Awie Badenhorst, die eksentrieke wetenskaplike

  • 4

Awie Badenhorst in 2010 (Foto: Izak de Vries)

...
Awie kon opgewonde raak oor moeilike wiskundige formules, maar wanneer hy aanbiedings gedoen het, was dit so eenvoudig dat ek, en die vissermanne wat na sy praatjies geluister het, dit kon verstaan.
...

Ek het tot ’n aantal dae gelede ’n vriend gehad wat geweet het hoeveel visse daar in die see was. Nou is hy oorlede.

Abraham Badenhorst, of Awie soos hy bekend was, het vir 21 jaar by die Departement Omgewingsake en Seevisserye gewerk. As navorser het hy maande op navorsingsbote spandeer om data in te samel en as wiskundige was hy deel van die werkgroep wat die enorme hoeveelhede data sou verwerk en allerlei modelle daarmee geskep het.

Awie kon opgewonde raak oor moeilike wiskundige formules, maar wanneer hy aanbiedings gedoen het, was dit so eenvoudig dat ek, en die vissermanne wat na sy praatjies geluister het, dit kon verstaan.

Jy kon die skole vis sien beweeg op die skerm. Jy kon die impak van seestrome volg. Die massas data en die berekeninge wat sy praatjies onderlê het, sou ons nooit sien nie. Ons het gewoon prentjies gekyk.

Dit is waarom ek hom, dekades later, genader het om die waninligting oor entstowwe aan te spreek op ’n manier wat selfs ek kon verstaan. Hierdie artikel is aan die begin van die pandemie deur duisende mense gelees.

Badenhorst was slim en hy was windgat genoeg om dit sê ook.

Sy kennis van die omgewing en sy vermoë om wiskundige modelle te bereken het ook gemaak dat hy betrokke was by Suid-Afrika se deelname aan die onderhandelings wat tot die Kioto-protokol gelei het.

Hy kon die meeste groenes se swak wetenskaplike kennis nie verduur nie, maar hy het baie deeglik verstaan dat ons besig is om die aarde op neuk met die manier waarop ons gasse in die lug stoot wat die atmosfeer verhit.

Vir die ontkenners, soos Donald Trump en ander wat nie eens die wetenskap probeer verstaan nie, was sy geduld nog minder as vir die groenes.

Toe Peter Mokaba die adjunkminister in die Departement Omgewingsake en Toerisme was, is Awie oorgevlieg na die VSA om tydens ’n reeks onderhandelinge Mokaba se raadgewer te wees.

Tydens ’n vergadering in die Smithsonian Museum was Awie gepak en gedas soos ’n goeie staatsamptenaar. Hy het maar solank rondgedwaal terwyl die politici hulle dinge doen, nuuskierig soos altyd. So loop ’n klein seuntjie byna in hom vas, kyk op en af na die man in die pak en vra: “Mister, are you from the secret service?”

Awie het gewoon sy vinger op sy mond gesit en gefluister: “Sjuut!”

Toe hy uiteindelik by Seevisserye uittree as ’n adjunkdirekteur, het Awie gewoon die volgende dag by die gebou langsaan begin werk as ’n konsultant vir die pelagiese visserye. Dit is nie die sexy deel van die bedryf nie, maar dit dryf ’n deel van ons land se ekonomie. Sonder die vismeel wat jaarliks by die tonnemaat verkoop word, sou ons land nooit genoeg proteïne kon lewer vir ons bevolking nie. Vismeel word in ’n verbasende aantal diere se dieet gebruik.

Daar het Awie hom ook begin toespits op die redigering van wetenskapartikels. Hy het selfs vir die International Council for the Exploration of the Sea (ICES) redigeerwerk gedoen.

Ten tye van sy dood was hy die wetenskapredakteur van ’n aantal groot internasionale tydskrifte.

Honderde wetenskapartikels wat reeds deur ewekniebeoordeling was, sou deur sy hande gaan voor hulle gepubliseer is.

Sy kliënte was in Europa en sy redigering het hy in Engels gedoen.

Awie was knorrig. By meer as een geleentheid sou hy ’n gerekende wetenskaplike afjak deur daarop aan te dring dat die persoon by die publikasies se styllys te hou. Sou iemand durf vra wie dan die styllys opgestel het, was sy antwoord gewoon: “I did.”

