Die gesoute sanger en liedjieskrywer André Swiegers beantwoord ’n paar vrae oor sy mees onlangse album, die plaaslike musiekbedryf en sy onlangse stryd met laringitis.
Goeiedag, André. Hoe is alles?
Ek mis die Kaap.

Jou mees onlangse album, Ghost Train, is in 2013 vrygestel. Hoe is dit aanvanklik ontvang en hoe voel jy nou terugskouend oor die album, vergeleke met jou vorige vrystellings?
Die nuwe songs resoneer goed met die gehore. Die resensies lyk goed. Voel goed oor die album. Dalk my beste tot dusver.
Die lirieke op Ghost Train voel of dit gedienstig is aan ou country- en folktradisies van eerlikheid, medemenslikheid en die vra van belangrike vrae. Voel dit vir jou of daar ’n verwagting is dat jy as ’n ouer musikant wyshede moet inwerk in jou lirieke? Hoe voel jy het jou liriekskryfprosesse en -temas oor die jare verander en ontwikkel en gegroei of verander?
Countrymusiek se lirieke is gewoonlik stroperig en sentimenteel. Folkmusiek is poëties/metafories. Hoewel ek soms van ’n country beat gebruik sal maak, bly ek onwillekeurig “getrou” aan die folktradisie. Ghost Train het onlangs op iTunes verskyn – dit word aangedui as “Alternative Folk”. Dis pas my.
Ek skryf nie om aan mense se verwagtinge te voldoen nie – ek kies / skryf oor temas wat vir my belangrik is.
Die wêreld is nie meer waar dit 30 jaar gelede was nie. My gedagtes ook nie. My musiek ook nie.
Die Ghost Train-album bevat hoofsaaklik Engelse snitte (slegs die snit “Armageddon” is Afrikaans). Jy was nog al die jare ’n tweetalige kunstenaar, hoewel meer mense jou moontlik as Afrikaanse sanger ken. Hoe beskou jy jouself in hierdie opsig? In watter taal skryf jy eerder, en in watter taal is dit lekkerder om op te tree? Hoe verskil Afrikaanse en Engelse gehore in jou ervaring?
Die Beatles, Bob Dylan, Cat Stevens, Paul Simon (om ’n paar te noem) het die weg vir my oopgemaak. Afrikaanse kunstenaars, in my jongdae, was beperk tot Gé Korsten, Groep 2, Min Shaw, Gert Potgieter, en enkele ander. Niemand met wie ek kon identifiseer nie. Nie musiekgewys, nie liriekgewys nie. Ek wou musiek maak soos my helde dit gedoen het. Het aanvanklik net in Engels gesing. My vriend Anton Goosen was die eerste Afrikaanse kunstenaar by wie se werk ek kon aanklank vind.
Ek gaan sit selde en besluit of ek iets in Afrikaans of Engels wil skryf. Die basiese idee waaraan ek uiting wil gee – die tema/“hookline” – is bepalend of die liriek in Engels of Afrikaans gaan gebeur.
Baie lief vir Afrikaans, dis my taal – maar het ook ’n sagte plek vir Engels, veral as dit by sing kom. My gehore is grotendeels Afrikaans, maar anderstaliges (Engelse, Duitsers, Belge onder meer) woon ook my vertonings by. Ek sing nie liedjies soos “De la Rey” en “Ons vir jou Suid-Afrika” nie. Ek is nie op die tradisionele kultuurtrip nie. Tydens my optredes praat ek gewoonlik Afrikaans, sing in Afrikaans en in Engels. My aanbieding is eiesoortig, my projeksie universeel. Die meeste mense kry die “boodskap”, al verstaan hulle nie altyd wat ek sê en sing nie.
Iemand wat so lank in die bedryf is soos jy het natuurlik daardie balans om te handhaaf tussen ou treffers en die nuwe liedjies by vertonings – hoe hanteer jy dit en hoe dink jy ontvang gehore die nuwe snitte, vergeleke met die aandrang op die meer bekendes?
Ek probeer om ’n balans te hou, ja. Daar is songs wat ek gereeld tydens optredes sing, soos “Blou” en “Eva”, maar ek maak ’n punt daarvan om my repertoire af te wissel en meer onlangse werke in te sluit.
Op jou Facebook-blad maak jy melding daarvan dat jy onlangs ’n skrik met laringitis gehad het en dat ’n onlangse besoek aan ’n spesialis wat betref die toestand van jou stembande darem goed afgeloop het. Vir ’n sanger is dit sekerlik die grootste vrees, dat die stem sal ingee … Hoe het jy daardie proses ervaar en daardeur gewerk? Voel jy soms dit is tyd om af te skaal, of hoe sien jy die verloop van die kwessie in die tyd wat kom wat betref die gereeldheid, langdurigheid en intensiteit van optredes?
Dit kan mens bekommerd maak. Ek het vir twee maande gesukkel met my stem – met laringitis – kon nie die hoë note sing nie. Op ’n stadium was my stem heeltemal weg. Nie goed vir iemand wat sy stem nodig het om ’n bestaan te maak nie.
