Behoefte aan ’n geloofwaardige en "capable" staat

  • 1

Jason Lloyd (foto: verskaf)

Die regering se onbeholpenheid en weiering om na meer stemme as net die mediese perspektief te luister in die hantering van COVID-19 is ’n bewys dat ons meer bekwame politici nodig het om ’n "capable" staat te bou.

Sedert Vrydag 1 Mei heers daar ’n ongekende teenwoordigheid van mense op strate, in supermarkte in stede, in strate in klein dorpies, in townships, in villages en in ander dele regoor die land. Die staat van inperking is verby – nevermind vlak 4. Al dink die ANC-regering hulle is nog in beheer.

Niemand sal die mense meer kan stop nie. Nie Cyril Ramaphosa se onprofessionele polisiemag nie. Nie die 73 000 halfopgeleide soldate wat veronderstel is om te skiet, skop en donder nie. Nie eens die waarskuwing deur Ouma Zuma (in politieke terme verwys ons na haar as NDZ omdat sy ons aan haar glibberige man herinner) dat na vlak 5 teruggekeer kan word indien die mense hul nie gedra nie en die regulasies nie gehoorsaam nie.

Nog tot voor NDZ se skooljuffrouagtige optrede waartydens sy haar baas, Ramaphosa, gerepudieer het oor sigaret-en tabakprodukverkope het die President die golf van politieke kapitaal gery.

Ek was nog altyd skepties oor Ramaphosa weens die ANC se mislukte makro-ekonomiese filosofie sedert 1994 wat gebaseer was op ’n neoliberale ekonomie waardeur hulle arm mense vernietig en die historiese bevoorregtes bevoorreg. Ek was egter bereid om hom ’n kans te gee, maar hy het duidelik misluk om die Suid-Afrikaanse ekonomie tot groei te stimuleer. Dit ten spyte van die feit dat hy sy presidentskap op ’n ekonomiese oplewing gebou het.

Trouens, Ramaphosa se ekonomiese planne het voor COVID-19 misluk, omdat hy nie ’n ruggraat het om ongewilde besluite te neem nie. Ons twyfel ook in sy nuutgevonde planne vir strukturele ekonomiese veranderings.

Ramaphosa se party kan egter nie gered word van korrupsie en onbevoegdheid nie. Die land is bankrot en leeggesteel, en meer as 40 miljoen uit 58 miljoen mense leef onder die broodlyn. Na raming gaan 18 miljoen mense teen September werkloos wees. Dit is tragies, want geen mens kan ’n waardige bestaan sonder ’n werk beleef nie. Boonop kan Ramaphosa nie sy vyf mees onbevoegde ministers beheer nie, wat te sê nog om die ANC te moderniseer tot ’n volwaardige moderne politieke party. ’n Moderne ANC wat in staat sal wees om ’n moderne ekonomie te skep, te bou en te onderhou.

Intussen het die regering se hardhandige handhawing van hul drakoniese inperkingsreëls tot gepaste internasionale kritiek gelei. Die Verenigde Nasies (VN) het met goeie rede die regering gekritiseer en gewaarsku omdat hy sy eie burgers intimideer, handhandig hanteer en doodmaak. Hier dink ons aan die weermag se wreedagtige moord op Collins Khoza van Alexandria buite Johannesburg terwyl hy heel wettiglik op sy werf gedrink het.

Wat nog pla, is die feit dat die weermag nie opgelei is in skare- en onlustebeheer nie. So hoe gaan hulle die verwagte onluste en plundering van kos-en drankwinkels weens die armes van die armstes se honger kan beheer? Om ’n polisiestaat in te skiet, in te skop en in te donder?

Intussen blyk dit: Suid-Afrika het oorreageer. Dis nie COVIC-19 wat die ekonomie en miljoene werkgeleenthede vernietig nie. Dis Ramaphosa en sy onbevoegde regering se vrees wat ons tot in kroniese armoede en ellende gaan dompel.

Die regering luister net na een perspektief: die mediese perspektief. Hulle luister nie na ander stemme nie. Dit ten spyte van Prof Abdool Karim se kundige uitspraak dat die inperktyd sy doel gedien het omdat dit vir die land tyd gekoop het om die onafwendbare piek in September/Oktober te kan hanteer.

Die inperktyd van vyf weke moes na die eerste drie weke geleidelik verslap gewees het om ekonomiese aktiwiteite aan die gang te kry. Ons moes nou al by vlak twee getrek het, maar nee: die oorheersing van die mediese faktore kom duidelik in Ramaphosa se ombevoegste ministers se sienings uit.

Die getal infeksies wat in elk geval gaan styg as gevolg van beter toetsing nadat die regering tot op hede daarin gefaal het, blyk in elk geval die enigste maatstaf te wees. As dit die geval gaan wees gaan ons seker tot aan die einde van die jaar in ’n staat van inperking leef en dus nooit nou volle ekonomiese aktiwiteite gaan hê nie. Dit sal Suid-Afrika ekonomies vernietig en die lewe vir die meerderheid hier op aarde hel maak. Dit terwyl die ANC se swart elite wat stinkryk geword het uit BBB-EE, korrupsie en staatskaping en die wit historiese bevoorregtes (wie se rykdom sedert 1994 verdriedubbel het en ook by staatskaping gebaat het) in uitspattige weelde gaan baljaar.