Die mens

Awie het in die Kaap grootgeword.

Toe al windgat. Hier is Awie saam met sy sussie. (Awie het hierdie swart-en-wit foto met ’n internettoepassing ingekleur en per WhatsApp gestuur.)

Sy ma, ’n verpleegster, het hom en sy sibbe grootgemaak. Sy moes ’n formidabele mens gewees het.

Hoofseun Badenhorst. (Nog ’n foto wat Awie gekleur en aangestuur het.)

Awie was in Jan Van Riebeeck. In standerd 5 was hy die hoofseun.

Tydens sy hoërskooljare het hy kitare en rock ’n roll ontdek – daarmee saam ook vroue.

Hy is uiteindelik na Stellenbosch-universiteit, waar hy ’n BSc, MSc en PhD behaal het.

Sy PhD het hy in twee jaar gedoen. Een van sy flou grappies was: “Ek het my gat af gewerk en dis hoekom ek so snaaks loop.”

Iewers in daardie tyd het hy eendag ’n meisie met die naam Elsabé gesien en het skynbaar net daar vir die vriend langs hom gesê: “Vir haar gaan ek trou.”

Hy het.

Vier kinders is uit die huwelik gebore.

Awie was ontsettend trots op sy kinders. Elke flentertjie nuus is dadelik gedeel. Enige foto of brokkie inligting sou dekades lank onmiddellik aangestuur word.

Niemand kon byvoorbeeld broccoli kook soos sy een seun nie.

Toe sy dogter se eersteling gebore word, was hy oorstelp.

Ek het steeds kiekies van sy blonde kleindogter op my foon, dadelik deur Awie aangestuur.

Sy ander dogter het ’n ernstige aangebore mediese toestand gehad – sy sou later ’n volwasse lyf hê, maar haar verstandelike vermoëns was nie baie meer as ’n vierjarige s’n nie. Ook vir haar was hy ontsettend lief, maar so ’n kind plaas stremming op ’n huwelik. Awie se huwelik met Elsabé het uiteindelik ook skeefgeloop.

Die gestremde dogter se dood het Awie uiteindelik geruk, al het sy baie langer geleef as wat die medici gedink het sy sou.

Ons ontmoet mekaar

Awie Badenhorst se naam was waarskynlik nie wyd bekend nie, maar as jy enige een ken wat die afgelope twee dekades op skool was, is die kans goed dat hulle ’n boek onder hande gehad het waaraan Awie op ’n manier meegewerk het.

Ek het hom kort ná die eeuwending leer ken toe ons Bateleur Books begin het.

Ons het, onder andere, ’n goeie wiskundige gesoek om die wiskundereeks te redigeer.

My toenmalige kollega Karin Simpson het my kom vertel van die eksentrieke man wat aansoek gedoen het. Hy het beloof dat hy vir hulle eerste vergadering sou opdaag met ’n pak van koordferweel met ’n angelier in sy knoopsgat.

Sy het voorgestel dat hulle by die Naspers-gebou ontmoet, deels omdat Awie om die draai gewerk het, aldus sy CV, en deels omdat sy die veiligheidswagte daar geken het.

Sy het teruggekom van die vergadering met twee stukkies nuus: Die ou weet wat hy doen, en hy het gelukkig nie aangetrek soos hy beloof het nie.

Dit was Awie. Selfs tot kort voor sy dood was ek nie elke dag 100% seker of hy ernstig is of gewoon weer met my die gek skeer nie. Ná al die jare het ek egter die patrone begin raaksien en kon ek hom meestal, tot sy groot verbasing, uitvang.

Awie het van die begin van Bateleur se bestaan tot die maatskappy verkoop is, die wiskunde- en wiskundige-geletterdheid-boeke geredigeer en kon altyd ook help met enige navrae oor fisika, chemie en biologie.

Toe wiskundige geletterdheid as vak ingevoer is, het Bateleur met die Nelson Mandela Universiteit saamgewerk (hulle het toe nog bekendgestaan as die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, of NMMU). Marc North het die handboeke geskryf, Awie het hulle geredigeer, en die NMMU het onderwysers met ons hulp opgelei.

