
Barack Obama en Darnella Frazier was twee van ses mense wat op Dinsdag 8 Desember deur PEN America vereer is. Frazier is die tienermeisie wat George Floyd se dood verfilm het. Obama? Hy het pas ’n boek geskryf.
PEN America is ’n groot en belangrike deel van PEN Internasionaal, ’n internasionale groep wat taalregte en vryheid van spraak, die pers, die sosiale media en die uitsaaimedia voorstaan.
In Suid-Afrika is daar twee PEN-sentrums: PEN Afrikaans en PEN South Africa.
Aangesien taalregte so belangrik is, gee PEN Internasionaal byvoorbeeld vir PEN Afrikaans geld om Afrikaanse kursusse aan te bied.
Smeltkroes is ’n voorbeeld van ’n Afrikaanse produksie wat deur PEN Internasionaal moontlik gemaak is. Lees meer oor die internasionale beweging hier.
Dinsdagaand, of dan 02:00 Woensdagoggend Suid-Afrikaanse tyd, is PEN America se virtuele seremonie op verskillende kanale uitgesaai. Soos te wagte, het mediavryheid en die waarheid onder die loep gekom.
Darnella Frazier was een van twee mense wat die “PEN/Benenson Courage Award” ontvang het. Die ander een was Marie Yovanovitch, ’n beroepsdiplomaat.

Yovanovitch het vir dertig jaar Republikeine en Demokrate gedien. Sy was die ambassadeur in die Oekraïne toe Donald Trump haar wou laat verwyder. Die sage in al sy glorie is aanlyn te lees, maar van belang was dat Yovanovitch nie onder die administrasie se druk geswig het nie, en volle samewerking gegee het in die ondersoeke wat gevolg het. Daarvoor is sy geloof en die prys is virtueel aan haar oorhandig deur niemand anders as Madeleine Albright nie.

Frazier, die tiener wat Floyd se dood aan die wêreld gebring het, is vereer omdat sy aangehou het om die situasie af te neem, ten spyte van haar eie trauma. Spike Lee het die prys aan haar oorhandig.
Selfone het later die aand weer ter sprake gekom.

Xu Zhiyong is vereer met die “PEN/Barbey Freedom to Write Award”. PEN-sentrums regoor die wêreld monitor geweld teen skrywers en joernaliste. Xu Zhiyong is al ’n geruime tyd in die moeilikheid by die Chinese regering, maar is weer in hegtenis geneem toe hy kritiek gelewer het daarop dat sy regering nie aan die begin van die COVID-19-uitbraak genoeg gedoen het om die wêreld te waarsku dat ’n baie ernstige virus op pad is nie. Hy is steeds in aanhouding en is, volgens berigte, nog nie weer gesien nie. Sy verloofde het die prys namens hom ontvang.

Patti Smith is vereer met die “PEN/Audible Literary Service Award”.

Frank A Bennack Jr is aangewys as die “2020 PEN America Corporate Honoree” vir sy werk as die hoof van Hearst, ’n mediareus.

Toe breek die oomblik aan waarvoor talle gewag het: Die “PEN America Voice of Influence Award” is aan Barack Obama oorhandig op grond van sy nuwe boek, A promised Land.
Ron Chernow het daarna met Obama ’n onderhoud gevoer oor mediavryheid en die waarheid.
Obama het vertel hoe hy as jong senator talle koerantredakteurs besoek het in die konserwatiewe rooi state. Hulle was openlik republikeins in hulle aanslag, maar hulle was ook etiese joernaliste en het Obama ontvang, na hom geluister en sy boodskap aan hulle lesers oorgedra.
Vandag, sê Obama, is die probleem dat fopnuuswebruimtes ewe veel volgelinge as die New York Times het en dat hierdie ruimtes hulle nie aan joernalistieke etiek steur nie.
Die konserwatiewe redakteurs uit sy jong dae was soms openlik teen Obama se ideale gekant, maar hulle het die waarheid nagejaag. Vandag kan almal hulle selfone gebruik om op webruimtes te kuier waar die waarheid nie meer saak maak nie.
Chernow vra Obama toe of ons as ’n samelewing, en ook Amerika as ’n land, nie moet moeite doen om mense op te lei om valshede raak te sien en om die media krities te benader nie. Daarmee was Obama dit eens. Die “fourth estate” wat so ’n belangrike rol in die opbou van die VSA gespeel het, moet weer een van die boustene van jongmense se kritiese denke word. Almal móét krities wees oor wat in die media gebeur, maar om die formele media, wat aan streng vereistes voldoen, gewoon te ignoreer en fopnuusruimtes te volg, dít is problematies. Jonk en oud moet weer joernaliste se rol leer verstaan en dan krities omgaan met diegene wat nie aan die standaarde voldoen nie.
Die aand het dus die selfoon onder die loep gebring: Darnella Frazier het met haar selfoon die waarheid opgeneem en uitgesaai, maar daardie selfoon is ook die poort tot soveel inligting wat nie altyd deur etiese mense bestuur word nie.
Relevansie vir Suid-Afrika
Waarom sou enigiemand, dis nou ek, 02:00 die oggend opstaan om na ’n klomp Amerikaanse pryse te kyk?
PEN America is al byna 100 jaar oud en is een van die grootste en aktiefste PEN-sentrums in die wêreld, maar hulle is ook ’n lid van PEN Internasionaal, waarvan beide PEN Afrikaans en PEN South Africa lede is. Die regte van skrywers, joernaliste en bloggers word daagliks deur hierdie instansies gemonitor.
Wat meer is: Obama was gisteraand daar as skrywer, as boekliefhebber. Sy wysheid en sy insae in die werkinge van die pers en ander media was goed om na te luister.
Vir iemand soos ek, wat betrokke is by een van die kléin PEN-sentrums, is dit lekker om te hoor die grootse PEN America verskil nie soveel van ons nie.
Ons is nie alleen nie.
Die illustrasies in hierdie artikel is skermgrepe wat geneem is tydens die direkte uitsending. Die hele aand is intussen aan die publiek beskikbaar gemaak. Diegene wat belangstel, kan die hele geleentheid hier kyk.
Die volledige transkrip van die gesprek tussen Obama en Chernow is ook beskikbaar. Lees dit hier.
(Belangeverklaring: Izak de Vries is op die bestuur van PEN Afrikaans, maar hierdie bydrae lewer hy in sy persoonlike hoedanigheid.)

