Behoort Trump mure of brûe te bou?

  • 25

Hitler is in 1933 demokraties verkies, en het feitlik dadelik begin met ’n georganiseerde veldtog om wetgewing te gebruik om Jode te ontneem van hul eiendom, van hulle burgerregte en van hul sosiale netwerke. Hy het verdagmaking van Jode deur vals aantygings teen hulle te maak tot ’n fyn kuns vervolmaak.

Tussen 1933 en 1939 het hy visums en paspoorte weerhou, hulle geforseer om in sekere areas te bly, begin om onderskeid te tref tussen Duits-gebore Jode en vreemdelinge van buite. In 1938 het hy verblyfpermitte van alle Jode gekanselleer, en moes hulle aanmeld en van vooraf aansoek doen vir die reg om in Duitsland aan te bly.

Voor Hitler aan bewind gekom het, was Jode ten volle geïntegreer in die meeste areas van die Duitse lewe – akademie, besigheid, sosiaal, kuns. Sedert sy bewindsoorname was hulle egter sistematies vervreem, geteister op grond van hulle geloofsoortuigings en aangemoedig om liewers buite Duitsland ’n heenkome te vind.

Op 9 November 1938 het die voorheen vyandige maar grootliks wettige mishandeling van Jode ’n nuwe fase betree, met die vernietiging van sinagoges, Joodse besighede en Joodse huishoudings. Kristallnacht het ’n nuwe fase van Joodse onderdrukking en uiteindelike Joodse uitwissing ingelui.

Sommige geskiedeniskommentators meen dat Kristallnacht die keerpunt van populêre steun vir Hitler se Nazi’s was. Baie Duitsers kon intellektueel saamstem met teoretiese diskriminasie teen Jode, maar hulle kon hulself nie vereenselwig met die realiteit van die geweld wat hulle aanskou het nie. In daardie enkele nag is ongeveer 200 sinagoges vernietig, 8 000 Joodse besighede geplunder en derduisende Jode na konsentrasiekampe weggevoer.

Oorsese koerante het berig, regerings het protes aangeteken, en selfs Duitsers het protesteer. Die teenkanting het egter net Hitler en sy Nazi’s se vasberadenheid verstewig.

In die tydperk daarna, en veral tussen 1942 en 1945, is miljoene Jode in die Nazi’s se “Finale Oplossing” vermoor.

Vandag het ons Holocaust-museums in die meeste lande, en in Israel is daar Jad Vasjem – simbole om ons te herinner om nie die foute van die verlede te herhaal nie, om met empatie met ander om te gaan, en om nie te vervreem nie.

Dis ’n les wat skynbaar nog steeds nie geleer is nie, soos wat die Amerikaanse situasie bewys.

Op 21 Januarie 2017 het Donald Trump die bewind in Amerika oorgeneem. Binne dae het hy uitvoerende bevele uitgevaardig wat die regte van vroue en kinders, omgewingsregte en die regte van Moslems ernstig benadeel, en die burgerregtegeskiedenis van Amerika met rasse skrede omkeer.

Op die dag van sy inhuldiging is joernaliste wat krities teenoor hom was, in hegtenis geneem in ’n duidelike aanslag op persvryheid. Sedertdien het hy en sy perssekretaris nie een geleentheid laat verbygaan om die liberale pers te laat verdag maak nie.

Daar was alreeds ongelukkigheid oor sy besluite rondom gesondheidsorg en die wyse waarop hy die Meksiko Stad-beleid, die sg Global Gag Rule, heringestel het. In terme hiervan kan enige organisasie wat beëindiging van swangerskappe ondersteun (al is dit hoe ’n klein deel van hul gesondheidsorg), ontneem word van alle befondsing vanaf die federale regering. Dit beteken ongekende swaarkry vir organisasies wat met moeders en kinders werk, beide huishoudelik en internasionaal, wat afhanklik is van Amerikaanse dollars om hulle werk te kan doen. Heelparty organisasies sal na verwagting hulle deure moet sluit wanneer die befondsing opdroog. Heelparty #WomensMarches het dwarsoor die wêreld uit protes plaasgevind op die eerste dag van Trump se administrasie.

