Battle of the sexes: ’n filmresensie

  • 0

Battle of the sexes

Regie: Jonathan Dayton en Valerie Faris

Draaiboek: Simon Beaufoy

Spelers: Emma Stone, Steve Carell, Andrea Riseborough, Bill Pullman, Elizabeth Shue, Martha MacIsaac

Een van die belangrikste ontwikkelings van 2017 was die #MeToo-beweging toe vroue in Hollywood begin uitpraat het teen seksuele teistering in die rolprentbedryf. Hierdie puik film oor die epiese tenniswedstryd tussen die Wimbledon-kampioen Billie Jean King en voormalige nommereenspeler Bobby Riggs draai die horlosie terug na 1973 – en ’n mens se mond hang behoorlik oop oor die soort seksisme wat veertig jaar gelede die aanvaarde norm was.

Die film open met King (sensitief vertolk deur Emma Stone) en haar agent (Martha MacIsaac) wat ’n boikot deur ’n span Amerikaanse vrouespelers lei om te protesteer teen ongelyke betaling (agt keer minder as dié van manlike spelers) deur hul eie borg te kry, Virginia Slims-sigarette (rook was toe nog net so aanvaarbaar soos seksisme). Tydens ’n toernooi ontmoet King die seksueel bevryde Marilyn Barnett (Andrea Riseborough) en ’n verhouding ontwikkel tussen hulle waaroor King as getroude vrou uiters skuldig voel, om nie te praat van die vrees vir skade aan haar reputasie as dit sou uitlek nie.

Riggs (’n stewige vertolking deur Steve Carell) worstel met sy eie probleme: weens sy kompulsiewe dobbelgewoonte speel hy die lafste moontlike tenniswedstryde om geld in die hande te kry. Te midde van die 1970’s se feministiese beweging sien hy die perfekte kans vir ’n Man vs Woman-wedstryd – hy spog dat selfs ’n 55-jarige gewese manlike kampioen die huidige topvrouespelers soos die 29-jarige King kan klop.

Wat vir elkeen van hulle op die spel is, word netjies opgesom deur die film se lokreël: “He made a bet. She made history”. Hul tweestryd hou die rekord vir die grootste TV-gehoor nóg vir ’n sportgebeurtenis: ’n beraamde 50 miljoen kykers in Amerika en 90 miljoen in 37 ander lande.

Hierdie fliek word hoog aanbeveel vir alle kykers, veral omdat dit wys hoe ver ons tog al gevorder het in die stryd om gelyke regte vir vroue.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top