Awie het gehelp met die opleiding, want Marc North kon gewoon nie oral gaan klasgee nie. Ek en Awie het in daardie tyd duisende kilometer gery en gevlieg en het gereeld op vreemde plekke in skoolsale, kerksale of administrasiegeboue opleiding gedoen.

Marc North is ’n baie goeie onderwyser, maar Awie het, soos net Awie kon wees, besluit hy is ’n baie beter wiskundige.

En hier het Awie se dwars streep begin wys.

North het by geleentheid in een van die boeke ’n onbesonne opmerking gemaak. “You just have to trust me on this,” was sy slotsom na ’n lang verduideliking. Badenhorst se opdrag as redakteur was om sulke goed gewoon uit te kap – dit hoort nie in skoolhandboeke nie. Awie Badenhorst het nie. Hy het dit net daar gelos en onderaan geskryf: “Clearly we cannot.”

Enige een wat al ooit met skoolhandboeke gewerk het, sal weet die druk is enorm en die tyd is min.

Badenhorst het dalk geglo ek, of iemand anders, sou die opmerking raaksien. Ons het nie. Dit is eers op die blou proewe raakgesien – die drukkersproewe dus. Die drukpers moes toe ten duurste daardie plaat weer oor opmaak.

By ’n ander geleentheid het einste Badenhorst by ’n veelvuldigekeusevraag A, B of C, alles mooi wiskundig, ’n D ingebou ... Sy opsie vir D was: “Stuff this, let’s go for a smoke.”

Hierdie een het ons proefleser, toe reeds gewaarsku, baie vinnig uitgevee.

Hy was ’n blikskottel, tog het ’n mens van hom gehou. En hy was goed, daarom het ons ons hom aanhou betaal.

Hy sou nog op ’n groot aantal projekte met my saamwerk. Enkele dae voor sy dood het hy vir hom ’n nuwe rekenaar gekoop met tantieme wat hy verdien met die skryf van boeke oor die maak van dakkappe en oor loodgieterswerk – twee van die baie projekte wat ek en hy jare gelede vir Pearson uitgerol het.

Die donker kant

Awie het ’n probleem gehad. Hy het verslaaf geraak aan ’n bepaalde voorskrifmedisyne. Hy het lank en suksesvol met die probleem saamgeleef, maar baie soos met ’n Eugène Marais van ouds het die pyn van onttrekking gemaak dat die dood soms aanlokliker gelyk het as die lewe.

My laagtepunt saam met hom was agter in ’n ambulans – waarin ek hom met die hulp van twee paramedici kon laai om hom te laat opneem vir professionele hulp. Ek was gewoon raadop.

Dit sou tydelik erger word.

En tog het Awie Badenhorst opgestaan.

Ná maande van intensiewe behandeling en rehabilitasie was hy skoon en kon hy ’n splinternuwe lewe in Saldanha begin.

Hy het nie eers meer aan alkohol geraak nie. Wel het hy soos ’n skoorsteen bly rook en hy kon liters Coke wegsluk.

Awie was steeds die hart van ’n partytjie en was altyd, outomaties, die bestuurder wat pelle na die tyd veilig by die huis besorg het.

Nooit was hy gelukkiger as daar in die vissersgemeenskap nie, en hy het dit gereeld vir my gesê. Die eksentrieke wetenskaplike het die mense agter die kasregister op die naam geken en met hulle geselsies gemaak. Sy werk as redakteur het geblom.

Awie in Saldanha. Hy het baie keer vir my gesê hy was nog nooit in sy lewe gelukkiger as hier nie. (Foto: Izak de Vries)

Awie was weer heel en baie suksesvol.

Fotografie

Ek en Awie het albei in fotografie belanggestel. In die ou dae het ons filmkameras gehad en so tussen die maak van boeke deur het ons ook baie oor fotografie gesels.

Ons sou uiteindelik saam navorsing doen en het saam ons eie eerste digitale kameras gaan koop.

Awie met ’n groot kanon. (Foto: Izak de Vries)

Awie sou baie gou veel beter en veel duurder toerusting as ek besit, want wanneer hy iets gedoen het, was dit met ’n soort obsessie om die beste te wees in daardie veld.

