Crook (2006:302–3); Breytenbach (1978:94).

8 Ordonnantie No. 3, 1876: Ordonnantie, Regulatien voor het Oranjevrijstaatsch Artillerie Corps, soos aangehaal deur Swemmer 1953:189. Een pond gewig (1 lb) = 450 gram.

9 Vir meer besonderhede i.v.m. die uniforms van die Vrystaatse Staatsartillerie, kyk Walmsley (1964:143–56).

10 Vir meer besonderhede i.v.m. aanloop tot, verloop en gevolge van die Jameson-inval van Desember 1895/Januarie 1896, kyk bv. Carruthers (1996, verspreid); Du Plooy (1977, verspreid).

11 Volgens Breytenbach 1978:60 het die Diensmacht op die vooraand van die Anglo-Boereoorlog oor 81 lede beskik.

12 Geen verwysing na die President Brand Rifles kon in Breytenbach (1978) opgespoor word nie, wat daarop dui dat dié korps waarskynlik reeds teen Oktober 1899 ontbind was en moontlik by ’n ander eenheid ingelyf is.

13 Kyk in die algemeen Botes (2014, verspreid).

14 Die rol wat die Vrystaatse Staatsartillerie tydens die Anglo-Boereoorlog gespeel het, val buite die bestek van hierdie studie, maar vir meer besonderhede omtrent hul rol en lotgevalle, kyk bv. Swemmer (1953:162–9); Breytenbach (1978:179 e.v.); Amery (red.) (1902:98); Amery (red.) (1905, verspreid); Pretorius (2010:18).

15 Vir meer besonderhede i.v.m. die aanloop tot en gebeure in die Brandwaterkom, insluitende talle regskwessies, kyk De Bruin (2009, verspreid).

16 Vir meer besonderhede i.v.m. De Wet se rol tydens die oorlog, kyk bv. De Wet (1903, verspreid); Pretorius (2001, verspreid); Swemmer (1953:169–75); Scholtz (2003, verspreid).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top