Barcleys L'Atelier-streekwenner 2015 Miné Kleynhans se kunsfilosofie

  • 0

Die Barcleys L'Atelierprys is vanjaar in die kollig omdat dit dertig jaar oud is.

Daar is 102 jong kunstenaars wat as streekwenners in vanjaar se kompetisie gekies is. Miné Kleynhans, een van vier Vrystaatse streekwenners, deel haar kunsfilosofie en sommige van haar kunswerke met Naomi Meyer.


My werke tematiseer dikwels die maniere waarop mitiese en ritualistiese denkwyses deel vorm van alledaagse handelinge. Tans fokus my werk op versekering as ’n kommoditeit en ’n bron van saligheid en persoonlike gerustheid. Ek stel belang in die religieuse vergelyking wat hier getref kan word en die samelewing se emosionele behoeftes ten opsigte van versekeringspraktyke. As ’n beeldhouer maak dikwels gebruik van huishoudelike items, soos die tuinslange in Fountain of Aid, om my werke binne ’n huishoudelike omgewing te plaas. My werke is ook doelbewus dekoratief, juis weens hierdie huishoudelike atmosfeer waarby ek wil aansluit.

Die werk wat vir die Barcleys L’attelier gekies is, Fountain of Aid, verwys na mediese fondse en die simboliek wat daarmee verband hou, naamlik die Cadaseus of Staf of Asclepius. Nightlight (I) ­ondersoek die gebruik waar godsdienstige ikonografie vir ’n soortgelyke funksie van gerusstelling benut word. Die laaste werk, Ms Gis,dateer uit ’n vroeër reeks werke (2012). Ms Gis het as my alter ego of dubbelganger opgetree in ’n fiksionele outobiografiese narratief.

Beeldende kuns is ’n uitbeelding en dus ’n weerspieëling van die werklike, imaginêre, emosionele of sosiale omgewing waarbinne ons ons bevind. Ek glo in die vermoë van kuns om die blik van wie ook al dit aanskou, te rig, nie net na die kunswerk nie, maar terug na die aanskouer en sy omstandighede. Beeldende kuns is dus ’n uitnodiging vir kreatiewe spel en interpretasie.

Miné Kleynhans. 2014. Fountain of Aid. Tuinslang en hout. 140 x 30 x 30 cm.

Miné Kleynhans. 2014. Nightlight (I). Harpuis. 27 x 23 x 18 cm.

Miné Kleynhans. 2012. Ms Gis. Keramiek. 60 x 20 cm.

• Miné Kleynhans was 'n student van wyle Dot Vermeulen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top