Ek lees soms op oor internasionale kunstenaars. Iemand soos Elton John (67) doen steeds 120 optredes ’n jaar. Leonard Cohen het onlangs 80 geword. Robert Plant (Led Zeppelin), Dave Gilmour (Pink Floyd), Paul McCartney (Beatles) – almal ou toppies – en almal nog aktiewe “performers”.
Soos mens ouer word, is dit dalk beter om laer te sing, om onnodige stres op die stembande te vermy. Baie deurwinterde sangers skryf en sing in laer sleutels as vroeër jare. Ek ook. Sekere van my songs sing ek tot twee note laer as toe ek dit opgeneem het.
Dit is nou al welbekend dat jou twee seuns Jean en Emile in die gewilde rockgroep Die Tuindwergies is. Julle tree ook saam op en hulle het tot Ghost Train bygedra. Sommige musikante wat die goeie en slegte kant van die bedryf ken, sal hul kinders afraai om dit te betree. Hoe het jy dit ervaar toe hulle groot treë in musiek begin gee? Watter raad gee jy soms vir hulle, of het die bedryf sodanig verander dat die oueres en die jongeres as’t ware in verskillende wêrelde leef wat dit betref?
Die Tuindwergie-“era” het tot ’n einde gekom – gelukkig op ’n goeie noot. Emile (sanger/kitaarspeler) en Jean (dromme) het ’n nuwe groep saam met Franco Schoeman (baskitaar) begin. Die nuwe groep heet Bark – soos in “blaf”.
As ek my kinders se musiektalent enigsins betwyfel het, het ek hulle reeds lankal afgeraai om voltyds musiek te maak, en sou ek hulle nie genooi het om saam te speel op Ghost Train nie.
Ek het geen behoefte of rede om hul voor te skryf nie. Hulle is vry om te doen wat en soos hulle wil. Die raad wat ek vir hulle gegee het, is om so gou moontlik dikvellig te raak teenoor algemene kritiek.
Die musiekbedryf het heelwat verander sedert die dae toe ek hulle ouderdom was. Dit het baie meer gestruktureerd en mededingend geraak. Dit raak veral die nuwe generasie.
Gepraat van die aard van die bedryf: die digitale revolusie (as ’n mens dit so wil noem), die immer groeiende rol van tegnologie en dies meer verander natuurlik nie net die bedryf nie, maar ook die wyse waarop kunstenaars die skep van musiek benader. Hoe beskou jy die toestand van die plaaslike bedryf op die oomblik? Wat maak jou opgewonde en wat maak jou mismoedig daaromtrent?
Sal interessant wees om te kon weet waar die digitale revolusie gaan eindig.
Daar’s ’n paar dinge wat die “egtheid” van die musiekbedryf affekteer het. Autotune is een van hulle. Dit het in 1997 op die toneel verskyn. Sangers wat nie op die noot kan sing nie, kwalifiseer ook nou as “sangers” danksy hierdie toevoeging.
Die hoofstroommusiek wat die afgelope jare die mark oorheers, is nie om oor opgewonde te raak nie – as mens vanuit ’n “eerlike” hoek daarna kyk. In wese ’n steriele/generiese popklank met oppervlakkige lirieke. Ek dink die probleem is dat daar te veel aandag gegee word aan “artist image” en “studio gimmicks” en “consumerism”, en te min aandag aan goeie kunstenaars, goeie songs en goeie verwerkings.
Daar is steeds goeie musiek in die rondte, maar kanse is skraal om ’n “fair share” daarvan oor Suid-Afrikaanse radiostasies en TV te hoor.
Daar is ’n lang lys musikante wat liedjies wat jy geskryf het, opgeneem en bekend gemaak het. Dis natuurlik geen vreemde verskynsel nie, maar is daar soms ’n punt waarop jy voel jy moes eerder self met van die liedjies geloop het en kyk wat gebeur? Hoe voel dit wanneer jy die eerste keer op die radio ’n liedjie hoor wat jy vir ’n ander kunstenaar geskryf het?
In die begin is dit ’n egovleier om jou song oor die radio te hoor, ongeag wie dit opgeneem het. Maar, soos met alle ander dinge, raak mens gewoond daaraan. Soms hoor ek weergawes van my musiek wat goed klink, soms kan ek hoor dat daar te min tyd en moeite ingesit is. Net nog iets in die mark. Dis jammer.
Soos gemeld, is jy ’n gesoute en ervare musikant. Watter hoogtepunte staan vir jou uit in jou jare se optredes, opnames en toere? En watter gebeure, gesprekke of verwikkelinge sou jy in hierdie verband eerder wil vergeet?
Ek hou van wat ek doen. My loopbaan is ’n hoogtepunt vir my. Om songs te skryf, albums op te neem, optredes te doen. Negatiewes raak klein in hierdie werklikheid.
Wat is die sin van die lewe?
Ek weet nie, maar selfaanvaarding is dalk ’n goeie vertrekpunt.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

