.jpg)
In die tagtigerjare was dit 'n televisiereeks waarvan niemand een episode wou mis nie. Nou vertoon Ballade vir 'n Enkeling vanaf 20 Maart 2015 op die silwerdoek. Die Heuwels Fantasties sing die film se kenwysie. Hunter Kennedy gesels met Naomi Meyer oor die groep se verwerking van dié lied, wat hy ook uit sy kleintyd onthou.

Hallo Hunter, onthou jy nog die oorspronklike temalied van Ballade vir ’n Enkeling? Of wanneer het jy die temalied die eerste keer gehoor?
Natuurlik onthou ek dit! Ons moes dit darem ook 'n paar keer luister voor mens die enorme taak van 'n nuwe toonsetting aanpak. Ek het die eerste keer seker die liedjie gehoor toe ek so vyf of ses was? ’87/’88. Die liedjies wat hulle daar, in daai tyd, gemaak het, is ingegraveer in die grammofoon van my brein! “Voshaarnooi”, “Tussen treine” en “Ballade” is seker van die eerste “grootmens” Afrikaanse liedjies wat ek kon sing.
Wat wou julle omtrent die lied behou en wat verander toe julle dit weer opgeneem het?
Ons het die oorspronklike melodie van die koor behou, maar het die versies aangepas deur 'n kombinasie uit twee verskillende weergawes van die lied saam te stel. Dis 'n angswekkende taak om so iets aan te pak, so ons wou dit verwyder van die oorspronklike, maar tog die gees van die oorspronklike lied behou.
Ballade vir ’n Enkeling het in die tagtigerjare as televisiereeks vertoon. Dink jy vandag se kykers sal met die fliek kan identifiseer?
Ek het nou nog nie die film gekyk nie (ons kyk hom vanaand), maar soos ek verstaan, het Leon Van Nierop die teks uitstekend vermoderniseer. Die soeke na liefde en die eksistensiële twis wat daarmee gepaardgaan, is 'n tydlose, universele tema. Meng dit met goeie regie, ervare produksievernuf en bo-standaard-rolspel en ek dink dit sal vir seker die kaartjieprys werd wees!
Hier is die oorspronklike kenwysie, vertolk deur Richard van der Westhuizen:
Hier is Die Heuwels Fantasties se nuwe kenwysie, verwerk vir doeleindes van die filmklankbaan:
Ballade vir ’n Enkeling en Ster-Kinekor Entertainment hou ’n landwye voorskou van dié film op Woensdagaand 18 Maart 2015. Besoek gerus Ster-Kinekor by www.sterkinekor.com, Nu Metro by www.numetro.co.za of die naaste onafhanklike teater vir nog inligting.
Vir nog inligting omtrent die fliek, besoek www.balladefilm.co.za.

