Back to Burgundy: ’n filmresensie

  • 0

Back to Burgundy

Frans met Engelse onderskrifte

Draaiboek: Cédric Klapisch en Santiago Amigorena

Regie: Cédric Klapisch

Spelers: Pio Marmaï, Ana Girardot, François Civil, Jean-Marie Winling, Yamée Couture, Maria Valverde

Daar is die ou wêreld en die nuwe wêreld (ná 1500) en dan is daar die ánder wêreld – die een waarin ons leef sedert die koms van die internet. Hierdie fyngestemde familiedrama wys hoe dit tog moontlik is om harmonie te vind te midde van seismiese veranderings.

Jean (Pio Marmaï) is deel van ’n ou familie wynmakers in die Boergonje-streek, maar hy en sy pa kon nooit oor die weg kom nie, sodat hy as jong man die pad vat om die wêreld te sien. Nou, 10 jaar later, keer hy terug soos die verlore seun omdat sy pa op sterwe lê. Hy tref sy suster Juliette (Ana Girardot) en broer Jérémie (François Civil) steeds op die plaas aan, en die wingerde wat wag om geoes te word. Juliet het die wynmakery oorgeneem, maar is onseker van haarself, terwyl Jérémie onder die hiel staan van sy skatryk skoonpa (Jean-Marie Winling). Met hulle pa se dood erf hulle die plaas gesamentlik, maar die harde werklikheid van die ander wêreld het hulle ingehaal: die inkomste uit die wynmakery is maar 1% van die waarde van die grond, sodat hulle ’n plan moet maak om die hemelhoë boedelbelasting te betaal – of hulle verloor die plaas.

Dit is tot groot krediet van die filmmakers dat hierdie verhaal sonder sentimentaliteit of romantisering vertel word, terwyl die eeue oue tradisie en statuur van Franse wyn hom sekerlik daartoe leen. Sonder haas, saam met die wisseling van die seisoene, kom die oplossing vir die karakters, om oplaas Jean se woorde waar te maak: “Die liefde is soos wyn – dit benodig tyd.”

Hoog aanbeveel, en nie net vir wynliefhebbers nie!     

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top