Die besluit om die Dakota-pyplyn en ander pyplyne te heropen, nadat dit onder die Obama-administrasie gestaak is te midde van intense protes, was minder opspraakwekkend.

Op 25 Januarie het hy, met uitvoerende bevel 13767, die proses van stapel gestuur om sy beloofde Meksikaanse muur te bou.

Sy aangestelde ambassadeur na die VN, Nikki Haley, het verder op haar eerste dag by die internasionale liggaam skynbare dreigemente gemaak teenoor enige lid van die VN wat nie die VSA ondersteun nie.

Op 27 Januarie het die volgende aanslag op Amerikaanse vryheid begin, met ’n tans ongenommerde uitvoerende bevel getiteld “Protecting the nation from foreign terrorists’ entry into the United States”. In die volksmond het dit binne ure die hutsmerk #MuslimBan verkry. In terme hiervan word toegang tot die VSA vir ’n tydperk van 90 dae opgehef vir alle persone wat oorspronklik van Iran, Somalië, Sirië, Irak, Libië, Soedan en Jemen afkomstig is. Bykomend word toegang ten opsigte van Siriese vlugtelinge vir ’n onbeperkte tyd opgehef.

Volgens die Wit Huis probeer hulle die terroristegevaar wat deur persone afkomstig van hierdie lande daargestel word, minimaliseer, ten spyte van die feit dat daar nie een enkele daad van terrorisme aan enige van dié lande toegeskryf kan word nie.

Saoedi-Arabië, daarenteen, van waar 16 van die 19 9/11-aanvallers afkomstig was, is nie op die lys nie. Dit het protesteerders gelaat met die vermoede dat dit nie terrorisme is wat geteiken word nie, maar die armste van die Moslem-lande. Ten tye van die skrywe hiervan is daar ongekende protesaksie by lughawens dwarsoor die VSA. Die ACLU, die burgerregte-organisasie wat oor die naweek die uitvoerende bevel in die hof aangeveg het, het in net meer as 48 uur donasies van $24 miljoen ontvang om Trump te beveg.

Hier het Trump se houding oor enigeen wat met hom verskil, duidelik na vore gekom. Sally Yates, die waarnemende prokureur-generaal, is summier van haar pos onthef omdat sy opdrag gegee het dat die Departement van Justisie nie hofgedinge wat die grondwetlikheid van die bevel beveg, moet teëstaan nie – nadat vier verskillende federale regters oor die naweek beveel het dat dele daarvan ongrondwetlik is en nie toegepas kan word nie. Terselfdertyd het honderde diplomate ’n “memorandum of dissent” opgestel waarin hulle uiteensit hoekom die bevel nadelig is, en hoekom hulle dit teenstaan. Trump se reaksie, by monde van sy perssekretaris, was om hulle te nooi om te bedank.

Nie Trump of enigiemand anders in sy administrasie is skynbaar veel gepla met die feit dat die VSA ’n ondertekenaar is van die 1951 Refugee Convention, wat ’n verpligting plaas op ondertekenaars om vlugtelinge in te neem nie.

Die parallelle met Hitler kan nie geïgnoreer word nie. Trump is demokraties verkies. Hy is verkies op ’n veldtog van vervreemding, diskriminasie en uitbuiting van andere. Hy is ’n boelie met ’n lys griewe, en ’n lys van ongewenstes wat ten alle koste verwyder moet word. Hy is ’n politikus wat nie die geringste teëstand of verskille in opinie duld nie. Hy is ’n manipuleerder wat homself glad nie gebonde voel aan wette, of enige van die ooreenkomste en verpligtinge wat oor jare deur die land wat hy verteenwoordig, opgeloop is nie. Hy is ’n bedorwe brokkie wat doen net wat hy wil doen, maak nie saak wat die gevolge is nie.

In kontras het Justin Trudeau, die Kanadese eerste minister, dadelik aangebied om enige vlugtelinge wat deur die VSA weggewys word, in te neem.

Ons sien nog nie dat Trump protesteerders met polisiebrutaliteit begroet nie, maar sy bewind is ’n skamele week oud. Indien protes volgehou word, en dit blyk baie moontlik, is hy nie die tipe leier wat die versoeking sal kan weerstaan om dit gewelddadig te onderdruk nie.

