Backrooms en Obsession: raad vir Afrikaanse filmmakers

  • 0

Plakkate van Obsession en Backrooms van IMDB

Die storievoos Hollywood het ’n waterskeidingsoomblik bereik toe twee oorspronklike bobaas rolprente, wat op skoenveterbegrotings gemaak is, Obsession en Backrooms, nie alleen die suf gewoontefliekmaker-geldwolwe waardevolle lesse geleer het nie, maar ook vir Afrikaanse filmmakers, wat moet raap en skraap om genoeg geld vir ’n rolprent te kry, weer moed gee met die cliché: “Minder kan meer wees.” Hoe minder jy soms het (en dit het Carissa, Finding Optel en Variasies op ’n tema onlangs plaaslik bewys), hoe meer talent moet jy uit die hoed pluk om ’n idee op ’n nuwe manier silwerdoek toe te verplaas.

Deursettingsvermoë en ’n nuwe aanslag is die wagwoorde.

Backdoors het reeds ’n YouTube-agterdeur gehad met die beskrywende titel “creepypasta”.  Die skrywer/skepper/regisseur Kane Parson, wat skaars ’n melkbaard het (hy is maar 20 jaar oud), het reeds op 16 begin YouTube-video’s maak oor groot, oop ruimtes wat sy jong aanhangers se verbeelding aangegryp het. ’n Soort voorspel tot die vollengtewonderrolprent Backdoors wat handel oor twee mense wat die vermoë ontwikkel om deur mure te loop en in verwarrende reuse ruimtes en doolhowe beland waarin The shining sou verdwaal.

Hier is ’n les vir jong plaaslike filmmakers. Sosiale media is deesdae die pasta van Gen Z se verbeeldings. Hulle boer op hierdie platforms en raak verveeld met dieselfde ou video’tjies wat die internet besmet. Maar Parsons se grafstil ruimtes, gewoonlik pampoengeel en met nimmereindigende gange wat net sowel die deelnemers se breine kan verbeeld, is aangewend om jonges se verbeeldings te teister as voorspel tot wat nóg kan volg. Want jonges soek meer as net selfoongrootte beelde! En tot op datum boer Backrooms in teaters in die omgewing van die $250 miljoen-merk.

........
Hier is ’n les vir jong plaaslike filmmakers. Sosiale media is deesdae die pasta van Gen Z se verbeeldings. Hulle boer op hierdie platforms en raak verveeld met dieselfde ou video’tjies wat die internet besmet. Maar Parsons se grafstil ruimtes, gewoonlik pampoengeel en met nimmereindigende gange wat net sowel die deelnemers se breine kan verbeeld, is aangewend om jonges se verbeeldings te teister as voorspel tot wat nóg kan volg. Want jonges soek meer as net selfoongrootte beelde! En tot op datum boer Backrooms in teaters in die omgewing van die $250 miljoen-merk.
.........

Die ironie is dat Parsons nog so jonk is dat hy nie eers wettig alkohol in Amerika mag drink nie! Mens wonder hoe hy sy sukses dan gevier het. Met, uhm, creepypasta gemeng met ’n roomsousie? Want hy het met hierdie fenomeen op 20-jarige ouderdom die ou hardebaardmanne en botox-vroue van Hollywood geleer om hul verbeeldings in ’n vleismeule te plaas. Om ou idees opnuut te rasper en die muf uit die kaas te verwyder.

Dieselfde geld die plaaslike Variasies op ’n tema van Jason Jacobs en Devon Delmar  wat na bewering slegs R3 miljoen gekos het, maar elkeen wat dit sien betower en boei met die rustige gebeure op ’n klein dorpie in die middel van nêrens. Dit is verfilm op die presiese plekke waar dit afspeel, sodat min van die begroting op produksieontwerp uitgegee moes word. En deur spelers te gebruik wie se agente nie in hul nekke geblaas het vir hul supersterre se dikwels welverdiende fooie nie.

Volgens die buitelandse pers bestaan hierdie Backrooms-fenomeen op die kruispad tussen liminale gruwels en Hollywood-verglansing en -beeldpoetsing sonder om die jeugdige voortvarendheid van Parsons se grieselgeeste te verwring.