Die Stellenbosse ekonoom Johan Fourie maak ’n geldige punt in Die Burger as hy ook vra dat die regering na meer stemme as net die mediese perspektief moet luister. Hy skryf daar is 'n legio vakdissiplines wat waardevolle insette kan en moet lewer om pandemieprobleme die hoof te bied.

"Ekonome met hul makro-modelle, filosowe met hul verstaan van etiek, wiskundiges met netwerk-analises, data wetenskaplikes met masjien-leer, historici met hul lesse uit die verlede, en ingenieurs wat ons help om nuwe tegnologie te ontwikkel".

Die medici en natuurlik Ramaphosa se onbevoegde ministers saai histerie met hul eensydige maatstaf van sterfgevalle en besmettings wat hulle elke dag aankondig. "Wat ons nie meet nie", skryf Fourie, "is die hoeveelheid sterfgevalle weens hongersnood of maatskaplike onrus. Ons moet na meer vakdissiplines luister dan sal ons ingeligte en korrekte besluite neem."

Dit blyk ons het bekwame politici en spesifiek kabinetsministers nodig om na meer stemme te luister om ingeligte en korrekte besluite te neem om sodoende ’n "capable" staat te bou.

Suid-Afrika en spesifiek die regerende party het ou en moeë politieke leiers. Hulle het ’n gemiddelde ouderdom van 60 en blyk op die oog af afgeleef te wees sonder enige energie om dienslewering teweeg te bring en om die lewenstandaarde van arm mense te verbeter. Hoe anders dan want ons word daagliks getrotseer met TV-beelde uit die parlement waar kabinetsministers en senior parlementslede sit en slaap.

Die vraag is hoe spreek ons die probleem aan want die land word ten gronde regeer deur kabinetsministers en parlementslede wat nie oor leierskapsvaardighede en genoegsame akademiese kwalifikasies beskik nie.

Idees word nie meer vooropgestel nie en sodoende word die intellektuele genepoel in politieke partye en ook in gemeenskappe uitgeput. Die dieper vertolking of intellektuele begronding van begrippe vervaag of bestaan glad nie meer nie.

In Suid-Afrika het die vooropstelling van die ekonomie ontaard in die genadelose najaag van hulpbronne en die plundering van die staatskas. Die direkte oorsaak daarvan is roekelose jeugdige populisme en die uitkalwe van ’n broodnodige intellektuele klas.

Die opbloei van populisme en die kwyning van intellektualisme in die ANC en DA is kommewerkend.

Dink aan die ANC se nasionale kongres in Polokwane in 2007 waar die ekonoom en intellektueel Thabo Mbeki deur die halfgeskoolde Jacob Zuma onseremonieel as president van dié regerende party uitgeboender is.

Dink ook aan die DA federale kongres in Port Elizabeth in 2015 waar die jong, onervare Mmusi Maimane ten koste van die gesoute intellektueel dr. Wilmot James tot leier verkies is.

Die DA het toe alles – leierskapsvaardighede, hul "klassieke" of "neo" liberale idees en intellektuele vermoëns – omvergegooi net om saam met die ANC op die "middellinkse" punt van die politiek te kan konkurreer.

Dit was nie net kortsigtig nie, maar opportunisties. Dit was om meer swart stemme te trek om verkiesings te kon wen, sonder om diepdenkend oor die uitdagings en die toekoms van die land te wees.

Ons weet nou dit was politieke selfmoord in die ergste graad en James was ongelukkig die slagoffer daarvan. Die politieke pad waarop die DA hom toe op begewe het, was nie volhoubaar nie en daarom was disintegrasie dus onafwendbaar.

Waar is die intellektueles in die ANC wat histories indringende vrae gevra het en rigting in dié party en land gegee het?

Hierdie intellektuele verval sonder sterk leierskapsvaardighede verwoes Suid-Afrika. Die land se toekoms kan nie op onbekwame en korrupte kabinetsministers en parlementslede wat nie na vele kundige-stemme luister nie geskoei word nie.

Die behoefte vir ’n geloofwaardige en "capable" staat is spoedeisend.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Verskilmaker Vlakvark

    Goed deurdagte artikel. Dankie.
    Suid-Afrika is nie ryp vir ‘n “demokrasie” nie, wat demokrasie ookal beteken.

    Die massas stemvee moet opgevoed word om kandidate voor tel stel wat primêr die belange van alle Suid-Afrikaners en Suid-Afrika en die bewaring van die omgewing voorop stel. Die massas stemvee moet opgevoed word om te stem vir die kandidaat, ongeag geslag, etnisiteit en afkoms, wat die belange van al Suid-Afrika se inwoners en die omgewing voorop stel.

    Daar moet wetgewing wees wat die koop en omkoop van stemme verbied. Partye moet verbied word om te adverteer. Geen party moet belastingbetalersgeld of skenkings ontvang nie. Tyd dat die politieke slawerny bevry word. Kiesers moet vir kandidate stem en nie partye nie. Hiersonder is demokrasie ‘n drogbeeld. Amen.

    So, begin by opvoedig. Die alternatief is toenemende werkloosheid, armoede, hongerte, sosialie onrus, korrupsie en uiteindelike revolusie en ‘n mislukte staat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top