
Hierdie foto is ’n bemarkingsfoto van die TV-reeks wat hier onder geresenseer word en is hier beskikbaar: https://www.dstv.com/en-za/news/145671/beter-as-gister-nuwe-kyknet-dramareeks/
Met: Neels van Jaarsveld en Rolanda Marais
Regisseurs: Corné en René van Rooyen
Dinsdagaande om 20:00 op kykNET, daarna op Catch Up
Die titel Beter as gister spreek boekdele. Dit gaan oor vier pa’s wat, deur duur lesse oor hulself te leer, hul eie lewens én dié van hul gesinne ingrypend verander.
........
Ons het reeds baie goeie Afrikaanse televisiereekse gesien. Tog is die indruk soms gewek dat sommige daarvan in ’n gemaksone vasgevang geraak het. Beter as gister begin daardie patroon doelbewus verander.
.........
Ons het reeds baie goeie Afrikaanse televisiereekse gesien. Tog is die indruk soms gewek dat sommige daarvan in ’n gemaksone vasgevang geraak het. Beter as gister begin daardie patroon doelbewus verander.
Wanneer ’n televisiebedryf volwasse raak, sluip resepmatigheid maklik in. Die ritme, die bekende storieboë en selfs sekere akteurs se spelmaniërismes begin voorspelbaar raak. ’n Mens kyk soms eerder na ’n oorbekende gesig met al sy of haar bagasie as na die karakter self. Vernuwing was dringend nodig. Dit het begin voel soos inkopies in jou gunstelingsupermark: Jy weet presies wat op elke rak staan, en niks verras jou meer nie.
Beter as gister kies doelbewus ’n ander pad.
Hierdie kritiek geld natuurlik nie sepies nie. Hulle floreer juis op herkenbaarheid, melodrama en die gerusstellende voorspelbaarheid wat hul lojale kykers verwag. Maar volbloed Afrikaanse dramareekse het nuwe vuur nodig gehad – nuwe maniere om dieselfde temas vars te vertel.
Hierdie reeks neem kykers uit hul gemaksone, maar nooit só ver dat hulle verdwaal nie. Dit begin doelbewus bekend: ’n gespanne ontbyt waar ’n gesin bymekaar sit, maar emosioneel by mekaar verby leef. Die ouers is só vasgevang in hul eie probleme dat die kinders moeg geraak het om teen emosionele mure vas te praat.
Een van die pa’s (Neels van Jaarsveld) staan op die punt om ná ’n werksonderhoud sy lewe drasties te herbedink. Skielik verander die hele gesinsdinamiek. Veral die gespanne ma word later gedwing om haar loopbaan teen haar gesin op te weeg en te besef dat ’n haastige piksoentjie voor werk nie noodwendig liefde of teenwoordigheid beteken nie.
Beter as gister handel oor gesinne waarvan die legkaartstukke begin wegraak. Kinders raak emosioneel verwaarloos. Ouers raak só behep met hul eie bestaan dat hulle mekaar nie meer werklik sien nie. Wat tref, is dat hierdie bekende tema hoofsaaklik vanuit die pa’s se perspektief vertel word. Hulle is nie meer bloot broodwinners wat soggens verdwyn en saans terugkeer vir aandete en min kommunikasie nie. Hulle word mense, soms pa’s wat die kinders tuis moet oppas, wat hul eie tekortkominge moet konfronteer voordat hulle beter pa’s kan word.
Die karakters is só deeglik uitgewerk dat dit nooit voel of die akteurs toneelspeel nie. Hulle ís hierdie mense. Daar is geen kunsmatige aansitterigheid of selfbewuste vertoon nie. Hulle verstaan die pa’s wat hulle vertolk.
’n Pa bly dikwels die spil waarom ’n gesin draai. Wanneer daardie gesagsposisie begin verbrokkel, peuter dit maklik aan sy identiteit én manlikheid. Wat gebeur wanneer daardie fondament skielik wegval? Waar kry ’n man die wysheid om te verander? En hoe reageer die sterk vroue rondom hom?
Sonder dat die gewone geplaveide pad gevolg word, word elke pa se wêreld ekonomies geskets en dan onverwags omgekeer.
Die jong enkelpa Eben, met groot eerlikheid deur Edwin van der Walt vertolk, bereik meer met een vlugtige glimlag as wat bladsye dialoog sou vermag. Ons ontmoet hom eers in ’n motor se truspieëltjie. Sy gesig vertel reeds sy verhaal. Daardie eenvoudige beeld sê alles: Is sy lewe, nes die weerkaatsing, omgekeer en in ’n klein blokkie vasgevang, weg van sy dogtertjie?
