Basjan se flessie vir depressie deur Joe Kleinhans: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Basjan se flessie vir depressie
Skrywer: Joe Kleinhans
Uitgewer: Naledi
Lesersindruk: Carla van der Spuy

Joe Kleinhans het een van my slypskole vir skrywers bygewoon, terwyl hy al lankal self reeds ’n gesoute draaiboekskrywer van radiodramas en TV-reekse was. Hy was ook verskeie kere ’n finalis vir radiodrama-skryfkompetisies.

Hy het hierdie boek aan my oorhandig en was dit nou ’n plesierige geskenk!

Oordeelsfout flessie vir depressie was aanvanklik in 2012 ’n radiovervolgverhaal wat deur Joanie Combrinck opgevoer is.

Joe is uit die aard van die saak uitmuntend met dialoog en het dus nie probleme met die gewraakte “show don’t tell”-fenomeen wat so dikwels te veel in die skryfkuns voorkom nie.

Hierdie roman word as “skerp deernisvol” en “donker-humoristies” beskryf en gaan oor manwees, gemeenskap, morele leuses en die dun lyn tussen omgee en inmeng, asook naasteliefde wat dalk net-net die grense oorskry.

Geheime, skuldgevoelens en goeie bedoelings wat skeefloop, word alles hier ingespan.

En as dinge te erg begin raak, gryp Basjan maar na sy vertroude flessie vir depressie.

As die eg plattelandse karakters oorbetrokke by hul medemens se wel en wee raak, begin die poppe dans.

Joe Kleinhans (Foto: Joanne Kleinhans)

Ek het veral Joe se oortuigende dialoog geniet en die wyse waarop hy dinge beskryf, soos die “Skotse moedersmelk”-voggies. “Elke huis het sy kruis, ’n skelet onder die bed.” Hy verwys na menopouse as “ooievaarsrus” en na indut as “sluimerslaap”.

Self kinderloos, het Basjan se karakter beslis ’n vaderlike kant aan hom. So hou hy net mooi niks van die vryers wat by die buurman se dogter, Rosie, aanlê nie. Hy spring ook nie oor die maan oor die drie orrelpypies wat voortdurend in sy en sy vrou se sorg gelaat word nie. Maar later vermurwe sy hart.

Die karakters is eg en allesbehalwe heiliges. Daar is selfs “moervloeke”. En soos dit vroeër op klein dorpies gegaan het, is die dominee die sentrale figuur wat oor alles en nog wat geraadpleeg moet word en by wie flink oor die naastes geklik word.

Daar is ’n hele paar storielyne wat in die verhaal verweef word en dan volg die alleronverwagse wendings.

Daar is skreeusnaakse oomblikke en dan weer ander wat jou hartsnare roer. Maar oor die algemeen is dit vermaaklike leesstof – veral onder ’n duvet en met ’n warmwatersak in die winter.

Koop dit gerus as jy van Rudie van Rensburg se Hans-reeks hou. Joe se informele skryfstyl en fyn mensekennis herinner mens nogal aan sy werk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top