
Foto deur Stefan Schweihofer van Pixabay
...
Sportprestasies versterk wel die gevoel van samehorigheid in ’n land wat vertroud is met verdeeldheid – en ons durf dit nie geringskat nie.
...
Die uiteinde was toe bó almal se verwagtinge gewees, naamlik dat Bafana Bafana dit reggekry het om na die uitspeelrondes van die 2026-Sokkerwêreldbekertoernooi deur te dring – en hieroor het Suid-Afrikaners gejubel en gejuig.
Jy sou jou nie kon indink watter swaar en donker laag mis van wantroue vooraf oor die span se vermoëns gehang het nie, spesifiek nadat die uitslag van die eerste wedstryd (teen Meksiko) boonop ’n neerslagtige 2–0 nederlaag was. Die daaropvolgende kragmeting teen Tsjeggië het (meer opbeurend) 1–1 geëindig, terwyl die derde groepwedstryd die oorwinningstromme luid laat opklink het, tussen drie- en vyfuur op ’n weeksoggend: Suid-Afrika klop Suid-Korea met 1–0.
Hierna sou ’n uitspeelwedstryd in die oorblywende groep van 32 volg, en selfs al het die wedstryd op ’n hartseer noot geëindig – Kanada 1, Bafana 0 – was dit ten minste nie ’n vernedering nie. Trouens, dit was ’n historiese oomblik vir ’n span wat vooraf geen sulke kanse gegun is om tot die uitspeelronde deur te dring nie, en histories sal dit vir altyd bly, net soos wat ons land se aanbieding van die toernooi in 2010, ’n eerste vir Afrika en uiters suksesvol gedoen, onvergeetlike status bereik het.
Dit was duidelik dat ongelowige Thomasse nie Bafana se opmars sien kom het nie, het Gert van der Westhuizen voor die Kanada-kragmeting in ’n Wyngaard Weekliks-gesprek gesê. Wat die prestasie ekstra spesiaal gemaak het, het dié voormalige sportjoernalis en deesdae politieke redakteur van Netwerk24 benadruk, was die logistieke nagmerries waardeur dit vooraf gegaan is: Eers dat die span gedreig is met diskwalifikasie oor die inspan van ’n geskorste speler in ’n Wêreldbeker-kwalifiserende wedstryd teen Lesotho, en toe is daar die deurmekaarspul met visums vir sommige spelers wat hul vertrek na Meksiko vertraag het.
Uiteindelik het alles goed uitgewerk en kon die span hul internasionale reputasie by die toernooi met die Suid-Koreaanse oorwinning laat groei van 60ste op die wêreldranglys na 54ste (terwyl Suid-Korea 25ste was en na 28ste teruggesak het; Kanada is 31ste geplaas). Maar is Suid-Afrikaners se verwagtinge van ons sportspanne nie te hoog nie, word Van der Westhuizen gedurende die gesprek gevra. “Ek dink ons verwagtinge van ons sportspanne is oor die algemeen baie hoog,” sê hy, gedagtig daaraan dat president Cyril Ramaphosa met die span se vertrek hulle aangemoedig het om die beker huis toe te bring. “Ek dink dit is [weens] daai strewe om hierdie Suid-Afrikaanse uitsonderlikheid te sien wat ons so graag wil hê.”
Terwyl ’n breër spektrum Suid-Afrikaners hul nasionale span se uitsonderlike prestasie lof toegesing het, insluitend sommige wat Bafana dalk nog nooit werklik ondersteun het nie, was dit toe nie die geval met die res van die vasteland nie. Baie Afrikane het openlik hul steun aan Suid-Korea verklaar – en dit weens die voortgesette protesaksies in dele van Suid-Afrika teen ongedokumenteerde buitelanders, spesifiek dié uit Afrika. Dit het selfs daartoe gelei dat Suid-Afrika as die “Republiek van Xenofobie” gedoop is, het Van der Westhuizen in die gesprek uitgewys.
Hy dui egter ook op hoedat die gevoel van ubuntu (medemenslikheid, nasiebou) onderling onder Suid-Afrikaners van verskillende kulture deur Bafana se vordering ’n hupstoot gegee is. Hy haal dit op in die konteks van wat hy noem die “minagting” waarmee die span gereeld tot nou deur sommige bejeën is – selfs deur die prominente politikus Fikile Mbalula, wat eens na Bafana as “a bunch of losers” verwys het.
Die “bunch of losers” is nou met lofliedere en prysdanse as helde terug in die land verwelkom. Wat daarnaas gebeur het, is dat die nasionale sokkerbeheerliggaam Safa hardop begin dink het oor hoe hulle die dienste van die Bafana-afrigter Hugo Broos kan behou. Dit sal nie noodwendig as breier wees nie, omdat hyself aangedui het dat hierdie toernooi, gegee sy ouderdom, sy laaste tango sou wees. Maar gewis het hy reeds sy onuitwisbare merk op die span gelaat met hul vordering in vanjaar se toernooi.
Wat ook nie uitgewis kan word nie, is die besef dat prestasies deur Suid-Afrikaanse sportspanne nie as teenvoeter kan dien vir die terugslae van hoë werkloosheid, lae ekonomiese groei, stygende geweldsmisdaad en onstabiele of disfunksionele munisipaliteite nie.
Van der Westhuizen gebruik ’n geskiedkundige verwysing om daarop te reageer: “Ons kyk byvoorbeeld na Duitsland wat in 1954 die Wêreldbeker gewen het, wat dit vir die Duitsers van daai tyd beteken het,” sê hy, “ná die Nazi-bewind, ná die gruwels van die Tweede Wêreldoorlog, en toe wen hulle hom weer in 1990 toe Oos- en Wes-Duitsland saamgesmelt het.” Hy wens dit was moontlik om “daai momentum [te] gebruik, daai goeie gees wat wakker gemaak word” en dit te bottel sodat jy dit later weer kan inspan “om momentum te gee op ander gebiede”.
“Ander gebiede” sluit al die uitdagings in wat in die voorafgaande paragraaf genoem is, maar Van der Westhuizen is nie onrealisties in sy verwagtinge nie: “Ongelukkig is sportsukses dikwels vlietend van aard,” sê hy. “Arm mense is steeds arm – al het Bafana goed gedoen in die Wêreldbeker.”
Sportprestasies versterk wel die gevoel van samehorigheid in ’n land wat vertroud is met verdeeldheid – en ons durf dit nie geringskat nie.
Lees en kyk ook:
Wyngaard Weekliks: Bafana-prestasie sorg vir ’n welkome ubuntu-oomblik
Sokkertoernooi help om Suid-Afrika vir ’n beter rede as die gewone onder die wêreld se aandag te hou