Die protesaksies wat die afgelope weke begin is, is die enigste verweer wat Amerikaners het teen die potensiaal van ’n diktatorskap. Die wyse waarop enigeen wat onafhanklik dink, verwyder word, of gearresteer word, is kommerwekkend.

Sommige van die mure wat Trump bou, is fisies, soos die Meksiko-muur. Ander is filosofies, soos die muur van teenstand teen vroue en kinders en joernaliste wat krities teenoor hom is, en vlugtelinge. Hy is besig om mure te bou wanneer verantwoordelike leierskap die bou van brûe vereis. Dis ’n vreesgedrewe keuse, een wat reperkussies dwarsoor die wêreld kan hê.

’n Meer volwasse leier sou waarskynlik die volgende woorde van Elizabeth Gilbert ter harte kon geneem het:

Human warmth and openness will always be our only place of true safety. Be careful about hiding yourself away, because walls that are meant to be fortresses can easily turn into prisons ... The very thing that you believe is protecting you may ultimately be endangering you – by making your life smaller, poorer and more deeply saturated with fear.

Trump beskik egter nie oor die volwassenheid, die empatie of die gravitas, om dit ter harte te neem nie. Dit maak hom ’n gevaar vir ons almal.

  • 25

Kommentaar

  • 'n Uiters swak artikel - duidelik 'n liberale aandagbehepte. Waarskynlik polities beïnvloed met vae argumente.

    • Francina Wilsnach

      Ek stem absoluut saam met jou Jan! Al die mense wat ongehoorsaam is aan God stem saam met die soort nonsens. Trump is deur God self aangestel, daarom spring die magte van duisternis op en af oor alles wat hy doen. Bose geeste is bevrees dat hul al die vordering wat hul gemaak het, sal verloor. Dis 'n muur tussen Lig en Duisternis. Dit bewys dat helfte van Amerika en tien teen een helfte van die wêreld teen God rebelleer uit onkunde, mislei deur hul sondige nature. Hul misverstaan aspris, spreek hul uit sonder om mooi regverdig te kyk na die feite. Klink soos my ex!

  • Beste Bettina
    Jou vergelyking van Trump met Hitler is totaal onvanpas. Ek sou dit nog kon verstaan as jy ons buurman Mugabe met Hitler vergelyk.
    Hitler het aan bewind gekom omdat die omstandighede daarvoor ryp was. In die vroeë dertig was dinge maar donker in Europa en Duitsland. Die ekonomiese depressie het miljoene werkloos gelaat en na 'n vernederende nederlaag 15 jaar vroeër het die bevolking min vertroue gehad in 'n regering wat hul as swak beskou het.
    Hitler wou 'n wêreldryk met Duitsland as middelpunt tot stand bring met 'n super menseras met geen plek vir rasse wat nie aan die vereistes voldoen het nie. Miljoene mense het gesterf om die Duitse ryk tot 'n val te bring.
    Trump het aan bewind gekom as 'n teenreaksie van die Amerikaners teenoor 'n globaliseringsbeleid, wat gelei het tot tot talle werkverliese in die vervaardigingsbedryf, verval die motorbedryf.
    Dit het gelei tot totale ineenstorting van eens florerende stede soos bv Detroit. Soos by ons het die rykes ryker geword en die armes armer.
    'n Sprekende voorbeeld van hoe veral politici munt geslaan het uit hul posies is duidelik uit die volgende:'
    Rival presidential candidate Sen. Bernie Sanders and Republican critics have mocked Clinton over her closed-door talks to banks and investment firms, saying she is too closely aligned to Wall Street to curb its abuses. Sanders said in a speech in New York that Clinton earned an average of about $225,000 for each speech and goaded her for declining to release transcripts.
    Jy kan meer lees onder http://www.usnews.com/news/business/articles/2016-04-22/firms-that-paid-for-clinton-speeches-have-us-govt-interests.
    Komende van 'n mede-demokraat sê dit genoeg van wat onder die Obama-administrasie gebeur het. Amerika het miljoene dollars se hulp aan Afrika verleen.
    Jy kan meer besonderhede verkry by: https://www.oecd.org/dac/stats/documentupload/2%20Africa%20-%20Development%20Aid%20at%20a%20Glance%202015.pdf

