Awakening the Lion: Hoe die hofsaak teen Walt Disney gewen is (en 'n boek geword het)

  • 0

Owen Dean se boek Awakening the Lion - The Case of “The Lion Sleeps Tonight” is deur Tafelberg-Uitgewers gepubliseer. Die boek is beskikbaar as e-boek deur kalahari.com en Leserskring.

Cobus Jooste is dosent en navorsingsgenoot in intellektuele goederereg in die Fakulteit Regsgeleerdheid en die Departement Handelsreg aan die Universiteit Stellenbosch. Naomi Meyer het met hom gesels oor dié boek en die geskiedkundige hofsaak waaroor dit handel.

Hallo Cobus, die liedjie "The lion sleeps tonight" is alombekend. Maar wat is die agtergrond van die boek en die hofsaak waaroor dit gehandel het?

Die hofsaak was maar net die uiteinde van die sage van die liedjie “Mbube” wat later die wêreldbekende liedjie "The Lion Sleeps Tonight" geword het. Dean se boek vertel die storie agter die storie vanuit sy perspektief as regsverteenwoordiger en stryder vir die Linda-familie. Sodoende is die boek beide geskiedskrif en niefiksie.

Solomon Linda, 'n sukkelende Suid-Afrikaanse musikant, het die liedjie gekomponeer en sy regte weggeteken. Dean, ’n kopieregkenner en regsverteenwoordiger van die Linda-familie, vertel die interessante verhaal van die stryd om genoegdoening te eis namens die familie teen die internasionale reus Walt Disney meer as vyftig jaar na Linda se afsterwe. Die boek lees soos 'n spanningsroman en hofdrama met 'n gelukkige einde. Dis 'n moet-lees-boek vir elke ingeligte Suid-Afrikaner, student, akademikus of enigeen op soek na 'n lekker storie.

Wat is die storie van die Linda-familie en die feite van die hofsaak?

As kollega van Owen Dean het ek die voorreg geniet om toegang te kry tot al die dokumentasie en die volledige hofverslae van "The Lion Sleeps Tonight". Die dokumentasie is lywig (om die minste te sê) en beslaan meer as 1 000 bladsye. Dean slaag egter daarin om die verskuilde gebeure wat oor jare gestrek het, die ingewikkelde regsbeginsels en sy persoonlike mededelings in slegs sowat 12 000 woorde oor te dra.

Terselfdertyd ontbreek die boek op geen oomblik aan die nodige (en interessante) besonderhede nie. Dit sou vir menige skrywer ’n onbegonne taak gewees het. Dean het hom egter deeglik van sy taak gekwyt en die materiaal bowendien in unieke, toeganklike en vermaaklike leesstof omgesit.

Weens die omvang van die werk noem ek net 'n paar hoofpunte van belang. Dit bevestig hierdie punt en dui ook die omvang en diepte van die boek (en die gebeure) aan:

  • Die geskiedenis van die saak neem net omtrent twee bladsye van die boek in beslag. Maar 'n artikel wat destyds deur Rian Malan in Rolling Stone-tydskrif gepubliseer is en wat die hele debat ten opsigte van die saak aan die gang gesit het, beslaan omtrent 39 bladsye. Die BBC het ook 'n radioprogram van 18 minute hieroor gemaak.
  • Die skrywer som die grondslag van die regsargument teen Walt Disney in twee bladsye op, terwyl die volledige besonderhede van die eis uit 21 bladsye bestaan.
  • Die mees ingewikkelde gedeelte van die gebeure, naamlik die feitelike bevindinge dat daar wel outeursregskending was, word bondig en presies weergegee. Enigeen wat na die verskillende liedjies luister, sal ook die ooreenkomste dadelik opmerk.*
Solomon Linda (links) en die "Songbirds". Bron: The International Library of African Music, Rhodes University en Veit Erlmann.

Benewens die hoë-profiel-aspek daarvan: Waarom is hierdie hofsaak nou relevant?

Dean vertel die verhaal van Solomon Linda se musiekloopbaan tydens die Sophiatown-era in Johannesburg. Daardeur bied dit ’n interessante blik op die Suid-Afrikaanse sameweling van die laat 1930’s. Linda se sosio-ekonomiese omstandighede word in bereking gebring en dui op die imperialistiese houding van die Westerse lande teenoor die werk van mense in Afrika.

Die konteks van die narratief gee daardeur vir lesers 'n idee van waarom hierdie hofsaak van sulke groot belang was vir die nasate van Linda en ’n demokratiese Suid-Afrika as geheel. Dit handel eintlik oor méér as 'n liedjie. Dit handel oor die regstel van 'n sosiale onreg, die beskerming van ons mense se regte en die stryd om erkenning. Dit veroorsaak dat die uiteinde van die saak amper nog soeter is.

Laastens is die boek ook ’n waardevolle bydrae tot die regsliteratuur. Dit vertel die verhaal van ’n saak wat op unieke wyse ontstaan het, op ’n unieke grondslag aangevoer is en tot ’n unieke uitspraak gelei het. Daarom is dit ’n eiesoortige werk wat insae bied in ’n onbekende wêreld – die werk van een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande regspraktisyns.

* Lesers kan na die vier verskillende liedjies luister (insluitend die oorspronklike opname van “Mbube”) op die Leerstoel in Intellektuele Goederereg se blog (blogs.sun.ac.za/ipstell). Afskrifte van die oorspronklike hofdokumente, Rian Malan se artikel en ander media oor die gebeure is ook daar beskikbaar. 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top