
Titel: Belowe my
Skrywer: El Bester
ISBN: 9781779871671
Uitgewer: Romanza
El Bester, voorheen ’n filmredigeerder, woon en werk saam met haar man in die Karoo. Hulle het drie kinders. Sy is ’n talentvolle storieverteller en skrywer. Sedert die koronaviruspandemie skryf sy voltyds en daar het al verskeie boeke uit haar pen verskyn, soos onder meer Vlinders en vonke (2024) en Mal oor jou (2025). Ek het pas haar jongste Romanza, getiteld Belowe my, gelees en dit baie geniet. Dit verskyn onder Romanza se mediese subgenre.
In Belowe my ontmoet die leser vir Sonia, ’n bekwame vlugparamedikus van Puma Medevac wat saam met ’n reaksiespan noodoproepe hanteer en reddingsoperasie onder gevaarlike omstandighede uitvoer. Hulle red onder meer gereeld beseerde bergklimmers in die Drakensberge. Die aksiebelaaide openingstoneel van die boek is dan juis waar hulle in ’n orkaansterkte stormwind met ’n Bell, ’n multimiljoenrand-helikopter, poog om die hoof- uitvoerende beampte van Orion Care Adriaan Reuters en sy twee seuns te red. Hulle is deur die gure weersomstandighede oorval nadat die elfjarige Jakkie gegly en geval het.
Die weer versleg dramaties en Sonia en ’n beseerde Adriaan bly alleen op die berg agter, waarna hulle hul weg moet vind na ’n toegeruste kampplek. Adriaan is haar pasiënt en verantwoordelikheid, want nie net is sy steeds aan diens nie, maar Puma Medevac is ’n filiaalmaatskappy van Orion Care en afhanklik van hulle finansiële ondersteuning. Adriaan is egter nie iemand wat hom laat voorskryf of oppiep nie. Hy is té gewoond daaraan om in beheer te wees. Gaan Sonia haar werk ná dese kwyt wees?
In hedendaagse Romanzas is die vrouekarakters gewoonlik sterk, onafhanklike vroue wat soms baie veeleisende en uitdagende beroepe beklee. Ek het dit geniet om ’n kykie in ’n paramedikus se werksdag te kry. Die skrywer slaag daaraan om die erns en verantwoordelikhede van nooddienspersoneel se werk uit te lig. Die boek het my laat dink aan Jaco Versfeld se Romanza, getiteld ’n Noodvlug vir Rusty, waar die hoofkarakter Nadine Bester ’n traumaparamedikus op lugambulanse is. Lees my resensie daaroor hier.
In Belowe my word Sonia deur die loop van die storie saam met haar span na verskeie ernstige noodsituasies uitgeroep. Hierdie gebeure word sensitief aangebied en maak geensins dat die boek ontaard in ’n bloedige riller nie. ’n Insident hier na die einde van die boek bring die leser wel deeglik onder die indruk dat nooddienspersoneel telkens hulle lewens waag.
El Bester se taalvaardigheid en beskrywings het my met tye ’n sin of paragraaf wéér laat lees net vir die lekkerte daarvan. Voorbeelde: “Weerligstrale bars soos gebreekte spieëls om hulle los en die gitswart wolke bemoeilik alle sigbaarheid” (5). “Die gedagte vreet soos ’n roofvoël aan haar gewete” (5). “’n Weerligstraal skeur meteens soos ’n reep tinfoelie reg bokant hulle deur die lug” (12). “Enkele haelkorrels bons inderdaad soos springmielies oor die klipbanke rond” (17).
Die skrywer het die vermoë om die leser dadelik in te sluk en sintuiglik deel van die storie te laat word. Voorbeeld: “Sy bevind haar bo-op die man, klomp klimtoue onder haar maag en ’n sopnat reënjas teen haar wang. Lê en luister na die kanonvuur haelkorrels wat nou genadeloos teen die tent slaan” (18).
Ek hou ook van hoe sy emosie en innerlike konflik oordra sonder om dit uit te spel. Voorbeelde: “Sy kakebeen span ergerlik” (144). “Haar ruggraat trek reguit” (144).
Daar vind voldoende karakterontwikkeling plaas en die verhaal speel teen ’n bevredigende tempo af. Die aksie en gebeure word na wense gemotiveer. Dit het my net opgeval dat die held en heldin, albei in beroepe waar kommunikasievaardighede van kardinale belang is, nie altyd na behore met mekaar kommunikeer nie. Ja, hulle is vreemdelinge wat mekaar nog leer ken. En ja, dit is so dat vertwyfeling en misverstande ’n groot rol in liefdesverhale speel om intrige te skep. Maar steeds. Die een oomblik is Adriaan bang dat hy dalk ’n oorlas van hom maak en dinge oordoen en Sonia verseker hom dat dit nie die geval is nie. Trouens, sy brand dat hy haar soen en soen en soen. Maar dan, wanneer hy nie op daardie tydstip na wense op haar uitnodiging reageer en haar liefkoos nie, voel sy verwerp en weier sy versoek dat hulle mekaar meer gereeld sien. Hierdie optrede was vir my onnodig teenstrydig met dié van ’n emosioneel volwasse vrou. Maar nou ja, elke paartjie het ’n eie verhoudingsdinamika en hoe hulle mekaar leer ken en slyp.
Die laaste toneel in die boek speel ’n entjie in die toekoms af. Louise van der Merwe doen dieselfde met haar Romanza, getiteld Wanneer jy sing. Dit is altyd vir my lekker om so ’n skelm kykie in die hede te kry en te weet dat dinge tussen die held en heldin wel uitgewerk het soos wat die leser hoop dit sal.
Lees gerus El Bester se Belowe my. Dis ’n lieflike verhaal.