    Ten spyte van die enorme besteding stroom vlugtelinge uit Afrika nog steeds Europa binne. Ja Trump neem ongewilde besluite maar sy vlugtelingsbeleid is ook net tydelik.
    In ander publikasies sal jy kan lees dat: “Mexican authorities have also revealed that drug cartels earn $64.34 billion for their sales in the United States. According to Mexico's Public Safety Secretary Genaro Garcia Luna, figures compiled by international entities showed the production of cocaine in Colombia, Peru and Bolivia has remained stable over the past nine years at an average of about 900 tons a year, Latin American Herald Tribune has learned."
    Dat Trump dus gretig is om dit en onwettige immigrasie uit die lande te keer is verstaanbaar, want geen land kan toelaat dat sy inwoners op groot skaal dwelmverslaafdes word nie, wat reeds gebeur.
    Nou lyk dit vir my die man het op 'n paar liberale tone getrap wat nou luidkeels beswaar maak. Gee die man 'n kans. Obama het op sy laaste dag op kantoor nog vinnig 221 miljoen dollar vrygestel aan die Palestynse Owerheid nieteenstaande dat die kongres dit bevries het. Alhoewel die bevriesing nie wettig afdwingbaar is nie, het Presidente nog altyd kongresbesluite in die opsig gerespekteer.

  • In 2011 was daar ’n 6 maande immigrasie-verbod in die VSA onder Obama. Geen haan het daaroor gekraai nie. ’n Mens moet bedag wees op die storie agter die storie; nl die geldmagte en die vrye vloei van groot geld met min belasting- of werkskeppingverantwoordelikheid teenoor enige land. Die uitbuiting van gapings in belasting- en arbeidswetgewing het gelei tot Trump se verkiesing. Immigrante is bereid om te werk vir ’n minimale loon, wat tot werkloosheid van ’n land se landsburgers lei. As dit regverdig klink vir die skrywer om landsburgers se bestaan op te offer vir immigrante, sal die skrywer seker ook saamstem dat die 10 000 onwettige immigrante wat Suid-Afrika per maand binnestroom, ’n positiewe effek op werkskepping en op die insameling van belasting het, in ’n land waar minder as 10% van die bevolking bydra tot die totale jaarlikse belasting. Alles is nie altyd so duidelik soos dit op die oog af voorkom nie. Die oplossing lê by die land van herkoms om konflik te elimineer en vrede te herstel. Die VN moet baie meer doen om menseregte in alle lande te beskerm.

  • Uitstekende insig. Jy sien verder as die meeste ander mense. Die ooreenkomste tussen díe twee het 'n tyd gelede my al opgeval.

