The big sick: ’n filmresensie

  • 0

The big sick
Regie: Michael Showalter
Draaiboek: Emily V Gordon, Kumail Nanjiani
Spelers: Kumail Nanjiani, Zoe Kazan, Adeel Akhtar, Holly Hunter, Ray Romano

Dis selde dat ’n mens so ’n vars en oorspronklike film teëkom soos hierdie een, gegrond op die ware verhaal van ’n Pakistani-komediant en sy Amerikaanse vrou. Wat begin as ’n lighartige geskerts tussen twee jong mense wat mekaar in Chicago se naglewe raakloop, verander mettertyd in ’n fyngestemde drama oor verhoudings, familie en vooroordele.

Kumail Nanjiani se familie het na Amerika geëmigreer om vir die twee seuns ’n beter lewe te gee. Die ouer broer, Naveed (Adeel Akhtar), het die tradisionele gebruik van ’n gereëlde huwelik gemaklik aanvaar en is gelukkig getroud, maar Kumail skop vas. Eerder as ’n fatsoenlike beroep soos ingenieur of prokureur kies, is sy ambisie om te slaag as skerpskertser. Saans tree hy op in ’n klein komedieklub en tussendeur is hy ’n Uber-bestuurder. Hy bid nie meer vyf keer op ’n dag soos van Moslems vereis word nie, gaan uit met Westerse meisies en verduur gelate al die goeie Pakistani-meisies wat sy ma aan hom voorstel met die oog op ’n huwelik.

Wanneer Kumail en Emily ontmoet, sweer al twee dat hulle glad nie belangstel in ’n permanente verbintenis nie, maar dit blyk gou dat hulle nie kan wegbly van mekaar nie. Toe sy hom oplaas aan haar ouers wil voorstel, kom sy agter Kumail se familie wéét nie eens van haar bestaan nie, so taboe is die moontlikheid van ’n verhouding tussen hulle. Hulle verbreek kontak, maar dan raak Emily hewig siek en word in die hospitaal opgeneem. Die enigste een beskikbaar om haar by te staan tot haar ouers (Holly Hunter en Ray Romano) opdaag, is Kumail.  

Met sy aweregse humor en snydende kwinkslae verloop The big sick heel anders as wat ’n mens verwag, tot by die besonder bevredigende einde. Dit word hartlik aanbeveel vir kykers wat ’n slag iets anders soek as die oormaat skietery en ontploffings wat tans op ons kringloop te sien is.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top