In plaas daarvan om dieselfde gehoorvriendelike paadjie te bewandel (en hier kan plaaslike filmmakers ook ’n wenk optel) het hy die internet gebruik om bekendheid te verwerf in plaas daarvan om jare lank te probeer om op filmfeeste te beland met kortfilms en dan aan die goue Hollywoodkalf se voete te soebat vir meer geld. Hy het sy eie begroting verdien en toe gebruik om Backrooms te maak. Die ironie is dat hy in dieselfde jaar gebore is as wat YouTube begin het! Dit ontglip ’n mens ook nie.

Dieselfde geld die ander wilder-as-die-wildtuin-nuweling, Curry Barker, wat die eerste oorspronklike volbloedriller gemaak het sedert ’n rits klassieke  mylpale uit toeka se dae.

Rillers is telkens vernuwe deur The cabinet of Dr Caligari (1920), The exorcist (1973),  Psycho (1959), Halloween (1978), Saw (2004) en Get out! (2017). Maar Barker bewandel ’n ander bleeksielpad deur ’n ou storie op te grawe wat sy ontstaan uit die kortverhaal “The monkey’s paw” (1902) gehad het en splinternuwe vodde daarvoor aan te trek.

Daaruit kan ons leer dat daar eintlik nie meer (met die uitsondering van Darkrooms) nuwe stories is nie. Wat sie aandag trek, is wat jy met deurwinterde materiaal aanvang, die herskepping van voosgeryde idees en ’n vars invalshoek waaruit ons plaaslike rolprentmakers meer kan wys word. Al is daar skynbaar niks nuuts meer onder die rolprentson nie, kan stories wat al baard dra, met snoeiwerk in ’n nuwe genre omskep word.

Obsession – so het die verspreider wat die rolprent se potensiaal raakgesien en dit toe aangekoop het, erken – is gemaak vir daardie jong, warm laaitie wat wens dat sy onmoontlike seksfantasieë bewaarheid kan word. Die knapie is ’n bleeksiel (nes die fliekgangers in die gehoor) wat eintlik maar net op webwerwe sy wellus en hormoonaanvalle kan bevredig, soos die grootste gros kykers wat die rolprent se bywoningsyfers weekliks laat styg.

Die bossiekop met wakker, maar verwarde ogies kry ’n towerstaffie in die hande en wens dat die meisie van sy drome in ’n seksslaaf kan verander. Wat hierna gebeur, sal dr Frankenstein se monster die horries gee. “Oppas waarvoor jy wens, jy mag dit dalk kry,” was sy uitgangspunt. Maar tog met ’n nuwe invalshoek en ’n styl wat kleur, neurotiese beelde, donkerte, skaduwees en die kontras tussen fel kleure (veral bloed!) ’n nuwe trefkrag gee. Die warmbloedige seun leer op die harde manier, maar ongelukkig te laat, dat hy nie lui moet wees om sy liefde te verklaar nie, en liewer romantiese aanvoorwerk moet doen as om die maklike droomuitweg te kies.

Romanse versus wellus!

Obsession se trefkrag lê in ’n oorspronklike denkpatroon: om die storie na plekke te stuur wat die verveelde Gen Z-geslag nie verwag het nie en hul stoutste verwagtings te oortref met gruwels wat hierdie Trompie sonder die Boksombende na trane dryf.

Die rolprent het ’n morele subteks wat bloedig oorgedra word en kommentaar lewer op tieners se onvermoë om normaal op sosiale vlak te kommunikeer en by sosiale norme aan te pas. Hulle kan nie meer sonder ’n selfoon in die hand met regte mense (of meisies in hierdie geval) kommunikeer nie.

Dit is waar Obsession se trefkrag eintlik lê – om nie lui te skryf en te verval in clichés nie, maar die embrio van ’n storie te herontwerp.

Uit hierdie twee rolprente, Backrooms en Obsession, kan plaaslike rolprentmakers baie leer. Hoe om met min die meeste te maak. En op verbeelding staat te maak en nie sodanig net op geld te steun om ’n fliekdroom te verwesenlik nie.

Dink buite die Hollywood-towerboksie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top