  • Gustaf Claassens

    Ses van een en 'n halfdosyn van die ander ... Daar is verseker 'n baie groot groep mense wat sal reken dat daar wel ooreenkomste tussen die heer Trump en Hitler te bespeur is. Of Trump dit doelbewus doen, weet ek nie. Wat ek wel weet is dat die koor van kritiek hoofsaaklik deur die "mainstream" media aangeblaas word. Dit word op 'n uiters arrogante en onverantwoordelike wyse gedoen waarvan die implikasies erger kan wees as talle van die voorbeelde waarna Bettina hierbo na verwys. Halwe waarhede, subtiele propaganda en selfs blatante leuens is aan die orde van die dag. Wat Bettina self betref; ek sou heel verbaas wees as haar artikel hieroor ANDERS daaruit gesien het en het begrip vir haar kommer ALHOEWEL die grootste gedeelte daarvan dalk op persepsies gebaseer is - nie gebalanseerde objektiewe analise van die groter prentjie nie en wat OOK nie President Obama se betrokkenheid hierin onder die soeklig plaas nie.
    Bettina is gevolglik subjektief (ons almal is) en selfs 'n bietjie moedswillig met die "feite" waarna sy verwys. Punt is dat Trump uitvoer presies wat hy ten tye van die verkiesing beloof het. Toe was die media die standpunt toegedaan dat dit "cheap shots" van Trump is en dat hy niks of min hiervan tot uitvoer sal bring ... "Hy wil net goedkoop stemme hê," is toe gesê.
    En dis presies waar die anti-Trump-brigade die pot toe heeltemal mis gesit het. Trump is duidelik nie 'n Obama nie; hy doen wat hy beloof het en is verseker nie iemand met baie retoriek en mooi praatjies maar geen substansie nie ... Mens het so baie van Obama verwag maar wat 'n teleurstelling, 'n man wat die Nobelprys vir vrede ontvang het terwyl hy waarskynlik die President is wat die meeste bomme van enige President op ander lande laat gooi het ... tienduisendes van hulle. Om oor al die martelingsprogramme en optredes wat onder sy bewind plaasgevind het, nie eers te praat nie!
    En terwyl mens sou dink dat dit juis die verloorders (wat op die "tag" liberaal aanspraak maak) is/sou wees wat die demokrasie sal respekteer, is dit toe na die Amerikaanse verkiesing met Mnr Trump as President, nie die geval nie. Protesoptogte (baie gewelddadig) is aan die orde van die dag waarvan talle deur die miljardêr, Soros, gefinansier word. CNN en ander TV-netwerke saam met die gedrukte media span heeltyds saam met oordrewe verdagmakery en het hulle in die proses inderdaad, in baie gevalle, as "FAKE NEWS" gevestig. Verbasend is dat mense dit nou eers begin agterkom - gaan kyk net na CNN en die wêreldmedia se ellelang lys van leuens oor Rusland, veral in die laaste dekade!
    Dit alles gesê, Trump is verseker soos 'n missiel wat se gelei-stelsel buite werking is. Hy kan enige kant toe gaan. Die man is egosentries met baie sterk narsistiese eienskappe. Van sy optredes en manier van dinge doen is onkonvensioneel maar nie noodwendig alles "verkeerd" nie terwyl dit in ander gevalle wel die potensiaal van ernstige konflik inhou. Om byvoorbeeld die Israeliese ambassade na Jerusalem te wil verskuif is kwaadwillig en kan tot 'n verdere meer volskaalse "oorlog" met die Palestyne aanleiding gee, iets wat waaragtig nie bekostig kan word nie.
    Bettina se groot betoog gaan daaroor dat Trump se reis-verbod op 7 lande 'n stryd teen Moslems per se is (en daar is baie mense wat dit wel so sien) MAAR wat sy nie sê nie is dat dit juis die heer Obama was wat aanvanklik die gemelde verbod op hierdie 7 lande ingestel het. En Obama het dit gedoen nadat dit aan die lig gekom het dat daar ALREEDS deur die Pentagon in 2002 (na "9/11") besluit is om hierdie 7 lande te destabiliseer en hul regerings omver te werp. 'n Voormalige Amerikaanse Generaal en Kommandeur van Navo (Genl Wesley Clarke) het hierdie skokkende inligting ("whistelblow" aksie) bekend gemaak. Ek's bevrees Bettina is dus nie heeltemal reg as sy sê dat Trump se verbod spesifiek teen die Moslemgeloof gemik is nie. Die 5 lande met die grootste Moslembevolkings is Indonesië, Pakistan, Indië, Bangladesh en Nigerië. Nie 'n enkele Moslem uit hierdie lande word verbied om Amerika binne te gaan nie! Kan dit dus werklik 'n "Moslemverbod" wees?
    Wat is die feite? Die 7 lande wat wel verbied word (EN AANVANKLIK DEUR OBAMA GELYS is, NIE Trump nie!) is lande wat deur Amerika se intelligensieverslae uitgewys is as die lande wie se burgers aan terreurdade gekoppel kan word! Om die waarheid te sê Obama het in 2011 sy Irakese vlugtelingsprogram na Amerika gestop en Irakese vir 6 maande verbied om Amerika binne te kom - dubbeld so lank as Trump! Trump egter wil dit doen vir 3-4 maande en sy verweer is dat dit daaroor gaan om probleme uit te sorteer en 'n nuwe beleid teen terreur te finaliseer. Ek wil my nie oor die meriete al dan nie van die verbod self uitspreek nie omdat ek bloot die argument wil maak dat na die geheelprentjie gekyk moet word en nie los en vas allerlei beskuldigings gemaak moet word nie. Skynheiligheid, valse propaganda en gevaarlike leuens vier hoogty in die tyd waarin ons leef en wat in spesifieke gevalle tot baie ernstige misdrywe aanleiding kan gee! Mense wat nie ingelig is nie en bloot alles vir soetkoek verorber wat deur die hoofstroom media aan hulle opgedis word, is slagoffers hiervan en word elke dag net verder en verder op sleeptou geneem.
    Die tragedie lê in die feit dat ten tye van Obama se bewind nooit in 'n negatiewe lig na hierdie verbod van Moslemlande verwys is nie. Inteendeel, dis deur CNN en andere aangebied as "in Amerika se belang ten einde die veiligheid van sy burgers te verseker ..." Gevolglik was daar geen protes of optogte soos dit nou die geval is nie. Hoe lank gaan daar nog 'n leuen geleef word!? Meer nog, wanneer gaan die gewone man op straat besef dat die hoofstroommedia hul eie agenda het en spesifieke belange dien. Die oorloë in Irak, Yemen, Sirië, Libië en andere het alles te make met Amerika se "Regime Change" beleid. Amerika soek "Puppets" wat alles doen wat hulle gesê word om te doen. Indien nie gehoor gegee word nie, spring Amerika militêr in en miljoene onskuldige mense sterf in die proses. So word die wêreld 'n al hoe meer onveilige plek! President Obama is selfs op rekord dat dit juis hierdie beleid en optrede van Amerika was wat aanleiding tot die stigting van ISIS gegee het. Nooit, maar nooit het die hoofstroom media uit hul pad gegaan om mense hieroor in te lig nie.
    Die tyd sal leer tot welke mate Donald Trump suksesvol was. As ek my sin kon kry, sou ek Bernie Sanders as President wou sien maar Hillary en haar mense het saamgesweer om hom verdag te maak en sodoende is Amerika en die wêreld van 'n leier beroof wat werklik een van die "mense" self is en wie se belange hy altyd voorop stel.

