’n Vars nuwe driestuk-orkes genaamd Bark maak reeds groot golwe met die paar snitte wat hulle al aanlyn bekendgestel het. Emile Swiegers, voorheen lid van Die Tuindwergies en nou voorman van Bark, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Emile. Hoe's dinge?
Hi man, ek kan nie kla nie. Dankie dat jy die moeite doen om hierdie onderhoud met my te voer.
Bark het nou al drie snitte aanlyn vrygestel: "Imagination", "Wouldn't want it any other way" en "Rising Sun". Hoe is die reaksie daarop tot dusver, en in hoe ’n mate is die tunes wat reeds vrygestel is, ’n soort rigtingaanduider van dit wat die band beplan om vry te stel in die komende tye? Of vind julle, as nuwe band, nog julle voete in terme van ’n vaste styl en aanslag?
Die klank van ons eerste drie vrystellings is die begin van Bark se reis as ’n groep. Ons kyk nie terug nie, ons beweeg vorentoe. Daar is ’n belangrike balans om te hou tussen die verskillende fasette van musiek maak. Om geïnspireerd te bly moet mens aanhou groei. So ek glo elke bekendstelling wat in die toekoms sal gebeur, behoort ons musikale en persoonlike groei te toon. Ons kry baie goeie terugvoer van die ouer garde en die jonger mense wat hou van rock en/of real musiek. Ek weet dat die grootste uitdaging vir ’n band soos ons is om die populêre luisteraars ook aan ons kant te kry sonder om ons identiteit te verloor.
Die songs het ’n besonder sterk melodic rock-inslag (met elektroniese elemente hier en daar) – nie net in terme van die deuntjies nie, maar dit klink ook of elke instrument se werk netjies beplan en uitgevoer is (en dat almal besonder goed saamwerk). Die genre is natuurlik nie ’n maklike een om in "uit te staan" nie, maar julle het ook baie ervaring en ook ’n band-lid wat juis komposisie studeer. Watter soort invloed het dit op jul skryfproses? Hoe werk jul skryfproses in die algemeen, en wat dink jy werk die sterkste in jul guns in daardie opsig?
Op die oomblik skryf ek die songs en dan verwerk ons dit as ’n groep saam. Ek neem wel tydens die skryfproses in gedagte dat ons dit as ’n “three-piece band” lewend gaan speel. Ek hou van hierdie aanslag, omdat ek lekker op my eie sit en werk. Dan bring ek wat ek het na die ander ouens toe, waar hulle dadelik ’n duidelike prentjie vir hulself kan skep oor waarheen die song beweeg.
Jy en julle tromspeler, Jean, was lede van Die Tuindwergies, wat onlangs die instrumente opgehang het. Waarom het dié groep besluit om halt te roep? Hoe verskil die skryf- en optree-ervaring vir jou in Bark vergeleke met Die Tuindwergies? In die eerste plek is dit natuurlik ’n Engelse band – vind jy ’n mens moet ’n ander soort strategie in Engels as in Afrikaans volg om golwe te maak?
Die Dwerge was ’n goeie leerskool, van A tot Z. Grootliks omdat ons die boot self bestuur het. Die gemeenskaplike gevoel onder die lede is dat dit ’n fase was, en dit word bedoel met die beste betekenis van die woord. Ek dink ook dat ons naby aan die groep se volle potensiaal was toe ons die besluit geneem het om op te hou. As ’n kunstenaar en as ’n musikant voel ek op die oomblik dat Bark die volgende stap is vir ons, ongeag die taal. Engels is ’n groter mark (nie noodwendig in Suid-Afrika nie) en heel waarskynlik ’n moeiliker een, maar dit is waarvoor ons op die oomblik lus is en kans sien.
Die strategie om snitte geleidelik aanlyn vry te stel – versus die meer tradisionele album-vir-album-bekendstelling – is altyd interessant. Waarom het julle besluit om eerder die eersgenoemde roete te vat? Hoe werk dit beter vir julle, en wat is in die algemeen die "beter" manier om dit te benader, of verskil dit maar van band tot band?
Ons het dit goedgedink om enkelsnitte vry te stel om verskeie redes. Dit was aanvanklik ’n toetslopie vir ons in die studio en vir die luisteraars by die huis. Ook omdat ons geen illusies het oor wie eintlik CD’s verkoop in Suid-Afrika nie. Ek dink nie daar is ’n “beter” manier nie, wel eerder dat die situasie waarin die band hom bevind, bepalend is. Soos wat ek vroeër genoem het, is daar reeds planne vir ’n vollengte-album.
Terug by die tunes: julle is ’n three-piece band, wat natuurlik in baie opsigte bevrydend maar ook beperkend kan wees in terme van kapasiteite met live optredes. Het julle oorweeg om uit te brei in hierdie opsig, of wat is die voordele en nadele van aanhou funksioneer as ’n three-piece?