Die voordeel was dat ek dikwels sy “ou” toerusting kon koop wanneer hy besluit het dis tyd vir iets nuut en beter.

Tot aan sy einde het Awie altyd vir almal vertel dat hy my opgelei het en dat ek alles oor fotografie by hom geleer het. Nou ja, ek het gekies om nie met hom te stry nie, maar hy was ’n knap fotograaf. Sy portefeulje op Getty Images wys dit.

Musiek

Awie het op skool al kitaar gespeel, maar daar in Saldanha het hy opnuut en met ’n gedrewe obsessie begin speel. Soos Awie maar was, wou hy dit beter en beter doen.

’n Kiekie wat Awie onlangs gestuur het.

Sy woonstel was klein, nie veel groter as ons slaapkamer nie, maar langs die enkelbed het hy werkbanke gebou, rekenaars opgestel, kitare gekoop, nog kitare gekoop en uiteindelik ook allerlei toerusting om klank professioneel mee op te neem en te meng.

Akoesties in ’n oorvol woonstel. (Foto: Izak de Vries)

Awie het ’n natuurlike oor vir musiek gehad, maar sy aanslag was wiskundig.

Telkemale sou hy verduidelik hoekom hy ’n sekere lied in ’n ander sleutel sou speel en wat dit dan sou doen aan waar hy sy vingers sou sit en hoe die klankgolwe dan met mekaar inmeng. Vir ’n leek soos die uwe was dit fassinerend, maar dikwels baie ver bo my vuurmaakplek.

Hy sou ook intense studies maak van opnametegnieke en het met komberse en staalrakke ’n volledige ateljee geskep waarin hy sy werk opgeneem het. Daar is ’n mode om deesdae enkelvertrekwoonstelle as “studio apartments” te verkoop. Awie het dit letterlik gedoen.

Daar is talle video’s op die internet te luister. Hy sou elkeen van die instrumente self speel, en dan meng om die klankbeelde te kry.

Radiohead se “Creep” was die laaste lied wat hy gelaai het, weke voor sy dood.

Hy het baie van die lied gehou. Dalk is daar iets wat geresoneer het aan die outsider wat Awie ook was:

But I'm a creep
I'm a weirdo
What the hell am I doin' here?
I don't belong here

Elke instrument op hierdie snit het hy gespeel en gemeng. Die stem is ook syne. Die kiekie op die video kom uit sy studentedae.

Awie was selde sentimenteel, maar enkele weke voor sy dood het hy hierdie meem en onderskrif aan my gestuur. (Direk daarna het ’n skakel gevolg na ’n praatjie van Robert Sapolsky oor die “us” en “them” in militêre konflik – na aanleiding van Rusland se dade in Oekraïne. So was Awie.)

Hy het soms gekomponeer ook. Hierdie lied was sy beste, en nogal knap. Hy het die lirieke ook geskryf – ’n verbasend sagte lied. Nogeens het hy al die instrumente self gespeel en die stem is syne.

Awie het geblom daar tussen sy kitare. Hy sou ure lank een snit oor en oor opneem. Dikwels sou hy ná 22:00 nog vir my twee weergawes van dieselfde lied stuur en dan verwag dat ek sal sê waarvan ek die meeste hou.

Elektriese Awie in sy ateljee. Dit is die laaste foto wat ek van hom geneem het.

Toe ek van sy dood verneem, het ek sy oorlewende dogter gekontak en gesê: “Jammer oor die verlies, maar ek is so bly dat hy in sy eie plek tussen sy rekenaars en sy kitare kon sterf.”

  • 4

Kommentaar

  • Ronelle du Toit

    Dankie vir hierdie skrywe Izak de Vries. Dit beskryf my eksentrieke oom, nes hy was. My trane rol, want ek gaan sy geselsies en humorsin so mis!

  • Awie worked on our science journals for many years. Passionate about his editing craft, many authors have much to thank him for getting the most out their writing. A great sense of humour and real enthusiasm for his music, which he often shared with us. We all miss our regular interaction with him over both work and life. Rest in peace.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top