    • Braam van Deventer

      Baie dankie vir die gebalanseerde opinie.
      Soos jy tereg uitwys is die hoofstroommedia uiters gefrustreerd met Donald Trump. Doen nie wat hulle sê nie.
      Obama, wat kan 'n mens sê: " Dankie Vader dis verby." Lat my dink aan ons eie Piet Promises 🙂

  • Baie goed beskryf, Bettina!!

    Wat erg kommerwekkend is, is die feit dat sy top-raadgewer, Steve Bannon, 'n self-erkende Neo-Nazi is, wat op rekord is dat hy (Bannon) vir Trump as 'n "useful idoit" beskou.

    HKGK ...

  • Braam van Deventer

    Ag nee wat om Donald Trump met Adolf Hitler te vergeleik ken jy waarskynlik nie die geskiedenis van Duitsland voor die Tweede Wêreldoorlog nie. 'n Amerikaanse President se magte is werklik beperk en kan slegs doen wat die Kongres en Senaat hom toe laat. Jou argumente is fiksie. Donald Trump kom sy verkiesingsbeloftes na. Niks nuuts aan wat hy doen nie. Hy is verkies in 'n demokratiese proses. Deur die Deplorables! Aanvaar dit is die Amerika van 2017.

  • Marietjie Luyt

    Dankie, Bettina, dat jy die saak so helder en duidelik stel.

    Die teenwoordigheid van die nihilistiese Steve Bannon aan Trump se sy is uiters kommerwekkend. Bannon, voorheen van Breitbart-nuus, is volgens sommige berigte die eintlike mag agter die troon. Hy het Trump se inhuldigingstoespraak geskryf. Hy woon deesdae nou ook al die vergaderings van die Amerikaanse Veiligheidsraad by, terwyl die hoof van die intelligensiedienste en weermag daarvan uitgesluit is - iets ongehoords.

