Agter die skerms met Barack Obama se megatreffer

  • 1

Die eerste deel van Barack Obama se memoires, A promised land, het vandeesweek verskyn. Dié baksteen van 701 bladsye het boekwinkelrakke wêreldwyd op Dinsdag 17 November getref. Ná die sukses van Michelle Obama se Becoming verlede jaar, is die verwagting groot dat die Amerikaanse oudpresident se memoires die boekebedryf, wat groot verliese as gevolg van die pandemiekrisis moes trotseer, van ’n broodnodige hupstoot uit die COVID-koors sal voorsien.

Dit lyk of Barack Obama se A promised land die rekordverkope van Michelle Obama se Becoming gaan verpletter. (Omslae: Penguin Random House)

En dit lyk asof dit waarvoor Penguin Random House gehoop het, inderdaad gebeur. Die eerste dag na die boek se verskyning, berig Netwerk24, laat A promised land die rekords oral spat. Dis vinnig op pad om die presidensiële memoires te word wat die vinnigste nog in die moderne geskiedenis verkoop. Michelle Obama se Becoming is die enigste voormalige Withuis-bewoner se boek wat naastenby hierby kers vashou.

Die Suid-Afrikaanse boekemark sal sonder twyfel baat by A promised land se verwagte verkope. Verlede jaar is meer as 60 000 eksemplare van mevrou Obama se Becoming deur plaaslike lesers opgeraap. Wêreldwyd het haar outobiografie meer as 10 miljoen verkope behaal. Penguin Random House se voorskot van $65 miljoen aan die Obama-egpaar vir hul boeke was dus kleingeld in vergelyking met die verwagte opbrengs.

Morné Bam, Penguin Random House se hoof van verkope, en Amanda van Rhyn, die uitgewer se bemarkingshoof (Foto’s: verskaf)

Volgens Morné Bam, Penguin Random House SA se hoof van verkope in Johannesburg, het die uitgewershuis op 17 November om en by 28 000 eksemplare van A promised land aan boekwinkels regoor Suid-Afrika gelewer. Dié hoeveelheid sal na verwagting binnekort aangevul word soos wat Kersfees nader kom.

En hoewel Morné nie met sekerheid kan sê hoe groot die impak van die Obama-boek op verliese gaan wees wat die boekmark in 2020 gely het nie, staan die feit dat dit wel ’n positiewe effek gaan hê: “Die plaaslike boekmark is stadig aan die herstel na ’n woeste eerste ses tot sewe maande van hierdie jaar. Ek dink almal het maar swaar getrek en die mark sal definitief nie vir die verlies van vroeër kan opmaak nie, maar ’n boek soos hierdie is die perfekte manier om die jaar op ’n hoogtepunt af te sluit.”

Die Kersmark is die ideale teiken vir megatreffers soos die Obama-boeke. Amanda van Rhyn, Penguin Random House SA se bemarkingshoof, sê: “Dis altyd ’n hoogtepunt om ’n boek van hierdie kaliber vry te stel, en mens kan die opwinding voel – nie net by ons nie, maar in die boekwinkels en ook aanlyn is die afwagting groot.”

Een van die foto’s uit A promised land (Foto: Pete Souza/The White House)

Morné sê dat die Kersseisoen by verre die besigste tyd van die jaar vir die boekbedryf is. “As mens elke jaar in middel November kyk na die aanvraag, besef jy dat daar rêrig bitter baie lesers is wat boeke as noodsaaklike items sien. Juis daarom stel uitgewers heelwat van hulle sterkste titels in dié tyd bekend.” Navorsing bevestig dat middel November die beste tyd is om die gewildste boeke in die mark te stoot. “Dis nou maar net die tyd wanneer die oorgrote meerderheid lesers op soek is na ’n volgende boek. Met ’n boek soos A promised land wil jy soveel mense as moontlik bereik. Ek kan ook nie rêrig dink aan ’n beter Kersgeskenk vir geswore boekwurms nie.”

Die Obamas se verhaal vind groot byval by lesers regoor die aardbol, ook in Suid-Afrika. Plaaslike politieke kommentators fynkam reeds A promised land vir die oudpresident se taksering van die plaaslike politieke toneel. En natuurlik word die wyse waarop korrupsie Suid-Afrika verlam het, en die ANC-regering se onbeholpe hantering daarvan, krities bejeën.

Volgens Amanda van Rhyn simboliseer die Obamas se nalatenskap inklusiwiteit en verdraagsaamheid, en lesers ervaar dit as inspirerend. Boonop stuur die Obama-stigting se fokus op die jeug en die ontwikkeling van ’n nuwe generasie leiers ’n ongelooflike positiewe boodskap saam met die boeke uit,” sê sy.