Wel, op die oomblik is dit ideaal vir praktiese doeleindes – ons almal pas in een kar, asook ons toerusting. Die ander voordeel is dat mens in Suid-Afrika meestal "line-up gigs" speel en dit beteken dat jy 15 minute vir ’n klanktoets het. In daardie opsig werk drie lede beter as ses. Ons is een van die dae in die studio, waar ons addisionele instrumentasie wil byvoeg op die vollengte-album, waar ons daarna sal besluit oor hoe ons dit by die optredes sal vertolk.
Jy self komponeer ook solo-kitaarstukke. Wanneer, as jy sit en skryf, voel jy ’n sekere rif of progression moet as solokitaarstuk bly, en wanneer voel jy hierdie kort lirieke en nog instrumente? Hoe balanseer jy die twee loopbane (solo vs Bark) met mekaar, en watter verskillende soorte genot put jy uit die verskillende projekte? Is daar nog geheime projekte waarvan ons nie weet nie?
Ek werk op instink. Meestal weet ek met watter kreatiewe bron ek te doen het. Partykeer oorvleuel die twee met mekaar, wat nou al hoe meer gebeur. Ek hou van sommige flieks se klankbane, asook sekere solo-kitaarspelers, en dan aan die ander kant is ek net so mal oor groot rock shows, goeie bands en singer-songwriters. Ek probeer soveel as moontlik fokus op die groter prentjie en om elke styl met oorgawe te speel. Op hierdie stadium is my hoofprioriteite my eie projekte. Ek help hier en daar ander kunstenaars uit met kitaarwerk en so aan, maar dit is nie regtig waar ek myself sien oor tien jaar nie.
As ek dit nie mis het nie, is jou pa die bekende sanger/liedjieskrywer André Swiegers. In ’n onderhoud het hy vir LitNet gesê hy geniet dit geweldig dat sy seuns ook musiekmaak nastreef, en dat hy saam met julle kan jam. Het jy ooit enige mate van druk ervaar om musiekmaak ’n groot element van jou lewe te maak? Of hoe ervaar jy daardie verhouding? Hoe het dit jou musiekloopbaan beïnvloed?
Ek sou nie sê ek het druk ervaar nie; ek was eerder gemotiveer deur die kwaliteit lewe wat musiek vir jou kan bied. Byvoorbeeld om jouself te leer ken, om jou eie skedule te bepaal en om te toer. Daar is natuurlik ook dan meer onsekerheid en minder standvastigheid wat daarmee gepaard gaan, sou jy dit met die gewone agt-tot-vyf vergelyk. Dit hang van die individu af om dit te maak werk. So op die ou einde dink ek my pa het my touwys gemaak oor hoe die lewe werk, nie net as ’n musikant nie, maar ook as ’n mens.
As musikant het jy al op ’n swetterjoel plekke opgetree ... Enige gunstelinge? Enige staaltjies wat jy wil oordra, of vertel van plekke waar jy nie sommer weer sal wil optree nie? Wat is daardie agter-die-skerms-kwessies?
Ons is nou juis amper op pad na die STRAB-musiekfees. Dit is in Mosambiek en ek maak ’n punt daarvan om dit elke jaar te speel. Daar is altyd stories om huis toe te bring van daardie paar dae, party beter as ander. My broer Jean het laasjaar in die vuur beland met sy hand, ’n dag voor ons show! Uiteindelik het ek toe ’n paar akoestiese songs gedoen, ’n paar songs later het Franco ingeklim op die baskitaar, toe klim my broer vir die laaste twee songs op die verhoog (en speel) met een arm en die mense het dit verskriklik geniet. En ja, daar is vir seker plekke wat my nie weer sal sien nie, maar ek is nie lus om kwaaivriende te maak nie!
Wat hou die toekoms in vir Bark, en vir jou as solomusikant?
Ons beplan om teen Julie/Augustus ons debuutalbum vry te stel. Ons mik ook om een of twee van die elf songs wat op die album beskikbaar gaan wees, bietjie meer kommersieel aantreklik te maak, sodat ons radiospeeltyd kan kry, maar om steeds ons rouer stempel daarop af te druk. Op die ou ent luister die meeste mense musiek in hul karre. Ek werk ook aan die beplanning vir ’n solo-album en het alreeds materiaal bymekaar gemaak, maar ek sal eers daarmee begin ná die groepalbum. Intussen doen ek solo-optredes by klein teaters en plekkies, en Bark speel verskeie feeste en ander groter shows. My langtermynplanne is om die geleenthede wat belowend is, aan te gryp en te maak werk. Ek sal ook graag eendag wil terugkyk en weet dat ek geïnspireerd en produktief was in my jonger dae.
Wat is die sin van die lewe?
Selfverwesenliking.