    Lees hier vir 'n paar skrikwekkende aanhalings deur Die Vrye Wêreld se Nuwe Leiers:
    http://www.gq.com/story/steve-bannon-shadow-president

    Die hemel help ons.

  • antjie van zyl

    Uitstekende rubriek, maar spel tog net Mexico korrek - dis nie Meksiko nie, so min as wat Putin Poetin of Zuma Soema is ...

  • Alice Hendriks-Boshoff

    Uitstekend en nugter. Die Suid-Afrikaanse regering het vanaf 1948 dieselfde pad begin loop, met pynlike en skandelike gevolge. 'n Mens het, ná die bloedlose rewolusie gehoop dat alle partye iets uit die geskiedenis sou geleer het. Nou wil 'n minderheid van die Suid-Afrikaanse minderheid, weer eens 'n soort Hitler aanhang. Wanneer leer die mensdom ooit?

  • Dorothy C. Venter

    Miskien moet die kritiek 'n woordverplasing ondergaan: Vervang Trump met Zuma en die VSA met RSA! Kyk liewer só intens en kundig na wat hier aangaan en laat die Amerikaners 'n keer hulle eie "Trump-heil" uitwerk!

  • Vir ʼn persoon met ʼn ver-linkse denkwyse is almal wat nie links is nie Hitler.Trump bou mure en brûe, daar is niks wat sê jy kan nie al twee doen nie.

  • Bettina jy is behoorlik op sleeptou geneem deur die liberale hoofstroommedia en sing lustig saam in die koor van "Trump Bashers" wat ook nie 'n geleentheid laat verbygaan om Trump voortydig verdag te maak nie. Jul gaan binnekort spyt wees daaroor dat jul so bevooroordeeld was. Die hondsdolagtige manier waarop die hoofstroommedia, wat deur 'n paar ryk individue beheer word, uit hul pad gaan om met "fake news" vir Trump te beswadder is besig om in hul gesigte te ontplof - vra maar vir CNN - hul is besig met 'n proses van selfvernietiging. As die media in SA so vyandig teenoor Trump is, verwag hulle seker ook nie gunsies en gawes van die president van die land met die grootste ekonomie in die wêreld nie. Die emosiebelaaide beswaddering verdring die logiese kritiek op Trump en doen mense soos julle se oordeelsvermoë en reputasie baie skade aan. Om op hierdie vroeë stadium vir Trump met Hitler of Zuma te vergelyk is verregaande en verraai 'n verskuilde agenda - aarde mens die arme man is maar 'n week in die stoel. Het jy byvoorbeeld enige kritiek gelewer teen Obama nadat hy 5 van daardie 7 Moslem-lande met bomme bestook het of teen Hilary Clinton nadat sy as senator in 2006 ten gunste van die Secure Fence Act (waar die bou van 'n skeiding tussen Mexiko en Amerika goedgekeur is) in die Senaat gestem het. Jammer Bettina jou linkse liberale onderrok hang lelik uit. Aanvaar nou die uitslag van 'n vrye en regverdige verkiesing en gee die man 'n billike kans. Of verdra julle liberaliste nie botsende opinies en die wil van die meerderheid nie?

  • Antjie van Zyl, volgens die AWS - die enigste amptelike spelmaatstaf in Afrikaans - is dit Meksiko of Mexiko en beslis nie Mexico nie.

  • Van die kommentaar hier gelees kan mens duidelik die verskil sien tussen links (erg liberaal en uiters bang) en die meer progressiewe regs (regte) denkers. Aan GOD Al Die Eer ... Hopenlik maak Mr Trump nog baie meer konstante goeie besluite ... die wêreld het meer leiers soos die "POTUS" nodig en daar mag dalk net ’n bietjie meer hoop vir ons almal wees.

  • Die poging om Trump met Hitler te vergelyk is 'cheap' en 'common'. Dis moerse deursigtig van iemand wat nie 'n antwoord het vir die groeiende gatvolheid wat mense beleef vir die verval in 'n nêrensgaande liberalistiese hel van modder en kak nie. Wend eerder jou pogings tot 'n daadwerklike werkbare alternatief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top