Om megatreffers soos A promised land op dieselfde tydstip regoor die wêreld beskikbaar te stel, verg fyn logistieke voetwerk. Die boek word, net soos in die geval van Becoming, in Suid-Afrika gedruk. Om plaaslik te druk is goedkoper en dit skakel hoofbrekens met die verskeping van voorraad uit. Boonop verskaf dit ’n stewige finansiële inspuiting aan die Suid-Afrikaanse drukkersbedryf. Met seevrag is daar dikwels probleme, verduidelik Morné: “Menige kere sukkel skepe met onstuimige weer in hawens, en dit veroorsaak vertragings wat weke duur. Met plaaslike drukwerk spring mens daardie kopseer vry.”

Bokse en bokse vol Obama – só lyk dit in die pakkamers waar Barack Obama se boek hanteer word. (Foto: Zita Castanho)

Hoe kry mens dit reg om so baie eksemplare tegelyk oral in boekwinkels beskikbaar te kry?

“Met moeite,” grap Morné. Maar op ’n ernstige noot vervolg hy: “Al die departemente by Penguin Random House – verkope, bemarking, logistiek en finansies – speel ’n baie groot rol. In Suid-Afrika het ons om en by middel September gehoor die boek kom definitief op 17 November uit. Sedertdien het almal van ons elke dag iets met A promised land te doen gehad om seker te maak dinge gebeur op tyd. Kom ons sê net ek het in die laaste twee maande ’n hele paar grys hare bygekry, maar met ’n belangrike boek soos hierdie is dit meer as die moeite werd.”

Wanneer die hele wêreld op die verskyning van ’n megatreffer wag, geld daar verskeie embargo’s en geheimhoudingsooreenkomste word links en regs geteken. “Boekwinkels teken die standaard embargo-ooreenkoms en dan (as alles goed gaan) ontvang hulle die voorraad in verseëlde bokse – ongeveer ’n dag of twee vóór die amptelike verskyningsdatum,” verduidelik Morné. “In A promised land se geval kon hulle byvoorbeeld eers om 00:01 op 17 November die bokse oopmaak.

“Maar, ek moet sê, ons is gelukkig dat ons sulke wonderlike kliënte in Suid-Afrika het. Al die boekwinkels is maar net te bly om hulle deel te doen. Hulle is geduldig genoeg om saam met ons te wag vir die vrystellingsdatum.”

En daar is maar altyd klein jakkalsies wat in die wingerd rondhang. “Ek hoop nou nie ek tart die noodlot nie,” waarsku Morné, “maar Barack Obama se boek was tot dusver die blockbuster waarmee ons bitter min logistieke probleme ervaar het. Die klein jakkalsies kom gewoonlik in die gedaante van fratsongelukke of wanneer ’n afleweringstrok met boeke wat vir Johannesburg bestem is, êrens in die Vrystaat breek. Of ’n boekwinkel oorstroom en die voorraad word nat.”

Verlede Vrydag moes twee werknemers van die uitgewershuis na die koeriers toe jaag om dokumentasie vir 150 bokse vol boeke oor te doen nadat ’n fout ingesluip het. “Dit is egter wonderlik om te sien hoe boekmense van oral af saamtrek en alles in ’n goeie gees doen sodat dinge uitwerk,” sê Morné.

Dat A promised land die Suid-Afrikaanse boekbedryf wel na ’n post-COVID beloofde land gaan lei, lyk na ’n sterk moontlikheid. Intussen begroet Barack Obama se gesig jou by elke boekwinkel waar jy instap:

Hierdie gesig begroet jou by Exclusive Books in Sandton City. (Foto: Penguin Random House)

Lesers wat op LitNet se nuusbrief inteken, staan die kans om ’n eksemplaar van Barack Obama se A promised land te wen. Klik hier vir meer besonderhede.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    'n Mega-egoïs ... soos Trump. Net meer subtiel en gesofistikeerd. Soos die hoofstroommedia daarvan hou. Die man wat baie kon praat en niks sê nie. Soos die hoofstroommedia daarvan hou. 'n Lang lys van oorloë, inmenging in onafhanklike state, pogings om regerings omver te werp en ander beleidsmislukkings. Die feite oral beskikbaar, sou dit nagevors word. Nie soos die hoofstroommedia daarvan hou nie.

    Die boek? Een wat goed sal verkoop omdat die hoofstroommedia die bemarker is. Die toets oor die man as 'n leier? Om die trant van die boek te volg en dan te vergelyk met menige menings en lyste van feitlike mislukkings. Die ironie? Min menings wat sal verander. Jy is of pro-Obama of jy is nie. Vir die redes wat jý verkies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top