Die wyse waarop hy sy kind, wat glo sy is ’n kat, tegemoetkom, is tegelyk humoristies, liefdevol en ontroerend. Wanneer die kamera aanvanklik tussen tafelpote verdwaal voordat dit uiteindelik haar gesiggie vind, word die kamera self deel van die vertelling. Soos die kind haarself probeer vind, so soek die kamera haar ook. Dis visuele storievertelling van hoë gehalte.
Die eerste ontbyt bied herkenbare tieners en afwesige ouers. Die tweede "ontbyt" verras. Hier eet die welgestelde sakeman-pa nie saam met sy kinders nie; sy luukse motor word sy eetkamer en sy veilige kokon. Sy seun se loshangende skoolhemp bots treffend met die pa se perfek geordende wêreld en gesnoeide baardjie. Daardie hemp – en later die uitdagende middelvinger – vertel meer as enige dialoog.
Frank Rautenbach is uitstekend as Bernard Kruger, die beheerste sakeman wat sy seun amper soos nóg ’n besitting behandel. Die briljante Sebastian van Niekerk staan sterk teenoor hom. Vader en seun weerspieël mekaar se koppigheid. Sal die seun uiteindelik sy pa word, of juis sy teenoorgestelde?
Dan is daar Elton Andrew se emosioneel verbitterde Tariq, wie se optrede met ’n rewolwer die verhaal skielik in ’n nuwe rigting stuur. Ná ’n ingrypende gebeurtenis ontvang hy nuus wat sy bitterheid verder verdiep, maar hom terselfdertyd dwing om sy eie lewe onder ’n vergrootglas te plaas.
Selfs ’n eenvoudige koppie wat aan ’n drupmatjie vasklou, word in een van Tariq se tonele ’n kragtige visuele metafoor. Die reeks verstaan dat klein besonderhede soos hierdie nie uitroeptekens hoef te wees nie. Hulle is dikwels net kommas wat een emosie na ’n ander laat vloei.
Neels van Jaarsveld se werksonderhoud is nog ’n hoogtepunt. Hy bewys dat minder meer is. Sonder enige gesiggimnastiek wys hy vernedering, frustrasie en hoop met slegs sy oë. Die pa word weer seun; die gesaghebbende man moet skielik weer toestemming vra en die minste wees.
Hoewel elke pa sy eie verhaal volg, verbrokkel die reeks nooit in ‘n los episodiese konstruksie nie. Van vroeg af word die verhale sorgvuldig ineengevleg. Hierdie mans is uiteindelik verwronge spieëlbeelde van mekaar. Elkeen dra ’n stukkie van dieselfde legkaart oor vaderskap, verlies en groei en begin later inmekaar pas.
Gaandeweg word dit ook duidelik dat die kinders uiteindelik húlle pa’s grootmaak. Dis ’n tema wat subtiel, amper ongemerk, deur die reeks vloei.
Sonder om iets te verklap: Episode 2 bevat waarskynlik die mees sensuele soen wat nog in ’n Afrikaanse televisiereeks verfilm is. Nie omdat dit eksplisiet is nie, maar omdat die emosionele opbou, die hunkering na verbinding en die stilte daarna soveel meer sê as wat dialoog ooit sou kon.
Die regisseurs en draaiboekskrywers, Corné en René van Rooyen, saam met draaiboekskrywer-bestuurder Tina Kruger, verstaan die ekonomie van beeldvertelling. Hulle weet presies hoe om spanning stadig op te bou sonder oordrewe dramatiese effekte.
Die eenvoudige, speelbare dialoog, die intelligente karakterisering, en ’n draaiboek wat net genoeg inligting gee sonder om ooit te oorverduidelik, maak van Beter as gister een van die varsste Afrikaanse televisiereekse in jare. Die leidrade lê in die beelde, nie in lang verduidelikings nie. Tascha van der Westhuizen se afgeronde vervaardiging ondersteun hierdie visie uitstekend.
Gaan kuier saam met hierdie vier pa’s. Hulle verskil dalk van jou eie pa, maar elkeen bly uiteindelik ook ’n seun wat nog besig is om man te word. En belangrik: Die vroue word nooit tot blote ondersteunende karakters na die agtergrond gestoot nie. Agter elke man staan hier vroue wat hul eie emosionele reis aflê.
Die pad na volwaardige vaderskap is moeilik, pynlik, soms snaaks, en dikwels ontroerend. Beter as gister vang al hierdie emosies vas – veral in sy treffende titelsekwensie.
Uitstekend.

